Bron: De Reformatie. 2 bladsye.

Aardse Genietinge op Skuld Koop?

geld skep🔗

God Gee🔗

Die Psalmdigter Dawid erken dat die wêreld en haar volheid aan God behoort (Psalm 24) en as gelowiges stem ons natuurlik volmondig daarmee saam. Ons is nie eienaars nie, maar rentmeesters oor dit wat God aan ons toevertrou het. Die Here het sy volk van die begin af dit laat verstaan. By die volk se intog in Kanaän sê Hy baie duidelik vir sy volk: Die land is myne. Julle mag daar woon en van die land leef (Levitikus 25), maar dit word nie julle eiendom nie.

Daarmee saam het ʼn klomp waarskuwings gekom om nie in rykdom of welvaart geluk te soek nie (Deuteronomium 8). Dit was ʼn belangrike les, want Kanaän sou baie vrugbaar wees. God wou hê dat die mens nie in sy rykdom en welvaart sy vreugde sou vind nie, maar in God self. Om hierdie geestelike sig te behou, moet ʼn mens tevrede wees met die deel wat God vir jou gee.

Gesien teen hierdie agtergrond, is dit ʼn verhouding waar jy nie krediet kan vra ten opsigte van jou daaglikse lewensmiddele nie. Jy kan nie doelbewus lenings aangaan om jou erfdeel te vergroot of om jouself te verryk nie. Nee, in daardie tyd het God sy kinders geleer om te leef van wat Hy géé. As daar situasies was van lenings en skuld, dan was dit as gevolg van onvoorsiene omstandighede of van magsmisbruik. As ʼn broer dalk verarm het, moes hy ʼn lening kry sonder rente (Levitikus 25:26-28). Daar kon dalk ook iemand opgetree het as losser, bedoelende ʼn naasbestaande kon die verarmde broer ook loskoop uit sy skuld (Levitikus 25:23-28, 47-55). Juis die begrip “losser”, wat ʼn afskaduwing is van ons Middelaar se werk, moet by ons die gedagte laat deurdring dat jy jou nie willens en wetens in skuld moet dompel nie.

Per Dag🔗

Jesus leer ons hoe om te bid vir ons “daaglikse brood.” Met daagliks word bedoel: ʼn porsie vir een dag. Ons bid dus vir brood net vir vandag. Dink ons dan glad nie aan môre nie? Ja natuurlik, maar môre is God ook weer daar. Hierdie waarheid het Israel ook geleer toe hulle in die woestyn geswerf het. Manna het elke dag vir veertig jaar lank neergedaal. In die begin het sommiges nie vertrou daar gaan élke dag manna neerdaal nie en het toe meer ingesamel as wat nodig was. Dit het Moses baie kwaad gemaak. God het tog belowe dat Hy elke dag vir sy volk sou sorg?

Die feit dat God sorg, klink deur die eeue heen in ons daaglikse gebed: Gee ons vandag ons daaglikse brood. ʼn Gebed wat ons van harte moet bid: as die Here vir ons kos gee vir vandag, sal ons dankbaar en tevrede wees. Al is die porsie nie groter as net vir vandag nie, is dit pure genade, en ons sal nie vir meer vra nie. Selfs al is die brood sonder konfyt, dan is ons gebed steeds verhoor! Dit moet vir ons ʼn indringende gebedsonderwysing wees. Dit kos rêrig die oortuiging van ons gemoed om hier te bedoel wat jy bid. Besef ons waarlik die strekking van hierdie woorde van ons gebed?

brood

Wat beteken dit om jou genietinge op skuld te koop? Dit beteken om geld uit te gee wat jy nog nie verdien het nie. Dit is die besteding van môre en oormôre se inkomste, van die volgende 3 of 5 jaar! Dit is om al jou toekomstige inkomste op te gebruik, selfs baie ver die toekoms in. Dit is ʼn vergrype na iets wat God nog nie gegee het nie! Hoe kan ʼn Christen so iets doen, en dan opreg die bede bid, dat hy tevrede is met sy daaglikse porsie?

Let wel, hier word nie gepraat oor waardevaste lenings soos byvoorbeeld huisverbande nie. Dit is ʼn bekende feit dat jy soms risiko’s moet neem (Prediker 11:1-6). Nee, dit gaan hier oor verbruikersgoedere, byvoorbeeld om geld te bestee aan genietinge wat nie hulle waarde behou nie. In die gebed bind God ons aan wat Hy per dag vir ons gee. Hoe kan iemand dit met ʼn opregte hart bid en dan dadelik sy inkomste van die volgende 5 jaar uitleef? Dit rym tog nie? Hoe is dit, dat terwyl jy met ʼn beskeie hart iets vra, jy dit onbeskeie op jouself spandeer? Jy spandeer eintlik wat God nog nie vir jou gegee het nie. En hoe kan jy weet of jy daardie toekomstige inkomste ooit gaan kry? Wie weet iets van die dag van môre af, hoeveel tyd jy nog op die aarde sal wees of watter inkomste jy nog in die toekoms gaan ontvang?

Genoeg🔗

Wat ons van dag tot dag ontvang is nie noodwendig karig nie. God gee nie net daaglikse brood nie, maar ook totale lewensonderhoud. Hy kan ook verskillende soorte rykdom aan ons toevertrou. Op sigself is materiële welvaart ook nie sleg nie. Maar dit is altyd ook ’n beproewing (Lukas 18:25). Wanneer jy op reis is, kan jy nie te veel bagasie saamvat nie. As jy meer as net handbagasie het, kan jy dalk die doel van jou reis vergeet. Daarom word rykes ook indringend vermaan om nie aardse skatte te vergader in die laaste dae nie (Jakobus 5:1-6). Juis om hierdie rede is dit soms beter om met minder oor die weg te kom. ʼn Goeie soldaat, byvoorbeeld, is tevrede met wat hy het (2 Timoteus 2:4) sodat hy hom kan beywer vir die stryd. En die manna in die woestyn was vir die volk Israel genoeg. Hoe kon hulle in elk geval allerlei oorvloed saamsleep?

Die begeerte na oorvloed lei dan ook gewoonlik daartoe dat jy God vergeet. Die vervulling van God se beloftes word dan dalk nog net teoreties bely, maar dit speel nie meer ʼn konkrete rol in ons lewens nie. Dit kan dan gebeur dat dit wat eers genoeg was, nou nie meer genoeg is nie. Wat voorheen genoeg was as padkos tydens ons reis, gesien in die lig van die Koninkryk, is skielik nie meer genoeg ter versadiging van ons eie begeerte nie. Ons sien in die praktyk hoe mense vir geld te kere gaan, en allerlei truuks uithaal om nog meer besittings te versamel. Meer as ooit verlaat die massa hulle op loterye, binne en buitelands, waar absolute absurde bedrae as pryse gewen kan word. Dit word voorgehou asof dit die eintlike geluk in jou lewe is.

piekniekmandjie

Hoe belangrik is dit nie vir Christene om werklik eers die koninkryk van God te soek, en vervolgens genoeg te hê aan wat God dan daarby aan jou skenk. God weet wat ons nodig het en sal dit gee (Lukas 12:31). Die tiende gebod is vir ons ʼn baie aktuele saak: moenie agter jou begeertes aan loop nie.

Let op na wat God vir jou gee, geniet daarvan, en wees tevrede daarmee, in plaas daarvan om heeltyd na meer te gryp en so jou strydvaardigheid vir die Koninkryk te belemmer deur die las van rente en paaiemente.