Bron: Kerk en Woord, 2000. 7 bladsye.

1 Samuel 2:30 - 'n Vreesaanjaende Boodskap

Die wat My eer sal Ek eer, maar die wat My verag sal veragtelik wees.

1 Samuel 2:30b

mail

’n Onbekende profeet met ’n vreesaanjaende boodskap. ’n Profesie met kernbeginsels wat vir alle eeue vir die kerk beslissend sou wees. Hy het die koms en die werk van Jesus Christus verkondig. Hy het veral aangetoon waarom nie ons mense nie, maar Christus die man na God se hart is wat as enigste Hoëpriester die diens kon doen vir ewig.

God bring ’n nuwe bedeling. Hy gee die ewige lewe. Hy wek ons uit ons sondedood weer op. Maar Hy is die heilige God. Hy gee sy genadebelofte nie sonder ’n alles-opeisende appèl op ons diens nie. En sy bevele gaan ook nie sonder sware bedreigings nie. Daarom moet ons uit sy verbondsmatige optrede teen die gesin van Eli lering trek vir ons lewens, ’n waarskuwing om onse Verbondsgod met verbondstrou te dien. Buitendien moet ons leer dat Hy self sal sorg dat sy kerk in alle waarheid vergader en beskerm en onderhou sal word, dat Hy van geen mens afhanklik is nie, en dat Hy sy ontroue diensknegte in voortgesette reformasie sal vervang.

In hierdie profesie hoor ons:

  • God se eise vir die ampsdiens,
  • Die mislukking wat die mens gemaak het van die ampsdiens,
  • God se verbondswraak by besoedeling van die diens.
  1. Ons lees eers in verse 27 en 28 hoedat God die priesterdiens ingestel het as die eerbare wyse waarop Hy Homself laat bedien.
     
  2. Dan lees ons in verse 29 en 30a die teleurstelling van veragtelike priesterdiens. Hoe tragies die HERE se diensknegte in hulle roeping misluk het.
     
  3. Vers 30b verskaf aan ons die grondwet waarop ons verhouding met God funksioneer.
     
  4. Dan lees ons in die res van die hoofstuk tot die einde toe God se oordeelsaankondiging, hoedat Hy in die geval van die huis van Eli sy grondwet toepas: In verse 31-33 hoor ons die oordeelsaankondiging in die algemeen, maar daarna die detail:

    - Hofni en Pineas sal op een dag sterwe (34).
    - Die HERE sal vir Hom ’n getroue priester verwek na sy hart en sy siel – en sy huis bestendig maak (35).
    - Die oorblyfsel van Eli se huis sal ’n bedelaarsbestaan bly voer in die heiligdom (36).

Verval🔗

Nou weet ons alreeds uit die eerste hoofstuk dat die ampswerk in die heiligdom van die HERE in die gedrang gekom het. Die wyse waarop die diens van die HERE verrig is, het die kerk laat verval. Hoofstuk 2:17 stel dat die sonde van die jongmanne (Hofni en Pineas) baie groot was voor die aangesig van die HERE, want die mense het die offer aan die HERE verag. Deur die besoedeling van die heilige ampswerk het die kerk in deformasie gegaan.

vuur

Nou kom praat die onbekende profeet van die HERE met Eli op die tipiese en duidelik herkenbare manier waarop die HERE nog altyd met sy volk gepraat het. Hy verduidelik altyd eerste aan hulle hoedat Hy sy salige verhouding met hulle ingestel het en hulle tot sy heilige eiendom gemaak het. Dit is verbondsmatig. Dis so goed soos om weer te hoor: Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis uitgelei het.

Die profeet huiwer nie om hierdie verbinding in vers 27 met die verlossingsgeskiedenis uit Egipte te maak nie. Daarby kom ook die besondere toepassing. Die verlossing uit Egipte sou nie moontlik kon wees as dit nie om die bediening van die versoening gegaan het nie. As die verlossingsbloed van die paaslammetjie nie gevloei het nie. Onmoontlik as die grond van die verlossing nie voortdurend aan die volk verduidelik is nie. Daarom het die HERE Aäron uitgekies om die offerwerk van die volk namens die volk te behartig. Dit was uitnemend belangrik dat die bedienaars van die versoening die optrede van die HERE by sy volk op so ’n wyse behartig dat dit die HERE se Naam en sy Eer hoog hou. Hulle moes deur hulle offerdiens in alle egtheid die koms van die Messias getrou vooruit-verkondig.

Maar die priesters was selfgesentreerd, teruggevalle, mensebehaers, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God. Dit is duidelik dat die tipiese afvallige kenmerke van die kerk nie eers in die eindtyd en in die laaste dae voorkom soos wat Paulus die afval in die laaste dae aan die Thessalonicense geteken het nie, maar dat dit al reeds vroeg in die geskiedenis van die Ou Testamentiese kerk ’n werklikheid was.

Die afvallige ampsdiens wat in die mentaliteit van Eli gesetel was, word hoofsaaklik in twee kenmerke beskryf:

  • Eli was ’n mensebehaer, meer as iemand wat God wou behaag. In vers 29 vra die profeet: Waarom verag julle my offers wat Ek in my woning beveel het en eer jy jou seuns meer as vir My? Gewoon sag op sonde, bang om aanstoot te gee, bang hy sal sy kinders se selfbeeld beskadig. Een keer laat die Bybelskrywer ons hoor hoe praat Eli met sy seuns: Hulle het ontug met die diensmeisies by die tempel gepleeg. En al wat Eli kon vermaan is: Hy wil dit nie by die volk hoor wat hulle aanvang nie. Wat eintlik moes gebeur het, is dit wat die Fariseërs een keer beplan het om te doen met die vrou wat hulle op die Loofhuttefees met ontug betrap het en na Jesus toe gesleep het.

Die Here het in sy wet beveel dat persone wat ontug bedrywe deur steniging uit die gemeenskap verwyder moet word. So het Eli ’n priesterskap verteenwoordig van dienaars wat bang is om God se kerk aan te spreek, bang is om die sleutels van die hemelryk te bedien. Dan kan die kerk ook maar heeltemal vervalle wees, alle morele standaarde in die put gegooi: Die helfte van die lidmate in egskeiding, die jongmense slaap ontugtig rond, die kinders onregeerbaar soos terroriste. Die hele gemeente kan dan ook maar oorgegee wees aan genot en sport en vermaak – hulle word tot aktiwiteite uitgelok met ’n speelse skuurskoffel en al die moontlike vet pret wat dit ook al kan inhou, maar daar kom nooit ’n woord van korreksie van die kansel of in die klaskamer of by huisbesoek nie. Die kerk het aan die wêreld gelykvormig geword. Intussen word die sonde ter wille van persoonlike voordeel verdra, te bang hulle verloor aansien of inkomste.

  • Die tweede eienskap van die verrotte ampsdiens van die huis van Eli, was dat hulle hulle eie begeertes en belange bevorder het – eerder as die belange van die gemeente.

Die profeet vra vir Eli: Waarom verag julle my offers deur julle vet te voer met die beste van elke offergawe van my volk Israel?

Wanneer die lidmate hulle offers na die priesters gebring het, moes die vet eers op die vuur aangesteek word. In alle opsigte moes dit eers werklik aan die HERE geoffer word, en daarna kon die priester sy voorgeskrewe deel kry. Maar nou het die priesters ongekwalifiseerd uit die braaipotte gaan versamel wat hulle kon, en selfs rou vleis – nog voordat dit geoffer is.

En Eli self moes noodwendig ook in daardie vraatsige roofoffers deel omdat hy ook van daardie kos geëet het wat die priesterskneg versamel het. Die profeet verwyt Eli dat hy net vir sy eie huis, sy eie maag gesorg het, pleks van die volk met die versoening van die HERE bedien. So was Eli dus maar saggies op die skending van God se eer omdat hy self ook voordeel uit die bedrog getrek het.

vleis

So op die ontleding van die saak daar in die tempel by Silo, ontdek ons dan ’n ernstige morele skending van God se verbond. Dit is die rede waarom die onbekende profeet met skerp verwyt teen Eli uitvaar.

Beginsels🔗

Om seker te maak dat Eli nie kan maak asof hy nie weet wat nou eintlik die grondbeginsels van hierdie saak is nie, gaan die man van God dit ook nou vir hom uitspel.

Die wyse waarop God se salige verhouding met sy mense funksioneer het Hy immers baie mooi in sy wetboek uiteengesit. Kyk byvoorbeeld sy beloftes by die tweede gebod: “Want Ek, die HERE jou God, is ’n jaloerse God, wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, tot aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat, maar Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.”

Hier sien ons duidelik die tweesnydende werking van God se verhouding met sy kerk. Hier in die woorde van die onbekende man van God by Eli hoor ons presies dieselfde verkondiging in effense ander woordgebruik. “Want die wat My eer, sal Ek eer, maar die wat My verag, sal veragtelik wees.”

Dit is die grondbeginsel waarop ons verhouding met God funksioneer. En in ’n baie radikale sin geld dit ook vir die ampsdiens. Destyds met Moses in die woestyn was dit veral hierdie beginsel wat hy geskend het toe hy met die rots moes praat om water daaruit te laat kom. Hy moes die naam van HERE verheerlik onder Israel. Pleks daarvan het hy vir hulle gesê: Moet ek vir julle water gee – en toe slaan hy soos 'n wafferse towenaar die rots. Nie die HERE sal vir julle water gee nie, nee: moet ek vir julle water gee? En omdat hy nie die HERE vereer het nie, maar sy naam verag het, daarom kon Moses ook nie in die beloofde land ingaan nie.

Post-Modern🔗

Die manier waarop Eli en sy seuns die HERE verag het was deurdat hulle nie omgegee het of hulle die voorskrifte van die HERE in die offerdiens nakom nie. Hulle het vars en nuut, puur post-modern oor die voorskrifte van die HERE gedink. Nie eers die offers bring nie, nee wat, sommer al voordat dit op die vuur gesit is. Nie maar net die borsstuk en die een blad nie, nee, sommer enigiets wat die drietandvurk optrek. Nie die heiligdom met heilige dinge, skoon gewas en in gehoorsame houding bedien nie, nee, daar kan sommer voor die aangesig, voor die altaar van die HERE met die diensmeisies gehoereer word.

In kort gesê: Die woord van die HERE het nie vir hulle gesag meer gehad nie. Die voorskrifte van die HERE het nie hulle geloof bepaal en hulle lewe gerig nie. Ons sien in hierdie growwe besoedeling van die ampsdiens en die tempeldiens die wrange vrugte van die Skrifkritiek. Die vrug van die skrifkritiek is dat die hele kerkvolk begin om die offer aan die HERE te verag. Die kerk loop leeg omdat die mense genoeg van toneelspel en bedrog gehad het.

Dit is soos wat ons deesdae in die openbare pers lees – dat die nuwe geslag Afrikaners ’n weersin gekry het in die ideologieë wat die vorige geslag kerklike leiers op die tradisionele kerke afgedruk het, en die gevolge wat dit op die land en sy bevolking gehad het. Veral ’n weersin teen die verraderlike wyse waarop die godsdiens en die Bybel misbruik is om politieke oogmerke te bereik. En dan is dit dieselfde kerklike leiers wat nou in hierdie dae met presies dieselfde Bybel, totaal ander ideologieë probeer afsmeer. Die gevolg is dat die mense ’n weersin in die Christelike godsdiens kry en geheel kerkloos raak.

Dit is natuurlik nie ’n unieke verskynsel nie, want na die Tweede Wêreldoorlog het Europa met dieselfde dilemma gesit. Duisende mense het ’n argwaan in die Christendom en die Christelike geloof gekry omdat hulle dit nie kon verwerk het dat medegelowiges van verskillende volke op so ’n groot skaal mekaar doodmaak nie, en dat kerklike leiers aan weerskante hierin sowel voor die tyd as na die tyd ’n sleutelrol vervul het.

leë kerk

Dit het toe ook gebeur dat die kerke uit veragting van hierdie soort diens van die Here, leeggeloop het. Vandag het daar van baie van daardie gemeentes slegs kerkgeboue as monumente en museums oorgebly. Kyk dan op watter groot skaal vind die afval plaas. En dan geld die profetiese uitspraak: Die wat my verag, sal veragtelik wees. Die wat my eer, sal Ek eer.

Wraak🔗

Nou lees ons in die res van hierdie hoofstuk hoedat die HERE sy verbondswraak op hierdie afvallige priesterorde van Eli gaan voltrek. Die oordeel van God kom in drie verpletterende golwe:

Die eerste is magsverlies: dat hulle alle aansien, alle mag en alle gesag sal verloor. Vers 31 lui: 'Kyk, daar kom dae dat Ek jou arm en die arm van jou vader se huis sal afkap – sodat daar geen bejaarde in jou huis sal wees nie.'  Om deur God verag te word. Om deur God as nikswerd geag te word, beteken dat God sy kragtige werking aan jou onttrek en dat jy nie meer sy seën of sy guns geniet nie. Hierdie afsnyding van God se krag sou die Eli-priesterskap hoogstens met besige programme, aksieskemas, los – met die gedaante van die Godsaligheid, terwyl hulle die krag daarvan verloor het. Maar die tragiese manier hoedat dit plaasvind, is dat ook die mense die rug op hulle draai. Die mense sien nie meer na hulle op nie. Die kerkvolk verag hulle.

Die tweede is seënverlies: dat hulle in die ware salwing en seën van God op Israel in die laaste dae verbygegaan sal word... Vers 32 lui: 'Dan sal jy die benoudheid van my woning aanskou, in alles waarin Hy aan Israel goed sal doen; en in jou huis sal daar al die dae geen bejaarde wees nie.'

Wanneer die Here sy genade oor sy volk bring sal hierdie priesterorde van Eli maar net staan en toekyk, en geen deel daarin hê nie. Dat daar bejaardes in ’n familie kan wees, word as ’n besondere seën en genade van die HERE aan so ’n familie geag. Maar dit sal Eli se nageslag nie meer sien nie.

Die derde is ouderdomsverlies: dat hulle almal God se greep in die fleur van hulle lewe sal verloor. Vers 33 lui: 'almal wat uit Eli se huis aangroei, sal op 'n manlike leeftyd sterwe.'

Hierdie uitspraak word op twee wyses verstaan. Eerste is dit letterlik vervul toe koning Saul vir Doëg na Nob toe gestuur het om 85 priesters te verslaan wat uit die geslag van Eli was.

Maar hierby is dit nie klaar nie. Die profesie stel dat die priesters uit die geslag van Eli sal goed presteer tot op ’n sekere ouderdom, vol energie, gesag, wysheid, heiligheid... Maar dan tree daar ’n tragiese insinking in. God verlaat hulle. Hulle staan voor die mense as dooies terwyl hulle nog in die fleur van hulle lewe is. Die ergste van hierdie profesie is dat hierdie afvallige kompromis-priesterskap nooit geheel van God se altaar afgesny sal word nie. Vers 33 lui: “Maar Ek sal, om jou oë te laat wegkwyn en jou siel te laat versmag, een vir jou nie uitroei van my altaar af nie.”

So sou die beginsel van hierdie profesie ook vir alle toekomende eeue in die kerk herkenbaar wees. God sal die kompromis-priesters, die mense wat die Heilige Gees nie het nie, die waterlose wolke waarvan die Judasbrief praat, nie heeltemal afsny uit die kerk tot en met die wederkoms van Christus nie. Maar hulle sal ’n rousmart in die kerk veroorsaak, soos die profeet dit uitdruk: om jou oë te laat wegkwyn en jou siel te laat versmag.

Dit was dan die oordeelsaankondiging in die algemeen wat soos drie verpletterende golwe oor die afvallige ampsdiens gekom het.

Herstel🔗

Hierna hoor ons hoedat die profesie in vervulling sou gaan en ook hoedat die HERE die ampsdiens weer in ere sou herstel.

ark en priesters

Eerste vers 34: Hofni en Pineas sal op een dag sterwe. Die vervulling daarvan sou nie baie lank later gebeur nie, wanneer Hofni en Pineas met die ark van die Here op die oorlogsveld sneuwel en die ark deur die Filistyne weggevoer word.

Vers 35 verkondig dat die HERE weer vir Homself ’n getroue priester sal verwek wat na sy hart en sy siel sal wandel. Hierdie profesie is letterlik vervul in die priesterskap van Sadok. In die tyd van koning Dawid was daar twee priesters wat hierdie profesie oor die priesterskap letterlik geïllustreer het: Abjatar en Sadok. Dawid se seun Absalom het teen hom in opstand gekom sodat hy uit sy woning moes vlug. Nou hoor ons in 2 Samuel 15: En kyk, Sadok was ook daar, en al die Leviete by hom wat die verbondsark van God dra, en hulle het die ark van God neergesit – Abjatar het ook opgetrek – totdat al die mense uit die stad tot die laaste toe deurgetrek het.

Maar met Abjatar het dit tog skielik anders begin gaan. Dawid het ook ’n ander seun gehad, Adónia. 1 Kon 1: 5: Intussen was Adónia, die seun van Haggit, so vermetel om te dink: Ek sal koning word! En hy het vir hom waens en perderuiters aangeskaf en vyftig man wat voor hom uit loop.

En vers 6: En sy vader het hom sy lewe lank nie gekrenk deur te sê nie: Waarom maak jy so? Bowendien was hy ook baie mooi van gestalte, en sy moeder het hom na Absalom gebaar.

Nou sien ons hoedat die onbekende profeet se woorde letterlik in vervulling gegaan het, want: 1 Kon 1:7: En hy (Adónia) het met Joab, die seun van Serúja, onderhandel en met Abjatar, die priester, sodat hulle gehelp het as volgelinge van Adónia. Vers 8: Maar Sadok, die priester, en Benája, die seun van Jójada, en Natan, die profeet, en Símeï en Reï en die helde van Dawid het nie met Adónia saamgegaan nie.

So het Abjatar die priester uit die geslag van Eli vasgevang geraak in ’n vleeslike en ongoddelike bediening ter wille van sy eie voordeel. Hy het saam met ander geëet en gedrink en geskree: lank lewe koning Adonia!

Toe hierdie gebeure aan Dawid vertel is, het hy met Natan, die profeet, gepraat. En die uiteinde van die saak is dat priester Abjatar wat veragtelik gehandel het, self veragtelik was. Die koning het die volgende reëlings getref:

Verder het koning Dawid gesê: Roep vir my Sadok, die priester, en Natan, die profeet, en Benája, die seun van Jójada. Toe kom hulle in voor die koning, en die koning sê vir hulle: Neem die dienaars van julle heer met julle saam en laat my seun Salomo op my eie muil ry, en bring hom af na Gihon toe, en laat Sadok, die priester, en Natan, die profeet, hom daar as koning oor Israel salf, en julle moet op die ramshoring blaas en sê: Mag koning Salomo lewe!

So het Salomo die gesalfde koning geword. En die eerste ding wat hy gedoen het, was om Semeï tereg te stel wat vir Dawid gevloek het. Daarna het hy ook met al Dawid se vyande afgereken. En hy het ook die priester Abjatar uit die geslag van Eli geroep om voor hom te verskyn.

Maar nou het die man van God immers ook aan Eli gesê dat die priesters uit sy nageslag nie heeltemal afgesny sal word nie. Eintlik moes Abjatar ook vir hoogverraad tereggestel word, maar in die tussentyd het Salomo vir hom gesê: 1 Kon 1:52: Daarop sê Salomo: “As hy ’n betroubare man sal wees, sal geen haar van hom op die aarde val nie; maar as daar kwaad in hom gevind word, moet hy sterwe.” Vers 53: En koning Salomo het gestuur, en hulle het hom van die altaar afgebring, en hy het ingekom en hom voor koning Salomo neergebuig. En Salomo het vir hom gesê: “Gaan na jou huis.”

En in 1 Kon 2:26 nog duideliker: En vir Abjatar, die priester, sê die koning: Gaan na Anatot op jou grond, want jy verdien die dood; maar vandag sal ek jou nie doodmaak nie, omdat jy die ark van die Here HERE voor my vader Dawid uit gedra het en omdat jy deelgenoot was van alles wat my vader gely het.

horing

Dan vers 27: So het Salomo dan Abjatar verdrywe, sodat hy nie meer priester van die HERE was nie, om die woord van die HERE te vervul wat Hy oor die huis van Eli in Silo gespreek het.

Die soortgelyke gees van afvallige priesterskap uit die geslag van Eli teenoor die getroue priesterskap van Sadok word nog jare later weer beskrywe deur die profeet Eségiël. Eség 44:5. En in vers 10: Maar die Leviete wat ver van My afgewyk het by die afdwaling van Israel, wat van My af weggedwaal het agter hulle drekgode aan, hulle moet hul ongeregtigheid dra. Vers 11-16: Hulle moet dienaars wees in my heiligdom, as wagte by die poorte van die huis en bedienaars van die huis; hulle moet die brandoffer en die slagoffer vir die volk slag en voor hulle staan om hulle te dien.

Omdat hulle hul gedien het voor hulle drekgode en vir die huis van Israel ’n struikelblok tot ongeregtigheid was, daarom het Ek my hand teen hulle opgehef, spreek die Here HERE, sodat hulle hul ongeregtigheid moet dra. En hulle mag nie nader kom na My toe om die priesteramp vir My te bedien nie en om nader te kom na al my heilige gawes, na die hoogheilige gawes nie; maar hulle moet hul skande dra en hul gruwels wat hulle bedryf het. Dus sal Ek hulle aanstel om die diens van die huis waar te neem, vir die hele bediening daarvan en vir alles wat daarin gedoen moet word. Maar die Levitiese priesters, die kinders van Sadok, wat die diens van my heiligdom waargeneem het toe die kinders van Israel van My af wegge­dwaal het, hulle moet na My toe nader kom om My te dien en voor my aangesig staan om aan My die vet en die bloed te offer, spreek die Here HERE. Hulle moet in my heiligdom ingaan, en hulle moet na my tafel toe nader kom om My te dien en my diens waarneem.

Ons sien dat die HERE doelbewus die skandes van die ontroue priesterskap en sy herstel van die priesterskap laat voortleef het in die geskiedenis van die Ou Testament, besonderlik omdat Hy daarmee sy kerk se verlange wou opwek, nie maar net na die simboliese eerbaarheid van die Sadok-priesterskap nie, maar veral na die priesterskap wat in onbaatsugtige offerdiens deur ons Here Jesus beman sou word.

In Christus het die priesterskap van alle geregtigheid plaasgevind. Dit is immers wat Sadok beteken: Geregtigheid. Dit kom van “Tsadique”. Hy was in alle opsigte regverdig, die Een in wie God ’n volkome welbehae het.

In Hom het God weer nuwe lewe, die ewige lewe vir ons gegee. By Hom was dit nie selfsug of parasitiese eiegewin nie, maar liefdesoorgawe. Hy het sy lewe afgelê ter wille van die kerk om hulle met God te versoen.

donker tonnel

Behalwe dit, leer ons ook dat ons, die kerk ’n eiendomsvolk van God is, ’n koninklike priesterdom wat veronderstel is om die deugde van Hom te verkondig wat ons uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig (1 Petr 2:9). Ons lees ook in Openb 1:6 dat Christus wat ons met sy bloed gewas het, ons tot konings en priesters gemaak het vir sy God en Vader, en ons lees in Rom 12 dat dit ons redelike godsdiens is, dat ons ons liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer. Waar dit so gaan, herken ons die kerk in haar Reformasie.

  • Waar sy die voorskrifte van die Here ter wille van Christus Jesus gehoorsaam en gesagvol uitleef.
     
  • Waar sy haarself inskik en buig onder die koningskap van die Here Jesus.

En ons sien haar priesterskap uit die krag van die Heilige Gees funksioneer. Dit suur deur na al die aspekte van ons lewe. Ons gesinslewe binne in die verbond. Ouers en kinders wat mekaar aan die eise van die HERE vashou, priesterskap wat die belange van die Here en sy koninkryk en sy geregtigheid eerste soek. En intussen bly dus die profetiese woord oor die priesterlike diens, ja oor ons ganse diens van die Here vas staan: Die wat die Here eer, die sal Hy eer, maar die wat Hom verag – hulle sal ook veragtelik wees.