Bron: Kerk en Woord. 6 bladsye.

1 Korinthiers 6:9-11 - Waarnatoe God ons Roep

In 1 Korinthiërs 6: 9 - 11 staan

9.  Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie?

10. Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.

11. En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.

Veral hierdie laaste woorde is aangryplik: “En dit was sommige van julle, maar julle het julle laat afwas...” Dit was die samestelling van die Korinthiërs. Hulle het vanuit hierdie gruwel-agtergrond gekom. Miskien het sommiges van hulle nog steeds gesukkel met die nagevolge van daardie sondes in hulle lewens.

Ons sou verbaas kon wees om te verneem hoe baie van ons gemeente se mense ook maar hierdie worstelings het, geraamtes in die kas, met hierdie soort sondes in ons agtergrond.

Nou is dit nie die doel om iemand hiermee in die verleentheid te bring nie, allermins. Maar iets heeltemal anders. Want baie keer wanneer ons hierdie briewe van Paulus aan die Korinthiërs lees, voel dit asof hy met ONS praat. Daar is sekerlik nie ’n kerk van die Nuwe Testament wat meer soortgelyk is aan die kerke van vandag nie - hier in Pretoria, of ook in die res van die land of selfs ook in die verre buiteland..... noem maar op.

Korinthe🔗

Korinthe was ’n stad van weelde en kultuur. Geplaas op die kruisroete in die Peloponesiese see. ’n Ware belangrike handelskruispunt van die Romeinse Ryk. Alle handel en nywerheid het daardeur gegaan. Die stad het eintlik ’n hartseer geskiedenis; op ’n stadium heeltemal vernietig deur die Romeine, uit vrees vir die Griekse kultuur. Daarna het die Romeine slawe daarheen gestuur. Spoedig is die stad herstel en het weer bruikbaar geword. Dit word weer ’n stad met baie voorrade, met natuurskoon, en ook met prostitusie en wellus. Aan die een kant toegewy aan handel en nywerheid, kuns en kultuur, maar ook toegewyd in die aanbidding van die godin van seksualiteit.

Op ’n klein heuwel, agter die stad aan die binneland, was die tempel van Afrodite. En elke aand het die priesters en priesteresse, manlike en vroulike prostitute, uit die tempel in die strate van Korinthe gekom om hulle “beroep” te beoefen. Dit was bekend oor die hele antieke wêreld dat Korinthe die toonbeeld van growwe immoraliteit was. Matrose kon hul geld op enige genot in Korinthe gaan uitmors na lange en moeisame skeepsvaarte. In sommige opsigte kon Korinthe as die Kaapstad of Durban van die antieke wêreld beskou word. Waar Korinthe aan die Peloponesiese see geleë was, was daar waarskynlik nie nog ’n kerk in die Nuwe Testament wat so ’n reputasie kon hê nie.

Agtergrond🔗

Die openingswoord van die brief: “Paulus, ’n geroepe apostel van Jesus Christus deur die wil van God, en die broeder Sósthenes ...”

Hiermee stel Paulus homself bekend. En as u die boek Handelinge (hfst 18) deurgelees het, sal u weet dat Sosthenes eens die opsigter van die Sinagoge by Korinthe was, en dat hy deur Paulus se woordbediening tot bekering gekom het, en na ’n moeilike tyd in die stad is hy nou daar in Efése.

En in vers twee lees ons van die geadresseerdes: “aan die gemeente van God wat in Korinthe is, aan die geheiligdes in Christus Jesus, die geroepe heiliges, saam met almal wat die Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep, hulle sowel as onse Here.”

Paulus skryf vanuit Efése, ongeveer 56, 57 nC. Ongeveer vyf jaar tevore het hy hierdie gemeente vergader by ’n geleentheid toe hy alleen daar aangekom het, weggedryf uit Macedonië. Hy het vir Timótheüs en Lukas in Macedonië agtergelaat en by Athene aangekom. Daar het hy by die Areopagus, die amfiteater van Athene die evangelie verkondig, en daarna na Korinthe gegaan. Nadat Hy die gemeente binne twee jaar geïnstitueer het, het hy verder op sy sendingreis gegaan. Teen die tyd dat hy die brief skryf, is hy weer in Efése.

Getuies het na hom gekom en gerapporteer dat daar maar baie probleme is in die gemeente. Paulus het dan ’n brief aan die gemeente geskrywe waarvan daar in hfst 5:9 vermeld word. Hierdie brief het verlore geraak. Al wat ons van die brief weet, is wat die apostel self in 1 Korinthe daaroor sê, dat Hy aan hulle vertel het dat hulle hul nie moet ophou met die mense wat in immoraliteit verval het nie. Blykbaar het mense vanaf Korinthe gekom en Paulus in Efése besoek. Die laaste hfst (16:17) noem hulle name: Fortunatus, Stefanas en Achaicus. Hulle was amptelik deur die gemeente afge­vaardig. Hulle het ’n brief van die kerk met vrae saamgebring. Verder het hulle ook sekere mededelings oor die toestand van die gemeente gemaak.

1 Korinthiërs is Paulus se antwoord op die brief van die gemeente asook op die mondelinge rapport wat die driemanskap lewer oor die kerk in Korinthe. In sommige opsigte is hierdie brief merkbaar anders as al die ander briewe van Paulus. Die meeste ander briewe begin met ’n redelike lang leerstellige afdeling waarin hy die groot waarhede van die geloof leer en dan sluit hy gewoonlik in ’n tweede afdeling met praktiese vermanings raad en so meer af, waar hy die waarhede toepas. Maar in hierdie brief is dit van die begin af probleme wat aangespreek word.

Hierdie brief is seker ook die mees praktiese brief van al Paulus se briewe. Selfs al in die openingsgroet betoon hy sy besorgdheid vir die probleme. Daarom sy selfbekendstelling met beklemtoning van sy apostelskap. Dit was nodig omdat sekere Korinthiërs gereed was om hierdie feit te bestry. Hulle het sy apostelskap bevraagteken omdat hy nie deel was van die oorspronklike twaalf nie. Sommige het selfs gewonder of hy nie dalk ’n valse apostel sou wees nie. Hy was dus gedwonge om sy apostelskap te verdedig. Daarom stel hy sy amp in sy bekendstelling voorop. Hy is Paulus, ’n geroepe apostel, deur die wil van God.

Regverdig- en heiligmaking🔗

In vers 2 verwys Paulus na die Korinthiërs as sy geadresseerdes besonderlik as geroepe heiliges in Christus Jesus. In bykans al die ander briewe is sy groet sterk gebasseer op die regverdigmaking. Maar hier is dit die heiligmaking. Hier is twee teologiese begrippe van belang.

Regverdigmaking is die beskrywing van die verandering wat God gemaak het. Die status van elke indiwidu wat na Christus toe kom. Die status voor God: regverdig verklaar.

Hy het ons voor sy regterstoel vrygespreek op grond van Christus se volmaakte soenverdienste. Maar die uitwerking daarvan is ook vernuwend: die wedergeboorte. Ons natuur word verander. Die verandering is fundamenteel ten opsigte van ons uitkyk, ons houding, ons bestaan.

En heiligmaking is die uitwendige resultaat hiervan. Wedergeboorte gee aanleiding tot geloof en bekering. Die daaglikse lewenswyse van bekering en geloof noem ons die heiligmaking. Heiligmaking is dus die afgesonderde bestaanswyse vir God. Deur die heiligmaking kom ons agter hoedat die kerk anders is as die wêreld!

Dit is waarheen Paulus dan ook verwys wanneer hy met die Korinthiërs praat, veral omdat dit die lewenswandel van die Korinthiërs is wat in gedrang was. Die getuienis van die gemeente was nie altyd goed nie. Tog praat Paulus van hulle as geheiligdes in Christus. Aan die einde van daardie vers beklemtoon hy die Heerskap van Christus en hy stuur die brief aan almal wat op elke plek die naam van die Here Jesus Christus aanroep. Dus alle mense in daardie kerklike wêreld, na al die gemeentes van destyds, maar ook verder as dit. Dit strek ook die toekoms in. En dit sluit daarom ook ons hier in Pretoria in.

Dan voeg Hy daarby dat hierdie Here Jesus Christus sowel hulle Here en ons s’n is. Dit was nodig om die enige Heerskap van Christus te beklemtoon omdat onder die Korinthiërs sekere mense besig was om weg te draai van die gesag van Jesus af, wat agter mense aan begin loop het. Skeidings het in die kerk gekom as gevolg van hierdie najaag van verskillende mense. En gevolglik is dit sommer heel vroeg al in hierdie brief, dat hy sy besorgdheid uitspreek oor die feit dat daar mense is wat van die sentrale posisie wat Christus moet inneem, weggedrywe het.

Die goeie nuus🔗

Vers 4 tot 9 vorm dan die volledige inleiding en ons tweede hoofpunt neem veral verse 4 - 8 in behandeling. Dit is die begin van die goeie nuus wat Paulus aan die mense wil gee. Hy het slegte en goeie nuus vir hulle. Hy het baie probleme en ellendes wat hy met hulle wil opneem, maar soos altyd, begin hy met die goeie nuus.

Die goeie is die dinge wat waar is van hulle omdat hulle Christene is. Ongeag van hoe hulle hul gedra. En nou lys hy in verse 4 - 8 sommige van hierdie volhede van die goeie dinge wat aan hulle voorsien is, wat die Korinthiërs beleef het omdat hulle Christene is.

4. Ek dank my God altyd oor julle vir die genade van God wat aan julle in Christus Jesus gegee is,

5. dat julle in alle opsigte in Hom ryk gemaak is, in elke woord en alle kennis;

6.  soos die getuienis aangaande Christus bevestig is onder julle,

7. sodat julle in geen enkele genadegawe agterstaan nie, terwyl julle wag op die openbaring van onse Here Jesus Christus,

8.  wat julle ook sal bevestig tot die einde toe, om in die dag van onse Here Jesus Christus onberispelik te wees.

Dit is nou hierdie waarhede wat as vertrekpunte dien, die fondasie van sy benadering tot die gemeente. Hy erken vryelik dat hierdie dinge seëninge is. Moontlikhede, voorsienighede, waarhede wat God aan hulle gegee het wat hulle volledig en vryelik met mekaar deel.

Eerste van alles moet ons waarneem dat hierdie mense se toetrede tot die Christelike geloof ’n eg ortodokse toetrede is, gebaseer op die klassieke sentrale Bybelse waarheid dat hulle verlos is uit genade. Paulus sê: Hy dank God altyd oor die genade van God wat Hy aan die Korinthiërs bewys het in Christus Jesus. Want voorheen was hulle heidene. En hulle verdien die verdoemenis. Maar God het sy genade aan hulle betoon. Nou is hulle mededeelgenote en erfgename van die genade en die beloftes van die Bybel. Hulle is nou gelowiges en wedergeborenes. Mense wat die genade ontvang het.

Dit is ’n interessante saak in hierdie brief dat daar nie worstelinge is oor die plek en die vraag van die Wet in die gemeente nie. Hulle was nie vasgevang in allerlei Ou Testamentiese skadubeelde waarvan ons by voorbeeld lees in die brief aan die Kolossense of die Hebreërs nie. Hulle was nie betrokke by strydgesprekke oor die geldigheid van die besnydenis soos die Galásiërs nie. En daar was nie vertroue op die dooie ou werke soos blyk as hy praat met die Filippense nie.

Hier in Korinthe was die probleem die algemene een naamlik die manier hoe die geloofskennis uitgemond het in die geloofslewe. Die lyn van leer na lewe. Dit was die probleem van die Korinthiërs. Hulle het die genade van God ontvang sodat hulle gedink het dat dit dus nie meer enige verskil maak hoe hulle hul gedra nie.

Nou gee die apostel toe dat hy weet en erken dat hierdie mense verstaan wat die genade van God is. Daar word nie vrae geopper in hierdie brief oor bv die Godheid van Christus of die maagdelike geboorte of sy plaasvervangende versoeningsdaad of die menswording van Jesus nie. Hulle verstaan dat hulle vrygemaak is van hulle sondes deur die alleengeldige gawe van God deur Jesus Christus. Hulle toetrede, was eg ortodoks, gebaseer op die alleen genade van God.

Paulus praat ook oor die toerusting van hierdie gemeente wat Christene geword het. Dit was baie goed. In vers 5 - in alle opsigte in Hom ryk gemaak in alle kennis en woord. Vers 7 - so dat hulle in geen enkele genadegawe agter staan nie. Dus in elke opsig verryk. Dieselfde woord wat ons ken as ’n plutokraat, ’n vermoënde persoon. Die Korinthiërs was geestelike plutokrate. Op twee gebiede het hulle die rykdom gehad: die terrein van die Woord en van die kennis.

Wat die Woord betref, word die woord “logos” gebruik.. die Woord van God, in die begin by God, die skeppingsmagtige Woord, gespreek en gebeur (vgl Joh 1). En dit is wat aan hulle verkondig is (vgl 1 Pet 1: 23 - 25). Dit is die eerste rykdom wat hulle het. Hulle is goeie en ywerige Bybelstudente wat ryk is in die Woord van God (vgl Kol 3:16).

Hulle het wel nog nie die Nuwe Testament gehad soos ons nie, want dit was nog nie alles klaar geskryf nie, maar hulle het die Nuwe Testamentiese profete en leraars gehad wat aan hulle dieselfde waarhede verkondig het as wat ons in die geskrewe Nuwe Testament ontvang het. Daarom kon hy sê dat hulle so ryk was in die Woord.

Nie ver van hulle af nie was daar ook nog die sinagoge, en daar was die totale weergawe van die Ou Testament beskikbaar om te lees. Hulle was bekend met die Woord, want Paulus het hulle geleer.

Maar dan ook ryk in kennis: Hulle was teoloë, en dikwels het hulle soos die gewoonte in die Griekse stede was, saam gekom, studiekringe, verenigings, om filosofieë te bespreek, leerstellings uit te stryk, debatte te hou, dialoog te voer oor allerhande dinge (OJV’s, manneverenigings, vroueverenigings, Bybelstudiegroepe). Hulle was ingeligte mense wat in staat was om sommige van die diep vraagstukke te kon beantwoord waarmee ons selfs vandag nog worstel. Soos waar het Kain aan sy vrou gekom? Wat word met die mense in ander lande wat nog nooit die evangelie gehoor het nie? Waarom het God nooit die duiwel doodgemaak het nie? Wanneer sal die Antichris sy opwagting maak? Paulus het erken dat hulle teoloë en kranige Bybelstudente was.

En nou nog meer: Paulus sê: Hulle het in geen geestelike gawe kortgekom nie. As ons die Nuwe Testament bestudeer, kan ons al die geestelike gawes lys. Sommige mense identifiseer tot 21 geestesgawes. Wonderlik is dit dat daar in Korinthe nie een van die gawes kortgekom het nie. Wonderwerke, genesing, onderrig, spreek in tale, interpretasie van tale, kennis en leierskap. Nie een gawe het kortgekom in die gemeente nie. U kan uself indink watter indrukwekkende byeenkomste hulle moes hê. Niemand sou hierdie geleenthede wou mis nie. Jy kon nooit weet wanneer iemand gesond gemaak sou word nie, ’n wonderwerk gedoen, ’n profetiese boodskap uitgespreek, of iemand in ’n onbekende taal spreek en iemand anders dit dan interpreteer. Daardie was waarlik ’n ekstatiese tyd daar in Korinthe.

Selfs dit was nie alles nie. Nie alleen was die mense se toetrede ortodoks en hulle toerusting buitengewoon oorvloedig nie, maar ook hulle verwagtinge op die Here Jesus Christus was suiwer Skriftuurlik. Hulle het verstaan dat wanneer Hy verskyn, sal Hy die een wees wat dinge op aarde kom regmaak. Hulle is nie veronderstel om te droom dat hulle met hulle vermoëns moet optree om die koninkryk te laat kom nie, die boosheid alles reg te maak en die samelewing te transformeer nie. Hulle was sekerlik nie besig om op hul eie skemas te vertrou om een of ander status of posisie van geseëndheid by God te verdien nie. Hulle het hul taak begryp, maar ook dat dit Christus is wat hulle sal vashou en in stand hou tot die einde toe. Dit is Christus wat hulle eindelik sonder blaam, onberispelik voor die Vader sou plaas (vers 8).

Paulus erken hierdie geseënde waarhede van die Korinthiërs: Hulle toetrede tot die geloof - eg ortodoks. Hulle toerusting - buitengewoon ryk, en hulle verwagtinge van die toekomstige lewe oor Christus - korrek. Dit is die vertrekpunt in sy benadering.

Die implikasies🔗

Maar by vers 9 lyk dit of daar ’n skielike draaipunt in Paulus se argumentasie voorkom, want hier stel hy skielik iets anders bekend. Hy verduidelik aan watter soort gemeenskap hulle intense behoefte het. Die gemeenskap waartoe die gelowiges gebring is:

Vers 9: “God is getrou deur wie julle geroep is tot die gemeenskap met sy Seun Jesus Christus, onse Here.”

Hierdie is ’n kernvers vir die hele boek. Die hele res van die brief draai rondom die vers. Dit is ’n stelling dat God hierdie mense tot ’n baie belangrike verhouding geroep het, uit die duisternis tot sy wonderbare lig, en reeds hier by die begin van die brief leer ons wat die oorsaak is van al die probleme daar in Korinthe.

Hulle het nie die implikasies van hulle persoonlike verhouding met Jesus Christus verstaan nie. In die plek daarvan, soos ons ook sien in verse 10 e.v., moes die apostel handel oor verdelings, skismas, skandale, regsgedinge, immoraliteit, stryery en vreeslike misverstande oor die waarheid van afgode en duiwels en baie ander dinge. Dis duidelik dat ten spyte van die heerlike voorsiening wat hulle ontvang het, hulle nogtans ’n groot mislukking in die kerk beleef het. Hulle het al die vermoëns gehad om magtige dinge in die Gees te kon verrig, en tog het niks daar in die stad gebeur nie.

Terwyl hulle as kerk ’n impak moes maak op Korinthe, was Korinthe besig om ’n impak op die kerk te maak. Met al hierdie aaklige houdings en aktiwiteite wat elke dag en nag in die stad plaasgevind het, was die stad besig om die kerk te infiltreer. Die kerk het stadig maar seker in ’n “rave-klub” verander. Pleks daarvan dat die kerk die stad moet verander, was die stad besig om die kerk te verander. Dit was die probleem. Hulle was geen soutende sout meer nie, maar sout wat laf geword het.

Nou vra ons wat was eintlik verkeerd met die gemeente. Die antwoord uit vers 9 is dat hulle nie hul besondere verhouding tot Christus verstaan het nie. Hulle het nagelaat om te verstaan dat die lewende Christus in hulle midde is.

As ons rondgaan na verskillende gemeentes in SA en regoor die wêreld, en gaan uitvind, dan sal ons uitvind dat so baie kerke hul bewussyn verloor het dat Jesus tussen hulle is; dat hulle (en ons) ’n persoonlike verhouding met die Here het.

Hulle leef nie meer in aktiewe verhouding met Christus as medebondgenoot van ons in die verbond nie. En as hierdie waarheid besig is om weg te syfer uit die kerklike lewe, dan kom al hierdie probleme wat die Korinthiërs ondervind het, ook oor ons. Daarom kan ons sê: Hierdie brief is geskrywe om die mense weer terug te roep. Ons ook terug te roep na ’n nuwe wete en bewussyn van wat dit beteken om gemeenskap, verhouding met die Here Jesus Christus te hê (vgl Fil 3). Nou leer ons in hierdie brief dat gemeenskap met Christus die werk van die Heilige Gees is. Dit is sy taak om die dinge van Christus te neem en dit aan ons bekend te maak (vgl Joh 16:14) en Christus self vir ons in ons lewens te laat sien te beleef (vgl Efés 3:17).

Dit is waaroor Paulus hier praat: Christus wat in ons kom woning maak. Christus wat die dors van ons siele kom les. Christus wat die krag van die opstanding gee wat dit neem om ons in staat te stel om die verbond waarin ons met God staan, getrou uit te leef, die wet van God, die liefde vir God.

Leer dat God getrou is. Hy is wie Hy is. Hy doen wat Hy sê. Hy bly by sy standpunt. Ons kan ook dan elke dag ’n duisend nuwe vrae loop uitdink; God se standpunt bly dieselfde. Hy is aan Homself getrou. Hy is aan sy Woord getrou. Hy is die uitvoerder van sy beloftes. Hierdie wete moet die gemeente vashou, en dit moet hulle verhinder om nuwe ideetjies te kry!

Dit het die Korinthiërs kortgekom het. Ook ons. Ons misluk op so baie maniere as gelowiges. Wat dit meen wanneer twee of drie, of tweehonderd of drieduisend byeen kom, die belofte bly: daar is Ek in hulle midde. Nie alleen om die aanwysings te gee waarheen nie, maar ook die dinamika waaruit ons veronderstel is om te lewe.

Wanneer iemand van ons dit vergeet, dan dryf ons weg met die vreeslike sindroom om die Here net op Sondag te ken, maar Maandag tot Saterdag nie meer sy teenwoordigheid te erken nie. Dan maak ons asof Hy nie Here is van ons hele lewe nie, maar net van ’n klein deeltjie van ons lewens.

Al die gelowiges is dus geroep om te verstaan en beleef dat Christus teenwoordig is in ons midde deur sy Gees en Woord, lewend en kragtig tweesnydend om aan ons die dinamika en krag te gee, lewewekkend. Die sensitiwiteit, die Gees wat deure op die onverstaanbaarste maniere vir ons oopmaak om ons geloof te gaan uitlewe, om kleur en ruimte en smaak te gee aan ons lewe van elke dag.