Bron: Kompas, 2002. 3 bladsye.

16 Desember

Vier ons die oorwinning van Andries Pretorius en sy kommando oor die Zulu-impies van Dingaan by Bloedrivier in 1838 – Dingaansdag soos dit voor, tydens en na die Anglo-Boereoorlog gedoen is? Vier ons Geloftedag soos dit sinds 1938 in gebruik gekom het en deur die destydse regering in 1952 vasgestel is – of is dit Versoeningsdag soos deur die huidige regering ingestel? Ja, daar is nog ’n moontlikheid, ons doen niks nie en voeg hierdie dag gerieflik by ons jaarlikse vakansie.

Dit is een vraag.

Daar is nog ’n vraag. Kan ons mekaar bind aan ’n bepaalde manier waarop hierdie dag al of nie gebruik mag of moet word? Dit is ’n belangrike vraag waaroor nagedink moet word, want as daarop geen gemeenskaplike antwoord is nie, kan dit maklik gebeur dat ons mekaar stilswyend bind en veroordeel.

Geskiedenis🔗

Die eerste moeite ontstaan wanneer ons begin praat of daar inderdaad ’n gelofte afgelê is om die dag van die oorwinning as ’n heilige sabbat in die geslagte te vier. Wanneer ons in die lyn van Groen van Prinsterer eerstens kyk na die werklike gebeurtenisse dan is daar oortuigende bewys, wat ook deur Christen-historici gelewer is, teen die aanname dat die gelofte van 1838 inderdaad so ’n klousule bevat het. Dit staan bo alle twyfel vas dat belowe is om ’n kerkgebou op te rig en dat die dade van die Here aan die nageslag vertel sal word. Die viering van die dag as ’n besondere dag op gelyke voet met die rusdag wat die Here ingestel het, kan nie op historiese gronde verdedig word nie.

Daar is natuurlik meer. Al die deelnemers aan die kommando van Andries Pretorius kon self kies of hulle die gelofte sou aflê of nie. Dit is uiteraard volkome korrek, jy kan nie deur ander mense in ’n gelofte ingedwing word nie. Sou dieselfde mense wat so bedagsaam teenoor hulle medeburgers opgetree het dan wel aan nog ongebore geslagte hierdie gelofte dwingend opgelê het? Nee, hulle het ’n gelofte vir hulleself afgelê en dit ook volbring, dit is o.a. gedoen deur die Geloftekerk in Pietermaritzburg te bou.

Maar wat dan van dié deel van die gelofte wat belowe dat die dade van God van geslag op geslag bekend gestel sal word? Daarmee word die nageslag tog ook gebind? Ja, maar dit is geen gelofte wat uit die mens opgekom het nie, maar ’n duidelike opdrag van die Here self, sien bv. Psalm 78. Dit is ook ’n opdrag wat baie wyer strek as net een veldslag of een volk. Al die dade van die Here…! Die Bybel is vol van voorbeelde hoe Hy langs dikwels vir ons vreemde weë sy raad volbring. En dié God is nog steeds dieselfde. Hy kom nie met ad hoc-oplossings nie en maak Hom nie skuldig aan paniekbestuur nie. Alles wat Hy doen is gerig op die wederkoms en die herskepping. Dit moet ons aan ons kinders oordra. En die betekenis daarvan gaan veruit bo watter enkele gebeurtenis ook al.

Interpretasie🔗

Behalwe om noukeurig na die werklike feite te kyk, moet ons ook Groen van Prinsterer in sy versigtige interpretasie van die geskiedenis volg. Wat vandag vir ons so helder soos daglig is, kan more deur nuwe ontwikkelinge totaal raaiselagtig word. Dit is uiters moeilik – as dit al moontlik is – om met gesag die werklike betekenis van een enkele gebeurtenis te verklaar. Ons kan wel gevolge en implikasies op kort of langer termyn raaksien, maar dit wil nog nie sê dat ons daarmee ook die plek van daardie gebeurtenis in God se raadsplan vasgestel het nie.

Die slag by Bloedrivier was, soos die gevolge uitwys, die begin van die einde van Dingaan. Nie van die Zuluryk nie. Die Boere het, ooreenkomstig die ooreenkoms met Dingaan, die grense van hul gebied in ag geneem en verder in vrede en vriendskap met Dingaan se opvolger Mpanda gelewe. Dit was eers die Britse imperialiste wat die Zuluryk verower en geannekseer het.

Die oorwinning by Bloedrivier was tewens die begin van die Republiek Natalia, wat na ’n kortstondige bestaan in 1842 deur die Britse Ryk geannekseer is. Daarna het baie van die Boere weer oor die Drakensberge getrek en op die Hoëveld het die Zuid-Afrikaansche Republiek tot stand gekom. Hierdie slag by Bloedrivier speel dus ’n betekenisvolle rol in die geskiedenis van die strewe na Afrikaneronafhanklikheid. Maar om dit te wil verklaar in terme van wat God daarmee bedoel het, is nie net onmoontlik nie maar ook baie gevaarlik. Dit het in die verlede al daartoe gelei dat beweer is dat die oorwinning by Bloedrivier die bewys daarvan is dat God die Afrikaner as die regeerder van hierdie land aangewys het.

Die Viering🔗

Die viering van 16 Desember het deur die jare heelwat verandering ondergaan. Die oudste mededeling van ’n jaarlikse herdenking vind ons in die dagboek van Erasmus Smit. Hy het op die dag in sy eie huis ’n samekoms gelei om, in terme van Psalm 78, God se dade te herdenk, Hom te loof vir sy uitredding en Hom te smeek om ook verder sy seën te gebied. Van ’n openbare viering van die dag is tot 1880 nie eintlik sprake nie. In 1880 is 16 Desember gekies as dag vir ’n massavergadering in Krugersdorp en dit het gelei tot die Vryheidsoorlog teen die Britse anneksasie van Transvaal wat met die slag van Amajuba op 27 Februarie 1881 geëindig het.

Daarna het Dingaansdag ’n baie wyer betekenis gekry as net die herdenking van die slag by Bloedrivier. Dit het ’n dag van die volk geword, ’n soort Republiekdag waarop die onafhanklikheid van eie land en volk gevier is. ’n Nasionale feesdag soos Frankryk sy 14 Julie het en die VSA sy Independence Day. Die dag is gevier met volkspele en vermaak.

Die volgende wending was in 1925. In die jaar het prof. Gerdener die teks van die gelofte gerekonstrueer.

Dit is hoofsaaklik gebaseer op ’n sterfbedverklaring van Sarel Cilliers met ’n paar noodsaaklike byvoegings! Van die tyd af begin Dingaansdag na Geloftedag beweeg, ’n ontwikkeling wat na 1938 en die herdenking van die Groot Trek momentum gekry het. In 1952 het die regering Geloftedag aan die Sondagwette onderwerp. Vanaf hierdie tyd worstel ons eintlik met die viering daarvan. ’n Nasionale feesdag ter viering van onafhanklikheid en soewereiniteit is toe vermeng met ’n Christelik-Nasionale uitleg van die geskiedenis en daarmee het dit ’n dag geword van ’n spesifieke groep. Die probleem het nog groter geword toe die nuwe regering hierdie dag as Versoeningsdag proklameer. Wat moet ons nou maak?

Versoening🔗

Die regering van ons land het met baie probleme te doen. Die verskeidenheid in afkoms en kultuur van Suid-Afrika se bevolking het al baie mense laat praat van die ‘reënboognasie’. Om vrede en samewerking tussen alle bevolkingsgroepe te bevorder en daarmee die welvaart van die land te dien, is seker een van die vernaamste take van die regering. Wanneer hulle in hierdie verband een dag in die jaar wil afsonder om by hierdie goeie doelstelling stil te staan, is daarmee niks verkeerd nie. Inteendeel, die feit dat daar so ’n dag ingestel is, gee erkenning aan die verskeidenheid en dit is baie beter as om skyneenheid of skyneenvormigheid te preek. Daar is ander nasionale vakansiedae waarteen meer en beter besware ingebring kan word as teen Versoeningsdag.

Daarmee is natuurlik nie alles gesê nie. Die regering se opvatting oor versoening en dit wat ons oor versoening in die Bybel leer, is beslis nie dieselfde ding nie. Vrede maak, is die ou betekenis van die woord versoening. Daar waar deur die sonde bande verbreek is, word deur Christus se werk weer bande herstel. In die eerste plek tussen die sondaar en God, maar ook tussen die mense onderling. Dit is die taak van elke gelowige om hierdie versoening wêreldkundig te maak. Daar is dus heeltemal ruimte vir gelowiges om Versoeningsdag te gebruik as ’n middel om die ware versoening in Christus teenoor die vermeende menslike versoeningsmoontlikhede te stel.

16 Desember Vandag🔗

Dit bring ons by die vraag hoe ons 16 Desember vandag kan vier. Dit wil voorkom asof sowel verskeidenheid as eenvormigheid aspekte van die antwoord gaan wees. Daar is verskeidenheid in die breë Suid-Afrikaanse bevolking, daar is – op ’n beskeie skaal – ook verskeidenheid binne die kerk. Nie almal het dieselfde agtergrond, aanhanklikheid en emosie oor die viering van 16 Desember nie. Dit is binne die kerk ook nie nodig nie.

Daar is onder ons mense wat hulself deur bande van bloed en afkoms sterk verbind voel met die Voortrekkers en hul ideale. Hierdie groep mense het met hulle viering van Geloftedag soos in die verlede die groot voordeel dat dit hulle ’n sterk motief gee om nie maar net met die woord nie maar ook met die daad by die werk van God in die geskiedenis stil te staan. Daar is ook ’n gevaarkant. Die viering sal met omsigtigheid beplan en ingerig moet word sodat nie eie nasionale aspirasies nie, maar God se leiding in die kollig staan. Daar sal van ons broeders en susters wees wat sterk voel oor die lewendig hou van die nasionale geskiedenis en die voorbeeldfunksie wat die slag by Bloedrivier daarin speel. Daarmee is niks verkeerd nie en hulle kan dit seker so herdenk dat dit tot voordeel van hulle kinders en tot eer van God strek.

Daar is ander, soos immigrante of ook ’n nuwe (stads)generasie wat minder sterk oor hierdie sake voel. Vir hulle sal die dag ’n ander invulling kry. Hulle het die voordeel dat hulle nie met sterk emosies die dag tegemoet gaan nie. Vir hulle is dit makliker om aan die dag ’n relevante eietydse invulling te gee. Daar is ook ’n nadeel. Word die dag inderdaad gebruik om iets te doen aan die bekendstelling van God se leiding in die geskiedenis of van Christus se versoeningswerk wat werklike vrede bring? Natuurlik kan daarteen ingebring word dat aandag vir hierdie sake nie aan een spesiale dag gebind is nie, dat ons dit elke dag voor oë moet staan. Heeltemal waar, maar wat kom daarvan tereg? As ons nie eens kans sien om dit een dag van die jaar te doen nie, wat dan van ’n vanselfsprekendheid op die ander dae?

Wat van ons swart broeders en susters? Het die voormalige viering van 16 Desember enige betekenis vir hulle? Daar is onder hulle ook aandag vir die hand van God in die geskiedenis. Daar is onder hulle ook die besef van die gevaar van ’n menslike versoeningsgedagte. Ook hulle het dus alle aanleiding om ’n waarlik Christelike Versoeningsdag te beplan. Dalk kan 16 Desember ’n dag wees of word om hulle nader te leer ken. Om ’n slag in ’n ontspanne atmosfeer saam van gedagte te wissel oor hierdie twee groot sake. Dat ons ondanks alle ellende wat ons rondom ons sien en ons onvermoë om daarin iets ten goede te verander, mag weet en bely dat God die wêreld bestuur en tot sy vaste einddoel lei. En verder dat ons in die besef ook iets mag sien van die eenheid en versoening wat daar kom vir hulle wat Hom as hulle saligmaker het.

Daar is dus baie verskeidenheid in die viering van 16 Desember moontlik. Is daar ook nog iets van eenheid?

Ja, in die belangrikste saak is ons een. Sonder om mekaar vaste patrone voor te skryf, bly daar in elke viering van 16 Desember dieselfde grondtoon: verkondig die groot dade van die Here in al sy werk, in alle tye onder alle volke. Op watter manier ons 16 Desember ook al vier, wanneer ons dit doen tot eer van die Here en om sy dade te gedenk, dan sal die dag ons nie uitmekaar dryf nie maar nader aan mekaar bring omdat ons almal een doel voor oë staan.