Bron: De Reformatie, 2000. 2 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

“Werk Dit?”

predikant

In ons tyd vra ons gereeld of iets werk. ʼn Preek kan skriftuurlik wees en die metode Bybels verantwoord. Tog lyk dit asof die vraag of die preek by die hoorder aanklank vind en of die metode ‘werk’, belangriker geag word.

Ek glo dat die vraag ‘werk dit’, toegepas op die uitdra van die evangelie risiko’s inhou. Waaraan meet jy of iets ‘werk?’

Mens sou kon tel. Die toespraak van Paulus in Athene het nie tot ʼn indrukwekkende opwekking gelei nie, maar daar het tog sommige manne by hom aangesluit en gelowig geword. Was dit ’n powere resultaat: net ‘sommige’? Of is daar blydskap oor één sondaar wat hom bekeer? Het Paulus se prediking gewerk, of nie?

Mens sou kon weeg of meet. Waaraan meet jy? Wat is die ykmerk? Ongetwyfeld sal gekyk word hoe die boodskap die mense op een of ander manier bereik. Word hulle emosioneel geraak? Voel hulle dat hulle aangespreek word? Sluit die voordrag aan by dinge waarmee hulle daagliks besig is? Die menswetenskappe (sielkunde, kommunikasiekunde, sosiologie ens.) kan hierby te pas kom.

Die Geheim van die Gees🔗

Bybels gesien is dit onmoontlik om te meet of ’n metode werk. Wanneer dit gaan oor die vraag of die boodskap van die evangelie ingang vind, kom jy voor ’n geheim te staan. Die geheim van die Gees.

Want die natuurlike (ongeestelike – RSS) mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.1 Korintiërs 2:14

Uiteindelik kom mens daarby uit dat God alleen bepaal of ’n boodskap sal ‘werk’. Hy het besluit dat op die Pinksterdag ’n lang toespraak van Petrus met ’n oproep tot bekering sou lei tot 3000 bekeerlinge in Jerusalem. Hy het besluit dat Paulus se deurdagte toespraak sou lei tot slegs ‘enkele’ gelowiges in Athene.

Dit was die verantwoordelikheid van Paulus en Petrus én van ons om die boodskap van Christus so goed en helder en eietyds as wat moontlik is oor te bring. Dit is ewewel óók ons verantwoordelikheid om nie die inhoud van die boodskap vir die hoorders aan te pas op grond van óns oordeel of dit sal werk of nie. Want dit is beslis nie vir ons om te bepaal nie.

Remonstrantse Strikke🔗

Wanneer dit oor maniere van evangelie-verkondiging gaan, is dit belangrik om goed op die Remonstrantse strikke te let. Dié strikke kom mens teë by die evangeliese en evangelies beïnvloede gereformeerdes.

Die Remonstrantisme leer dat Jesus vir alle mense gesterwe het, en dat dit nou aan die mens self oorgelaat word om Hom aan te neem. Wil jy, of wil jy nie? Dit is ons vrye keuse om tot geloof te kom al dan nie.

Die gevolg van die Remonstrantse opvatting is dat óns, gelowiges, dus alles moet doen om ongelowige mense tot aanneming van Christus te beweeg. Ons moet Jesus na die mens toe lei. Dié gedagte kan maklik daartoe lei dat jy die aanbieding van die evangelie in vorm en inhoud so aantreklik moontlik aanpas. Die keuse moet aantreklik en maklik gemaak word. Die skerp kantjies moet liefs maar glad gemaak word.

Bybel

Maar die evangelie ís nie vir ongeestelike mense aantreklik nie. Om dit aantreklik te maak, is byna nie moontlik sonder om die boodskap te verander en aan te tas nie. Dan steek jy dit wat die mens in die evangelie nie aanstaan nie, weg. Die boodskap van die kruis is en bly ’n dwaasheid en ’n ergernis vir die mens.

Uitverkiesing🔗

Bely jy teenoor die Remonstrantisme die uitverkiesing, lei dit tot ’n ander benadering van evangelisasie. Jy besef dat dit nie in die mag van enige mens is om dié boodskap te aanvaar nie; want dit is immers vir ons almal van nature onaanvaarbare dwaasheid. Daarom besef gelowiges dat dit onmoontlik is om die boodskap so aantreklik te maak dat ons ongelowige mense oor die lyn na Christus kan trek. Dit is onmoontlik sonder om jou aan die inhoud van die boodskap self te vergryp.

Wie die goddelike uitverkiesing bely, besef dat daar vir hom niks anders te doen is as om die boodskap onveranderd na die mense te bring nie. Ons bring nie vir Jesus na die mens toe, asof hy ’n handelsartikel is waarin ons die mense moet interesseer nie. Of die boodskap van God laat inwerk, berus nie by ons nie, maar by God. God beslis of mense aangespreek en geraak voel. Hy beslis ook deur watter spreker – begaafd al dan nie – dit sal gebeur.

Selfkritiek🔗

Mens kan lank praat oor vorm en inhoud van die boodskap wat jy na die mense sonder God toe bring. Jy kan wavragte vol kritiek hê oor swak punte by ander gelowiges wat die Naam van Jesus vol liefde en entoesiasme uitdra.

Dit mag goedkoop praatjies wees, want uiteindelik kom jy voor die vraag te staan: wat doen ek self? Bely jy self Christus voor die mense? As Christus jou dié vraag vra, kan jy nie verwys na al die energie wat jy op besinning oor vorm en metode gebruik het nie. Eerbied vir die Heilige beteken dat jy nie kan volstaan met kritiek op ander by wie jy nie die eerbied sien nie. Jy moet allereers self sy heilige Naam voor die mense bely. Dit staan voorop.