1 bladsye.

Algemene Openbaring

“Algemene openbaring” word dikwels gebruik om na God se bekendmaking van Homself in die skepping, die gewete en die geskiedenis te verwys. Die uitdrukking word gebruik om van die “besondere openbaring”, God se reddende openbaring deur Jesus Christus in die Skrif, te onderskei.

Verskeie Skrifgedeeltes verwys na die algemene openbaring. Die sprekendste hiervan is Romeine 1:18-32. Dié gedeelte praat van God se bekendmaking in die dinge van die skepping (vs. 20,25) en in die gewete van die mens (vs. 19; let op die woorde in hulle openbaar is).

Hierdie algemene openbaring het egter nie reddende krag nie. Dit is ook nie  ʼn soort genade nie, alhoewel baie mense daarvan praat as  ʼn voorbeeld van die sogenaamde “algemene genade”. Daarenteen stel Romeine 1 dit so duidelik dat hierdie algemene openbaring  ʼn openbaring is van God se toorn en alleenlik dien om die goddelose sonder verskoning te laat.

Dit is dus seker dat algemene openbaring nie as  ʼn ander weg na saligheid dien nie. Die idee dat die goddelose gered kan word deur  ʼn morele reaksie op die algemene openbaring, het glad nie grond in die Skrif nie en is bloot  ʼn ander vorm van saligheid deur werke en van religieuse humanisme.

Die gedagte dat algemene openbaring reddende waarde het, word direk in Romeine 1 weerspreek. Die goddelose sien die “onsigbare dinge” van God, en in besonder sy “ewige krag en goddelikheid” (vs. 20). Vers 19 sê dat “wat van God geken kan word, in hulle openbaar is”.

Dit het belangrike implikasies. Omdat God in die geskape dinge geopenbaar is, sal niemand ooit in die laaste oordeel kan pleit dat hy God nie geken het nie. Wat Romeine 1 betref, is daar nie werklik so iets soos ʼn ateïs nie. Die goddelose, die wat nie die evangelie gehoor het nie, kan en sal daarom in die lig van hierdie openbaring op die dag van die gerig veroordeel word.  

Wat die goddelose betref, is die enigste gevolg van hierdie openbaring van God dat hulle weier om God te verheerlik, ondankbaar voortlewe en die heerlikheid van God, aan hulle en in hulle openbaar, verander in beelde van verderflike dinge (vs. 21-25).

Eenvoudig gestel beteken dit dat die afgodery van die goddelose nie  ʼn soeke is na die God wat hulle nie ken nie, of  ʼn poging, hoe power ook al, om Hom te vind nie. Dit is veel meer  ʼn wegdraai van Hom, die ware God, wat hulle wel ken.

Volgens Romeine 1 soek hulle nie die waarheid nie, maar onderdruk dit (vs. 25). Hulle filosofieë en gelowe is nie eens  ʼn klein begin van waarheid of liefde vir die waarheid nie, maar  ʼn weiering van die waarheid en die verruiling daarvan vir die leuen. Die Skrif bevestig dit wanneer dit duidelik stel dat die redding alleen deur die verkondiging van die evangelie is (Rom. 1:16; Rom. 10:14; 1 Kor. 1:18, 21). In die Skrif, en in die Skrif alleen, is Christus geopenbaar as die ware krag en wysheid van God tot redding, sodat daar sonder die evangelie in die reël geen hoop op redding is nie.

Algemene openbaring dien dus om die skuld van hulle wat die evangelie nie hoor of glo nie, meer te maak. Om anders te leer, is om die bloed van Christus en sy volkome gehoorsaamheid as die enigste weg tot saligheid te ontken, en Hom en sy kruis te belaster.