Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

2 Kronieke 7:20 - God se Eer is van Niks en Niemand Afhanklik nie

Dan sal Ek julle wegdryf uit my land wat Ek julle gegee het, en sal ek hierdie tempel wat Ek vir my Naam geheilig het, voor My wegvee. Ek sal daarvan 'n spot en 'n skimp maak onder al die volke.

2 Kronieke 7 :20

Land, tempel en volk het 'n belangrike plek in die Ou Testament. In byna elke Ou-Testamentiese boek is daar 'n direkte of indirekte verwysing na die feit dat die Here vir Israel uit Egipte bevry het en die land Kanaän aan hulle as hulle woonplek gegee het. Dié land getuig van die besondere verhouding tussen God en sy volk.

Land🔗

Die land het ook in die voorafgaande hoofstuk, in die gebed van Salomo by die inwyding van die tempel, 'n besondere plek. Hierdie gebed handel onder andere oor die seën van God vir sy volk in die land, oor reën wat Hy vir hulle daarin gee en oor ander maniere waarop Hy vir hulle sorg. Verder raak Salomo die situasie aan waarin Israel moontlik uit sy land weggevoer sou wees en dan tot die Here in die rigting van dié land bid. Hulle hart is in dié land en sal altyd daarin bly. Dit is op daardie land dat hulle verlange gerig is. Daar woon die Here onder sy volk. Daar is onder andere die stad Sion, die plek waar die Here op 'n besondere manier teenwoordig is. Dit is oor dié stad wat die vyand vir Israel in ballingskap gespot het: Sing vir ons 'n lied oor Sion (Ps. 137).

Tempel🔗

In daardie land Kanaän is die tempel van die Here, die plek wat die Here vir Hom gekies het as die plek waar vir Hom offerandes gebring kan word (7:12). Die Here het sy Naam oor die tempel uitgeroep, Hom besonderlik daaraan verbind (6:33). Sy Naam is in daardie huis (6:20; 20:9). Hy het die tempel gekies en geheilig sodat sy Naam altyd daar sal wees, en dit altyd sy sorg en sy liefde sal geniet (7:16). Tydens die inwyding van die tempel het die Here se magtige teenwoordigheid die plek gevul. Die Here is daar. Daar word Hy geloof: Want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie (7:1-3, 6).

Volk🔗

Die volk Israel is die Here se volk. Die Here staan in 'n innige verbondsverhouding met hulle. En dít is dan juis ook die belangrikste: dié volk moet met die Here leef. Land, stad en tempel is hieraan diensbaar en het op sigself nie waarde nie. Daar is beperkinge en voorwaardes aan die belangrikheid van hierdie dinge. Die Here sê dan ook aan Salomo: As jy soos jou vader Dawid leef volgens my wíl en alles doen wat Ek jou beveel, en my voorskrifte en bepalings nakom, sal Ek jou heerskappy bestendig (7:17, 18).

God Laat Dinge Gebeur🔗

Die betekenis van tempel, stad en volk word egter maklik verkeerd verstaan en skeef getrek - asof hulle in hulleself waardevol is en onverganklike betekenis het. Maar dan bewys die Here dat sy eer nie afhanklik is van sy volk of land of godsdienstige instellings nie. Die Here bewys Hom as God juis in die rampe wat Hy oor tempel, land en volk laat kom. Dit is Hý wat dié dinge laat gebeur. Hy is 'n verhewe God. Hy verbind Hom wel aan sy volk en land en tempel, maar is tog daarbo verhewe. Salomo sê dit uitdruklik in sy gebed by die inwyding van die tempel: Sou God werklik by die mens op die aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het! (6:18).

Die Here wys vir Salomo op hierdie belangrike saak en waarsku hom:

Maar as julle wegdraai en my voorskrifte en my gebooie wat Ek julle gegee het, verontagsaam ... sal Ek julle wegdryf uit my land wat Ek julle gegee het, en sal Ek hierdie tempel wat Ek vir my Naam geheilig het, voor My wegvee. Ek sal daarvan 'n spot en 'n skimp maak onder al die volke. Ja, hoe verhewe hierdie tempel ook al was vir elke verbyganger, die verbyganger sal dan sy asem intrek en sê: Waarom het die Here dit gedoen aan dié land en dié tempel? En die mense sal sê: Omdat daardie volk vergeet het van die Here die God van hulle voorvaders, wat hulle uit Egipte gebring het. Hulle het hulle aan ander gode verbind en voor hulle gebuig en hulle gedien. Daarom het Hy al hierdie groot rampe oor sy volk gebring. (7:19-22)

God Handel deur Oorblyfsel🔗

Hierdie woorde is 'n blywende waarskuwing aan die gelowiges, die volk van God, tot vandag toe. Die Here se eer is nie afhanklik van sy volk of godsdienstige instellings nie. God sorg dat sy eer gedien word. Daarvoor gebruik Hy sy volk, sy kerk en godsdienstige instellings. As hulle egter hulle diensbaarheid vergeet, bewys Hy dat Hy nie van hulle afhanklik is nie. Hy gaan voort om Homself te eer deur hulle te straf. Hy kan selfs heeltemal sonder hulle voortgaan.

Maar in sy genade gaan Hy tog eerder voort deur hulle. Dit gebeur egter nadat hulle van hulle sonde bewus geword het, tot inkeer gekom het en God om vergifnis en genade gesmeek het. Hy gaan dus voort met 'n oorblyfsel, met mense wat breek met die sonde rondom hulle en binne in hulle. Hulle breek veral met die sonde van selfvoldaan te wees oor die feit dat hulle aan God behoort. God wil onder gelowiges leef wat besef dat hulle nie uit verdienste leef nie maar uit genade; hulle is 'n volk wat opreg en getrou met die Here leef en hulle lewe inrig volgens sy Woord.

Eer — deur Oordeel en Verlossing🔗

Dié Woord getuig dat God sy eer handhaaf selfs wanneer sy volk en godsdienstige instellings die ware diens van God verwerp deurdat hulle sy Seun verwerp en Hom kruisig. God handhaaf sy eer as Regter en as Verlosser. Hy wek selfs deur sy Gees sondaarharte op om in Hom te glo en Hom vir sy goedheid en genade te loof. God is die enigste en volkome Verlosser, en Hy red alleen uit genade, sonder enige menslike verdienste of instellings. Hy eis slegs geloof in Hom en die Seun van sy liefde. Aan God kom al die eer toe.