Bron: De Wekker. 2 bladsye. Vertaal deur Neels Kornelius.

Alleen Bid

ma en kind bid

As jy as opgroeiende kind nooit geleer het om te bid nie, kan daar ʼn tyd in jou lewe kom (of het reeds gekom) dat jy vir die eerste keer bid – regtig alleen bid. Dit is dan baie spesiaal en dit voel aanvanklik vreemd. Want jy begin kommunikeer met Iemand wat jy miskien nog nie baie goed ken nie, maar vir Wie jy tog nie wil mis nie.

Paulus het tydens sy opvoeding en opleiding waarskynlik dikwels en gereeld gebid. Tog lees ons in die boek Handelinge dat, toe hy tot bekering gekom het, juis dit die kenmerk was dat hy bid!

Leer om te Bid🔗

Ons het gewoonlik geleer om te bid. ʼn Mens is veral geseën wanneer jou ma jou leer bid het. Daarom is dit ook baie jammer wanneer kinders nie hierdie voorreg het nie. Dit is van wesenlike belang om van jongs af te leer bid. By die doop van jou kinders het jy, as moeder én as vader, beloof om jou kind op te voed met eerbied vir God. Bid is een van die belangrikste aspekte in hierdie verband.

Van jou kind se kleintyd af bid jy vir én met jou kind om God se seën. Sommer gou al bid jy saam met jou kindjie saans wanneer jy hom of haar gereed gemaak het om te gaan slaap. Daarmee begin dan die roetine van die aandgebed. Namate die kleintjie opgroei, ontstaan daar meer ruimte om hom/haar voor te sê en ook om gebedsrympies vir slaaptyd aan te leer. So leer jou kind om te bid: ‘Ek gaan nou slaap ... Heer, bewaar my asseblief ook hierdie nag.’ Dis slegs ʼn voorbeeld – daar is immers boekies met kindergebede beskikbaar waarvan ons nuttig en met baie seën gebruik kan maak.

Al hierdie ‘gebedsonderrig’ is daarop gemik dat kinders, hoe jonk hulle ook al is, self begin bid, aanvanklik gewoonlik met die ouer teenwoordig. Dan kom daar ʼn tyd dat die kind self begin bid, gewoonlik eers voorgesê. Daarna sal hulle met verdrag steeds meer van hul eie gebede toevoeg, veral wanneer hulle by die huis, en later by die skool, hoor waarvoor en vir wie daar gebid word. Want in hierdie opsig benodig ons tog soms ‘voorbeelde’, ook om met eerbied te kan bid.

Wanneer kinders later hulle eie kamers het, sal hulle hopelik self steeds meer selfstandig begin bid, veral as hulle ouers ook gereeld bid en vir hulle ʼn voorbeeld is.

In die Gesin🔗

Daar word deesdae, heel tereg, meer aandag en tyd gevra vir huisgodsdiens. Hierby is gebed dan een van die belangrikste aspekte in die opvoeding.

By baie gesinne word daar, wanneer daar saam gebid word, gebruik gemaak van sekere vaste vorme en bewoording wat vir hulle bekend is en deur tradisie of gewoonte ʼn vaste plek in die gebede gekry het. Die gevaar is dan dat die roetine van so ʼn aard word dat ons, vanweë die bekendheid daarvan, soms nie kan onthou of en waarvoor daar gebid is nie. Vir hierdie rede word daar dikwels gepleit vir sogenaamde vrye gebede. By steeds meer gesinne word dit nou gebruiklik dat die persoon wat voorgaan, vra waarvoor gebid (en gedank) moet word. Kinders kan op hierdie manier ook belangrike insette gee en die aandag van die hele gesin vestig op sake wat nie andersins ʼn plek in die gesinsgebed sou kry nie.

gesin bid

Wanneer ons as gesin saam bid, behoort elkeen ook te kan sáám bid en is dit nie gepas om te sê: ‘Ek bid...’ nie. Ons bid tog immers saam! Meer persoonlike sake kan ʼn plek kry in ons eie gebede, wat natuurlik nie inhou dat ons nie ook vir ander mense kan en moet bid nie. Om te bid in die gesin verg dus ʼn mate van versigtigheid. Ook daarin kan ons, as opvoeders, steeds ʼn voorbeeld stel.

Dit is steeds ʼn groot seën wanneer kinders weet dat dit vanselfsprekend is dat daar by die huis steeds vir hulle gebid word, ook wanneer hulle reeds die huis verlaat het.

Alleenstaandes🔗

ʼn Alleenstaande sal omtrent altyd alleen bid. Dit kan soms moeilik wees, want ook wanneer dit gaan om die gebed, het jy dikwels die gemeenskap met medegelowiges nodig – ook om jou daaraan te herinner wanneer dit weer tyd geword het om te bid.

Dit kan egter ook voordele inhou wanneer jy gedwing word om altyd maar vir jouself te bid. Jy kan dan self besluit wanneer, en hoeveel tyd jy daarvoor wil inruim, al vra dit die nodige dissipline, soos dikwels blyk uit gesprekke hieroor met mense wat alleen woon.

Dit kan egter maklik ʼn gewoonte word om te sê: ‘Ek bid tot U, ek dank U, ...’ dat jy ‘vergeet’ dat ander by jou is wanneer jy saam met ander is soos byvoorbeeld in ʼn gebedskring. Jy kan so gewoond daaraan raak om alleen te bid, dat jy bewustelik moet aanpas wanneer jy weer saam met ander bid.

Hardop Bid🔗

Dit is nie slegs by alleenstaandes, of dié wat alleen agtergebly het, dat gebed konsentrasie verg nie. Dit gebeur so maklik dat jou gedagtes afdwaal en dat jy met skaamte skielik daaraan dink dat jy eintlik besig was om te bid. Jy kan ook al biddend aan die slaap raak en die volgende oggend eers weer ontdek dat jy nog laas besig was om te bid. Daarom het al meer Christene die gewoonte om, ook wanneer hulle alleen is, hardop te bid. Jy kan dan hoor wat jy bid. Dit is natuurlik meer belangrik dat God jou hoor. Maar tog is dit heilsaam om hardop te bid en om so eerbiedig as moontlik tot God te nader. Want dis nie ʼn geringe saak om met God te mag praat nie! Jy moet altyd besef dat jy nader tot die troon van genade, die heilige en barmhartige God.

groepsgebed🔗

Op Reis🔗

Om in jou kamer tuis te bid, gee jou die geleentheid om rustig en sonder steurnis tot die Here te nader. Maar ook terwyl jy op reis is, waar jy jou ook mag bevind, kan jou gebed ewe opreg wees, selfs sonder dat jy die geleentheid kry om jou oë te sluit en jou hande te vou. God sien die hart aan wanneer ons bid. So kan daar ook op pad gebid word en kan jy soms, jare later, plekke onthou waar jy gebid het en waarvoor jy toe gebid het, of waarvoor jy die Here daar gedank het. Of jy nou vir jouself bid of vir iemand anders, die belangrikste is dat jy wel bid, opreg bid.