Bron: Kompas, 2008. 3 bladsye.

Priesterdiens: die Amp van Selfopoffering

skaap

Probeer jouself die volgende voorstel…

Om jou heen klink die geskreeu van diere in hul laaste lewensoomblikke, die bloed van geslagte diere vloei onder jou voete deur. Jy is self besig om ʼn lammetjie se keel af te sny; wanneer jy daarmee klaar is, moet jy sy binnegoed uithaal, die verskillende dele afsny en met water was, en dit daarna op die altaar aan die brand steek. Grusaam? Wel, dit was die realiteit vir die priesters van die Ou Testament. Dit was hulle werk om die offerdiens namens die volk te verrig.

Die meeste van ons sal bly wees dat hierdie “seremonies en heenwysings van die Wet met die koms van Christus opgehou het en dat alle voorafskaduwing tot ʼn einde gekom het” (NGB artikel 25). Want stel jouself voor dat jý hierdie werk moes verrig – die bloed, die geskreeu, die laaste stuiptrekkings… Nee, priesterdiens sit nie in ons bloed nie. Ons is maar te bly met die vervolg-sin in artikel 25: “Die gebruik daarvan moet derhalwe onder die Christene afgeskaf word.” Geen probleem nie, ons skaf dit met graagte af.

Maar is dit die wese van die priesterdiens? Gaan dit in die priesterdiens net oor bloedvloeïng, ʼn bloedvloeïng wat deur Christus se bloedstorting vervul is, en daarom onder ons maar afgeskaf kan word? Kom ons kyk of dit inderdaad die geval is, en of “die waarheid en inhoud” (NGB artikel 25) van hierdie priesterdiens nie dalk vir ons nog bestaan nie. Ek volg in hierdie artikel die lyn vanaf die Ou Testamentiese priesterdiens, via die volmaakte werk van ons enigste Hoëpriester, Jesus Christus, tot by die priesterdiens van die gelowige van vandag in sy kombuis en in sy kantoor, op die sportveld en in die winkel.

Die Voorafskaduwing🔗

Ons kan die taak van die priester in die Ou Testament in twee dele verdeel: enersyds moes hy God by die volk verteenwoordig, en andersyds was dit sy taak om die volk by God te verteenwoordig. Die priester van die ou bedeling was in ʼn sekere sin dus ʼn middelaar, iemand tussen God en die volk.

In die eerste plek moes die priester God by die volk verteenwoordig.

Dit het hy gedoen deur die volk te onderrig in die wet (torah) van die Here. Hierdie taak staan dan ook eerste wanneer Moses voor sy dood die stam van Levi (waaruit die priesters gekom het) seën met die woorde: “Hulle sal Jakob u verordeninge leer en Israel u wet” (Deuteronomium 33:10). Verskeie ander gedeeltes uit die Skrif bevestig dit.

Sy hoofde spreek vonnisse uit vir ʼn geskenk, en sy priesters gee onderrig vir loon, en sy profete is waarsêers vir geld. Miga 3:11

…onderrigting sal nie ontbreek by die priester of raad by die wyse of ʼn woord by die profeet nie.Jeremia 18:18: 

God het dus sy wet aan die priesters toevertrou om dit op sorgvuldige wyse by die volk in te prent. Soos wat Maleági in hoofstuk 2:7 sê: “Want die lippe van ʼn priester moet kennis bewaar, en uit sy mond word onderrig gesoek, want hy is ʼn boodskapper van die HERE van die leërskare.” Die priester was die een wat die volk moes lei in hulle kennis van die Here, en in die uitlewing daarvan in die daaglikse lewe.

Daarby moes die hoëpriester ook die Urim en die Tummim bedien. Die Urim en die Tummim was twee voorwerpe – ons weet nie presies hoe dit gelyk het nie – wat die hoëpriester in sy borstas gedra het en wat hy gebruik het om die beslissing van die Here oor spesifieke sake aan die volk bekend te maak. Ook op dié manier het die priester God by die volk verteenwoordig.

borstas van die priester

Aan die ander kant het die priester die taak gehad om die volk by God te verteenwoordig. Hierdie taak het vernaamlik na vore gekom in die offerdiens. Die priesters was, in opdrag van die Here, die bedienaars van die altaar. Dit is dan ook die tweede deel van Moses se seën in Deuteronomium 33: “…hulle sal reukwerk voor U neerlê en ʼn voloffer op u altaar” (Deuteronomium 33:10).

Wanneer die priester die bloed en die vleis van die offerdier na die altaar gebring het en daar die wierook laat opstyg het, het hy daarmee aan God die gebede en versoeke van die gelowiges aangebied. Hy het namens die offeraar voor God gepleit vir vergifnis, Hom gedank vir sy weldade en Hom gesmeek om hulp en bystand. Soos wat die Hebreërskrywer in hoofstuk 5:1 sê: “Want elke hoëpriester wat uit die mense geneem word, tree ten behoewe van mense op in die dinge wat in betrekking tot God staan, om gawes en offers vir die sondes te bring…”

Die Vervulling🔗

Die priesters van die Ou Testament was egter slegs voorbeelde van Hom wat sou kom. Uiteindelik het die priesterdiens in Jesus Christus tot sy volle vervulling gekom. Hy is die ware Middelaar tussen God en die mense (1 Timótheüs 2:5).

Ons sien dit daarin dat Hy God op ʼn volmaakte wyse by die gelowiges verteenwoordig. Hy onderrig die gelowiges oor God, en nie slegs uitwendig deur die Woord nie, maar veral ook in die hart deur die werking van die Heilige Gees. Dit is daardie Gees wat ons, volgens Johannes 16:13, in die hele waarheid sal lei. Christus onderrig dus op só ʼn wyse dat daardie onderrig ook ingang vind in ons harte en ons lewens radikaal verander, sodat ons volgens God se wil begin dink, praat en optree. Andersyds verteenwoordig Christus ook die gelowiges by God. En Hy doen dit nie slegs deur ʼn dier vir ons te offer nie; nee, Hy was self die slagoffer vir die sondes van almal wat deur God uitverkies is. Hy was Priester en Offer, Offeraar en Offerlam tegelyk. Deur middel van hierdie offer het Christus versoening tussen God en ons bewerk, en het Hy die reg verwerf om dag en nag as Voorspraak vir die gelowiges by God in te tree. Met voortdurende verwysing na sy eie offer aan die kruis, bid Christus tot sy Vader vir die uitverkorenes.

In Christus het die middelaarstaak, wat die priesters van die Ou Testament alreeds ontvang het, tot volle vervulling gekom. Hy is volmaak, sowel in sy verteenwoordiging van God by die gelowiges as in sy verteenwoordiging van die gelowiges by God.

Die Uitwerking in Ons Priesterdiens🔗

Wie in Jesus Christus glo, het deel aan Hom – Hy in my, en ek in Hom. Wat myne is, word syne; wat syne is, word myne. Die Christen lewe gevolglik deur die krag van Christus, en Christus maak sy krag sigbaar in die lewe van die Christen. Hierdie eenheid tussen Christus en die Christen is so intiem dat dit onvermydelik moet uitwerk in die lewe van die Christen. Wanneer Christus die volmaakte Hoëpriester is, dan moet dit uiteraard ook sigbaar word in die priesterdiens van die Christen! Maar hoe moet ons konkreet hieroor dink?

Wel, ons priesterdiens kom in die eerste plek na vore wanneer ons God hier op aarde verteenwoordig. En dit doen ons deur mekaar te leer en te vermaan. Ja, eers moet ons deur Christus en sy Gees geleer word, soos wat Paulus ons in Kolossense 3:16a oproep: “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid.” Maar daarna sê Paulus in vers 16b ook nog: “Leer en vermaan mekaar…” Wanneer ons onsself deur ons Hoëpriester, Christus, laat leer, behoort ons vervolgens self ook priesters te wees en mekaar te leer. En onthou: dit is nie hoogmoed wat ons daartoe bring om ander te wil leer en vermaan nie. Dit is priesterlike diensbaarheid wat ons daartoe bring.

Deur in nederigheid ander te leer en te vermaan, hou ons daardie persoon juis by Christus. Dít is priesterdiens!

Vervolgens kom ons priesterdiens ook na vore wanneer ons ander mense by God verteenwoordig.

gebed

En dít doen ons deur, soos die Ou Testamentiese priesters, offers te bring. Nee, nie diere-offers nie, maar die offer van ons lewe! Selfopoffering ter wille van ons naaste.

En hierdie selfopoffering kom na vore in ons gebede vir ander (Hebreërs 13:15: “Laat ons dan gedurig … aan God ʼn lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely” en Jakobus 5:16: “…bid vir mekaar”), dit kom tot uiting in ons gawes aan die armes en aan die kerk (Hebreërs 13:16: “Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het ʼn welbehae aan sulke offers”), en dit kom tot uiting in die bereidheid om kruis en teëspoed ter wille van ander te verdra (Filippense 2:17: “Maar al word ek as ʼn drankoffer uitgegiet oor die offer en bediening van julle geloof, verbly ek my…”).

Priesterdiens is dus nie iets van die verlede nie; dit is ook nie vaag nie. Baie konkreet kan ons ons priesterdiens hande en voete gee in die lewe van elke dag. Wees priesters volgens die voorbeeld van Christus. Doen dit omdat jy ʼn verloste is:

Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.Openbaring 20:6