1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

ʼn Vergelyking tussen die Ou en die Nuwe Verbond

Ons het uit Hebreërs 8:6-13 aangetoon dat die ou en die nuwe verbond nie twee afsonderlike en verskillende verbonde is nie. In alle wesentlike opsigte is hulle dieselfde

Die verskille tussen hulle is in wat ons noem administrasie of administratiewe besonderhede. Dit is net wat betref hierdie besonderhede dat die een “oud” is en die ander een “nuut” en dat die oue verouder en verdwyn. ʼn Nuwe (Amerikaanse) President beteken  ʼn  verandering van  administrasie, en is in daardie beperkte sinʼn  nuwe regering, maar nie  ʼn  verandering van regeringsvorm of die grondwet nie. 

Hoé verskil die ou verbond dan van die nuwe verbond? Volgens Hebreërs 8 op drie maniere: 

Eerstens is daar ʼn verandering van middelaar (vs. 6). Christus kom in die plek van Moses. Dit is egter nie  ʼn wesenlike verandering nie, want Moses was ʼn tipe van Christus. In Hebreërs 3:5 word Moses selfs genoem “ ʼn dienaar om te getuig van wat nog gespreek sou word.” Net so praat Moses self in Deuteronomium 18:15 van Christus as “ ʼn Profeet ... soos ek is.” Hierdie verskil is dus net administratief.

Tweedens is daar ook ʼn verskil in die wyse waarin die wet geskryf word (Heb. 8:10). Ons het reeds daarop gewys dat die wet nie weggeneem word nie; dit word eenvoudig in plaas van op kliptafels, op die vleestafels van die hart herskryf. Alhoewel dit van groot betekenis is vir die Nuwe Testamentiese gelowige, is dít is ook net  ʼn  administratiewe verandering. Iets wat herskryf is, is nie iets wat verskil van wat voorafgegaan het nie. 

Hierdie tweede punt is besonder belangrik, want in Deuteronomium 4:13 én in Hebreërs 8:10 word die gee van die wet die gee van die verbond genoem. ʼn  Mens kan dus nie argumenteer dat, alhoewel die wet dieselfde is, die verbonde verskil nie. Hulle word in Deuteronomium én Hebreërs gelykgestel

Derdens bring die nuwe verbond ʼn voller en meer volledige openbaring. Dit is waarvan Hebreërs 8:11 praat. Hierdie voller openbaring is sodanig dat God se volk die Middelaar direk ken en nie langer deur die tussenkoms van aardse middelaars nie. Daar is nie in die nuwe verbond behoefte aan leraars soos die priesters en Leviete van die Ou Testament nie (lees in Mal. 2:6-7 hoedat hulle, in besonder, die leraars van die Ou Testament was). 

Dit is ook  ʼn administratiewe verandering. Die nuwe verbond bring nie  ʼn nuwe  (aparte en afsonderlike) openbaring van God nie, maar  ʼn beter openbaring (Heb. 8:6), naamlik een wat volmaak is en wat die werklikhede wat onder die ou verbond net geprofeteer is, openbaar.

Daar is net een, ewige verbond van God.