1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Één Wederkoms van Christus

Daar is mense wat glo aan meer as een persoonlike en sigbare koms van die Here Jesus Christus voor die einde van die wêreld. Pre-millennialisme én dispensasionalisme (hierna die bedelingsleer) leer veelvoudige komste van Christus, strydig met die duidelike getuienis van die Skrif. Ons verduidelik hierdie beskouings later meer breedvoerig.

Pre-millennialisme leer ʼn koms van Christus voor die vestiging van sy duisendjarige koninkryk, dit wil sê ʼn duisend jaar of meer voor die einde van die wêreld; vandaar die naam pre-millennialisme (voor die duisend jaar). Na hierdie koms word verwys as die “wegraping”. Dit word gesê dat hierdie premillennialistiese koms, na verloop van duisend jaar, gevolg sal word deur nog ʼn persoonlike en sigbare koms van Christus vir die oordeel, wanneer Christus die nuwe hemel en die nuwe aarde sal skep.

Die Bedelingsleer glo aan ʼn wegraping én aan ʼn derde sigbare wederkoms van Christus, wat “die openbaring” genoem word. Volgens die voorstaanders van hierdie leer is hierdie koms “met sy heiliges”. Dispensasionaliste gebruik 1 Thessalonicense 3:13 en Judas 14 as bewysplase en hulle sê dat die openbaring etlike jare op die wegraping volg. Volgens hierdie leer sal Christus tydens die openbaring met die Jode ʼn koninkryk in Jerusalem stig.

Ons glo dat die Skrif net van een persoonlike en sigbare koms van Christus na sy menswording en voor die einde van die wêreld leer. Die Skrifgedeeltes wat as bewys van ʼn premillennialistiese “wegraping” en ʼn dispensasionele “openbaring” veronderstel word, praat van niks anders as die koms van Christus aan die finale einde van die wêreld nie.

Judas 14 en 15, wat van die koms van Christus met sy heiliges praat, praat inderdaad van die koms van Christus vir die oordeel aan die heel einde van die wêreld. Ons lees daar “die Here het gekom met sy heilige tien duisendtalle, om gerig te hou oor almal…” Uit Judas 6 en 7 waar gepraat word van “die oordeel van die groot dag” en die vernietiging van Sodom en Gomorra deur “die straf van die ewige vuur” wat die laaste oordeel skilder (lees ook 2 Pet. 2:6), is dit duidelik dat hierdie gerig die finale oordeel oor alle skepsele is.

Die ander Skrifgedeelte wat van die koms van Christus met sy heiliges praat (1 Tess. 3:13), en die Skrifgedeelte wat hoofsaaklik vir bewys van die wegraping gebruik word (1 Tess. 4:15-18), praat ook baie duidelik van die einde van alle dinge. Die koms van die Here, soos dit in hierdie Skrifgedeeltes beskryf word, gaan gepaard met die klank van ʼn basuin, waarna elders as “die laaste basuin” verwys word (1 Kor. 15:52). Dit word nie gevolg deur geskiedenis van duisend jaar, ander basuine en ʼn ander einde nie.

Wanneer 1 Thessalonicense 3 en 4 van die koms van die Here praat, stel dit ook duidelik dat die koms gevolg word deur die ewige heerlikheid van die heiliges met Christus: “en so sal ons altyd by die Here wees” (1 Tess. 4:17; lees ook Openb. 21:3; Openb. 22:4). Die koms van Christus in 1 Thessalonicense 3 en 4 word nie gevolg deur ʼn duisendjarige regering op aarde en eers daarna deur die lewe in die hemel nie.

Ten slotte is daar ʼn aantal Skrifgedeeltes wat die wegraping met die laaste oordeel verbind, en nie met gebeure duisend jaar voor die laaste oordeel nie. Ons verwys in besonder na Lukas 17:28-37. Let op die verwysings na Sodom en vergelyk dit met Judas 7 wat dit duidelik stel dat Sodom ʼn tipe van die finale oordeel, van “ewige vuur” is, en met Matthéüs 24:37-41.

Net een wederkoms — vir die oordeel en vir saligheid. Mag dit gou gebeur!