Bron: Kompas. 4 bladsye.

Die Betekenis van die Dordtse Kerkorde

Bybel

Terwyl omstreeks 1570 die gelowiges in die Nederlande swaar vervolg is en tienduisende van hulle gevlug het om vryheid vir die geloof elders te soek, het afgevaardigdes van die kerke byeengekom. Die eerste byeenkoms is deur die bekende Marnix van Sint Aldegonde voorberei en die groep afgevaardigdes het onder baie moeilike omstandighede byeengekom. Die betekenis van hierdie vergadering moes wel groot gewees het, gesien die aanslae op die kerk en die verstrooiing van die lidmate.

En tog het die vergadering nie gehandel oor die vervolging nie, daar is nie gepraat oor die opstel van ’n belydenis nie en ook is daar geen aksies teen die regering beplan nie.

Waaroor is daar dan vergader?

Oor die vraag hoe die kerke, straks, wanneer die Here vryheid van geloof gegee het en die gelowiges weer na hul woonplekke teruggekeer het, moet saamleef om hul plek in God se koninkryk vol te staan. Daar is beraadslaag oor ’n kerkorde. Dit was die begin van wat ons nou ken as die Dordtse Kerkorde (DKO). Gesien die moeilike omstandighede waaronder die inisiatief geneem is, was hierdie kwessie vir die gereformeerde gelowiges dus van baie groot betekenis!

Kerkregering of Kerkorde🔗

Voor die Hervorming was daar die Roomse kerk. Deur die eeue het hierdie kerk die tradisie van die hiërargie gevestig. Die pous in Rome as aardse hoof van die kerk het deur middel van sy kardinale en biskoppe die wêreldwye kerk regeer. Wette en reëls is deur Rome afgekondig en elkeen moes daaraan gehoorsaam wees.

Luther het met hierdie hiërargie in botsing gekom. Hy het uiteindelik met hierdie hiërargie gebreek en dit gewys deur die kerklike wetboeke openlik te verbrand. By dié geleentheid het hy ook die banbrief wat op die kerklike wette gebaseer was, in die vuur gegooi.

Luther het verstaan dat God se kerk op aarde nie soos die Roomse kerk regeer mag word nie. Maar daar moet wel leiding gegee word. Gesien die onstuimige tye en die soms opstandige optrede van die volk, was Luther van oordeel dat die prinse en stadsregeerders ’n stewige aandeel in die regering van die kerk moes kry.

Daar was ook ander stromings. Sommige het beweer dat alle leiding in die kerk sleg is. Elke gelowige sou onder direkte leiding van die Heilige Gees staan en alle reëls en afsprake binne die kerk sou die werk van die Gees slegs belemmer. Hervorming sou vryheid beteken in die volle betekenis van die woord. Ook binne die kerk.

En dan was daar ook nog Calvyn in Genève wat ’n heeltemal eie model vir die kerk daar ontwerp het. Ouderlinge en predikante sou die mense wees wat deur die Here gebruik word om, onder verligting van die Heilige Gees en volgens die Woord van God, die kerk te lei.

Die vraag was dus: wat gaan die kerke in die Nederlande straks doen? Tog seker nie die Roomse hiërargiese model nie, maar daar moet wel orde wees. Kan daar inderdaad, soos Luther dit gedoen het, aan die regering ’n taak binne die kerk toegeken word? En wanneer die Geneefse model gekies word, hoe kan dié kerkorde – wat vir slegs een kerk in een stad ontwerp is – aangepas word vir ’n groot kerkverband binne ’n federasie van ’n aantal staatkundige eenhede?

roomse kerk

Belangrike vrae. En tereg het die broeders besef dat hulle voorbereid moes wees op die dag van vryheid. Want wanneer die kerklike sake eers in wanorde ontwikkel, sal dit uiters moeilik wees om weer orde op sake te stel.

Daar moes dus inderdaad na ’n nuwe weg gesoek word. Geen kerkregering nie, maar wel ’n ordelike samelewing van kerke tot eer van God.

Die Visie🔗

Gelukkig was daar reeds een voorbeeld van ’n gereformeerd kerkverband aanwesig. In Frankryk het in 1559, onder leiding van leerlinge van Calvyn, ’n sinode in Parys reeds Skriftuurlike riglyne vasgestel. ’n Weerklank daarvan vind ons in die oorspronklike eerste artikel van die Nederlandse kerkorde:

Geen kerk mag oor ander kerke, geen bedienaar van die Woord oor ander bedienaars van die Woord, geen ouderling oor ander ouderlinge, geen diaken oor ander diakens enige heerskappy voer nie.

Geen hiërargie nie, maar wel die selfstandigheid van die plaaslike kerk.

Hierdie fondament het ons voorouers gelê en daarop verder gebou.

Maar ’n fondament bestaan uit meer as een steen. Geen hiërargie nie, pragtig, selfstandigheid van die plaaslike kerk, uitstekend, maar het Christus self ook nie in sy hoëpriesterlike gebed die eenheid beklemtoon nie? Inderdaad moet ook hierdie aspek in die kerkorde sy wettige plek kry. Maar dan is dit wel belangrik om te besef dat dit nie sommer om eenheid gaan nie, maar om eenheid in die ware geloof.

Die ware geloof verbind deur die eeue heen al die gelowiges van alle plekke. En tegelyk klop die hart van hierdie kerk van alle eeue in die lewe van die plaaslike gemeentes.

Die Artikels🔗

Dit is opvallend dat daar, in die beperkte aantal artikels van die kerkorde, so baie verwysings na hierdie fondament is. Dit is nie moontlik om alles te noem nie, net so ’n paar voorbeelde:

  • die gemeente verkies die ampsdraers, hulle word nie soos by Rome deur die biskoppe benoem nie;
  • die ampsdraers het ’n beperkte ampsdiens; ná die vasgestelde tyd tree hulle af om deur ander vervang te word, sodat daar geen heerskappy sal wees nie;
  • die outoriteit om ’n ampsdraer af te sit wat deur enige openbare sonde tot skande en lastering van die gemeente strek, berus by die kerkraad.

Die eenheid van die kerke word beklemtoon deur die vorming van klassisse en sinodes. Waar ’n kerk met probleme of vrae gekonfronteer word, kan nie al die ander kerke dadelik van hulp wees nie. Met die oog daarop sal kerke in dieselfde streek reëlmatig as klassis byeenkom:

  • hierdie klassis hou onderlinge toesig deur middel van kerkvisitasie;
  • die klassis gee verklarings af ten aansien van die predikante wat na elders vertrek;
  • lidmate wat meen dat hulle deur ’n besluit van hul kerkraad verongelyk word, kan ’n beroep op die klassis doen.

kerkbanke

Op dieselfde manier kan in een of meerdere provinsies jaarliks ’n provinsiale sinode gehou word, net so ook ’n landelike sinode:

  • die klassisse benoem afgevaardigdes na die provinsiale sinode, wat op hulle beurt weer afgevaardigdes na die algemene sinode benoem;
  • hierdie meerdere vergaderings (vergaderings van meer as een kerk) sal slegs dié sake hanteer wat deur die plaaslike kerke aan hom opgedra word;
  • sodra die sakelys afgehandel is, gaan die vergadering uiteen. Daar bestaan geen permanente kerklike besture nie.

Hoewel daar sterk teen enige vorm van hiërargie gewaak word, word tegelyk belowe dat die besluite van die meerdere vergaderings deur die plaaslike kerke gevolg sal word. Die eenheid van die kerke onderling is nie ’n vryblywende saak nie:

  • die kerkrade neem kennis van die besluite van die meerdere vergaderings en sorg daarvoor dat, vir sover dit op hulle betrekking het, ook uitgevoer word;
  • slegs wanneer aangetoon word dat ’n besluit teen die Skrif, die gesamentlike belydenis of die reëls van die kerkorde ingaan, kan teen daardie besluit geappelleer word.

So word telkens weer teruggegaan na die fundamentele sake, geen onbelangrike sake word vasgestel nie, telkens word die vryheid van die plaaslike kerk en die eenheid van die ware geloof in gedagte gehou:

  • die kerkorde bepaal nie of die predikant by die doop een of drie keer water moet sprinkel nie;
  • die kerkorde bepaal nie of die nagmaal staande of sittende gevier moet word nie;
  • die kerkorde stel geen reëls vas op watter manier die gemeente sy ampsdraers moet kies nie.

Betekenis🔗

Dit is wel belangrik om te sien wat die kerkorde wel en wat die kerkorde nie reël nie. Dit is dan opvallend dat daar so baie ruimte gelaat word vir die plaaslike kerk om in sy eie situasie selfstandig op te tree. In die plaaslike kerk klop die hart van die kerklike lewe, daar vind die Woordverkondiging plaas en daar moet ook sigbaar word wat die antwoord van die gelowiges is. Van die plaaslike kerk en die lewende gemeente gaan die werfkrag van die kerk uit. En hierdie elemente verteenwoordig ook die belangrikste take van die kerk.

Die kerkverband het daarby ook ’n rol om te speel. Daar is take wat slegs gemeenskaplik aangepak kan word, soos byvoorbeeld die opleiding van predikante. Maar die belangrikste taak van die meerdere vergaderings is om die plaaslike kerke in staat te stel om hulle taak te vervul. Dit beteken mekaar vashou by die ware geloof, mekaar bemoedig en help as daar probleme is.

Die DKO roep die kerklike lewe van die eerste eeue in herinnering. Al die kerke dwarsdeur die Romeinse Ryk versprei, moes elkeen in sy eie woonplek kerk van Christus wees. Daar was geen uitvoerige georganiseerde kerkverband nie. Die kerke het egter, wanneer dit nodig was, saam vergader. Hulle het mekaar gedien en vasgehou. Die wonderlike werfkrag van die kerk was die plaaslike kerk, die lewende gemeenskap van gelowiges, dit wat die heidene jaloers gemaak het.

boeke

Nee, die kerkorde is geen belydenisskrif nie. Veranderings aan die DKO is dan ook al herhaaldelik aangebring. Soos die tydsomstandighede dit vereis het, is artikels bygevoeg, verander of weggelaat. Maar die visie het dieselfde gebly, en hierdie klein boekie met sy beperkte getal afsprake het deur die eeue ’n belangrike taak vervul.

Behalwe vir die afsprake wat daarin opgeneem is, funksioneer die DKO ook as ’n waarskuwingslig. Sodra ’n kerkverband vir homself ander take begin formuleer as wat vir hom weggelê is, of ook take van die plaaslike kerke wegneem of ondergeskikte sake in die kerklike lewe begin reël, dan verloor ons die sorgvuldige balans wat so kenmerkend is van die Dordtse kerkorde. In daardie geval word die kerkorde ’n dwangbuis van reëls waardeur die plaaslike kerk sy selfstandigheid verloor. Uiteindelik kan dit die gemeentelike lewe vernietig en daarmee die werfkrag van die kerk wegneem.

En dan roep die DKO ons terug: Geen hiërargie en geen independentisme nie; geen bemoeisieke kerkverband en geen willekeurige kerke nie; maar selfstandigheid binne die eenheid van die ware geloof.