Bron: Waarheid en Dwaling. 4 bladsye.

2 Timoteus 3:13-14 - Bly In wat Jy Geleer het

Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word. Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is …

2 Timoteus 3:13,14a

Op 31 Oktober 1517 het Maarten Luther sy bekende 95 stellinge teen die houtdeur van die kerk in Wittenberg vasgespyker. Daardie 95 stellinge is deur die Here gebruik om ’n radikale en diepgaande reformasie in sy kerk te bewerk. Toe was die kerk reeds vir ongeveer duisend jaar in duisternis gehul. Min ontwikkeling het gedurende dié duisend jare van die donker Middeleeue plaasgevind. Die Roomse hiërargie het die kerklike lewe morsdood gedruk. Lidmate is as leke beskou. In stede van preke wat gelowiges tot dankbaarheid in diens van God oproep, word mense benewel met allerlei skouspelagtige seremonies. Lidmate is bang gepraat oor ’n vagevuur en ewige veroordeling as jy die reëls van die kerk nie stiptelik nakom nie. Die Bybel is vir die man op straat ’n geslote boek.

Met sy 95 stellinge het Luther die boosheid en verkeerdheid van al hierdie dinge uitgewys. Luther maak die evangelie van verlossing in Christus oop - en verkondig dit luidkeels aan die man op straat. Na Luther volg verskeie ander hervormers, in verskillende lande: Zwingli, Calvyn, Bucer, Knox. Teen die valse leer van Rome oor werkheiligheid en aflaatbriewe stel die hervormers die suiwer, Skriftuurlike beginsels: sola gratia, sola fide, sola Scriptura - alleen genade, alleen geloof, alleen die Skrif. Ten diepste: solo Christo - alleen Christus!

Vandag leef ons amper 500 jaar na die begin van die groot kerkhervorming. Omstandighede het intussen drasties verander. Selfs binne die Roomse Kerk is alles nie dieselfde nie. Tog bly die beginsel van reformasie onveranderd. Aan die fondament van die kerk van Jesus Christus word daar nie gewysig nie - mag daar ook nie gewysig word nie.

Ontnugterende Werklikheid🔗

Uit die eerste vers van 2 Timoteus 3 klink ’n dringende waarskuwing op. Paulus, wat toe al ’n bejaarde man was, praat met die jong ds Timoteus. Hy sê vir hom: ‘weet dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom’. Die ‘laaste dae’ is die dae voor die wederkoms van ons Here Jesus Christus. Vir die kerk van Jesus Christus gaan dit ’n moeilike tyd wees. Paulus beskryf hoe die mense in die laaste dae sal leef. Daar skort iets groots met hulle liefde. Mense sal meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God wees. Dit blyk by uitstek uit mense se liefde vir hulle eie-ek, hulle eie gerief, hulle eie ideale wat verwesenlik moet word. Hulle is grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers. Paulus noem ’n hele lys van tipiese oortredings waaraan mense hulle skuldig maak.

Wie is hierdie mense oor wie die apostel so nadruklik skryf? Ateïste, Godloënaars, Sataniste, duiwelaan-bidders, heidene wat nog nooit van Jesus Christus gehoor het nie? Alles behalwe. Hierdie mense het die gedaante van godsaligheid. Hulle vertoon christelik. Hoogs waarskynlik vorm hulle deel van die gemeente waar Timoteus predikant is. Maar - so gaan Paulus verder in vers 5 - die krag (die dinamiet) van die godsaligheid het hulle verloën. Die besielende beginsel, die warm hartklop van christen-wees ontbreek. Diepgaande, alles opofferende liefde vir God bestaan nie. Die Here word geken en aanbid - as belangrike bysaak, maar nie as die groot hoofsaak waarom alles in die lewe draai nie. Die Here se hulp word gesoek met die oog op die ewigheid - want ’n mens wil nie hel toe gaan nie. Die Here word ingetrek wanneer die nood hoog is - maar vir die dag tot dag dinge word op eie insig staatgemaak. Mense wat die krag van die godsaligheid verloën, is mense wat die Woord van die Here hoor, maar dit roer hulle nie tot in die diepste dieptes van hulle bestaan nie. Dié dat hulle die tien gebooie ken, maar in die alledaagse kom en gaan word daar grootgepraat, gelaster, ondankbaar geleef in die dolle gejaag van die wêreld.

Asof die bedrieglike lewe nie erg genoeg is nie, stig hierdie mense ook nog onheil binne die gemeente. Party van hulle sluip by die huise van ‘arm vroue’ in (vers 6). Dié arm vroue is nie noodwendig fisies arm nie, maar wel geestelik. Hulle is nog babatjies in die geloof. Hulle moet nog met baie dinge uit hulle heiden-verlede breek, hulle het vastigheid nodig. Hulle het baie vrae oor christenskap, en soek na antwoorde. Onder dié omstandighede kom die dwaalleraars op hulle af. Die gevolg is voor die handliggend: hierdie arme vroue kom nooit by die waarheid uit nie.

Op hierdie punt sit Paulus die vinger op die wortel van die kwaad. Vrouens wat na die waarheid soek, word verlei deur mense wat oënskynlik Godvresend is, maar dit inderwaarheid glad nie is nie. Hulle verkondig nie die waarheid nie, maar verruil die waarheid vir hulle eie strewes. In plaas daarvan dat hulle die medegelowiges na Christus toe lei, lei hulle die arme, soekende vrou van Christus af weg. Hulle leer soekendes nie om aan God gehoorsaam te wees nie, maar bind daardie mense aan hulleself. Met hulle persoonlike aandag en omgee en hulpmiddele wil hulle sogenaamd vastigheid vir die ander gee. In daardie opsig is hulle net soos Jannes en Jambres, die twee Egiptiese towenaars wat met hulle towerkunste teen God in opstand gekom het.

Die waarheid word toegesmeer met kulkuns. En dit word met sukses gedoen. Hierdie goddelose mense en bedrieërs word geglo en vertrou en maak vooruitgang. Die pad wat hulle loop is bitter gevaarlik, dit gaan van kwaad tot erger. Hulle gaan egter vorentoe op daardie pad; hulle het aanhang. Hulle is oortuig van hulle saak. Terwyl hulle ander mense van Christus af weglei, word hulle self ook al meer en meer verlei. Die dwaalleraars raak so verblind in hulle eie gemoed dat hulle geen oog meer vir die waarheid het nie. Hulle sien hulle eie dwaling nie raak nie, en word aggressief as hulle wel daarop gewys word. Paulus trek die lyne oor die dwaalleraars van sy dae pynlik presies.

Wortel van Kwaad🔗

Die beeld word nog voller in die slot van die hoofstuk. Daar lê die apostel die klem op die Goddelike inspirasie van die Heilige Skrif. ‘Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in geregtigheid’. Die Skrif is die waarheid. Die Skrif leer ons wie Jesus Christus is. Daar lê die skerp punt van 2 Timoteus 3. Paulus sê baie oor dwaalleraars, wat hulle doen en hoe hulle gif die gemeente lamlê. Ten diepste kom dit daarop neer dat dwaalleraars die Skrif verwerp. Hulle reken af met die geïnspireerde Woord van God en verkondig in die plek daarvan hulle eie getuienisse. Die erns hiervan moet nie onderskat word nie. Deur die Skrif te verwerp, doen hulle afstand van die vaste fondament. Die kerk van Jesus Christus is immers in die Skrifte geanker. Vat die Skrif weg - en die kerk is nie meer kerk nie.

Nou kom al die punte van 2 Timoteus 3 bymekaar. Kerkmense, wat die mond vol het oor van alles en nog wat, praat ’n taal wat vreemd is aan Gods Woord. Die vaste fondament van die ware kerk word eenvoudig tersyde gestel. Nuwe fondamente word gelê. Mensgemaakte fondamente.

Dit is in wese wat met die kerk in die Middeleeue ook gebeur het. Uitsprake van die pous word gelykgestel - plek-plek selfs hoër gestel - as die Woord van God. Die Woord van die Here word eenkant geskuif, selfs sigbaar. Opvallend van die Roomse katedraal is dat die preekstoel in ’n hoek van die gebou staan, terwyl die altaar in die middelpunt staan.

Dit word gevaarlik in die kerk as die vaste fondament verlaat word. Ons weet baie goed wat gebeur as ’n gebou se fondasies ingee. Kort voor lank tuimel die hele struktuur inmekaar. Dit gebeur ook in die kerk. As daar nie meer op Gods Woord gebou word nie, hou die kerk op om kerk te wees.

Dan kan daar nog baie seremonie, uiterlike vorms en pragtige geboue staan - maar die krag, die lewe ontbreek.

Die hervorming van die sestiende eeu was lewensnoodsaaklik. Die kerk van Christus moes terug op haar fondament!

Wat van Vandag?🔗

Bykans 500 jaar het verloop sedert die kerkreformasie onder Luther begin het. Is daar ook by ons gevaar dat ons fondament opnuut onder ons verbrokkel en padgee? As ons om ons heen kyk, dan kan ons nie anders as om met droefheid ‘ja’ te sê nie. In die breë samelewing word sake nie aan die Woord van God gemeet nie. Nuttigheid, menslike voorkeure, die gevoel van die meerderheid gee die deurslag as daar besluite geneem moet word. Die fondament van ons samelewing is lankal opgebreek en met ’n fondament van menseregte vervang.

Wat van die fondament van die kerk? Gereformeerd-wees was nog al die jare daaraan geken deur te bly by Gods Woord. Dit onderskei die gereformeerde kerke van charismatiese groeperinge wat aanspraak maak op menslike belewenisse. Ons werk vanuit ’n beginsel, nie vanuit ’n gevoel of ’n opinie nie. Waar staan ons vandag in die gereformeerde kerke? Die debat oor die nuwe psalmomdigting, oor die wel of nie-toelating van die vrou tot die besondere amp, oor die gebruik van kelkies by nagmaal, oor die vernuwing van die liturgie - dit het alles te doen met ons fondament. Agter daardie debatte sit ’n ander debat wat gaan oor Skrifgesag en Skrifhantering. Verskille in die kerke en tussen gelowiges word weggepraat met stellings soos: elkeen interpreteer die Bybel op sy eie manier - kom ons gun mekaar ruimte, laat elkeen toe om sy eie interpretasie te maak. So word daar gepraat. Dienooreenkomstig word daar sinodebesluite geneem. Elke lidmaat moet sake maar vir homself uitmaak.

In dit alles hoor ons hoe die waarskuwing van 2 Timoteus 3 tweesnydend skerp opklink. As elkeen maar vir homself moet uitmaak wat reg en verkeerd is - is ons dan nog hoegenaamd op die vaste fondament? Beslis nie! Dan weeg menslike spitsvondigheid swaarder as die Woord van God. Dan loop ons agter menslike interpretasies van die Skrif aan - en hoor nie meer ‘so sê die HERE Here’ nie. Die uiteinde daarvan is kerke wat op strepe sluit. God neem sy kandelaar weg waar Hy nie opreg volgens sy wil gedien en aanbid word nie.

Die waarskuwing aan die adres van die kerk, die kerkverband en elke gelowige is dringend. Kyk na jou fondament!

En Kyk Verder🔗

Paulus voeg ’n opdrag daaraan toe: ‘maar jy, bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is’. Paulus vestig Timoteus se aandag op die deeglike leerskool wat hy van kindsbeen af ondergaan het. Reeds vroeër in die brief het Paulus na Timoteus se ma Loïs en ouma Eunice verwys. Hulle was twee Godvresende vroue. Hulle het baie gedoen om Timoteus in die weë van die Here op te voed. Later het Paulus hom verder in die Skrifte onderlê. Aan al hierdie onderrig herinner Paulus Timoteus. Jy het baie geleer, jy het volle geloofsekerheid. Jy weet wie jou leermeesters was. Jy weet ook dat die Skrif die waarheid is. Gelowige kennis van die Skrif lei tot saligheid. Timoteus: hou daaraan vas, bly daarby. Waar dwaalleraars die gemeente van die Woord probeer losmaak, knoop jy hulle daaraan vas! Waar baie lidmate as gevolg van dwaalleer die gesagvolle rykdom van die evangelie mis, voed jy hulle daarin op! Bring hulle onder die indruk van God wat spreek, met gesag spreek.

In lyn met Paulus se oproep in 2 Timoteus 3 begryp ons die krag van die Sola Scriptura ten tye van die reformasie. Die Roomse kerk het lidmate doelbewus van die Woord af weggehou. Waar die Bybel wel gelees is, is dit in Latyn gedoen - wat geen mens kon verstaan nie. Die kerkvolk moes tevrede wees met ’n kerklike tradisie, met menslike uitsprake oor die Skrif, wat hulle nie eers aan die Skrif kon toets nie. Toe kom die verlossende spreuk: ‘alleen die Woord’ - terug na die Skrif. Al gou word die Bybel in Duits vertaal, en in Nederlands en Frans. Die uitvinding van die boekdrukkuns dra daartoe by dat elke gesin ’n Bybel kan bekom. Lidmate hoor die Woord en kom tot lewe. Die gemeenskap van gelowiges kom weer  op die vaste fondament te staan.  Daar word weerlê en vermaan, bemoedig en vertroos.  Al die baie seremonies verdwyn, en die preekstoel staan weer in die sentrum, waar dit hoort.                                  

Deurgaande Reformasie🔗

Daardie stuk reformasie moet vandag deurgaan, dit mag nie stop nie. Waar die suiwer Woordverkondiging agterweë bly, loop die kerk leeg.  Dit is wat vandag aan die gang is.  In Europa staan tientalle pragtige kerkgeboue leeg, of dit word as winkels en pakhuise ingerig.  Hier in Suid-Afrika loop ons dieselfde pad.  Hiervoor kan baie redes aangevoer word. Die belangrikste:  waar is die lewendmakende Woord tydens eredienste, Bybelstudies, huisgodsdiens, huisbesoek, katkisasie?

In ons tyd word daar soveel gefokus op bysake soos kindervriendelike kerke en interessante wyses van erediens. Allerlei verrassings en aanloklikhede moet die mens trek.  Asof die Woord nie lewend en kragtig genoeg is om ons tot aksie aan te spoor nie.  Asof daar werklik iets anders as Gods lewende Woord is wat mense tot beweging kan bring.

Die oproep vanuit die Skrif, via die Reformasie van die sestiende eeu spreek elke gelowige hard aan:  bly by wat jy geleer het en waarvan jy seker is.  Staan by u kategetiese onderrig van jare gelede.  Leef by die ‘ja’ voor die kansel toe u belydenis van geloof afgelê het. Soek die Here se lewende Woord, bly lewenslank katkisant. Bid vir die voortgang van die evangelieverkondiging. Moedig u kinders aan om te hoor wat die Here sê. Daarmee saam: vermy alle namaak, alle goedkoop gesmous met losstaande, uit verband gerukte Bybelversies, verkoop van stories oor die Woord, aanhang van verskillende interpretasies van die Woord.  Waar die Skrif nie met gesag verkondig word nie, doen dit afbreuk.  Paulus sê hieroor baie duidelik:  ‘keer jou af van die mense wat in huise insluip, wat goddeloos en bedrieglik te werk gaan onder die skyn van vroomheid’. Ons word gedwing om opnuut te dink oor wat Gereformeerd-wees beteken.

Ons is Reformasie-kerk:  ons loop koersvas vorentoe op ’n ou-ou spoor. Teenoor die liberalis wat telkens nuwe spore soek en vraagtekens plaas oor die egtheid en betroubaarheid van die Skrif, staan ons by ons belydenis.  Net so:  teenoor die fundamentalis wat die horlosie terugdraai asof ons nie in die jaar 2004 leef nie, beweeg ons op grond van ons belydenis, op die basis van ons vaste fondament vooruit. Dan word die lewe sinvol.  Ons is liefhebbers van God, meer as liefhebbers van genot.  Ons vertrekpunt in die lewe is om ons doen en late volgens God se onfeilbare Woord in te rig.  Dan word ook daardie ander leuse van die reformasie werklik:  soli Deo gloria - alleen aan God die eer!