2 bladsye. Vertaal deur Nic Coetzee.

1 Timoteus 2:1-2 - Doelgerigte Gebede

biddende hande

Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ʼn rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid.

 1 Tim. 2:1-2

As ons hierdie woorde begin lees, lyk hulle algemeen en effens vriendelik. Maar in Paulus se dae was dit kragtige woorde wat strategiese prioriteite vir die gebede van die kerk gestel het. Die eerste versie moes belangrik gewees het vir Paulus, want hy praat van “in die eerste plek” – met ander woorde: “Dis ʼn prioriteit”. Hy sê ook: “Ek dring daarop aan”, wat druk op die lesers plaas om tot aksie oor te gaan. Dit was meer as wyse raad of  ʼn eenvoudige versoek.

Dit is twyfelagtig of die Christene in Efese geneig was om vir die keiser in Rome te bid. Dit is wat Paulus se vermaning so kragtig maak. In werklikheid sê hy: “Verbreed julle gebede; bid vir alle mense ... selfs vir die keiser.” Hoekom moes hulle bid vir bose konings wat verklaar het dat die koninkryk van God ʼn vyand is? Paulus roep hulle op om vir die burgerlike leiers te bid “sodat ons ʼn rustige en stil lewe kan lei” (1 Tim. 2:2). Moenie hierdie verkeerd lees nie. Sy doel was nie persoonlike vrede of voorspoed vir individuele Christene in daardie groot stad nie. Die “ons” in hierdie sin beteken die kerk. Paulus het die kerk opgeroep om vir die keisers van die wêreld te bid, sodat die kerk nie voortdurend ontwrig sou word nie, en nie moes lewe onder die verwoesting van vervolging nie. Hierdie opdrag is ook in besonder van toepassing in ons land omdat die regering toenemend vyandig teenoor die Christendom word.

Paulus se opdrag aan die gelowiges in Efese was om te bid vir hul heersers en ander ter wille van die koninkryk. Paulus het nie vir hulle gesê om hul eie voordeel te soek in hul gebede nie. Hy het gesê: “Maak die koninkryk van God ʼn prioriteit in jul gebede.” Die meeste van ons, as individuele Christene, rig ons gebede op ons persoonlike welstand. Was Sy koninkryk en Sy kerk die eerste prioriteit van ons gebede die afgelope week?

Etlike jare gelede is ek deur die Heilige Gees oortuig dat die prioriteite in my gebede nie reg is nie. Toe ek my gebede ondersoek was dit duidelik dat my eerste prioriteit “Ek en myne” was. Jesus het gesê ons moet in elke stukkie van ons lewe ons “allereers beywer vir die koninkryk van God” (Mat. 6:33). As gevolg van hierdie selfondersoek het die struktuur en prioriteite van my gebede verander.

Behoort ons te bid vir ons familie se fisiese en ekonomiese welstand? Sekerlik moet ons. Maar Paulus sê aan Timoteus: “Maak die welstand van die koninkryk van God ʼn prioriteit in jou versoeke. Verbreed jou gebede om selfs die keiser in te sluit, tot voordeel van die kerk.”

biddende hande

Hy gaan voort deur te sê dat ons ons gebede só moet inrig omdat God wil hê “dat alle mense gered word” (1 Tim. 2:3-4). As ons dan volgens God se wil bid, sal ons dat al die mense rondom ons ook gered word. Is ons gebede gerig op die bekering en verlossing van mede-sondaars wat buite Christus is? Die ware evangelie begin met gebed.

Dr. Leon Morris, een van die grootste Nuwe-Testamentiese geleerdes van die twintigste eeu, het geskryf: “As Christene evangeliseer is hulle nie besig met ʼn skadelose en genotvolle tydverdryf nie. Hulle is gewikkel in ʼn vreesaanjaende stryd, waarvan die geskilpunte vir ewig bestaan.” In evangelisasie worstel ons “ teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld”  (Ef. 6:12).

Etlike jare gelede het ʼn lidmaat van die kerk waar ek gedien het na my toe gekom omdat hy bekommerd was oor ʼn vriend van hom wat ernstige kanker het. Hy het gesê: “John, ek voel aaklig. Toe my vriend my vertel dat hy kanker het, het ek gehuil. Ek wil nie hê dat hy moet sterf nie. Maar dit is nie waarom ek so sleg voel nie. Ek het eers bekommerd oor hom geword toe kanker in sy liggaam ontdek is. Ons was vir jare vriende en ek het geweet dat hy nie ʼn Christen is nie. Hy het altyd gesê dat hy agnosties is. Gedurende daardie hele tyd het ek nooit vir sy redding gebid nie. Ek was nie bekommerd nie, al het hy ʼn probleem gehad wat baie erger is as kanker.”

Weet julle wat was verkeerd met daardie lidmaat? Dieselfde as wat verkeerd is met jou en my as ons sien dat ʼn vriend spiritueel vergaan, en nie juis omgee nie. Die probleem is met ons eie spirituele toestand. Die Anglikaanse leier John R. Stott het dit so gestel: “Niks maak die mond so toe, seël die lippe so, en bind die tong so as die armoede van ons eie spirituele ervaring nie.” Party van ons sukkel om oor die evangelie teenoor ons bure en mede-werkers te praat. Ons het nie die “gawe” vir hierdie soort evangelisasie nie. Maar daar is nie ʼn verskoning as ons nalaat om vir ons verlore bure te bid nie. Dit is iets wat ons almal kan doen.

Baie Christene en kerke bid. Hul gebede is egter nie gerig op die visie, bevordering en groei van die koninkryk van God nie. Is jou gebede doelgerig?