Bron: Kompas. 4 bladsye.

Egskeiding en hertrou

Egskeiding is 'n droewige werklikheid in ons samelewing. 'n Hoë persentasie van die huwelike wat gesluit word, eindig met 'n eg­skeiding. Dit blyk 'n traumatiese ervaring te wees. Wie kan die ellende wat eggenote en kinders deurmaak vanweë die ontbinding van huwelik en gesin, ooit peil? Dit is iets wat ons graag mense sou wil bespaar. Rondom eg­skeiding en hertrou is daar egter baie verwarring. Die liberale wetgewing maak dit maklik en gee die indruk dat dit geregverdig is om oor enige rede te skei. Onder die mense wat hulself Christene noem, is daar ook 'n groot verskil van mening hieroor. Wat is God se wil met betrekking tot egskei­ding en hertrou? Kom ons kyk na wat God self sê aan die hand van verskillende relevante Skrifgedeeltes. Ons doen dit nie om die vinger na ander mense te wys nie, maar om onsself onder die tug van die Woord van God te stel en om mekaar die ellende van die egskeiding te probeer bespaar.

Mattheüs 5:31,32; 19:3-12🔗

In die bergpredikasie en in Matt. 19 veroordeel Christus die Fariseërs se vervorming van die wette van Moses. Die Fariseërs suggereer dat elkeen van sy vrou mag skei as hy maar die voorgeskrewe prosedure volg en hy 'n skeibrief aan sy vrou gee. Hulle suggereer dat egskeiding feitlik toelaatbaar is oor enige rede en dat Moses slegs bevel gegee het om 'n skeibrief te gee. Dit blyk 'n duidelike manipulasie te wees van die reëling wat Moses in Deut. 24 getref het.

In Deut. 24:1-4 stel Moses nie die egskeiding as 'n reg in nie, maar plaas grense aan 'n reeds bestaande praktyk in Israel. Die hoofgedagte van hierdie Skrifgedeelte is dat as 'n man van sy vrou geskei is, hy nie weer met haar mag trou nie as sy al 'n tweede huwelik aangegaan het. Hierdie gedeelte wil duidelik onbesonne en willekeurige egskeidings teengaan. Dit blyk ook uit die feit dat 'n substansiële grond vir die skeiding ("iets onbehoorliks" - wat uitgelê kan word as "skaamtelose gedrag") genoem moet word, dat hy 'n behoorlike regsdokument, toe in die vorm van 'n skeibrief, moet skryf (of laat skryf) en dat hy dit aan sy vrou moet oorhandig voordat hy haar uit sy huis mag wegstuur. 'n Man kon dus nie sommer op die ingewing van die oomblik, sonder goeie redes en sonder om behoorlik na te dink, van sy vrou skei nie. En as hy sy vrou al weggestuur het, dan word hy gedwing om ernstig te oorweeg om haar terug te neem terwyl sy nog ongehuud is en hy haar nog terug kan kry.

Die Fariseërs het die woorde van Moses misbruik en uitgerek teen die bedoeling in. Terwyl dit by Moses juis daarom gegaan het om duidelike grense te plaas aan 'n bestaande praktyk van egskeiding, probeer die Fariseërs die woorde uitrek om egskeiding onbegrensd moontlik te maak oor amper enige rede. Skrifwoorde word misbruik vir die bevrediging van eie menslike verlangens. Ons pas ons nie aan by die Skrif nie, maar die Skrif moet aanpas by ons! Dit het al so gegaan in Jesus se tyd, en dit gebeur in ons tyd elke dag opnuut. Let maar op die verskillende verklarings wat oor die Skrifgedeeltes oor egskei­ding en hertrou gegee word. Die woorde van 1 Kor. 7:9: "want dit is beter om te trou as om van begeerte te brand" word vandag byvoorbeeld dikwels gebruik om elke tweede huwelik goed te praat, ook al was die egskeiding in die lig van die Bybel ongeoorloof, teen die duidelike bedoeling van 1 Kor. 7:11 in. Ons moet die woorde van die Skrif in hul verband laat staan en so verklaar. Dit geld ook vir woorde wat eg­skeiding skerp veroordeel. Laat ons byvoorbeeld nie die woorde van Maleagi 2:16: "Ek haat eg­skeiding" so gebruik asof egskei­ding altyd en onder alie omstandighede onskriftuurlik is nie. Dan sou ons selfs God moet beskuldig van onskriftuurlike optrede wanneer Hy in Jeremia 3:8 sê dat Hy die afkerige Israel verstoot het en haar haar skeibrief gegee het. Absolute verbod teen egskeiding sou ook ingaan teen ander duidelike Skrifgegewens (bv. Esra 10:3, Matt. 5:32). Laat ons dus versigtig wees en die woorde van die Skrif in hulle verband bly lees en hulle nie mis­bruik om daarmee ons eie vooringenome idees te verdedig nie.

Die Here Jesus leer dat daar inderdaad eintlik geen egskeiding sou moet wees nie. Moses het dit toegelaat onder sekere voorwaardes, "weens die hardheid van jul harte" (Matt. 19:8). Eintlik sou daar nooit iets soos 'n skei­brief moes wees nie, maar van­weë die verskriklike werklikheid van die sonde moes iets gereël word om orde te bring in die chaos. Hierdie reël neem niks weg van die morele plig om in ons huwelik trou te wees nie.

Daarom gaan die Here vanaf Deut. 24 terug na Genesis 1 en 3. "Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees; sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie." (Matt. 19:4-6). Let daarop dat God hulle saam­gevoeg het. Daarom mag ons die verbinding nie opbreek nie.

In Matt. 5 en 19 noem die Here die enigste uitsondering, naamlik in die geval van hoerery. Slegs dan is egskeiding geoorloof. Dit is egter nie 'n verpligting nie, daar is altyd die moontlikheid van versoening! Dit is selfs verkieslik in die oë van die Here, vergelyk maar hoe die Here Homself versoen het met sy ontroue bruid en haar teruggeneem het (Jer. 3:12-14; 31:31-34). Hoerery, onwettige seksuele verhoudinge, maak so 'n inbreuk op die huwelik dat egskeiding en hertrou geoorloof is.

Die Here besef dat sy onderwys nie maklik is om in praktyk te bring nie. Hy spreek oor hoe die lewe in sy koninkryk offers van die mens vra. Daarom praat Hy oor ontmandes ter wille van die koninkryk (Matt 19:12). Jy gee dan die seksuele genot prys, deur jouself van 'n tweede huwe­lik te weerhou, ook al is jou huidige huwelik heeltemal onbevredigend. Huwelik en seksuele ge­not is nie die belangrikste in die lewe nie. Daar kan situasies wees waarin 'n mens hom moet onthou van dinge wat heel normaal en natuurlik is. Dit kan groot stryd en moeite veroorsaak. Dit sny diep in jou vlees. Maar dit is waaroor die volg van Christus gaan. As jy agter Christus aan wil gaan, dan moet jy jouself verloën, jou kruis op jou neem en Hom volg (Matt. 16:24,25).

1 Kor. 7:7-11🔗

In 1 Kor. 7 beantwoord Paulus die vrae van die Korintiërs. Hy begin om seksuele omgang tussen 'n man en sy vrou te regverdig. Dit  is iets wat hulle aan mekaar verskuldig is. Jy mag dit nie weier nie, sê Paulus, behalwe met wedersydse ooreenstemming vir 'n tyd lank. In die verse 8 en 9 skryf Paulus dat die ongetroudes en die weduwees goed doen om nie (weer) te trou nie. Die rede daarvoor is die aanstaande nood (vers 26). Waar hulle hul nie kan beheer nie, daar is dit beter dat hulle trou.

In die verse 10 en 11 verbied Paulus egskeiding en hertrou onder die Christene. Hy roep op tot huwelikstrou, ook in moeilike omstandighede. Die reël in die kerk is dat getroude gelowiges nie mag skei nie. Hierdie reël is duidelik en eenvoudig. Dit is soos die Here dit self geleer het, sê die apostel in vers 10. Hy het dan waarskynlik gedink aan tekste soos Markus 10:9 en Matt. 19:6. Laat niemand opper dat Paulus hierdie reël maklik kan noem, omdat hy onkundig is oor die moeites wat selfs in 'n huwe­lik van twee Christene kan ontstaan nie. Paulus noem "die aanstaande nood" en "verdrukking vir die vlees" (verse; 26,28). Tog verbied hy die egskeiding. Natuurlik vergeet Paulus hier nie die uitsondering wat Christus genoem het in Matt. 5 en 19, naamlik hoe­rery, nie. Dit is egter nie nou ter sprake nie. Paulus is besig om mense te adresseer wat hy so pas skerp teen hoerery gewaarsku het. Hy sê vir hulle: julle mag geen seksuele omgang hê met iemand behalwe jou eie man of vrou nie en jy mag nie skei nie.

Sodra Paulus skeiding verbied, erken hy die praktiese situasie dat vroue tog skei onder sekere ekstreme omstandighede. Daar­om gaan hy verder in vers 11 "en as sy tog van hom skei, moet sy ongetroud bly, of haar met haar man versoen; en dat die man sy vrou nie moet verstoot nie." Paulus noem nie watter omstandighede dit vir die vrou nodig kan maak om haar man te verlaat nie. Hy dui slegs aan dat daar in so 'n geval 'n ernstige breuk in die verhouding moet wees. Hy praat mos van "versoening" wat nuttig is.

Die verhouding is waarskynlik verbreek deur die sonde van die man. Miskien is hy aan drank verslaaf, wat lei tot reëlmatige dronkenskap en liggaamlike mishandeling van sy vrou. Miskien maak die man homself skuldig aan geestelike en emosionele mishandeling van sy vrou, sodat sy geestelik verwoes word. Sy verlaat dan haar man in 'n poging om haarself te red en in veiligheid te bring.

Onder daardie omstandighede het die vrou twee opsies: om on­getroud te bly of om haar met haar man te versoen. Een ding is nie vir haar oop nie: om te trou met 'n ander man. Sy weet dit voordat sy die huis van haar man verlaat. Daarom sal sy ook nie ligvaardig die huis verlaat nie, maar alleen om baie ernstige redes, uit bittere noodsaak.

Gevolgtrekkings uit 1 Kor. 7:11🔗

  1. Paulus sien dit as 'n reële moontlikheid vir gelowiges om 'n lewe van eensaamheid en seksuele onthouding te lei - wat vandag gesien word as onchristelike gestrengheid en 'n liggaamlike onmoontlikheid. Oor die vrou wat haar man verlaat het, sê hy: een ding is duidelik: "sy moet ongetroud bly." Die gevolg hiervan is dat sy miskien haar hele lewe in eensaamheid en seksuele onthouding moet deurbring. 'n Baie swaar pad. Dink egter aan wat Christus gesê het oor ontmandes ter wille van die koninkryk.
  2. Gelowiges wie se huwelik groot moeites ondervind sodat dit selfs tot skeiding van tafel en bed lei, moet werk aan versoening. Dit is moontlik deur die krag van die kruis van Christus wat in die sentrum van elke Christelike hu­welik staan. "Of haar met haar man versoen." Hoe dikwels gebeur dit nie dat getroude mense twyfel aan die krag van die kruis van Christus nie. "Ek kan nooit weer hierdie verhouding herstel nie, daar het te veel gebeur en is te veel gesê, ek het te veel seergekry." Onthou egter, as die kruis jou, 'n groot sondaar, kan versoen met God, sal die kruis dan nie jou met jou man of vrou kan versoen nie?
  3. Paulus laat ook duidelik sien dat die oorspronklike huweliksband, ondanks die huweliksprobleme, tog nog bestaan en van krag is. Waarom moet die vrou ongetroud bly? Om­dat sy al getroud is en steeds getroud gebly het. Waarom moet sy, waar moontlik, haar versoen met haar man? Omdat hy nog steeds haar man is. Paulus roep ons op om die huweliksband te eer, ook al is dit so toegetakel deur sonde dat dit nodig geword het om (vir 'n tyd?) te skei.

Terloops moet ook opgemerk word dat die verbod van skeiding ook geld vir geestelike skeiding en verstoting. Baie mense doen dit in bitterheid of wanhoop. Vroue mag nie geestelik "skei" van hul mans nie ook al woon hulle liggaamlik nog saam met hulle. Mans mag hul vroue nie in hul harte verstoot nie, nadat hulle hul opgegee het vanweë vermeende of reële foute. Om ook na hierdie deel van die gebod te leef, kan baie moeilik wees. Maar die huwelik is die moeite werd om vir te veg met alie moontlike middele. Ons praat immers oor God se kosbare instelling van die huwelik.

1 Kor. 7:12-16🔗

In hierdie gedeelte rig Paulus homself tot hulle wat getroud is met ongelowiges. Gemengde huwelike vanweë die feit dat een van die egpaar tot geloof gekom het. Sulke gelowiges het in 'n ongelukkige situasie beland: Christus en Belial in een huis en bed. Moet hulle hierdie verhouding steeds volhou? Paulus sê: hy moet haar nie verstoot nie. Geen skeiding, selfs in hierdie moeilike situasie nie. Eenvoudig nie omdat God ook hierdie twee mense saamgebind het. Bowendien, die gelowige kan 'n middel wees om die ongelowige te red en die kinders is ten volle verbondskinders. Die gelowige hoef egter nie tot elke prys by die ongelowige eggenoot te bly nie. As die ongelo­wige man of vrou wil skei, laat hom of haar skei (vers 15). "In sulke gevalle is die broeder of suster nie gebonde nie".  Wat word bedoel met die woorde "nie gebonde nie"? Sommiges verklaar dit in die sin dat die persoon nie 'n slaaf van die ander is nie, maar dat die band van die huwe­lik bly. Dit meeste gereformeerde verklaarders (inklusief die Westminster Konfessie) lees hierin dat die huwelik ontbind is en dat die pad na 'n tweede huwelik oop is. Dit is ook opvallend dat ons hier geen bepalings soos in vers 11 het nie, "ongetroud bly of versoen."

Konklusies🔗

Op grond van bostaande Skrifgegewens mag ons konkludeer:

  1. As hoerery deur een van die partye gepleeg is, dan mag 'n egskeiding op grond daarvan plaasvind (volgens Matt. 5:32; 19:9). Dan is ook die weg oop na 'n tweede huwelik.
  2. Kwaadwillige verlating deur die ongelowige party is ook voldoende gronde vir 'n gelowige om 'n egskeiding aan te vra en daarin te berus (vol­gens 1 Kor. 7:15). Hierdie persoon is ook vry om weer te trou.