Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Die nuwe grondwet - 'n toets

Normaalweg is hierdie tyd van die jaar 'n tyd van stroomversnellings. Vanjaar gaan dit egter gepaard met sulke vinnige politieke veranderings dat die gewone landsburger kwalik kan byhou. Die vernaamste hiervan is ongetwyfeld die grondwet vir die nuwe Suid-Afrika wat in hierdie dae op die tafel is.

Oor die nuwe grondwet is daar beslis gemengde gevoelens: sommige mense is daarvoor, ander daarteen. Maar wat ookal elkeen se standpunt en voorkeure sou wees, is die nuwe grondwet 'n harde werklikheid waarmee elkeen gekonfronteer word. Vir die Christene in ons land, en spesifiek vir ons gereformeerdes, is die nuwe grondwet meer as net 'n werklikheid — dit is vir ons 'n toets. Soos met baie ander dinge wat oor ons beskik word, word ons ook deur die werklikheid van die nuwe grondwet getoets of ons werklik deurdronge is van die gereformeerde beginsels waarmee ons geoormerk is.

Histerie, of ruggraatloosheid?🔗

Reaksies wat nie by ware gereformeerdes sou pas nie, is enersyds dié van histerie, en andersyds dié van ruggraatlose aanvaarding.

Histeriese oorreaksie is in stryd met die versekering wat God ons self in sy Woord gee dat “vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk” (Rom. 8:28). Daarom bely ons ook in Sondag 10 van die Heidelbergse Kategismus dat "alle skepsels só in God se hand is dat hulle hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie." Of ons werklik in God se voorsienigheid glo, sal blyk uit ons reaksie op die nuwe grondwet.

Aan die ander kant kan die leer van die voorsienigheid van God misbruik word om gereformeerdes aan die slaap te sus. Dan word dit 'n opium waarmee die gelowiges verplig word om elke nuwe staatkundige ontwikkeling stilweg te aanvaar as sou dit van God kom. So 'n klakkelose aanvaarding kom egter neer op 'n ruggraatloosheid wat nie by gereformeerdes pas nie. Ook in hierdie gesig is die nuwe grondwet 'n toets vir ons gereformeerdheid.

Die toets van die woord🔗

Watter optrede sal dan die toets deurstaan? In sy Woord wys die Here self vir ons die weg aan: "Beproef alle dinge; behou die goeie. Onthou julle van elke vorm van kwaad" (1 Tess 5:21). Ons moet dus as gereformeerdes, soos met elke nuwe saak, ook hierdie nuwe grondwet aan die toets van God se Woord onderwerp. In Efesiërs 5:10 hoor ons: "Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is, en moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie, maar stel dit eerder aan die kaak." Dit kan ons doen slegs deur die lig van God se Woord daarop te laat val. Daarom staan daar verder in vers 13: "Alles word aan die kaak gestel wanneer die lig daarop val."

As die nuwe grondwet dus die toets van Bybelse geregtigheid, Bybelse vrede en Bybelse diensbaarheid aan die koninkryk van God kan deurstaan, dan is dit goed. Maar as ons daarin niks anders nie as die geregtigheid van die humanisme sou vind, of die vrede wat die wêreld buite God om soek, of diensbaarheid aan die nuwe wêreldorde met sy valse eenheidstrewe, dan moet ons onsself daarvan distansieer.

Gereformeerdheid versus pragmatisme🔗

Tipiese pragmatisme aanvaar alle dinge in hierdie wêreld as werklikheid en probeer God se Woord só plooi en verstel dat dit die dinge van hierdie wêreld op een of ander manier onderskryf. Egte gereformeerdheid beteken dat ons God en die eise van sy Woord as onveranderlike werklikheid aanvaar en die dinge van hierdie wêreld dáárvolgens sal plooi.

Die toets waaraan ons onderwerp word, kom dus neer op die vraag of ons eers die koninkryk van mense soek en hulle geregtigheid wil dien, en of ons bo alles die koninkryk van God en sy geregtigheid soek (Matt 5 : 33). Wie eers die koninkryk van God soek, sal vind dat God ook die res vir hom sal byvoeg (Matt 5 : 33).