Bron: Kerk en Woord, 2003. 4 bladsye.

2 Konings 4:1-7 - Ons Tye is in die Hande van die HERE; Koop Dit Uit!

Nuwejaarswense is net soos met kers­feeswense iets moeiliks. Dit is so dik­wels so leeg. Pragtige kruike maar sonder inhoud. Wat kan die gelowige op Nuwejaarsdag mense op die heel beste toewens?

  • Geluk? Wat is dit? Geluk kan vir sommige mense juis ongeluk wees omdat dit hulle op die pad van die lewe geheel sal verongeluk.

  • Sukses? Maar wat is sukses? Sou u rêrig wou omruil … u wat geen sukses ervaar nie, met daardie ander mense wat gedurigdeur sukses inoes? Ver­sigtig nou, want sukses is nog glad nie seën nie.

Moet ek dan maar die moed hê om liewer nie te praat oor sukses en geluk nie. Moet ons in ons Nuwejaarswense tog ook 'n plekkie ooplaat vir ongeluk­kige dinge? Daar is lidmate wat 'n baie swaar en benouende 2002 gehad het. Maar vir hulle was dit dikwels 'n jaar met God. Daarom sou ons nooit wil ruil met ander wat in 2002 in die sukses en geluk baljaar het … maar sonder God.

Natuurlik, as ons hoop net tot hierdie lewe beperk was, gaan sorg dan dat jy jou deel kry wat jou toekom! Gaan haal in wat jy alles moes ontbeer!

Maar die mens is nie van hierdie beperkte tyd alleen nie. Van ver­bondskinders mag ons die heerlike belydenis uitspreek: U is 'n ewige gedagte van God! Daarom is kinders van die HERE se lewens ingestel op die ewige lewe. Dit gaan om die ewig­heidslewe; dit verander die perspek­tief radikaal. Wie dwaas in die wêreld beskou word, het wys by God geword. Wie niks is in wêreldse standaarde is nie, het kosbaar in God se oë geword.

Daarom wil ons mekaar iets goeds toewens binne die salige werking van God. Sy genade, en sy barmhartig­heid.

Lees dan van die boodskap van God se seën soos Hy dit vir ons geopenbaar het in die lewe van die weduwee in 2 Konings 4. En weet hoedat Hy, dieselfde God van verbondstrou, vandag steeds ons tye in sy mag vashou, vir ons om dit gelowig op sy bevel uit te koop tot verheerliking van Hom.

Die klipharde skuldeiser maak dit vir haar buitengewoon moeilik. As sy nie kan betaal nie, kom hy volgende keer terug en dan neem hy die weduwee se twee jong seuns om as slawe te ver­koop. Dit bring wel 'n goeie som op. Dan is die weduwee van haar skulde verlos, hy het sy geld. Dan is alles mos meteens reggetrek?

Sien u ook die moeder haar hande loop en wring, met pleitende trane? Wat 'n vreeslike tyd! God het nadruk­lik in die Ou Testament verbied dat een van sy kinders as slaaf verkoop mag word. God se volk is 'n vrye volk, nie 'n slawevolk nie.

Dan kom die profeet Elisa. Sy bekla haar lot by hom: Ek het tog 'n god­vresende man gehad. Hy het tog altyd weer vir ons gebid, en nou word sy bloedeie kinders as slawe verkoop!

U moet haar pleidooi goed hoor. Sy maak aanspraak op God se verbonds­beloftes (Deuteronomium 28). Daar het die HERE belowe dat Hy sy volk sal seën in die stad, in die veld, in die nageslag, in rykdom van vee en vrugte, die man­djie en die bakskottel as hulle goed luister na die stem van die HERE hul God en al sy gebooie sorgvuldig hou. Dan sal die HERE hulle as die hoogste stel bo al die nasies en seëninge sal oor hulle kom en hulle inhaal as hulle luister na die stem van die HERE hul God…

Dit is op grond hiervan dat sy haar pleidooi lewer: U weet self dat u die­naar, my man, die HERE gevrees het ­en nou ondervind ons die teendeel van die verbondsbelofte, pleks van seën en versorging, is dit skuldeiser op skuld­eiser en nou word my seuns ook nog as slawe verkoop. Dit klop nie met die HERE se beloftes nie … dis haar pleitrede … soos Psalm 81 dit berymd stel:

Open julle mond,
eis van My vrymoedig
op my trouverbond.
Al wat jul ontbreek
skenk Ek as jul smeek,
mildelik en oorvloedig!

Daarom vra Elisa: "Wat kan ek vir u doen? Het u nog enigiets in die huis?"

Dit is altyd een van die eerste dinge wat elke godsman, elke geloofsberader, elke medebroeder en medesuster u moet vra in u lewe. As u sê: Ek het niks meer nie, dan vra God: Wat het u nog? Heeltemal niks meer nie … niks? Een paar hande wat nog kan saamvat, en een paar oë wat nog in gebed gesluit kan word?

God vra altyd: Wat het u nog? Het u niks meer nie?

En dan kom die woorde daaruit: Ag, my heer, u dienares het glad niks in die huis nie, my hele inventaris is reeds weg, behalwe 'n flessie met olie. Dit bedoel waarskynlik die mees algemene gebruiksmiddel vir voedselbereiding, vir genesing, vir beligting, vir par­fuum … olyfolie.

Dan sien die profeet helder perspek­tief: Hy staan immers binne die krag­veld van God se openbaring. En wat sê hy nou?: "Ja — die bure of die mede­broeders en susters wil u niks gee nie? Die barmhartigheid vir weduwees word vertrap? Maar u bure sal seker­lik bereid wees om u enige middele te leen. 'n Ou houtvat, 'n ou erdekruik wat iewers oorbodig rondstaan, 'n ou emmer wat nie so nodig is nie. Gaan leen leë kanne by al jou bure. Gaan sleep dit maar aan huis toe. Sit dit maar hier neer."

Meteens word die krisis eintlik groter, want wat moet die klein flessie olyfolie reg kry met al die houers en houers? Dan bring Elia hulle binne in die krag­veld van God. Daar kan 'n mens net inkom as jy glo. Die koninkryk van God kan mens net binnegaan as jy glo. Sonder geloof is dit nie moontlik nie. Binne die koninkryk van God is die onmoontlikste groothede tog wel moontlik.

Moeder met jou twee seuns, gaan sluit u nou heeltemal toe in die huis, geen bure mag by wees nie. Moeder en twee seuns, dit is drie, en God daarby — dit is vier. 'n Klein gemeente van God. Waar twee of drie in my Naam byeen is, daar is Ek in hulle midde. En nou moet hulle die flessie olie maar net inskink. Hoe belaglik eintlik! Toe die eerste straaltjie uit die klein ou flessie loop in die eerste vat in en maak hom vol … eintlik om van te lag!

Maar die lag word trane van vreugde. God doen grote wonderwerke uit kleine onmoontlikhede. Want hulle skink die olie maar verder deur. As die jongste seun die volgemaakte kan weg­sleep, het die oudste seun die volgende leë kan reeds reggesit … en moeder skink in! Dan wil sy nog verder skink, maar daar is geen kan meer nie. En dan gaan hulle weer na Elisa. Hy sê: Gaan verkoop hierdie wonderolie … noodsaaklike lewensmiddel wat almal soek. Hierdie is 'n geskenk van God aan julle; betaal jul skuld, en behou jou seuns dat julle kan lewe.

Dink aan 'n besondere soortgelyke geleentheid, baie eeue later:

Jesus en sy dissipels in die tempel by die skatkis. Die lidmate kom daar verby en gooi hulle tiendes daarin. Daar is rykes en ook armes wat hulle gawes daar ingooi – maar een per­soon trek die aandag … Sy is ook 'n weduwee. Sy gooi haar laaste oortjie in.

Markus 12:43 Toe roep Hy sy dissi­pels na Hom en sê vir hulle:

Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie arm weduwee het meer ingegooi as almal wat in die skatkis gegooi het.

Weer 'n keer sien ons hoedat 'n gelo­wige mens in gehoorsaamheid voor die aangesig van die HERE lewe. Sy plaas haar volkome vertroue vir haar ver­sorging op God soos Hy belowe het, as ons sy bevele gehoorsaam nalewe.

Dit was 'n historiese gebeurtenis baie eeue gelede. Dit is verby. Ook die profete-weduwee is nie vandag meer met ons nie. Haar twee seuns ook nie. Ook Elisa is lank tevore aan 'n dodelike siekte oorlede. Wat hiervan oorgebly het is die herinnering aan die gebeurtenis wat vir ons opgete­ken is, EN dieselfde God wat sy nooddriftige diensmaagd se lewe in die onstuimige wisseling van tye van nood en wanhoop bestuur het, Hy, dieselfde God van mag, is ook vandag nog by ons in ons midde, onwan­kelbaar in wese en in krag! En wat nog?

Ook die stryd, ook die hartseer, ook dieselfde ontreddering … en wat nog? Die onveranderlikheid van sy genadeverbond. Die onberoulike gawe van sy eniggebore Seun, en die salwing met die Heilige Gees. En wat Hy van ons eis is die geloof wat bereid is om die een­voudige opdragte van sy wet gehoor­saam uit te voer.

Hier leef ons wel nog uitgedrewe uit die paradys en ons lewe op 'n aarde vol dorings en distels. Niks van oorlewing kan eerlik sonder die werk in die sweet van ons aanskyn plaasvind nie. Eint­lik: Ons het die God van genade en barmhartigheid intens dringend nodig. En wat ons het … wat vir Hom waardig is, is niks nie. Niks waardigs voor God nie. Alleen maar doemskuld en ellende, en onder die dreiging om as slawe van die bose onder te gaan. Ken ons dit nie?

Die afgelope jaar was vol foute gewees. Hoe het ons nie dikwels ont­spoor nie. Geprobeer om met egoïsme en haat, brutaliteit en godverlatenheid die pad te loop. Dieper en dieper in die skuld voor God en die mens in. En die tyd loop uit.

Nou is die vraag hier in die nuwe jaar: Wat het u? 'n Flessie kosbare olie en 'n klomp houers vol niks!

Met al daardie houers vol niks … het die HERE self vir u die potensiaal geskep. Die moontlikheid om uit die roesemoes van hierdie verganklike bestaan uit te troon. Ons is Konings­kinders, prinse en prinsesse, wat met ons daaglikse stryd en aanvegting binne die kragveld van God moet lewe. Dan kom ons bokant die verdrukking van hier en nou uit.

Ons sien dat die HERE getrou aan sy verbondsbelofte die weduwee wat in haar nooddrif op Hom en sy Woord vertrou, te hulp snel … die Een wat barm­hartig is aan duisende van die wat Hom liefhet EN sy gebooie onderhou.

Glo u die woord van die HERE? Is u in die verbond getrou aan God?

Hy gee deur sy profeet 'n eenvoudige en selfs dalk 'n belaglike opdrag – wat ons gelowig gehoorsaam moet uitvoer.

'n Opdrag wat Paulus in die algemeen aan die hele gemeente gegee het. So al asof Hy die diepgang en betekenis van hierdie ontsettende noodsituasies soos van hierdie weduwee en die opdragbelofte van die HERE presies akkuraat gesnap het. Mag dit as 'n Nuwejaars­wens vir u dien:

Filippense 4:🔗

  1. Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.

  2. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.

  3. Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.

  4. En wat julle geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het, doen dit, en die God van vrede sal met julle wees.