Hierdie artikel handel oor seksualiteit voor die huwelik.

3 bladsye.

Almal Doen dit Tog!

bed en paartjie🔗

Oor seks in ’n vaste verhouding🔗

’n Klompie jare gelede was daar gereeld besprekings ten opsigte van seksuele verkeer tussen jong mense wat vas met mekaar uitgaan. Maar hierdie besprekings het hoofsaaklik gedraai rond die vraag hoe ver hulle mag gaan in hul “vryery”. Daar is steeds uitgegaan van die standpunt dat hierdie jong mense soos die Bybel ons leer, nie soos ’n getroude man en vrou gemeenskap met mekaar mag beoefen nie.

Sedertdien het dinge verander. Seks voor die huwelik kom so algemeen in die samelewing voor dat dit lyk asof dit “normaal” en toelaatbaar is. Want ’n mens lees daarvan in tydskrifte en koerante, sien dit op TV, video en fliek, om nie eers van seks-tydskrifte, sekswinkels en algemene beskikbaarheid van voorbehoedmiddels te praat nie. Diegene wat dit beskou as onbybels word as “ouderwets”, “sissies” en “verkramp” beskou.

Hierdie moderne opvatting dat ongetroudes ook maar seks mag hê, het ook sy invloed op die gereformeerde jeug. In Nederland word beraam dat 80 % of selfs meer van alle gereformeerde paartjies wel voor hul huwelik gemeenskap beoefen. En ook in gereformeerde kerke in SA en ook in Die Kandelaar is daar genoeg aanduidings wat daarop dui dat dit hier nie juis anders is nie.

En die Bybel dan?

H.J. Messelink bespreek dit in “Bij de Tijd” van enkele maande gelede. Hy skryf as volg:

’n Mens vra jou af of die Bybel op die punt geen gesag meer het nie. Ek bedoel: dit is sowel in die Ou as Nuwe Testament tog vanselfsprekend dat mens met gemeenskap wag totdat jy trou. Pas na die amptelike troudag gaan ’n man en meisie saam woon en eers dan gaan hulle saam bed toe.

Geslagsgemeenskap is in die Bybel nie ’n los verkrygbare genot nie. In die wette van Levitikus lees ons dat ’n man wat ’n meisie verlei, dadelik met haar moet trou of die bruidskat moet betaal. In die Nuwe Testament lees ons dat Paulus aan die jong ongetroudes en weduwees sê: as hulle hul nie kan beheers nie moet hulle trou.

Die boodskap van die Bybel is dus nie onduidelik nie: geslagsgemeenskap, die volledige eenwording, het duidelik ’n plek binne die kader van die huwelik. Só wou die Here dit hê.

Dit is goed om dit dikwels hardop te sê. Veral in hierdie tyd. Natuurlik kan mens sê dat die jongmense van vandag baie moeite het om kuis te bly. Maar dit is ook goed om nou en dan duidelik te sê: Hier staan in die Bybel hoe die Skepper dit bedoel het. Die Skepper van die liggaam, van die seksualiteit en die liefde. Hy het ook ’n aanwysing vir die omgang daarmee aan ons gegee. Dit sou dwaas wees om daarteen in te gaan. Om goed te luister na God, ook op die gebied van die omgang en seksualiteit, is van groot belang.

Hiermee sê ek ook dat God se gebooie goed is vir die mense. Jongmense (ouers net sowel) kan dit soms heel anders ervaar. Dat die Here seksuele gemeenskap aan die huwelik gekoppel het, ervaar hulle soms as ’n sterk inperking en belemmering van hulle vryheid. God se reëls is dan lastig. Daarom is dit goed om daarop nadruk te lê dat God se reëls bedoel is om ons gelukkig te maak. Soms vra dit baie van jou rede om daarop “amen” te sê. Maar dit is die waarheid!

man en vrou

Dit blyk trouens in die praktyk dat God se gebooie goed is. Heelwat paartjies, wat dit gedoen het toe hul ’n vaste verhouding gehad het, kan dit beaam; soms het hul deur skade en skande wys geword. Ek noem ’n paar punte:

As seksualiteit in die tyd van saam-uitgaan ’n groot rol speel, oorheers dit die hele verhouding. Gevolglik moet die geestelike verbondenheid dan in die huwelik groei en dan lewer dit soms groot moeite

Ek het al verskeie kere gemerk dat huweliksprobleme regstreeks terug te voer is op ’n verkeerde begin in die tyd toe hul saam uitgegaan het. Omgekeerd: as jy in jou verhouding die geestelike en liggaamlike na mekaar toe laat groei, gelyke tred laat hou, pluk jy in die huwelik die vrugte daarvan.

Nog ’n ander punt: as jy in julle verhouding te gou bed toe gegaan het, en die verhouding later skipbreuk ly, dan kan ’n volgende verhouding probleme oplewer. Dink maar net daaraan dat jy dit moet vertel!

Sommige stel selfs: “In so ’n geval is daar eintlik sprake van owerspel vooraf”. Maar jy moet nie ’n term wat verbonde is aan ’n wettige huweliksluiting gebruik vir ’n heel ander situasie nie. Dit is net so iets soos: wanneer ’n seun en ’n meisie gemeenskap gehad het, dan is dit asof hulle al getroud is en moet hulle maar so vinnig as moontlik die huwelik bevestig. In Eksodus 22:17 lees ons ook dat ’n huwelik gesluit móét word na die geslagsgemeenskap.

Wanneer dit van tevore duidelik is dat so ’n huwelik meer onheil as heil tot gevolg sal hê, verwag die Here dit nie van sy in sonde gevalle kinders nie. Die een kwaad hoef nie ’n ander een tot gevolg te hê nie. Daar sal wel sprake wees van skuldbelydenis, sodat die Here hierdie sonde ook uit die weg kan ruim. Daarna is ’n nuwe begin moontlik.

Wat doen ons daaraan?🔗

Die vraag is hoe ons die onderwysing van die Here en die praktyk van ons tyd verbind. Wat my betref lê die verbinding langs pastorale weg.

Daarmee bedoel ek dat ons moet probeer om aan alle aspekte reg te laat geskied. Ek noem ’n paar.

In die eerste plek lyk dit vir my van belang dat jongmense as hulle vas uitgaan ’n duidelike beeld moet kry van wat die Here oor seksualiteit en die huwelik sê. Ons moet nie sondermeer daarvan uitgaan dat jongmense van 18 jaar dit sommer vanself weet nie. Goeie Bybelse voorligting is noodsaaklik.

Daarby mag ook vertel word dat die Here gehoorsaamheid vra. En gehoorsaamheid wat ’n goeie stuk selfverloëning met hom sal saambring. Maar dit is nie erg nie. Dit is ’n goeie oefening vir die huwelik, waarin selfverloëning en wedersydse respek ’n belangrike rol speel. Binne die onderlinge respek kan jy ook afspreek waar die grense lê. As julle dit doen kan julle dit ook met mekaar bespreek. Dan sal in verreweg die meeste gevalle die seksuele gemeenskap jou waarlik nie oorval nie. Jy is self daarby betrokke en julle kan mekaar hou aan die gegewe afspraak.

Wat ook belangrik is, is dat die reëls van God met betrekking tot die pad na die huwelik nie as wetties aangebied word nie. Dit moet duidelik gemaak word dat die Here hiermee die goeie vir ons voor oë het en ons teen die kwaad wil beskerm.

Die Here weet beter as onsself wat vir ons goed is.

Vervolgens is dit van groot betekenis dat jongmense in hulle omgang met mekaar leer praat oor hulle lewe met die Here. Hulle moet weet wat hulle in ’n geestelike opsig aan mekaar het. Laat hulle ook leer om hulle swakhede en gebreke aan mekaar te vertel. Dan mag hulle ook weet van genade en vergewing, van bekering en weer op nuut begin. So belê jy in jou omgang met mekaar al in die komende huwelik.

Bybel en man en vrou

Dit is ook pastoraal om baie begrip te toon vir die moeilike situasie waarin ongetroude paartjies hulle vandag bevind. Dit word vir hulle moeilik gemaak om in hulle onderlinge omgang nie te ver te gaan nie. Ons mag mekaar ook steun in die stryd. As die kreet word: “Almal doen dit tog!” het ons min om van mekaar te verwag.

Laat jongmense ook onderling openlik oor hulle probleme praat sodat hulle mekaar kan bemoedig om suiwer te lewe. Dit is baie beter as om bymekaar groot te praat oor al jou seksuele avonture. Dit lyk miskien outyds, maar in werklikheid is dit slegs die uitstal van ’n stuk onvolwassenheid.

Daar is ook grade van beoordeling. Dit is iets heel anders wanneer ’n paar wat al jare saam uitgaan, hulle nie langer kan beheers nie as wanneer ’n seun en ’n meisie al aan die begin van hulle verhouding saam na bed gaan. Die laaste is in elk geval sleg. Die eerste struikel op die goeie weg en het reg op begrip en meelewing, ook as ons bly sê dat hulle te vroeg gemeenskap gehad het.

In elk geval moet ons nie skynheilig wees nie en maak asof alles goed verloop, terwyl die jongmense ondertussen hulle eie gang gaan. Dan nog liewer die ware werklikheid sodat dit bespreek kan word. Want dit gaan werklik nie om kleinighede nie. Seksualiteit is ’n pragtige gawe van ons Skepper, veels te mooi om daarmee te speel.

Voor die huwelik of in die huwelik.