Bron: Kerk en Woord. 3 bladsye.

2 Konings 4:1-7 - God Leer Sy Onbarmhartige Kerk om vir die Arme te Sorg

En ’n sekere vrou uit die vroue van die profeteseuns het na Elisa geroep en gesê: U dienaar, my man, is dood, en u weet self dat u dienaar die HERE gevrees het; nou het die skuldeiser gekom om my twee kinders vir hom as slawe te neem… En hy sê: Gaan leen vir jou … kanne, leë kanne van al jou bure ... en giet in al daardie kanne en sit weg wat vol is... Gaan verkoop die olie en betaal jou skulde; van die orige kan jy en jou seuns dan lewe.

2 Konings 4:1 - 7

’n Weduwee van ’n profeet staan voor Elisa. Sy is uit die Noordelike Tien Stammeryk, in Elisa se tyd steeds meer afvallig van die HERE. Sy is dus lid van die kerk van die Ou Testament. Dié vrou was amper iets soos 'n predikantsweduwee. Die Geref. kerke saam versorg vandag sulke vroue met die Emeritaatsfonds.

Die profete was onpopulêr by die afvallige kerk. Hulle is nie as profete geëer nie. Daarom was hulle ook meestal hulpbehoewend. Dink aan 2 Kon 2:23 - die 42 seuns wat Elisa bespot het met: Gaan op, kaalkop! Gaan op, kaalkop! Verder vertel 2 Kon 6 dat die profeteseuns hulle armoedige verblyf wou vergroot. Daarvoor moes hulle ’n byl leen. En so het die kerk van Elisa se dae hulle blykbaar nie bekommer oor die lot van die profeet-weduwee van 2 Kon 4 nie.

Hierdie vrou was in groot nood. Sy het niks meer in die huis nie en haar skuld was baie. Die balju het haar al besoek. Sy is al daarmee gedreig dat as sy die skuldeiser nie betaal nie, hy haar twee seuns vir hom as slawe sou neem. Nie net honger het die vrou in die gesig gestaar nie, maar ook die vooruitsig dat haar toekomstige broodwinners haar ontneem sou word.

Vir die vrou ’n kwaai krisis. Maar dit is veel bitterder as dit jou as troue kerklid aangedoen word deur ’n broeder, ’n mede-Israeliet, wat geleef het onder die Thora, onder die voorskrif van Dt 15. Daar sê die HERE dat daar in Israel geen arme mog wees nie. God se “uitsonderlike armsorg” in die verbond. Want Israel moes daarvoor sorg dat niemand in hulle midde gebrek ly nie. As alles volgens die HERE se Thora gegaan het, sou hierdie profeteweduwee haar dus nooit in so ’n haglike situasie bevind het nie.

God wou juis sy volk gebruik om iets af te skadu van die heerlike tyd as die Messias sou kom en sy regering juis die armes en behoeftiges sou red (Ps 72:12,13). Seker, Lev 25 het bepaal dat iemand vir skuld slawediens sou moes doen. Maar ook daar breek iets deur van die reg van die arme. Sy baas mog hom nie hard behandel nie, maar soos ’n dagloner. Nêrens hoor ons dat dit mag gebeur wat hierdie weduwee gevrees het nie.

God het sy volk ’n vry volk gemaak, verlos uit die slawerny van Egipte. En Hy het hulle gebring in die beloofde land om daar volop te geniet van sy guns. Dink maar aan ’n hoofstuk soos Deut 11.

Kanaän sou ’n land wees van melk en heuning. Daar moes God se volk onder sy sorg dit goed hê, oorvloed! Niemand moes gebrek hê nie, niemand bedreig word nie. Dink maar aan al God se goeie wette, die Sabbatsjaar, die jubeljaar en kwytskelding van skuld. Dink maar aan die swaershuwelik, aan die lossingsreg ens ens.

Maar hierdie skuldeiser van 2 Kon 4 gee ons iets te sien van die goddeloosheid van Elisa se tyd, van die harde materialisme wat niemand ontsien nie, selfs nie eers ’n vrou wat die HERE vrees en wie se man as sodanig bekend gestaan het nie. As daar ’n plek is waar die barmhartigheid van die HERE vir die behoeftige en minderbevoorregte sigbaar gemaak moet word, is dit in die kerk. Dis waar: ons sal, soos Christus gesê het, die armes altyd by ons hê. Maar tussen die gemeenskap wat self van God se genade leer lewe het, mag niemand gebrek ly nie. Dit is ’n geheiligde gemeenskap wat SAAM DEEL in die oorvloed wat Christus vir ons verdien het. Ons is mede-erfgename van sy genade.

En dit is die reg van elke broeder en suster in die Here.

As die verbondsreg van een arm kerklidmaat misken word, dan is die HERE vreeslik fel. Dan laat Hy sy profete verskriklike oordeelsdreigings oor sy volk uitspreek. Hoor maar hoe Amos te velde trek teen die wat die armes vir geld verkoop en die behoeftige vir ’n paar skoene. Hy sê dat die HERE sulke goddelose werke in ewigheid nie sal vergeet nie.

So is God nog in die Nuwe Bedeling. Ons kan in 1 Tim 5 lees hoe die Here Jesus wil sien dat ’n arm weduwee die barmhartige Vaderhand moet sien oopgaan in die gemeente in haar nood. Die diakens moet Christus se instrumente wees om haar te versorg as haar eie mense of enige ander lidmaat haar nie kan dra nie. Die kerk is God se gesin. En in hierdie familie moet daar vir almal lewensruimte en lewensvreugde wees.

As dit in die gemeente so is, dan is ons ’n Geesvervulde gemeente.

Die profeet-weduwee het niks hiervan beleef nie. Haar nood dryf haar na die profeet. Sy roep na Elisa. Dis ’n noodkreet: HERE help! Sy vlug eintlik na die HERE. Sy beroep haar op die Verbondsbeloftes van die HERE. Want by Elisa, die man van God is die Woord van die HERE.

En dan sien ons hoe die Regter van die weduwees en die Vader van die wese aan die werk gaan. Dié Vader het die noodroep van hierdie vrou verhoor... maar op ’n wonderlike manier, vir mense ’n dwase manier! Stel u voor: om by al jou bure rond te gaan en van elkeen soveel leë houers te vra as wat hulle maar in die huis het. En dan sluit jy jou deur agter jou en jy pak so ’n klein reukwaterflessie met ’n bietjie olie in - olie wat bedoel was vir skoonheidversorging - en jy begin met sy dun straaltjie die ander houers vol skink. Is dit nie waansinnig nie? Maar dit het hierdie vrou gedoen terwyl haar seuns een na die ander kruik vir haar regsit. Sy het dit gedoen in die stilte van haar binnekamer. So moes sy God se heerlikheid aanskou. Daar het ’n groot wonder plaasgevind. Omdat die vrou in die geloof gaan doen het wat die profeet van die HERE gesê het.

Seker, dit was ’n beproewing vir die weduwee se geloof: Uit ’n klein flessie met salfolie moes sy wag en dophou hoe ’n groot aantal kruike van ’n dun straaltjie vol word. Maar sy het die beproewing deurstaan, en so gesien hoe God se genade (ook in stoflike dinge) op God se Woord en op haar gebed haar lewe binnestroom. Sy het dit nie gaan soek by die Baäls en die Astartes soos sovele van die verbondsvolk in haar tyd gedoen het nie. Sy het dit gesoek by die HERE!

Kyk, in haar wou die HERE demonstreer wat Hy in sy verbond kan gee aan oorvloed as daar op sy Woord vertrou word. Sy het haar beroep op die reg wat God vir die armes onder sy volk bestel het.

Tegelyk was hierdie wondergebeurtenis egter ook een appèl op ’n goddelose verbondsvolk. Dat Hy dit vir die vrou opgeneem het, het Israel teruggeroep na die Thora. Israel moes sien hoe hulle die FONTEIN van soveel seëninge verbyloop, hoe hulle sy rykdomme verag. Want vir wie Hom vrees, gee Hy volop, sodat hulle ook die ander kan versorg. Al Elisa se wonders was bedoel om Israel terug te roep om weer uit die volheid van God se genade te lewe.

Groot wonders is moontlik as die kerk die HERE gehoorsaam dien. Wie sê dat ons nie dan die wat tot armoede verval het in ons midde deur werkloosheid, nie kan dra nie? Waar kom ons daaraan dat ons hulle dan maar na die regering moet verwys?

Die Here kan in hierdie tyd wat ons nou belewe die staat so bankrot maak, dat aan niemand meer ouderdoms- of ongeskiktheidstoelae uitgekeer kan word nie. En nogtans kan dit wees dat ’n gehoorsame kerk aan die werkloses en die wat liggaamlik ongeskik is, die geweldige liefdevolle hand van die Here laat sien. Die wonder kan geskied dat die HERE sy weldade op ons gebede laat vloei soos in die eerste Christelike gemeente - sodat niemand gebrek ly nie, maar almal genoeg het.

Kan dit wees dat die HERE ons geloof op die proef gaan stel?

Ook in hierdie geweldige ekonomiese depressie wil die HERE hê dat ons moet glo dat die bronne van lewe en volheid by Hom is. Is ons bang dat ons nie kos en klere sal hê nie? Is ons bang vir ons besigheid? Is ons bang dat ons, as ons gelikwideer word, sal ondergaan, dat daar geen toekoms meer moontlik is nie. Is die benoude vraag: En wat gaan dan van ons word?

Nee, ons weet dat ons in die Nuwe Verbond met die HERE leef, ’n verbond wat ewig vas is in die bloed van ons Here Jesus Christus. Laat ons nie so vasgevang word in materiële sorge dat ons ons Vader in die hemel nie meer sien nie, dat ons nie meer leef uit sy verbond nie. Is sy beloftes nie steeds van krag nie: Moenie julle kwel oor wat julle sal eet of drink of aantrek nie. Julle Vader in die hemel weet wat julle nodig het vir julle taak voordat julle Hom vra. Ons tyd vra geloof en vertroue in Hom.

Die Here het die vrou die middels gegee om al haar skulde te betaal en verder nog saam met haar seuns genoeg te hê om van te lewe. Sy het gesien hoe ruim die HERE kan sorg as sy volk totaal hulle roeping nie meer verstaan nie. Haar God het haar nie teleurgestel nie. Inteendeel Hy het vir haar ’n toekoms geskep waar nie meer een was nie.

Maar daarmee moes sy volk leer dat Hy ook vir hulle ’n toekoms kan skep as hulle maar uit die geloof in Hom gaan lewe. Daar is verlossing van sondes by die HERE. En dit beteken dat ons onder die Goeie Herder mag lewe - in oorvloed. Want Hy sorg vir ons brood en ons water tot in ewigheid.

Laat ons nie in ongeloof hierdie rykdomme misloop nie!