Bron: Kerk en Woord. 5 bladsye.

1 Korinthiers 2:1-5 - Nie Voortreflike Woorde, maar Sigbaarmaking van God se Krag

1 Kor 2: 1-5🔗

Die eerste vyf verse van 1 Kor 2 leer hoedat Paulus sy eie plek en taak by die Korinthiërs beskryf, in teenstelling met die optrede van baie ander predikers wat wil naam maak onder hulle.

In die vorige hoofstuk wys Paulus die roemtaal van Grieke en Jode tereg. Hy beklemtoon dat dit nie goed is dat daar ’n toutrekkery met trotse aanspraak tussen die lidmate is oor verskillende persone nie. Die wat wil roem, mag slegs in die Here roem.

Maar dan doen Paulus moeite om die korrekte aandag op homself te vestig. Of liewer: dat wanneer die aandag noodwendig op hom betrek word, hy seker maak dat die aandag op die regte manier gefokus word.

Dit sien ons veral in verse 1 en 3 waar hy met besondere klem na homself verwys, in teenstelling met die ander leraars of danige apostels wat na hom in Korinthe gekom het.

Paulus het die kruis van Jesus Christus verkondig, al was dit vir die Grieke ’n dwaasheid en vir die Jode ’n struikelblok. Hierdie leer wat sy bediening in die algemeen beskryf, het hy in die laaste verse van hoofstuk 1 op die gemeente van toepassing gemaak. Die wat wil roem, moet in die Here roem.

In hoofstuk 2 maak hy die leer van die evangelie van die kruis van Jesus Christus besonderlik ook op homself van toepassing. Dit blyk veral in die wyse waarop Paulus die Griekse woorde in hierdie paragraaf inspan. Griekse werkwoorde het normaalweg nie spesifieke voornaamwoorde by soos in Afrikaans nie, want Griekse werkwoorde wys in een woord die tipe handeling, die tyd van die handeling, asook die geslag en die hoeveelheid van die iets of iemand wat die handeling uitvoer. Slegs wanneer iemand die persoon wat handel sterk wil beklemtoon, kom die aanwysende voornaamwoord by die werkwoord.

Dit doen Paulus oor homself in verse 1 en 3. Telkens beklemtoon hy vooraf homself in teenstelling met die ander persone. En daarmee verdeel hy met hierdie struktuurmerkers self die paragraaf     1-5 in twee duidelike hoofsake.

By verse 1-2 skryf hy wat hy nie gedoen het nie, en hoekom nie. Sy aankoms en bediening by die Korinthiërs was nie ’n voortreflike gebruik van woorde of menslike wysheid nie. En by verse 3-5 skryf hy wat hy wel gedoen het en wat hy daarmee wou bereik. Sy bediening was die sigbaarmaking van die krag van God.

Die materiaal om suiwer Woordbediening te toets🔗

Verse 1 - 2 wys hoe dit nie moet wees nie🔗

Met sy aankoms by die gemeente het hy ’n belangrike getuienis van God gehad om aan hulle oor te dra. God self is die groot Bron en oorsprong van hierdie getuienis. Dit is Hy wat ’n ingrypende lewewekkende handeling gedoen het. Dit is Hy wat sy Seun in die wêreld gestuur het om die ramp van alle eeue in ’n goddelike verlossingsdaad te verander. En Paulus het na Korinthe gekom om dit aan te kondig.

Hierdie getuienis het Paulus nie gebring met voortreflikheid van woorde of wysheid nie. Hy het dus nie probeer om waarde aan die getuienis toe te voeg deur gebruik te maak van voortreflike woorde of van menslike wysheid nie.

Wat hierdie voortreflike woorde of wysheid is, word vir ons baie goed geïllustreer in die boekie deur Willem de Klerk: Die vreemde God en sy mense. Op p. 76 kla hy oor die tragiese toestand van dominees se bedieningswerk. Hy skryf:

“Dan is daar ander predikante wat in alles liewe, goeie mense is en die voorgenoemde persoonlikheidstoets slaag, maar hulle kan nie preek nie.” Hiermee kan ons waarskynlik saamstem. Maar nie om dieselfde rede as wat hy gee nie. Hy skryf hoekom hy hierdie stelling maak:

“In essensie beteken dit dat hulle nie oorredend kan kommunikeer nie. Hulle kan nie met woorde toor nie. Hulle kan nie met ’n groep mense argumenteer en redeneer nie. Hulle het nie die vermoë om mense te motiveer en oortuig nie. Die Heilige Gees werk organies, ook deur die prediking. Mense bring die Woord en as hulle dit swak en amateuragtig bring, sal die hoorders nie reageer nie (behalwe waar die Gees genadiglik ’n reguit hou met ’n krom stok slaan). Die prediking moet nie agter die Gees wegkruip nie. Dis die predikant se werk om ’n deeglike diskoers te voer volgens al die beproefde reëls van openbare redevoering.”

Hy kla dus dat preke nie effek het nie omdat baie dominees nie met woorde kan toor nie. Nou is dit presies hierteen dat Paulus in vers 1 en 2 ingaan. Hy het nie na die Korinthiërs gekom met voortreflike woorde of wysheid nie. Hy het nie die ingrypende getuienis van God aan hulle oorgedra met die getoor van woorde om met die voortreflikheid daarvan sy hoorders se gedagtes weg te voer na hoëre hoogtes nie. Hy wil hulle nie met menslike wysheid en oratoriek oortuig en aanvuur nie.

In vers 2 gee hy die rede daarvoor. Die getuienis wat hy gehad het, was op sigself allesomvattend. Die getuienis wat God aan hom toevertrou het, het reeds al die potensiaal en meer gehad om mense in beweging te kry. Hy wou dus niks anders onder hulle laat weet nie as die persoon Jesus Christus, en Hom as die gekruisigde.

Met die noem van hierdie enkelvoudige swaartepunt in Paulus se verkondiging, het hy die hele Bybel, die totale godsopenbaring in ’n neutedop, ja in ’n enkele woord, saamgevat, want daaroor gaan alles wat ons moet hoor van die begin af.

Vandat ons in die ellende van die sondeval beland het, is die mensheid en die hele skepping in reikhalsende spannende afwagting op die nasaat van die vrou wat die kop van die slang sou vermorsel. En daardie Nasaat het gekom. Die Here Jesus Christus, “want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik, en as julle ingelyf is in Hom wat die Hoof van sy kerk is, dan besit ook julle al hierdie volheid in Hom” (Kol 2: 9 - 10).

Dis asof hy vir die wysgere en die woordtowenaars, en vir almal wat aan hulle lippe hang, wil sê dat hulle bevuil en besmet met die goddelike krag en skoonheid van God se getuienis met hul woordkuns. Hulle bedroef en blus die Heilige Gees wanneer hulle meen om klatergoud van woordspel tot die enkelvoudige evangelie toe te voeg.

Die evangelie van Jesus Christus is nie om te adverteer nie. Ons hoef nie promosieveldtogte vir die evangelie te loots nie. Ons hoef nie allerlei vangstrikke en watertand-aanloklikhede vir die evangelie op te smuk om dit effek te laat hê nie. Die evangelie het reeds al sy oorredingskrag in homself opgesluit - net soos die son.

Niemand adverteer die son nie, niemand nooi ons uit om die son te aanvaar nie. Die son is op homself ’n oorredingskrag. Veel meer so die evangelie van die Here Jesus Christus.

Paulus het hierdie evangelie kom aankondig. “Aankondig” is eintlik te swak gestel. Die Grieks gebruik ’n intensiewe vorm van aankondiging: Daarom vertaal ons dit met “verkondig”. Onweerspreeklike en onomkeerbare aankondiging. Onveranderbare gegewe. Verkondig.

Die inhoud van die onveranderlike aankondiging is dat Jesus Christus gekruisig is. Die lang verwagte en intense nood van die wêreld is beantwoord.

Die snakkende behoefte, die honger en die dors van ’n mensheid en ’n ganse skepping in sonde en vervloeking, die behoefte aan verlossing uit die doemskuld van die sonde en die magte van die bose, daardie behoefte is bevredig.

God het sy belofte gestand gedoen. Hy het sy eniggebore Seun na die wêreld gestuur om sy siel vir ons aan die vervloekte kruis in die angste van die hel uit te stort. Jesus Christus, en Hom as gekruisigde...

GEKRUISIGDE is ’n enorme betekenisryke getuienis. Dit staan as ’n passiewe deelwoord in die perfektum tydsvorm geskrywe. Die perfektum tydsvorm wil ’n handeling beskryf wat in die verlede afgehandel is, maar waarvan die gevolge voortduur in die hede.

Gekruisigde = Hy is in die verlede gekruisig en die gevolge daarvan, die rimpeling-effek daarvan, soos die uitkringende effek van ’n atoombomontploffing, duur nou nog in die hede voort.

En die gevolge van Christus se kruisiging en dat die getuienis daarvan net soos in die bedieningswerk van Paulus uitkring vanaf Jerusalem, na Judea, na Samaria en tot aan die uiterstes van die wêreld... En die Korinthiërs het dit ook ervaar asook elke gemeente wat vergader is.

Die groot gevolg is volgens 1 Kor 1: 9 dat God getrou is deur wie julle geroep is tot die gemeenskap met sy Seun Jesus Christus, onse Here. Dit is die onafwendbare gevolg wat geen gemeentelid meer kan ontken nie: Elkeen is geroep tot die gemeenskap met die Here Jesus Christus. En hierdie roeping het na hulle gekom deurdat Paulus niks anders onder hulle wou laat weet nie, as Jesus Christus, en Hom as die gekruisigde = die Een wat in ons plek God se volle wraak gedra het, en alle geregtigheid en heiligheid van Christus wat Hy aan ons geskenk het.

Verse 3 - 5 stel hoe dit wel moet wees🔗

Dan is daar ’n tweede ronde van dieselfde gesprek, waar Paulus weer ’n keer homself beklemtoon as anders ten opsigte van die ander predikers wat met hul optrede van menslike grootdoenerigheid probeer beïndruk het. Verse 3 - 5 stel Paulus hoe sy optrede wel was, en ook waarom.

Hy skryf dat hy voor hulle in swakheid en vrees en baie bewing was.

Ons kan dit ook vertaal as dat hy onder die invloed van swakheid, onder die beheer van vrees en onder die beheersing van baie bewing was. Beslis nie soos die moderne modebeluste toeskouers verwag, en soos wat vele charismatiese leiers hul aanhangers vermaak, met bravade en grootheidswaan, met retoriek wat die hoorders kan hipnotiseer - eers tot trane en daarna weer om in lagbuie uit te bars nie.

Beslis nie soos Wimpie de Klerk dit wil hê, ’n woordtowenaar nie. Van homself was daar niks imponerends nie. Baie soortgelyk aan hoe Jesaja die Here Jesus se voorkoms beskrywe het: Een vol kwale, onaansienlik, geplaag, Een van wie mens die kop wegdraai. So was dit ook met die mag­tige Paulus, die rasegte Jood, wat eens die gevierde rabbyn en Fariseër was.

In vers 4 praat hy van die woorde van sy verkondiging. So anders as wat mense vandag wil hê. Vandag verwag mense diskussie, gesprek, onderhandeling, geleentheid tot teenspraak. Daar mag nie absolute stellings gemaak word nie. Daar mag nie gesê word dat God nie die susters in die regeeramp stel nie, want dit is verwaand van ’n mens om sulke uitlatings te maak. Nee, dit mag nie aangekondig word nie, dit moet vraenderwys, dialekties, oop vir bevraagtekening, gestel word. Intussen stel Paulus in vers 4 dat sy woorde soos die aankondiging van ’n koning se oorwinning is. Dis nie oop vir diskussie nie, dis onweerlegbaar. Dis ononderhandelbaar. Kerugma.

En hy het dit nie in oorredende woorde van menslike wysheid gebring nie. Want hy wou hulle nie met die tonglekker klanke van retoriek vir God opsweep nie. Sy optrede was in die betoning van Gees en krag.

Betoning is om sigbaar te maak wat reeds aanwesig is. Betoning is om bewys te lewer van wat reeds teenwoordig is. Betoning is om dit wat reeds in jou is, te laat uitkom, te voorskyn te bring. So het Paulus met dit wat hy verkondig het, Gees en krag wat in hom aanwesig was, laat uitkom.

Die uitdrukking: “Gees en krag” is weer niks anders as ’n tegniese beskrywing van die Woord van God nie. Die Woord van God is die Gees en krag van God. Dit was tog immers nadat die apostels met die Heilige Gees vervul is dat hulle krag ontvang het om die getuies van Christus in die hele wêreld te gaan wees. En vervul met die Gees en die krag van God het hulle niks anders as die Woord van God verkondig nie.

Die Woord is die getuienis van die krag van God se Gees. En wat Paulus gedoen het by die Korinthiërs was om die rykdom en die wysheid van die Woord van God en die vervulling daarvan in en deur Jesus Christus aan die mense te vertoon. Die rykdom van die Skrif wat reeds in hom geleef het, waarin hy ook groot gemaak is, waarin hy ook as Fariseër opgelei is, en as vervulling daarvan toe Hy die Here Jesus self ontmoet het. Dit is wat Paulus aan die Korinthiërs gewys het.

As ons hierdie begrippe nader oordink, sien ons dus die sleutel en die geheim van Paulus se prediking. So is dit ook die sleutel en geheim van alle suiwer Woordverkondiging: Dit is niks anders as om vir die hoorders al die diepe rykdomme van die Woord te laat sien, want so betoon ons die Gees en die krag van God aan die hoorders.

Paulus gee hier self aan ons die sleutel waarmee ons sy prediking sal verstaan. Hy kon gesê het: Gaan kyk in julle kultuurwêreld vir al die raakpunte met wat ek hier sê. Maar dit doen hy nie. Sy verkondiging is nie uit die tydelike gedragsverskynsels van die eeue verstaanbaar nie, maar uit die Gees en krag van God, gesagvol, altyd geldend.

Wys hulle wat daar in die Skrifte geskryf staan. Lees vir hulle wat reeds in die Wet en die Profete geskrywe is. Laat hulle die woorde van die Here Jesus hoor. Laat hulle hoor van die getuienis van God. Laat hulle hoor van die Here Jesus as gekruisigde. Laat hulle so die Gees en krag van God te voorskyn sien kom.

Dit is die verstaansleutel van Paulus se prediking. Dit is die verstaansleutel wat hyself vir ons gee.

En die belangrike rede waarom Paulus nederig was om nie sy eie woordespel nie, en ook nie sy menslike wysheid te gebruik om die mense te oorreed nie, was omdat hy ’n baie spesifieke standaard gestel het vir die geloof van sy hoorders.

Watter soort geloof is dit nou eintlik wat deur die bediening tot stand moet kom? Hy wil asseblief nie hê dat hulle ’n bewonderingsgeloof moet hê nie. Nie die geloof wat enige ding met woorde en lippe kan regkry en niks verder nie. Nie ’n soort geloof wat na die tyd menslike wysheid onthou, menslike verkoopstegnieke, menslike verhaaltjies, indrukwekkende toneelspel, noem maar op nie. Nie die soort geloof wat maar deur die vindingrykheid van nuwe predikers wat op die toneel verskyn, verander kan word nie.

Wat moet agter bly wanneer die erediens klaar is, is ’n ware geloof in die krag van God.

Hiervan het ons die Here Jesus self tot hoogste voorbeeld van iemand wat gepreek het in die krag van God. Toe Hy sy Bergrede voltooi het, was die mense verslae, want Hy het gespreek soos een wat gesag het, nie soos die fariseërs nie.

Ons sien dit ook later toe Petrus die eerste groot preek van die Nuwe Testamentiese kerkgeskiedenis gepreek het. Toe hy klaar was, was die mense verslae. Hulle was so diep in hul hart getref dat hulle gevra het: Wat moet ons doen broeders?

Ons kan maar Petrus se preek gaan deurlees. Dit was geen vertoning van menslike oratoriek en menslike wysheid nie, maar dit was uitleg en toepassing van die profesie van Joël. Dit was blootlegging van die Skrif. Dit was met ander woorde ’n betoning van Gees en krag.

Daar is vandag baie opswepende predikers werksaam in ons wêreld. Met die vertoning van ’n indrukwekkende woordespel en menslike wysheid. Gevolglik is diegene wat daardeur gevoed word ook maar vlak en ligsinnig in die geloof. Ons mag dit met vrymoedigheid stel dat net soos wat Paulus destyds in Korinthe nie bedoel het om met die openbare kommunikasiemedia mee te ding nie, net so ook moet ons weet dat die ware en suiwer Woordbediening nie met die standaard van die Aardklop- of die Klein-Karoo-kunstefees mee te ding nie, ook nie met die televisie nie.

Die Woordbediening wil nie hipnotiseer en dronk maak nie. Dit wil gelowiges nugter bring tot die lewende gemeenskap met die Here Jesus Christus. Daarom is suiwer Woordbediening niks anders nie as om die rykdomme van die Woord uit die hele ryke openbaring van God aan die gemeente sigbaar, verstaanbaar, te maak. Om die Gees en krag van God wat reeds in ons is, te laat uitkom.

Die vraag by huisbesoek is daarom nie hoe die broeder en suster die prediking vind nie, mooi, nie vervelig nie, maar: wat werk die prediking in die gesin, wat doen u met die prediking, watter soort geloof voed die prediking, want ware en suiwere prediking is die blootlegging van die Skrif, om die Skrif in die harte van die gelowiges in al sy rykdomme te laat leef en groei en toeneem.

Ware en suiwere Woordbediening is die betoning van Gees en krag sodat die geloof van die gemeente ook sal bestaan in die lewewekkende krag van God.