Bron: Kompas. 3 bladsye.

Christen Wees in 'n Sondige Wêreld

vrou alleen🔗

Afsonder of Saamwerk – ’n Teenstrydigheid?🔗

In die Wêreld?🔗

Vir die meeste gelowiges is bogenoemde nie eintlik ’n probleem nie. Ons leef immers in hierdie wêreld maar is daarom nie van die wêreld nie! Maar kan gelowiges dit verantwoord om saam met nie-Christene doelwitte na te streef? Hoe moet gelowiges lewe sonder om die antitese tussen goed en kwaad, tussen lig en duister, tussen God en die duiwel te verdoesel?

Die standaard antwoorde wat ’n mens hoor, wissel: “deur ’n suiwer lewenswandel; onderhou die tien gebooie; haat wat sleg is…” Ons sal almal saamstem, dit is Bybelse riglyne. Maar hoe moet ons ons afsonder van die verkeerde, ons heilig hou, maar tog ’n ligtende lig wees?

Is “om in die wêreld te getuig” en “die lig uit te dra” teenstrydig met “ons af te sonder”? Wat het die Here van mense soos Naäman, die hofdienaar van Ethiopië, Cornelius en die vele ander nie-Jode wat bekeer is, verlang? Moes Cornelius sy pos in die Romeinse weermag verlaat omdat hy gelowig geword het? Moes die goewerneur op Ciprus sy pos as goewerneur laat staan omdat Hy gelowig geword het? Moet ’n gelowige hom met die daad onttrek van die sondige wêreld? Die meeste van ons sal ‘nee’ antwoord maar, net soos ek, nie presies weet hoe om op te tree in die gevalle nie.

Afsondering van die Wêreld?🔗

In die Middeleeue was díe strewe onder die Roomse kerk baie sterk: heilig jouself deur jou af te sonder van die sondige wêreld. Sluit jou af van die sondige wêreld en woon in ’n klooster waar jy God ongehinderd kan dien en nie verlei word nie.

Ook die Fariseërs het gestrewe na ’n “sondelose” bestaan. Hulle het probeer om die sonde sover as moontlik van hulle af weg te hou. Wette en reëls is gebruik om die sonde minder op die volk van God te laat inwerk. Tog berispe die Here Jesus hulle. Hulle probeer om vir ander voor te skryf wat om te doen, meer nog, wat om nie te doen nie. Hulle maak van die aardse lewe ’n lewe wat op reëls gebaseer is.

Hulle bepaal wat goed en sleg is en hoe die volk van God hulle moet gedra deur gedetailleerde en onsinnige wette.

Die liefde ontbreek by julle (wetgeleerdes), sê Christus. Hy wys hulle wie hulle naaste is en wat liefde beteken; onder andere deur die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Dit is insiggewend dat Hy juis ’n Samaritaan (’n nie-Jood en ’n nie-gelowige, wat geen deel aan die verbond het nie) gebruik om die verbondskinders (Israel) te wys wat liefde is. Verder lees ons ook in Matteus 23:24:

Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou.

En tog heers die gedagte van afsondering ook onder vandag se gelowiges. Dit is makliker om Christen te wees in ’n Christelike as in ’n nie-Christelike omgewing: dit is makliker om Christen te wees sonder om met verskille gekonfronteer te word. Daarom is dit verstaanbaar dat daar in die verlede al baie “mure” gebou is om groter “kloosters” te genereer.

monnike🔗

Saamwerk?🔗

Maar kan ons deel wees van ’n Godlose regering, is dit verantwoord om saam met postmoderne denke, sekulêre, ateïstiese, liberale en kommunistiese denkers en regeerders saam te werk?

Die bergpredikasie (Matteus 5) leer ons dat die gelowige dissipels van Christus sal ly as hulle Hom waarlik volg. Hulle sal hul ander wang ook moet draai as hulle onregmatig op die een wang geslaan is. Hulle sal die ekstra myl moet loop, vernedering en smaad moet verduur juis omdat Christus al hierdie, en onmeetbaar meer, vir hulle (ons) gedra het. Ook leer die bergpredikasie dat ons moet opstaan vir die regte van ons naaste wat verdruk word. Ons dien ons Saligmaker onder andere deur ons naaste, deur aan hom te doen wat ons aan onsself gedoen wil hê. Ons moet lewe tot nut van en liefde vir ons naaste.

Vir hom (ons naaste) mag en moet ons die reg, beskerming en hulp soek, sodat ook hulle (ook al is hulle goddeloos) as beelddraer van God die liefde van God mag ervaar.

Tog voel dit vir ons dikwels verkeerd om deel te wees (ook al is dit op ’n voorwaardelike basis) van ’n goddelose stelsel. Maar is dit nie deels omdat ook ons in die sondige wêreld staan as gevolg van ons eie sonde nie? Ook ons as gelowiges het deel aan die sondige wêreld. Ons kan nie stel dat ons geen deel het nie of probeer om uit die sondige wêreld te kom nie, selfs al probeer ons dit soos wat die “Amish people” en monnike probeer. Ons is deel van die probleem.

Aan die ander kant moet ons ook dankbaar wees vir die goeie dinge in ’n verkeerde stelsel of, anders gestel, ’n sondige wêreld. God gee baie goeie dinge wat deur nie-gelowiges ontwerp en ingestel is. Een voorbeeld is ’n goeie verkeerstelsel met bekwame en hulpvaardige verkeersbeamptes wat daartoe sal bydra dat mense betyds en veilig hul werksplekke en ander bestemmings kan bereik.

Mag ons die Here dank vir veilige doeltreffende verkeersreëls en wetstoepassing? Mag ons die Here dank vir bekwame en hardwerkende mense wat hierdie diens lewer, ook al is hulle ateïste of afgod-aanbidders?

Kyk maar na die man wat beroof en amper vir dood agtergelaat is, maar deur die (heidense) Samaritaan versorg en na ’n herberg gebring is! Mag of moet hierdie man God nie dank vir die werk van die barmhartige Samaritaan nie?

Tweedens, moet ons as Christene nie daadwerklik betrokke raak sodat elke burger sy talente tot God se eer kan aanwend nie? Met ander woorde dat hy sy naaste kan dien met sy Godgegewe talente en gawes? Dit is ’n kort aanbeveling, maar in die praktyk amper ’n onbegonne taak. Een element is dat elke kind die reg het tot goeie onderwys. Ja, die regering redeneer vanuit ’n politiese en menseregtebenadering, maar vir die gelowige is die “beeld van God” die uitgangspunt.

Dus, alhoewel die motivering verskillend is, kan die doel dieselfde wees en kan ons met regerings of instansies saamwerk tot voordeel van hierdie kinders. In alle gevalle moet ons egter duidelik die werklike motivering as getuienis van die enigste Oppermag deurgee.

Daar is egter gebiede waar gelowiges nie kan saamwerk nie. As opdragte direk teen God se Woord ingaan, kan en moet die gelowige die goddelose gesag weier. Maar gee Sondagsontheiliging, deur handel op Sondae toe te laat, ons die reg om die regering se gesag te ondermyn? Ek dink ons stem saam dat dit nie tot gesagsondermyning kan lei nie. Maar dit beteken ook nie dat ek handel gaan toelaat nie, met ander woorde ek weerhou my van handel, besigheid en verwante aktiwiteite op ’n Sondag. ’n Voorbeeld waar gelowiges wel teen die landswette moet ingaan, is in die uitvoering van aborsies om ongewenste swangerskappe te beëindig. Dan is weiering geregverdig.

swaard🔗

Getuienis as Tweesnydende Swaard🔗

Die geloof en Christendom word nêrens in die Nuwe Testament op mense afgedwing nie. Die evangelie kan net verkondig word deur mense vreedsaam met die Woord en met dade te benader. Ons sal moet getuig, mense laat sien en laat besef dat ons as Christene anders is. Mense kan dan kies vir of teen Christus. Ja, elke mens sal moet kies, want die Woord is tweesnydend, met ander woorde dit lei tot geloof of tot ongeloof. Nou is dit ’n maklike uitweg om te verwag dat die regering reëls en wette laat uitvaardig wat op Christelike uitgangspunte gebaseer is. Ook al sou dit gebeur, beteken dit nie dat die swaardmag in die kerk gebruik mag word nie. Die Christelike geloof kan nie afgedwing word nie. Geen brandstapels, guillotines of gevangenisstraf vir ongelowiges of skeurmakers in die kerk nie. Alleenlik uitsluiting (die ban) as liefdesmiddel in die kerk, deur die kerk. Getuienis in die wêreld is verpligtend vir ons as Christus-volgers in ’n Godvresende maar ook in ’n Godlose omgewing.

Mag ons Strewe na Aardse Vrede?🔗

Ware vrede sal ons nooit op hierdie aarde ervaar nie. Ware vrede is alleen moontlik deur Jesus Christus. Gelowiges moet nie deur ideale gedryf word om hierdie aarde wat deur ons sonde besmet en vervloek is, in ’n paradys te wil verander nie. Hierdie aarde sal verbrand word as gevolg van die sonde.

Maar mag ons saamwerk om relatiewe rus, tye sonder oorlog, hongersnood en armoede na te streef? Volgens 1 Timoteus 2:1-4 moet ons aanhoudend daarvoor bid. Ook bely ons in artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis dat die owerheid orde, rus en vrede moet nastreef sodat die kerk sy werk (God verheerlik en sy genade uitdra) kan doen. Die rus en vrede is dan ’n middel om God se werk onverhinderd te kan verrig.

Christen wees in die praktyk is moeilik. Dit verg samewerking met ons naastes maar afsondering van sonde. Desondanks bly daar baie praktiese vrae.