4 bladsye.

“Alles wat nie met hierdie Onfeilbare Reël Ooreenkom nie”

Wat is “liberale” teologie? Kan ons vandag as eenvoudige gelowiges tussen die veelheid van (teologiese) stemme wat op ons afkom, nog die stem van die Goeie Herder onmiskenbaar herken en navolg? Loop ook ons nie die gevaar om deur die stem van die Satan mislei te word nie? Die kenmerkende van soveel misleiding vandag, is dat dit in die naam van die Here gesê en gedoen word en dan ook nog met ’n beroep op die Skrif. Dié misleiding kom op baie maniere en in baie vorme op ons af. Hoe kan ons dit herken sonder om hier te probeer om in kort bestek ’n veelkleurige verskynsel te beskryf?

Die onfeilbare reël🔗

In plaas daarvan om te probeer beskryf in watter moontlike vorme liberale teologie vandag op ons afkom, wil ons eerder ’n voorstelling gee van die gemeenskaplike uitgangspunte wat in alle teologie funksioneer wat deur ons afgewys moet word. Die taal van ons geloof is hierin duidelik. Liberale teologie is nie dit wat in stryd is met ons eie tradisies en/of gewoontes nie. Dit is nie wat omvêrgooi waaraan ons vir lank gewoond was nie. Soms moet juis dit waaraan ons vir lank gewoond was, vervang word met ’n nuwe vormgewing van ons gehoorsaamheid. Ons glo dat bo ons tradisies en gewoontes die Skrif as Woord van God staan.

Oor die gesag van hierdie Woord van God bely ons (NGB Art 4) in geen onduidelike taal dat teen hierdie boeke “niks ingebring kan word nie”. Alleen die boeke van die Bybel ontvang (L.W.!!) ons en aanvaar hulle alleen “om ons geloof daarna te rig, daarop te grond en daarmee te bevestig”. Ons glo, sonder om daaraan te twyfel, alles (L.W.!) wat daarin vervat is (NGB Art 5). Dit glo ons sonder huiwering, selfs nadat ons eers bely het dat God se Woord na ons kom deur mense wat dit gespreek en geskryf het soos hulle deur die Heilige Gees gedryf is (2 Pet 1:21). Ons twyfel nie daaraan dat die Bybel die volledig Woord van God is nie. Selfs al het die Here dit vir ons gegee deur die diens van mense. Die waarheid van God se Woord is bo alles. Selfs ’n engel uit die hemel kan en mag ons nie verlei om iets anders te glo en te leer as wat in God se Woord staan nie.

Sonder om dus ’n sluitende definisie te probeer gee van wat liberale teologie is, behoort dit duidelik te wees dat die paaie tussen die ware Christelike geloof en alles wat verwerp moet word, op hierdie punt van mekaar skei. Ons verwerp nie sommer teologie wat vir ons “nuut” voorkom, nie strook met wat ons eie inbeeldings is sedert ons eie jeug of wat ingaan teen wat vir ons gerieflik is nie. “Ons verwerp met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël [d.i. die Skrif - E.V.] ooreenkom nie.” - NGB Artikel 7. Elkeen en wat hy leer moet ondersoek word of hy van God afkomstig is (1 Joh 4:1). Vir ons is daar net een reël en dit is die onfeilbare Woord van God; daaraan moet alles en almal gemeet word. Liberale teologie wil dit nie doen nie.

Kennis van goed en kwaad🔗

Kenmerkend van alle liberale teologie (in al die skakerings en onderskeidings wat daar ook mag wees) is dat dit gaan oor die mondige mens wat self kan oordeel wat goed en kwaad is. Die mens word ’n reël vir homself. Liberale teologie moet daarom nie geïdentifiseer word met wat sogenaamd “modern” is nie. In die tuin van Eden het Adam en Eva al in hul val in sonde die onfeilbare reël van God se Woord verruil vir die leuen van die Satan en so hul eie reël bo alles verhef. Dit is egter veral sedert die 17de eeu dat die liberale teologie programmaties gevorm word deur die uitgangspunt van die sondeval. Losgemaak van God se Woord as norm, moet die mens stelselmatig bevry word van wat Immanuel Kant beskryf het as die mens se selfopgelegde onmondigheid.                

“Ek dink daarom is ek”🔗

In die agtiende eeu veral word hierdie “nuutgevonde” selfstandigheid (vryheid) van die mens teenoor God gesien as ’n saak van die mens se denke of verstand. Dit word veral sterk verwoord in die bekende tese van die filosoof Rene Descartes: “Ek dink daarom is ek”. Ek mag aan alles twyfel. My sintuie kan my bedrieg, die kerk kan my bedrieg, die Skrif kan my mislei. Aan alles kan ek twyfel. Van net een ding kan ek seker wees - dat ék dink; daaroor kan daar geen twyfel wees nie. Vanuit die sekerheid van die reël dat ek dink, kom daar of kan daar sekerheid kom oor alles. Selfs oor God. Vir die teologie wat hieruit opgebou word, is God die hoogste uitdrukking van die rede van die mens. Elke denkende mens sal ook ’n gelowige mens wees. Geloof is om jou verstand te gebruik. Hier beland ons in ’n ander geloof as wat ons bely. Wat agterbly nadat alles deur die sif van die mens se verstand gegaan het, is “geloofwaardig”.

Die taak wat die kerk nog gegee word is om die mens deur opvoeding te leer om sy eie insig en selfstandige beoordeling van sake te bevorder. Dit moet gedoen word in plaas daarvan om met ’n gesagvolle boodskap na die mense te kom uit ’n gesagvolle boek, wat deur niemand gekontroleer kan word nie. Die mens moet denkend en mondig gemaak word. Allerlei teenstemme kom teen Descartes op. Iemand soos Blaise Pascal wil hom laat lei deur die ervaring. Dit mag wees, volgens Pascal, dat ons tot hier alle appels gesien val het, maar wie sê dat daar nie dalk ook appels kan  wees wat bly sweef sonder om na die aarde te val nie? Ons dink maar net wat ons ervaar en ons ervaring kan ons denke in totaal nuwe bane stuur.

Immanuel-kant🔗

Kant (1724 - 1804) se hantering van die subjektivisme wat die denke en/of ervaring van die individu tot norm vir almal wil verhef, beïnvloed tot vandag die teologie wat nie wil leef volgens die reël van God se Woord nie. Volgens Kant ken ons met ons verstand. Oor die werklikheid buite ons kan ons niks met sekerheid sê nie. Dit pas nie in ons denkraamwerk nie. Alle ondersoek van die mens vind plaas deur ons eie waarneming en verstand.

In alle kennis van dit wat ons bestudeer, is ons self betrokke. Dit wat ons bestudeer kan ons op sigself (“das Ding an sich”) nie ken nie. Dit bly vir ons ’n geheimenis. Alles wat ons ken, is slegs die beelde van sake wat deur ons eie denke geskep word. Nou is God buite ons en bo die tyd en ruimte waarbinne ons dink. Ons godsbeelde is uiteindelik niks anders as onsself nie. Elke mens is in sy denke alleen met homself. Ons kan niks sinvol oor die wêreld buite onsself sê nie; wat ons wêreld te bowe gaan, kan ons nie ken nie en ons kan niks betekenisvol sê oor wat ons nie ken nie.

Historiese kritiek🔗

Hierdie uitgangspunte (met alle moontlike variasies en uitbreidings) soos geformuleer sedert die 18e  eeu spreek natuurlik ook van ’n bepaalde benadering tot en waardering van die Skrif as God se Woord en openbaring. Die Bybel moet net soos enige ander boek gelees word met behulp van ’n sogenaamde “wetenskaplike” metode. Die histories-kritiese metode soos ontwikkel in die agtiende en veral negentiende eeu verteenwoordig ’n metode wat poog om die lees van die Bybel los kom maak van wat die Bybel oor homself te sê het. Dit poog om wetenskaplik te wees en daarom meer “objektief”. Dit is natuurlik ’n illusie om te dink dat die Bybel “objektief” gelees kan word los van waarop die Bybel reeds aanspraak maak om te wees, nl. God se Woord en openbaring in mensetaal.

Tog gaan die historiese kritiek steeds uit van ten minste drie grondbeginsels.

In die eerste plek die beginsel van kritiek. Volgens hierdie beginsel kan geen geskrewe dokument uit die verlede op sigwaarde as gesagvol aanvaar word nie. Alle aansprake op gesag moet eers afgeweeg word deur die moderne kritikus. Absolute sekerheid kan nie bereik word nie; alleen meerdere en mindere waarskynlikhede is moontlik.

Vervolgens is daar die beginsel van analogie. Ons eie tyd vorm altyd die sleutel tot die verlede. Gebeure uit die verlede kan alleenlik na analogie van wat vandag vir ons moontlik en aanvaarbaar is, verstaan word. Dit is bepalend vir die manier waarop na wonderwerke en die heilsgeskiedenis gekyk word.

Laastens is daar nog die beginsel van kousaliteit. Ons geskiedenis en wêreld is ’n geslote kringloop van gebeure waarin niks sonder voorgaande oorsaak verklaar en verstaan kan word nie. Daar kan geen regstreekse Goddelike ingrepe deur wonders of deur iets totaal nuuts plaasvind nie.

Alles wat skitter is nie goud nie🔗

Beteken dit dan dat daar vandag vir die Bybel as boek van God geen plek meer is volgens die liberale teologie nie? Nee, daar word deeglik kennis geneem van en gewerk met die Bybel. Alle verwysings na die Bybel moet daarom nie deur ons aanvaar word as erkenning van die goddelike gesag daarvan nie. Volgens liberale teologie is daar slegs ’n indirekte verband tussen die Bybel en die Woord van God. Die Skrif kan nie vereenselwig word met God se openbaring nie, maar is slegs die menslike reaksie op God se openbaring. Die Skrif word nie verstaan as deur God “uitgeasem” (2 Tim 3:16) nie, maar as ’n boek wat “deur-asem” is met die goddelike.

Die Skrif het tot stand gekom deur menslike tonge wat in beweging gekom het as getuienisse om hulle godservarings onder woorde te bring. Hulle is die eerste getuies wat ook ons weer in beweging kan bring tot getuienis. Prinsipieel lê ons en hulle getuienis op presies dieselfde vlak. Die Bybel verander hier van norm vir ons geloof tot bron vir ons geloof.

Teen hierdie agtergrond kan daar heel mooi dinge gesê word van God wat in ’n verhouding tot die mens wil tree en staan. Oor die wêreld waarin ons leef, kan daar baie mooi verhale vertel word, maar dit is en bly ’n aantasting van die geheel van ons Christelike geloof. Die god van die liberale teologie is die god van die Deïsme; God is vêraf ’n toeskouer wat saam met die mens slagoffer kan word van onvoorsiene en onbeheerbare gebeure. Die wêreld is geen skepping van God wat deur Hom onderhou en regeer word nie, maar ’n natuurlike proses vasgevang in onstuitbare evolusionêre voortgang. God kan nie mens word in hierdie wêreld, sonder om op te hou om werklik God te wees nie. Die Gees kon nie deur die profete van die Ou Testament gespreek het van die verlossing wat ons vandag geniet nie, want ons kan alleen maar ken wat deel vorm van onsself. Die Seun van God kon nie mens word en laat wees wat nog nooit in die gedagtes van mense opgekom het nie, want alles wat is, die was reeds.

Laat ons daarom ons nie laat verlei deur veel “geestelike” gepraat van talle skrywers waarmee ons vandag gekonfronteer word nie. F Deist se boekie oor gebed: Tussen angs en sekerheid word bekroon met die Andrew Murray prys, terwyl die gebed daar niks anders is as ’n gesprek met jouself nie. God is in die gebed volgens Deist alleen maar die groot “Afwesige”. Op jou knieë het “net jy en die Niks en die Afwesige oorgebly”. Gebed is nie ’n gesprek met ’n God wat ons werklik kan ken nie, maar die verwondering oor die heel alledaagse. Die mens moet sy godsontmoeting vind in die “geestelike” belewing van die geslote werklikheid waarbinne ons is en waarvan God in sy goddelikheid uitgesluit is. Soos wat God se stem dan ook nie meer gehoor kan word nie, hoef gebed nou ook geen woorde meer te hê nie. Gebed vra gevoeligheid. Sensitiwiteit en verwondering oor die wêreld rondom ons.

Dr. Ben du Toit wil op baie soortgelyke manier skryf oor God in sy redelik onlangse en eweneens bekroonde God? - geloof in ’n post-moderne tyd. Die loslating van die Skrif as reël wat bo alles gehandhaaf moet word, laat by Ben du Toit die mens oor aan ’n vertroosting wat hy moet gaan soek in sy eenheid met die groot heelal en werklikheid rondom ons. Ons is egter nie oorgelaat daaraan om oor God te praat in beelde van ons denke nie. Ons mag God ken deur sy Woord; en dan in besonder die Woord wat vlees geword het, oor wie ons die kroongetuienis het in die Skrif van die Ou- en Nuwe Testament. Ons ware emansipasie bestaan daarin dat ons vasstaan in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het. Daardie vryheid het ons alleen en in soverre as wat ons vashou aan die skriftelike testament wat Christus ons gegee het.