Bron: Wegwijs. 3 bladsye.

Is alles gereël?

"Hoe laat moet jy gewoonlik bed toe gaan?"  "Mag jy TV kyk op Sondae?"  "Hoeveel sakgeld kry jy?" “Moet jy jou eie kamer skoonmaak?"

Alles vrae wat kinders vir mekaar kan vra. Dan kom daar allerhande verskillende antwoorde. Wat sou u seun of dogter antwoord as hierdie vrae aan hulle gestel word?

Uit die kinders se antwoorde sal dit blyk of daar reëls binne die gesin is of nie. Reëls met betrekking tot bedtyd, TV kyk, die gee van sakgeld en die opruim van jou eie kamer. So is daar nog baie meer dinge waarvoor daar reels is: saam eet, doen van huiswerk, besteding van vrye tyd, uitvoer van take in en om die huis, ens.

Huisreëls🔗

Kinders vra vir orde. Kinders wil weet waar hulle staan. Om dit te bewerkstellig is die instelling van ('n aantal) reëls een van die eerste 'benodighede'. Want die reëls kan sorg vir 'n geordende gesinslewe. As die kind weet wat van hom of haar verwag word, sal dit hom/haar gouer veilig en geborge laat voel. Wanneer daar reëlmaat is in die lewe binne die gesin, gee dit 'n mate van rustigheid. Die grense is vasgestel. Kortliks: reëls in die huis is 'n belangrike hulpmiddel by die skep van 'n goeie atmosfeer in die gesin. Dit kan 'n klomp geneul en gekla voorkom.

'n Aantal voorbeelde🔗

Watter reëls word nou eintlik bedoel? Hierbo word 'n aantal praktiese voorbeelde genoem waar reëls goed kan werk. By daagliks terugkerende gebeurtenisse kan ‘afsprake’ gemaak word. 'n Paar voorbeelde:

Ons hou byvoorbeeld daarvan dat etenstyd ordelik verloop. Daarom maak ons reëls soos: jy mag nie van die tafel af opstaan terwyl ons besig is om te eet nie en ook nie tydens ete badkamer toe gaan nie. Wat maak ons met kinders wat nie van die kos hou nie?

In die gebed maak ons duidelik dat ons vir God dankie sê vir die kos. Watter kinders mag hardop bid en tot op watter ouderdom doen hulle dit? Word daar gesing na ete? As ons dit 'n vaste gewoonte maak, dan sal ons dit ook nie vergeet nie. En na ete, wie se beurt is dit dan om te help met skottelgoed was ?           

En wat gebeur na aandete? Eers huiswerk doen of direk TV kyk? Jy kan afspreek: jy moet eers jou huiswerk klaar maak en daarna is daar tyd om iets vir jouself te doen. Dit hoef natuurlik nie noodwendig TV kyk te wees nie.

TV kyk kan ook met 'n vaste reël beperk word. Die ouer kinders mag byvoorbeeld driekwartier per dag kyk: nie langer as dit nie. Voor die tyd kan dan (saam) uitgesoek word watter programme gekyk mag word.

Ons kan vir ons kinders 'n vasgestelde bedtyd daarstel. Jou seun van sewe sal bv. half 8 bed toe gaan en jou dertienjarige dogter om half 9. Dan hoef jy nie elke dag daaroor te baklei nie.

Reëls oor reëls🔗

Daar is wel 'n aantal sake waarop gelet moet word as dit oor huisreëls gaan. Dit moet nie so wees dat daar reëls gemaak word vir die reëls self nie. Dit gaan oor duidelikheid – dat die kinders weet wat verwag word. Dit gaan oor die orde en reëlmaat. Die een reël moet nie bo-op die ander een gestapel word nie. Dan veroorsaak dit 'n atmosfeer van: wie oortree watter reël? Daar moenie meer reëls wees word as wat nodig is nie.

Die reëls wat daar is moet konsekwent toegepas word. Indien nie, het dit geen nut nie. Dan geld die reël dat daar eintlik geen reëls is nie. Die reëls wat daar is, moet goed nagekom word.

Die kinders moet verstaan wat met 'n sekere reël bedoel word. Dit moet goed verduidelik word en daar mag nie moontlikheid wees vir verskillende interpretasies nie. Anders kan daar later ook geen goeie gesprekke oor verkeerde gedrag wees nie.

Hou in gedagte dat kinders met mekaar sal vergelyk wat by hulle by die huis toegelaat word en wat nie. 'n Kind kan by die skool baie ‘uit’ voel wanneer daar erg afwykende reëls by sy huis gestel word.

Die ouderdom en die ontwikkeling van die kind moet baie goed in ag geneem word. Ons aanvaar die kinders soos hulle is. Met 'n jong kind sal ons anders omgaan as met 'n tiener. Dit is natuurlik belangrik wanneer die reëls opgestel word. Maar vir alle ouderdomme geld: die kind moet kan verstaan hoe die reëls 'werk'. Anders skep dit net verwarring.

Reëls per ouderdom🔗

Kinders leer al op 'n baie jong ouderdom sekere reëls. 'n Kind wat pas leer loop het mag nie aan die koppies op die tafel raak nie.              

Peuters probeer allerhande dinge. Dit is baie belangrik om op hierdie ouderdom duidelike grense te stel. Dít is wel toelaatbaar en dít definitief nie. Die kind kan baie hardkoppig daarteen skop. Maar ons moet vashou aan bepaalde reëls. ‘n Dag se vaste roetine gee ook 'n groot mate van veiligheid.

Kleuters kan die reëls baie goed aanleer, maar hulle verstaan nog nie altyd die hoe en waarom daarvan nie.            

Kinders van ses tot twaalf jaar sal dink: “My pa en ma sal mos weet wat goed is vir my. As hulle sê dat dit so is, dan is dit so.” By die hantering van die reëls, staan dit voorop. Op hierdie leeftyd leer hulle om verantwoordelikheid te dra.

Tieners sal nie sommer meer alles aanvaar nie. Hulle is besig om selfstandig te raak en wil toets of die reëls enigsins waarde het. Sommige reëls sal aangepas moet word. Die tiener sal die doel van die reëls moet insien en sal duidelik moet kan sien dat daar norme en waardes agter die reëls lê. Ouers sal baie goed moet let op hulle eie gedrag, want die norme en waardes geld ook vir hulle.              

Dit is 'n eerste vereiste dat daar 'n goeie band tussen die ouers en kinders moet wees. In 'n vertroulike atmosfeer is baie dinge moontlik. Deur duidelikheid te skep word die selfvertroue van 'n kind net versterk.

Met liefde toepas🔗

Ons het ons kinders van God ontvang. Ons is bly oor ons kinders en ons het hulle lief. Na bogenoemde kan die gedagte dalk opkom: ons hou van ons kinders solank as wat hulle die reëls nakom. En dalk dink die kinders dieselfde: "Solank as wat ek my aan die reëls hou, is hulle nog lief vir my.' Dit moet natuurlik nie so wees nie. Ons moet dit voorop stel dat ons lief is vir ons kinders.              

Vervolgens stel ons reëls op om ons kinders 'n gevoel van veiligheid en geborgenheid te gee. In 'n verhouding wat op liefde gebou is sê ons: 'Ek soek die beste vir jou en dit is die rede hoekom...'  Die gevoelens van die kinders moet natuurlik ook in berekening gebring word. 'n Positiewe benadering moet voorop staan. Die reëls moet nie uit negatiewe gedagtes voortkom nie: ek wil nie dit of dat nie. Dit is nie 'n goeie houding nie. Daar moet nie krampagtig omgegaan word met wat wel en wat nie toegelaat word nie. In 'n ontspanne en positiewe atmosfeer word reëls volledig aanvaar en nie as (streng) reëls ervaar nie.

En hierdie positiewe houding is ook iets waarin ouers hulle kinders kan voorleef. Dit geld ook met betrekking tot reëls. Dit wat ons van ons kinders verwag, moet ons self ook bereid wees om by te hou.

Reëls vir onsself🔗

Nou het ons nog net gepraat oor die reëls wat ons vir ons kinders stel. Maar ons het self ook reëls. God het vir ons die Bybel gegee. Daarin staan Tien Reëls wat ons moet nakom. Uit dankbaarheid wil ons dit ook doen. En vanuit daardie reëls kan ons verder aanbeweeg.

Ook vir opvoeders geld: reëls skep duidelikheid. God se gebooie is baie duidelik. Maar hoe maak ons hierdie reëls prakties? Is en bly alles dan nog duidelik? Vereis ons na aanleiding van 'eer jou vader en jou moeder' dat ons kinders 'u' vir ons as ouers sê? En sal ons met die reël 'gedenk die sabbatdag' in gedagte, TV kyk op Sondag verbied?

Dit lyk soms asof sekere reëls nie meer so vasstaan soos vroeër nie. Dit veroorsaak onsekerheid by opvoeders.  Baie boeke, tydskrifte en artikels oor opvoeding word gelees, veral deur jong ouers. Daar word antwoorde gesoek op die vraag: 'Hoe moet ek dit doen?' Mense bly dus soek na hierdie tipe reëls. Gelukkig is daar genoeg betroubare materiaal is om ons op hierdie gebied te help.

Laat ons veral besef dat in die opvoeding, ook al is alles goed gereël, dinge soms verkeerd loop. Uit onsself kan ons die opvoeding nie altyd so goed baasraak nie. Ons het elke dag God se hulp nodig. In vertroue op Hom kan ons in 'n ontspanne atmosfeer duidelikheid skep in ons gesin. Laat ons dan daagliks vra vir Sy hulp. Want dit wat God reël, is goed gereël!