3 bladsye. Vertaal deur Awie Buitendag.

2 Samuel 6:7-8 - Waarom word Ussa Gedood?

Die toorn van die Here het teen Ussa ontvlam en God het hom net daar, by die daad van heiligskennis, getref. Hy het op die plek gesterf, langs die ark van God. Dawid was diep ontsteld omdat die Here vir Ussa so weggeskeur het...

2 Samuel 6:7-8

verbondsark

Daar is ʼn groot fees in Israel, waar die ark van God tuisgebring word! ʼn Fantastiese optog met duisende mense en meesleurende musiek, selfs koning Dawid speel saam op die harp.

Wat ʼn mooi manier om geloof te wys, wat ʼn toewyding. Dit is só pragtig dat God daaroor bly sal wees!

Maar dan maak die osse wat die wa trek skielik ʼn onverwagse beweging, en die ark dreig om van die wa af te gly. Gelukkig sien Ussa dit en strek hom uit om te keer dat die ark val. Maar God tref vir Ussa daaroor. Daarna is daardie plek waar dit gebeur het, ‘Ussa se skeur’ genoem.

Dit is ʼn verhaal wat mens bang maak. Watter soort God is dit? Waarom word die feesvreugde wat tog op God self gerig is, so wreed deur hom versteur? Is dít nou die God wat liefde is? Ussa het dit dan so goed bedoel, en Dawid tog ook – vir ons gevoel moes God hom eerder met sy seën beloon het.

Kyk eers ʼn slag na koning Dawid, wat die inisiatief geneem het om die ark te gaan haal. Hy redeneer en organiseer, dans en maak musiek. Hy is baie besig daarmee. Hy soek steun by die leër en die volk (1 Kron. 13:1). Een ding het hy egter nie in sy beplanning gedoen nie; hy het wel óór God gepraat, maar nie mét God gepraat nie. Dawid het deurgaans mét God gepraat, maar nou het hy dit blykbaar nie gedoen nie.

Nou trek Dawid sy eie plan op. Vergelyk ook wat hy in 2 Samuel 6:9 sê: “Hoe kan die ark van die Here nou na my toe kom in Jerusalem?” Dawid sou dit alles met die beste bedoelings gedoen het, maar hy loop op dun ys: die gevaar van religieuse manipulasie. Die ark ‘by my’ in Jerusalem, tot meerdere glorie van die band tussen troon en altaar, koning en God – dit verhoog die aansien. Daarom sou God later ook Dawid se inisiatief om die tempel te bou, afwys (2 Sam. 7). In elk geval gebeur hier iets in 2 Samuel 6 wat nie sonder risiko is nie.

Die struikelteks van 2 Samuel 6 kom vervolgens nog meer in beeld as jy dit lees in sy breëre konteks. Aan hierdie episode van Ussa het naamlik wel ʼn hele geskiedenis voorafgegaan, waarin gedurig te koop geloop word met die ark. Dit is nie verniet nie dat die ark in 2 Samuel 6:2 so breedvoerig getipeer word as “die ark waaraan ʼn besondere naam verbonde is: dié van die Here van die hemelse magte, wat op die gerubs troon”. Die ark is ʼn simbool van die teenwoordigheid van die heilige God van die verbond. Maar daardie verbond was erg beskadig.

Israel het die ark, begelei deur Hofni en Pinehas, as ʼn soort geheime wapen in die stryd teen die Filistyne gebruik (1 Sam. 4). Deur hulle buitgemaak, is die ark as krygstrofee in die tempel van Dagon neergesit (1 Sam. 5). Na ʼn hele tog, kruis en dwars deur die gebied, word die ark uiteindelik op ʼn nuwe wa, met osse vooraan, teruggestuur na Israel toe (1 Sam. 6). Daar behandel die plaaslike bevolking die ark op ʼn ongepaste nuuskierige wyse, waarop God hulle swaar straf. Vervolgens word die ark na die huis van Abinadab vervoer, waarna die mense vir jare lank nie meer daar na omsien nie (1 Kron. 13:3). Die ark vergaar stof, vergete as ʼn brokkie vergane glorie. Hoe ver kan God se geduld gaan, vra jy jou af as jy hierdie geskiedenis tot jou laat deurdring.

osse

Dan breek die dag egter aan dat Israel uiteindelik tog weer na die ark omsien. Dawid organiseer ʼn groot onthaal! Maar wat gebeur daar.... Met die heilige moet jy wel baie sorgvuldig omgaan. Die wet van Moses is duidelik hieroor. Die ark behoort gedra te word (daarvoor is daar vier goue ringe aan bevestig), en wel deur ʼn bepaalde soort leviet (die Kehatiete). Selfs hulle mag die ark glad nie aanraak nie (Num. 4:15).

Dit gebeur egter glad nie. Dawid laat die ark gewoon op ʼn kar vervoer, soos die heidense Filistyne ook jare tevore gedoen het (1 Sam. 6). Nie Eleasar, wat in Abinadab se huis spesifiek vir die sorg van die ark gewy was nie (1 Sam. 7:1), maar Ussa en Agio, twee ander seuns van Abinadab begelei nou die ark. Hulle is nie Leviete nie. En die Leviete wat wel in die stoet saamloop, het hulle ook nie eers behoorlik geheilig nie. Later sal Dawid erken dat dit op dié punt radikaal verkeerd gegaan het, aangesien hulle God se aanwysings nie noukeurig gevolg het nie (1 Kron. 15:12v). Hoe begryplik sy reaksie ook al mag wees, Ussa self, afkomstig uit Abinadab se huis, moes geweet het dat hy onder geen omstandighede die ark mog aanraak nie. Het die mense al vergeet wat vroeër gebeur het rondom die ark? Alles adem egter die gees van ‘ons sal dit gou reël’, met ʼn ontstellende gebrek aan ontsag vir die heilige God. Om die ark so op ʼn wa te sit, lyk te veel daarna om God vir jou eie (religieuse) wa te span.

Die merkwaardige gebeure dat die osse skielik van die roete afwyk en die ark in gevaar stel, is ook min of meer ʼn teken van bo af dat daar groot fout is (vgl. 1 Sam. 6:12, waar die osse wél kersregop aanstap), maar Ussa kom niks agter nie. Al die tekens staan nou op rooi, die einde van God se bykans eindelose geduld. Daar is grense, en dít word nou oortree. Met al sy gevolge.

In die vervolg lees ons dat die huis van Obed-Edom, waar die ark na die dodelike insident met Ussa teregkom, deur God ryklik geseën word (vers 11). Vloek en seën in een en dieselfde hoofstuk. ʼn Tweede poging om die ark huis toe te laat bring is daarna wel suksesvol, omdat dit dan nie op die wyse van die Filistyne nie maar op die wyse van Moses gebeur (1 Kron. 15:15).

Die boodskap is duidelik. Soos ʼn skip op die strand vorm die Peres-Ussa (‘die skeur van Ussa’) ʼn baken in die see. Vir ʼn moderne Christen is dit nie maklik om dit te verstaan nie. In ons gesekulariseerde kultuur verloor ons steeds meer besef van die heilige. God kan egter nie gemanipuleer word nie, en die omgang met Hom verg altyd weer diep en eerbiedige respek (vgl. Hebr. 12:28v). Sy eie woord dui die weg aan. Ons kry God nie in ons broeksak nie. Hy is die Heilige van Israel, die Heer van die hemelse magte. En wie is ons....