Bron: Kerk en Woord, 2004. 4 bladsye.

1 Korintiers 12:4-6 - Baie Geestesgawes, maar Een Beginsel en Doel

Paulus beoog in sy hantering van die verskillende onderwerpe in 1 Korintiërs dat die gemeente so moet optree dat hulle mekaar bedien om te lewe in die gemeenskap met die Here Jesus Chris­tus.

In die begin van hoofstuk 12 lê Paulus die grondbeginsels neer vir die bediening van die verskillende geestesgawes van die gemeente om dieselfde doel te bereik. Hierdie grondbeginsels is:

  • Dit is van wesentlike belang dat (vs 1) die gemeente ingelig en kundig moet wees oor hierdie saak. 'n Onkundige gemeente is 'n onmondige gemeente en moet kort voor lank weer met melkkos gevoed word. Daarom is die appèl op ons om te sorg dat ons die Woord lees en bestudeer.

  • Daar is 'n reuse verskil tussen die prak­tyke van die heidene en hier in die Christelike gemeente. By die heidene is die mens koning en hulle voer rituele uit wat pas by stomme dooie beelde. Daarom moet hulle dinge doen wat die mense se begeertes en drange bevredig en hulle soos slawe daarin wegvoer. Die gemeente mag niks met sulke praktyke te doen hê nie. Die gemeente is deur die Gees anders as die heidene gemaak.

  • In die gemeente van Christus word Hy alleen as die Here erken en gedien. Wanneer daar in die Christelike gemeente steeds mense na vore kom wat op 'n blatante of op 'n sub­tiele wyse Jesus 'n vervloeking noem, of Hom soos 'n vervloeking behandel, het ons beslis nie met die gawe van die Heilige Gees te doen nie. Die Heilige Gees het nog altyd die heilige mense gelei om Jesus Christus as die Here te bely. Hy is die Koning aan wie ons diensbaar is. Hom kan ons alleen ken as die Heilige Gees Hom aan ons ken­baar maak.

Die volgende drie verse behandel die eenheid van die verskillende geestelike kragte:

  1. Die verskeidenheid van gawes (vs 4)

  2. Die verskeidenheid van bedieninge (vs 5)

  3. Die verskeidenheid van werkinge (vs 6).

Maar daar is meer as dit. In hierdie kragte is 'n verskeidenheid onderafde­lings. Maar almal vloei uit een en dieselfde grondbeginsel voort en almal moet uitstrek tot een en dieselfde doel.

Nou vra mens: Waar kom Paulus daaraan om die funksionering van die gemeente so te sien? Is dit 'n saak wat die Gees van Christus hom daar en dan meegedeel het?

Ons weet byvoorbeeld dat Paulus in hierdie hoofstuk baie sterk gebruik maak van die beeld van die menslike liggaam: Dat die kerk van Christus die liggaam van Christus is waarvan elke orgaan en ledemaat sy eie taak en funksie het. Maar daar is vir Paulus ook 'n ander konteks. Hy lei ons as't ware na daardie konteks toe in vorige hoofstukke wat ons reeds behandel het:

  • Weet julle nie dat julle 'n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? 1 Korintiërs 3:16

  • As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle. Vers 17

  • Of weet julle nie dat julle liggaam 'n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? 1 Korintiërs 6:19

Paulus se gedagtes is nog vervul met die openbaring van die Gees in die Ou Testament. Die Nuwe Testamentiese gemeente is die nuwe gedaante van die Ou Testamentiese tempel. Hieroor weet ons dat Paulus 'n uitnemende kenner van die wet en die profete was. Hierdie uitwerk van die gawes in die Nuwe Testa­mentiese gemeente is dus ook nie vir hom iets nuuts of vreemds nie.

Om dit nou maar so te sê: Dit is nie vir Paulus iets wat net by die pinksterkerke tuishoort nie. Dit kom al van die opbou en inrigting van die tabernakel in die woestyn en ook van die tempel van Salomo.

Hierdie Ou Testamentiese tempel was 'n aardse afbeelding van die hemelse heilig­dom. In die Nuwe Testamentiese tyd is dit die gemeente wat die tempel van God is, en dit is die gemeente wat opgebou moet word uit die gawes wat God gegee het.

Kom ons kyk dan hoe pak Paulus hier­die verskeidenheid van gawes saam en hoe bou hy dit logies op tot een groot geheel.

In vers 4 praat hy van die grondleg­ging, die verskeidenheid van geestesga­wes (die charismata). Dit is daardie skep­pende vermoëns wat God aan die gelo­wiges gegee het as hulle toerusting waar­mee hulle hul roeping moet uitleef in die gemeenskap met Christus. Die ver­naamste van hierdie gawes sal ook later in verse 8-10 genoem word.

Oor hierdie gawes sê Paulus eerstens dat daar 'n verskeidenheid van is. Hierdie woord wat met "verskeidenheid" vertaal is, beteken ook "verdeling" of "toede­ling". Dit kan dus vertaal word met die verdeling van die verskillende charismata. Maar aangesien hierdie verdeling van die gawes deur die Heilige Gees nie willekeu­rig plaasvind nie, en baie daarvan wesentlike van mekaar verskil, is dit beter om hier te praat van 'n verskeidenheid soos jy dit kry tussen verskillende persone.

Die verskillende karakters en soorte van gawes word sorgvuldig in verse 8-10 onderskei. Die verskeidenheid kom voort uit een en dieselfde grondbeginsel: Die Gees bring dit te voorskyn wanneer Hy kom woon in die gelowiges.

In vers 5 is daar 'n tweede kategorie, 'n tweede soort goddelike openbaringe. Dit is die ampte of ook die bedienin­ge… die diakoniai. Hierdie woord wys nie net soos die eerste op die persoonlike bekwaamhede nie, maar op die uiterlike ampte of die verskillende take wat vanweë die gawes aan die verskillende mense toe­vertrou is.

Daar is verskillende soorte ampte. Som­mige daarvan kan op die kerk as geheel betrekking hê soos die ampte van die apostels en die evangeliste. Maar ander het net op die plaaslike gemeente betrek­king, sommige spesifiek met die oog op die geestelike lewe soos die herders, leraars en ouderlinge, of ander met die oog op die verskillende soorte hulpverle­ning soos die baie verpligtinge van die diakens en die hulpdienste wat saam met hulle funksioneer om vergaderings te hou, om liefdesmaaltye te reël, ens.

As ons nou saam na verse 4 en 5 kyk, kom die vraag: wat is nou die ver­band tussen die ampte en die gawes. Die belangrike is sekerlik dat die geestelike gawes eers aanwesig moet wees voordat mens tot besondere ampte en take verkies en benoem kan word.

Die gemeente herken uit die poel van gawes watter persone die geskikste is en stel hulle in die ampte en take aan. So is die geestelike gawes van wysheid en onderskeidingsvermoë nodig vir die meeste verantwoordelikhede, maar dit beteken nie dat almal wat wysheid en onderskeidingsvermoë het in dieselfde take of ampte aangestel moet word nie.

Die gawe om verskillende tale te bemag­tig of om in vreemde tale te spreek, of om te kan profeteer, sou nie outomaties tot 'n spesifieke amp aanleiding moet gee nie. Ander gawes soos die gawe van onderwy­sing byvoorbeeld kan maklik in 'n geor­dende betrekking verander word.

So is daar ook uiterlike bedieninge, soos die opsig oor die stoflike belange van die gemeente. Dit verg ook die gawes van wysheid en onderskeidingsvermoë, maar nie noodwendig enige charismatiese gawes nie. Ander ampte vereis 'n hele pakket van verskillende gawes soos die apostelskap en herderskap.

Ook hierdie verskillende ampte, take, bedieninge, poste in die gemeente het net soos die gawes hul eenheidsbeginsel. Hul oorsprong is van dieselfde Here Jesus Christus. Hy is die een wat as Hoof oor alle dinge aan die gemeente gegee is om die enigste Koning van sy kerk te wees.

Soos wat Hy Homself wil laat bedien in die gemeente, soos wat Hy Homself wil laat verteenwoordig by sy bruidskerk, en soos wat Hy aan elkeen van ons 'n plek aanwys, so is dit die allerbeste wyse hoedat ons Hom kan verheerlik.

Die derde kategorie van geestelike open­baringe in die gemeente word in vers 6 die werkinge genoem. Dit beskryf die uitein­delike resultate wanneer die verskillende gawes in die onderskeie bedieninge optree en daar bepaalde resultate tot stand kom. Die "werkinge" van 'n gemeente wat mee­lewend is, wat uitgaan en sendingwerk doen, wat aan die suiwer leer van die Skrif getrou bly en wat die reformasie in die kerkverband aktief nastreef, is voor­beelde.

So kan dit dan byvoorbeeld gebeur dat die Heilige Gees by sekere gelowiges die gawe van die prediking en onderwys ont­wikkel. Die gemeente wat hierdie gawes erken, het aan hierdie persone ook die amp en die taak van onderwys en predi­king toevertrou met die oog op die diens van Christus.

Dan is dit die vertrouensvolle verwag­ting dat die uitwerking van hierdie mense se dienswerk tot stigting, vertroosting, bekering en opbou van die gemeente sal dien.

Iemand anders het byvoorbeeld die gawe van genesing wat nie as sulks in 'n besondere amp van die gemeente tot uit­drukking kom nie. Tog, wanneer hierdie persoon in sy/haar gawe werksaam is, sal die resultaat daarvan 'n werking (ener­geia) van genesing wees. Die uitwer­king kan elke keer gesien word wanneer iemand wat ellendig siek was, weer gene­sing en gesondheid ontvang.

Al hierdie verskillende uitwerkinge het hul eenheidsbeginsel. Dit is God wat die dinge werk. Nadat Hy deur sy Gees die verskillende gawes na sy welbehae uitge­deel het en die mense volgens hul gawes in verskillende verantwoordelikhede geplaas het om die gemeente te bedien, is Hy self ook die een wat alle uitwerkinge van hierdie dienste, alle resultate van hierdie dienswerk te voorskyn bring. Die teks sê: Dit is Hy wat alles werk, en dit is Hy wat in almal werk. Alles — die gawes, die ampte en die opbouende gevolge; alles.

Kyk nou oor die drie verse terug. Dan sien jy hoedat Paulus se prediking gestruktureer is binne ons verhouding met die Drie-enige God. Hy wys ons hoedat God se werking in sy gemeente as't ware in konsentriese belangekringe gestruktureer is.

Hy gee eers vir ons in vers 4 'n aan­duiding hoedat God aan elkeen van ons in ons persoonlike en direkte omstandig­hede gawes gee. Hy stuur sy Gees om elkeen van ons se unieke persoonlikheid met ons gawes te bou. Dit is die eerste konteks.

Dan wys Hy ons op die groter omstan­dighede van die gemeente waar ons almal saam is, hoedat God ons met sekere take wat die gawes nodig het, in die gemeente toevertrou. Hy het sy Seun tot ons Hoof en Koning gemaak wat ons met sekere take in sy gemeente toevertrou. Ons gawes word op gestruktureerde wyse aan­gewend tot opbou, tot nut en saligheid van die ander lede.

En dan wys Hy aan ons die verste, die diepste, die hoogste en die wydste kon­teks waarin al hierdie dinge bestuur en voorsien word, God se almag.

Daarmee sê die Here vir jou:

  • Jy is kosbaar vir Hom as indiwidu voor sy aanwesig sodat Hy deur sy Gees per­soonlike bemoeienis met jou maak en deur sy Gees van sy genadegawes binne in jou belê.

  • Jy is kosbaar vir Hom as lidmaat van sy kerk, sodat Hy aan jou die funksie van JV-lid gee, die gawe van koorleier, die amp van moeder en vader, die taak van orrelis en kassier, die amp van ouderling en diaken en predikant, die roeping as verbondsouer. Die taak om jou kinders af te rig in die vrees van sy Naam… alles om sy kerk hier en nou te versorg en te belê in die kerk van die toekoms.

  • Jy is kosbaar vir Hom as 'n persoon wat ingeskakel is in sy groot raadsplan van alle eeue. Net soos wat dit waar was van die einste Paulus wat hierdie brief geskryf het, so is dit tot 'n meerdere of mindere mate waar vir elkeen van ons, dat ons ons plek en taak gekry het in sy kerkvergaderende werk, in sy sending en evangelisasieplan, in sy kerklike reformasieprosesse. So het Hy ook met jou 'n spesiale plan gehad van die begin af, om saam met die kerk sy oorwin­nende koningskap te bedien en deel te wees van sy almagswerkinge.