1 Konings 19:1-8 - Wees getrou!
1 Konings 19:1-8 - Wees getrou!
…Toe hoor hy 'n stem wat vir hom sê: 'Wat maak jy hier, Elia?' Hy het geantwoord: 'Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.' Maar die Here sê vir hom: 'Draai in jou spore om na die Damaskuswoestyn toe, en as jy daar aangekom het, moet jy vir Gasael salf tot koning van Aram. Jy moet ook vir Jehu seun van Nimsi salf tot koning van Israel, en vir Elisa seun van Safat uit Abel-Megola moet jy salf tot profeet om jou op te volg'.
1 Konings 19:13b -16

Lees: 1 Konings 19:1-18 (1983-vertaling)
Ons bely met betrekking tot die Vaderskap van God dat Hy ter wille van sy Seun Christus ons God en Vader is en dat Hy daarom ons met alles wat vir siel en liggaam nodig is, sal versorg en die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor ons beskik, tot ons beswil verander omdat Hy dit as almagtige God kan en as getroue Vader ook wil doen (HK Sondag 9). Watter ryke troos en kragtige bemoediging is dit nie vir gelowiges in 'n verwarde wêreld vol ongeregtigheid nie! Wanneer 'n mens voel asof jy van alle kante vasgedruk word, en jy hou vas aan dáárdie belydenis, het jy 'n vaste hoop en sekere uitsig. Daarom moet dié belydenis ons lewe in sy volle omvang beheers.
In 1 Konings 19 staan die vastigheid van hierdie belydenis skerp belig: God kan vir sy kinders sorg omdat Hy God is, en Hy wil vir hulle sorg omdat Hy hulle Vader is. Daarom handhaaf Hy sy reg teenoor die goddelose en betoon Hy sy genade aan die gelowige. Maar dié versekering dien nie net tot bemoediging nie; dit roep ook op tot volgehoue diensbetoon. Dáárom gaan dit hier in die selfopenbaring van God aan Elia.
Merkwaardig⤒🔗
Dit is merkwaardig hoe die profeet op hierdie Godsopenbaring voorberei word. In die tekshoofstuk sien ons hom as 'n moedelose vlugteling in die woestyn – dieselfde man wat kort tevore nog so sterk gestaan het in die stryd teen die ongeloof en afgodediens van die volk. Op die berg Karmel het die HERE self sy profetiese roeping bevestig deur Elia se offer met vuur uit die hemel aan die brand te steek. En hy het die opdrag aan die volk gegee om die Baälpriesters dood te maak. En so kort hierna bevind hy homself as 'n ten dode bedreigde in die woestyn. Daar het hy onder 'n besembos gaan sit en gewens hy sterwe. Wat hom betref het hy, as profeet van die HERE, 'n verlore stryd gevoer teen die goddeloosheid van sy volk. Maar onder daardie skynbaar hopelose omstandighede bemoei die HERE Hom met Elia, want sy taak was nog nie afgehandel nie. Tweemaal agtereenvolgens voorsien 'n engel hom van brood en water, waardeur hy só versterk is dat hy veertig dae en nagte geloop het tot by die berg Horeb, die berg van God – só word die berg hier genoem. Horeb was immers die plek waar God so onmiskenbaar sy teenwoordigheid by sy volk geopenbaar het, en sy Wet aan hulle gegee het as koersaanwysing vir hulle lewe. En soos toe, spreek die HERE nou direk tot die profeet met die vraag wat tot besinning roep: "Wat maak jy hier, Elia?" En Elia antwoord: "Ek het my met hart en siel aan u taak gewy, HERE, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak en ek het alleen oorgebly en hulle soek my om my ook om die lewe te bring." Dit was seker die oorheersende gedagte by hom op die hele pad in die woestyn. Al sy moeite en ywer het op niks uitgeloop nie. Wat is dan die sin van profetiese werk? Van gelowige wees in 'n wêreld van godsdienstige verval en ongeloof?
←⤒🔗
Die versoeking is groot←⤒🔗
Mens kan so maklik jou roeping uit die oog verloor wanneer dit sleg gaan. Dan sien jy net die stryd en nie ook die genade in die stryd nie: dat God onder alle omstandighede regeer. Wanneer daar nie sigbare resultate op ons werk is nie, is die versoeking groot om die werk ná te laat. So worstel ons dikwels om die sin en doel van ons werk raak te sien onder teleurstellings: die ampsdraer wat vermaan en die kerkbesoek bly swak en die bydraes min en die kerklike meelewing flou en halfhartig. En die lidmaat wat getrou en na die beste van sy/haar vermoë leef as dienaar van die Here, maar gebuk moet gaan onder teleurstellings en beproewings. Of ons kyk na die omstandighede van ons land en volk, en dan lyk dit asof die geskiedenis van ons volk op niks uitgeloop het nie. Daar is inderdaad veel rede tot kommer oor die toekoms van die kerk wanneer die owerheid nie sy Godgegewe roeping ken om "die losbandigheid van die mense in bedwang te hou, om die kwaaddoeners te straf en die deugsames te beskerm" nie (NGB art. 36). Die handhawing van wet en orde volgens Christelike norme is besig om 'n vergete weelde te word in ons land en die toekoms is donker.
En tog ontkom ons nie aan die werklikheid dat die HERE ook in hierdie tyd oor alle dinge regeer nie! En dit was ook die werklikheid waarby die HERE vir Elia daar op Horeb wou bring met die vraag: "Wat maak jy hier, Elia?" Dis asof die HERE vir hom vra: Waarom kom soek jy My hier, terwyl jy My moet dien daar waar Agab en Isebel heerskappy voer? Juis daar moet my koningskap uitgeroep word!
Met die oog op hierdie werklikheid maak die HERE Homself opnuut aan Elia bekend – eers deur hom iets van sy Goddelike almag te laat sien in die vreeslike storm, die aardbewing en die vuur. Maar daarin – sê die skrywer van die geskiedenis – was die HERE nie. En Elia het juis so intens verlang na die intieme teenwoordigheid van die HERE. Maar nou sien en hoor hy net die vreesinboesemende tekens van die almag van God. En dan kom daar stilte, só intens dat hy dit as't ware kon voel. Stilte is nie gelyk aan "niks" nie. Iemand wat al die stilte van 'n woestyn ervaar het, voel dit aan as iets aangrypends. Maar daardie stilte wat Elia ervaar het was iets onvergelykliks. Iets wat 'n mens nie onder woorde kan bring nie: " 'n Fluistering in die windstilte" (1933-vertaling: "die gesuis van 'n sagte koelte"). Iets onbegrypliks, en tog 'n geweldige werklikheid.
Elia het waarskynlik die teenwoordigheid van die Almagtige God aangevoel en daarom sy gesig met sy mantel toegemaak en in afwagting by die bek van die grot gaan staan. Toe hoor hy weer die stem wat vra: "Wat maak jy hier, Elia?" Maar hy het nog nie deurgedring tot dit wat die HERE hom wou laat verstaan nie, en hou vol met sy antwoord wat daarop neerkom dat al sy profetiese werk nutteloos was. Hy begryp nie dat die terrein van sy werk juis dáár is waar dit skynbaar misluk het: daar waar Agab en Isebel die volk in die afgodediens insleep! Daarom sê die HERE nou ronduit vir hom: "Draai in jou spore om na die Damaskuswoestyn toe..." Hy kry die eienaardige opdrag om vir Gasael as koning oor die Arameërs te gaan salf en vir Jehu as koning van Israel, en vir Elisa as profeet in sy plek. Drie totaal uiteenlopende persone, maar elkeen het 'n taak gehad in die uitvoering van die oordele van God oor die koningshuis van Agab (vers 17). En Elia moes hulle as't ware in aksie stel. En so openbaar die HERE dat sy werk onkeerbaar voortgaan en dat sy dienaars daarom hulle plek moet volstaan in die diens van God met die vaste vertroue dat die toekoms in sy hand is.
←⤒🔗
Die gevolge←⤒🔗
Daarom bly die gevolge ook nie uit nie. God laat sy koninkryk kom. Al wil Hy mense in sy diens gebruik, is Hy nie afhanklik van mense nie. Elia was onder die indruk dat hy alleen oorgebly het om die werk van die HERE te doen. Maar Hy sê: "…Ek sal in Israel die sewe duisend laat oorbly wat nie die Baälbeeld aanbid het nie." Sewe duisend! Profesie van die volheid van die volk van God in die voleinding. Die kerk, wat Christus deur sy Woord en Gees deur die eeue heen sal vergader. Sy genade tot behoud van sy volk sal nie ophou nie. Daarom moet ons, selfs in tye van onheil, ons nie kwel oor wat van die volk van God gaan word nie. Maar ons moet volhou om die werk wat Hy ons gee, te doen. Sy werk gaan voort. Die werk van Elia was heenwysing na die werk van Christus in sy stryd en oorwinning, asook profesie van die werk van Johannes die Doper, van wie Maleagi geprofeteer het: "Elia sal vaders en kinders met mekaar versoen sodat Ek nie hoef te kom en die land heeltemal vernietig nie." En toe die engel Gabriël die geboorte van Johannes die Doper aangekondig het, het hy van hom gesê: "En hy sal voor die HERE uitgaan in dieselfde gees en krag as Elia, om vaders en kinders met mekaar te versoen, om ongehoorsames op die regte pad terug te bring en om so vir die koms van die HERE 'n volk voor te berei" (Luk. 1:17).
En inderdaad was dit Johannes wat die eerste gelowiges na Jesus toe gelei het en Hom aangewys het as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. En Christus het, nadat Hy gely en gesterf en die dood oorwin het, aan die regterhand van God gaan sit vanwaar Hy oor alle dinge regeer en dit heenlei na die voleinding. En daarom glo ons dat, wat die voortgang van die kerk betref, Hy nou nog sorg soos Hy gesorg het in die tyd van Elia, ook op die terrein van die geloofslewe. Toe het Hy gesorg vir opvolger vir Elia, met die opdrag om Elisa te salf tot profeet. En nou sorg Hy dat sy Woord steeds verkondig word. Daarom moet ons, kinders van die verbond, getrou wees in die nakoming van ons roeping: om met woord en voorbeeld draers van die Woord van God te wees, óók in die wêreld van 1995.
