Bron: Die Kerkblad, 1985. 3 bladsye.

Aanlope tot die Herroeping van die Edik van Nantes

Die Edik van Nantes is na twee lang jare van onderhandeling op 13 April 1598 geteken. Dit het meegebring dat die Franse Protestantisme as 'n godsdienstige rigting benadeel is maar as sosiale en politieke groep bevoordeel is.

Godsdienstig Benadeel🔗

Die Edik het begin deur die Roomse posisie in die hele Frankryk te hervestig. Selfs daar waar net Gereformeerdes gewoon het en waar hulle die meerderheid van die bevolking was, moes hulle eiendomme, wat intussen hulle s'n geword het, teruggee. Hulle het sekere toegewings verkry — soos gewetensvryheid, ewekansigheid vir publieke poste en beroepe, onpartydige reg in sekere gebiede, steun vir die onderhoud van predikante. Maar daar was beperkings op plekke vir eredienste – soos tot die voorstede en nie in die binnestad nie. En minstens 1,5 miljoen Gereformeerdes het net 921 kerkgeboue gehad.

Sosiaal en Polities Bevoordeel🔗

Die Gereformeerdes het wel vir enkele jare 150 toevlugsoorde gekry. Daarvan was sowat die helfte veilige vestings en die staatskas moes sorg vir die bekostiging daarvan. So gesien was die Edik, met sy groen stempel — wat sy duur en onherroeplikheid moes aandui — eintlik 'n "verdrag tussen magte". Binne een staat kon so iets eintlik moeilik aanvaar word, omdat elke staat normaalweg die alleenreg oor die gewapende magte in een gebied het.

Van 1520 tot 1598🔗

Daar was in die driekwarteeu voor die afkondiging van die Edik van Nantes twee uiteenlopende periodes.

Van sowat 1520 tot 1562 het die Gereformeerde geloof in Frankryk ontwikkel deur gebruik te maak van die "wapenrusting van God" — in besonder van die "swaard van die Gees wat die Woord van God is" (Efesiërs 6:10 e.v.). Die Bybel is as 't ware herontdek, gedruk en versprei en die inhoud daarvan uitgedra. Dit was by uitstek die instrument wat die Heilige Gees gebruik het om 'n wonderlike herlewing (dis die ware Renaissance) te bewerk. Die naam van Jacques Lefèvre d'Etaples moet genoem word. Deur eers op sy werk te steun, daarna op die van Luther en toe op Calvyn s'n – as uitleggers van die Heilige Skrif – het die Gereformeerde geloof eers stadig vooruitgegaan. Toe rondom 1560 het daar 'n soort ontploffing gekom. Baie mense het die geloof uitgedra en daarmee selfs hulle lewens gewaag. In hierdie 40 jaar het talle martelare aan die Franse Hervorming leiding gebied en dit bevorder. So was 1536 die sterfjaar van Lefèvre en het die eerste uitgawe van die Institusie van Calvyn verskyn.

Die Gereformeerde geloof het eers binne die Roomse Kerk geleef (Boos by Lefèvre). Daarna, toe die kerk geweier het om deur die Woord van God hervorm te word, het dit daarbuite getree. Eers het die Bybelmense (bibliens) nog na die Mis gegaan, later het hulle al hoe meer eenkant in kerke saamgekom om die Skrif te lees, daarna te luister en dit te volg. Dit was dramatiese jare, verlig deur brandstapels, waarin die Hervorming in Frankryk sy goue eeu beleef, sy florerendste en suiwerste tydvak beleef het.

Maar 1562 het helaas 'n omkeer gebring – ten spyte van die raad en waarskuwings deur Calvyn, vanuit Genève, en 'n hele aantal predikante. Dit was in 1562 dat die Franse Protestante 'n party – 'n politieke en militêre party – gaan stig het. Van daardie jaar af het die Protestantisme in Frankryk stukkie vir stukkie verskraal, teenoor die voorafgaande ontplooiing.

Op 8 April 1562 het Louis de Bourbon, prins van Condè – wat homself as beskermheer van die Franse Protestante beskou het — die wapen opgeneem. Dit was die begin van 'n lang burgeroorlog.

Natuurlik het menseslagtings daaraan voorafgegaan. Daar was brandstapels en onthoofdings, waarby die Gereformeerdes nie meer hulleself kon verdedig nie maar slagoffers geword het.

Die opneem van wapens, om van die mistiek (godsdienstige belewing) in die politiek te beland was, 'n fatale wending vir die Franse Protestantisme. Dit het hulle ook so verswak dat hulle verder geneig was om meer op menslike wapens te vertrou as op die Woord en die Gees van God. Die "papiste" het na die Roomse Spanje gekyk; die "Hugenote" na die Protestantse Engeland.

Oorlogvoerders het meer as geestelike voorgangers te sê gehad. Besluite sou eerder volgens die reg van die sterkste as 'n soeke na die Waarheid geneem word. Alleen minderhede van beide groepe was tegelyk besorg aan die een kant oor die vaderland en die staat en aan die ander kant oor 'n gees van broederlike verdraagsaamheid — iets wat in die tyd van vuur en wapen yl voorgekom het. Daar word van agt "godsdiensoorloë" gepraat. Maar eintlik was dit een oorlog van 30 jaar, met verskriklike slagtings soos in die Bartholomeusnag (Augustus 1572).

Die oorlog het tot 'n einde gekom toe Hendrik IV koning van Frankryk geword het. Die Franse Protestante het hierdie wispelturige man gewantrou — omdat hy twee keer van siening verander het. Koning Hendrik IV was aan druk van twee kante onderhewig en eintlik was die Edik van Nantes van 1598 'n kompromie. Almal sou daaroor ooreenstem, maar vir 'n tyd en elk vir sy eie doel. Die "politieke" Protestante, wat 'n derde van die Ryk beheer het, was vasbeslote om – binne die speelruimte van die Edik – hulle staat binne die staat te ontwikkel. Die Koning weer wou sy mag steeds meer en stewiger vestig. Hy het gereken die koning staan bo die Edik; en dit het ook vir sy opvolgers (Lodewyk XIII en XIV) gegeld. Oral in Protestantse Europa het die oortuiging gegeld dat elke land sy eie godsdiens bepaal. Die Protestantisme was in sekere lande (Skandinawië, Engeland) verdraagsaam, soos wat die geval met die klein Genève van Calvyn ook was.

Van 1598 tot 1656🔗

Hendrik IV is in Mei 1610 vermoor. Koningin Marie de Mèdicis word regentes vir die minderjarige Lodewyk XIII; sy beywer haar om die Edik te bevestig. Die Protestantse Politieke Raad vergader in 1611 en dit blyk dat sekere politici beslis poog om 'n Protestantse staat binne die Franse staat te konsolideer. Die Regentes verbied in 1612 die Protestante om verdere politieke vergaderings te hou.

Maar in 1620 vergader hulle weer in La Rochelle en besluit, teen advies van verskeie predikante in, om die wapens op te neem. 'n Nuwe burgeroorlog strek van Bretagne tot Languedoc en die berugte, vreeslike beleg van La Rochelle deur Richelieu vind ook plaas.

In 1629 word die Edik van Nantes herstel, met uitsondering van die politieke en militêre voorregte aan die Protestante. Dan beleef die Franse Protestantisme vir meer as 'n kwart eeu redelike rustigheid, met belangrike poste in staat, akademie en finansiële sake.

Van 1656 tot 1685🔗

Alles begin in 1656 wankel. Een belangrike oorsaak — so dink ek — was dat die rustiger tyd die begin van 'n geestelike koersafwyking meegebring het. Sekere "predikante en doktore" was, diep binne-in en sonder dat dit sigbaar was, besig om die Protestantisme bloedarmoedig te maak … en om die pad oop te maak vir 'n stroom verloënings wat voorgangers meegevoer het. Die belyde Gereformeerde geloof het eens talle martelare en gelowiges in vervolgings en selfs godsdiensoorloë gedra — maar dit word nou teengestaan deur enkeles wat dit moet verdedig. Veral een punt, naamlik die soewereiniteit van God in die uitvoering van sy genadeplan en van die verlossing, word betreklik gestel — tot skade van Christene se vertroue en volharding.

Die wurggreep op die Franse Protestantisme begin nou, eers net liggies, maar steeds met groter druk totdat dit op die Herroeping uitgeloop het. 'n Vergadering van Roomse geestelikes val in 1656 "die weglopers van die geloof van hulle vaders" heftig aan. En Mazirin verbied die beoefening van die Gereformeerde godsdiens buite plekke wat die Edik toegelaat het, en dit beëindig die verdraagsaamheid wat daargestel is.

Lodewyk XIV gelas in 1661 'n ondersoek oor die toepassing van die Edik. Dit blyk toe dat die Protestante algaande die grense van die Edik oorskry het. Daarom is meer as 100 Protestantse kerke afgebreek en ook skole gesluit. Hierdie sukses het die Roomse besiel om nog meer te eis. Die Koning handhaaf as stelreël: een geloof, een wet, een koning. Daar kom van owerheidskant 'n siklus van toenemende onverdraagsaamheid en geweld – met lis teenoor wreedheid, die fanatiekheid van ware toegewydes teenoor swak geloof van valse toegewydes. Die publieke opinie steun die Koning – waarby omtrent almal, buiten die vyf persent Protestante en 'n bewonderenswaardige minderheid verdraagsame Roomse, die "kettery" onderdruk wou sien. Lodewyk XIV het telkemale teen die aandrang in nog teruggehou – soos in 1675 toe hy Rennes beveel het om 'n verwoeste kerk op stadskoste te herbou en die Parlement van Bretagne berispe het omdat hulle die aanvallers nie genoegsaam gestraf het nie.

Besonderlik na 1680 het sake vir die Protestante baie versleg. So is huwelike tussen Roomse en Protestante verbied; ook het Protestante kinders die reg gekry om hulle geloof af te sweer. Daarna kom die inkwartiering van soldate in huise. Stadigaan is Protestante uit bepaalde beroepe (advokaat, dokter, drukker) geweer. 'n Hele aantal kerke word vernietig. Daar was valse beskuldigings dat Protestante die wapen opgeneem het en Cévennes is verwoes.

Die bedreiging en gewig van geweld het toegeneem en groter getalle "Protestante" het helaas "nuwe bekeerlinge" geword en mettertyd honderde duisende getel. Daar was sprake van opeenvolgende "wonders": die Protestante van al meer plekke wat hulle bekeer het!

Dit was 18 Oktober 1685. Koning Lodewyk XIV herroep met die Akte van Fontainebleau die lankbestaande Edik van Nantes. Die rede hiervoor word aangedui:

Want die beste en grootste deel van ons onderdane van die sogenaamde Gereformeerde geloof (die RPR – réligion prétendue réformée) het die Katolieke geloof aanvaar, sodat die uitoefening van die Edik van Nantes nou onnodig is…

Frankryk het daarmee ook gedaal tot die algemeen geestelike vlak van daardie tyd. Van die bestes van sy kinders het in ballingskap gaan leef, om daardie ander lande te verryk. Vir die Protestante wat vasgeskop en gebly het, het die tydperk van tronke, galeiskepe en die dood begin. Watter verborge wroeging moes dit nie gewees het vir die meeste nuwe bekeerdes nie…

O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!
Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!