Bron: Kompas. 3 bladsye.

Altyd vergewe?

"En as hy berou kry, vergewe hom" (Lukas 17:3). Moet ons altyd iemand wat teen ons gesondig het verge­we? Ook as die persoon geen berou het nie? In Matt. 18:21 leer Christus ons dat ons nie tot sewe maal toe moet verge­we nie, maar tot sewentig maal sewe toe. Moet ons dan grenseloos vergewe ook as daar geen berou is nie?

Daar is mense wat dit beweer. Dit sou 'n bewys van ware liefde wees. Is dit wat die Bybel ons leer? In ons teks sien ons dat die reël is: vergewing na berou. "As hy berou kry, vergewe hom." God self gaan ons daarin voor.

God se voorbeeld🔗

In Mark. 1:4 lees ons dat Johannes besig was om die doop van bekering tot vergifnis van sondes te verkondig. Let op die volgorde: bekering tot vergifnis van sondes. in Luk. 24:47 sê die Here Jesus vir sy apostels dat bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig moet word aan al die nasies. Ja, bekering en vergewing van sondes, in dié volgorde. Nie dat ons op grond van ons bekering vergewing ontvang nie. Ons ontvang vergewing op grond van God se onbegryplike liefde en Christus se plaasvervangende offer. Maar die verge­wing kom wel na ons toe langs die pad van bekering. Vergelyk ook Hand. 2:38; 5:31.

In 1 Joh. 1:9 lees ons die bekende woorde: "As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig." Dis duidelik dat berou en erkenning van skuld 'n voorwaarde vir vergewing is. Dis die reël waarvolgens God handel. En daarin moet ons Hom navolg (Ef. 4:32).

Waarom eers berou?🔗

Hoekom kan ons nie sommerso vergewe nie? Omdat die sonde 'n verhindering vir versoening is. Sonde skei twee partye van mekaar (Jes. 59:2). Om te vergewe beteken dat jy die struikelblok tussen jou en die ander wegdoen. Maar hoe kan jy dit doen as die ander party dit nie wil hê nie? Die verhindering bly daar totdat die sondaar die sonde laat wegneem, totdat hy berou daaroor het. Sonder ware bekering kan dus geen ware versoening plaasvind nie.

Maar is dit nie 'n gebrek aan lief­de wanneer ek die sonde in so 'n situasie nie vergewe nie? Nee, juis nie. Liefde wat vergewe son­der berou is 'n onheilige liefde. Dit negeer die erns van die son­de wat nog daar lê. Dit is 'n slap en swak liefde, Ja, dis nie eers liefde nie. Die liefde soek mos die ware bevryding van die sondaar? Maar as die sondaar sy sonde nie wil bely nie, dan bly hy daaraan vassit. Dan moet hy daarvan bevry word. Die liefde wat nodig is, is 'n heilige en sterk liefde. 'n Liefde wat die sonde bestraf om die sondaar tot bekering te beweeg. 'n Liefde wat die moeilike pad met die sondaar wil loop met die oog op sy versoening met God en mense.

Houding teenoor onboetvaardige🔗

Hoe moet ons gesindheid dan wees teenoor die onboetvaardige sondaar? Ons moet in elk geval altyd vergewensgesind wees. Mense wat beweer dat ons altyd moet vergewe, ook al is daar geen berou nie, verwar die bereidheid om te vergewe en die daad van vergewing. Ons moet inderdaad altyd bereid wees om te vergewe. Soos Christus sê: "en as hy sewe maal op 'n dag teen jou sondig en sewe maal op 'n dag terugkom en sê: Ek het berou - moet jy hom vergewe." Die begeerte om te vergewe kan egter slegs in dade omgesit word indien daar berou is.

In Matt. 5:44 roep die Here Jesus ons op: "Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg." Hier praat Christus oor ons houding teenoor ons vyande. Hoeveel te meer moet ons dié houding inneem teenoor ons broeder of suster wat teen ons gesondig het. Werklik die beste vir hom of haar soek. God se guns oor die per­soon afsmeek. Goed doen aan die wat jou kwaad aangedoen het. Vir hom of haar bid. Dis die beste bewys dat jy inderdaad vergewensgesind is.

Watter bewyse van berou🔗

Moet daar altyd 'n uitdruklike belydenis van skuld oor alle oortredings wees voordat ons kan vergewe? Hoe doen God dit? Verge­we Hy slegs die sondes wat ons uitdruklik voor Hom bely? Hoe gaan dit met die verlore seun wanneer hy weer na sy vader terugkeer? Wag die vader op 'n uitdruklike skuldbelydenis van sy kant? Wanneer die vader hom van ver sien kom, dan voel hy innig jammer vir hom, hardloop na hom toe en omhels hom. Dit gebeur alles voordat die seun nog een woord van berou kan uit. Die feit dat die seun terugkeer is vir die vader voldoende bewys van bekering. Die houding van die seun sê vir hom genoeg.

Wanneer die Here in 1 Joh. 1:9 sê dat ons eers ons sondes moet bely om vergewing te ontvang, dan bedoel Hy nie dat ons 'n hele lys van sondes moet byhou en dat ons elke individuele sonde moet bely om vergewing te ont­vang nie. Om ons sondes te bely beteken letterlik dat ons dieselfde oordeel as God oor ons sondes het. Dis 'n konstante houding, nie 'n meganiese nagaan van 'n lys nie. Johannes roep nie op tot 'n een-vir-een verhouding van son­de en belydenis nie, maar tot 'n voortdurende instemming met God se oordeel oor ons sondes.  Dit gaan oor 'n voortdurende houding van berou en bekering.

Daar is nog sondes waarvan ons nie bewus is nie. Daarom ook die bede van Dawid in Ps. 139:23: "Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my 'n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!" As daar by ons die ootmoedige houding teenoor God is, dan sal Hy ons nie verdoem oor sondes wat ons nog nie besef en wat ons dus nog nie uitdruklik bely het nie.

Moet daar in ons onderlinge verhoudings altyd 'n uitdruklike skuldbelydenis wees om te kan vergewe? Daar moet wel 'n boetvaardige houding wees. As God nie van ons 'n uitdruklike belydenis van elke spesifieke sonde wat ons teen sy hoë majesteit gedoen het eis nie, sou ons dan wel so 'n uitdruklike skuldbelydenis van elke verkeerdheid teenoor ons klein en sondige mensies moet eis?

In die sonde teenoor God is daar geen enkele skuld van God se kant nie. Terwyl in die sonde wat daar teenoor ons gedoen is, daar dikwels ook skuld aan ons kant is. Ons kon daartoe bygedra het deur ons eie gebrek aan liefde en wysheid. Miskien is ons selfs die oorsaak daarvan dat die ander teen ons gesondig het. Daarom moet ons des te meer bereid wees om te vergewe as ons 'n houding van opregte berou ontdek.

By albei partye moet ware ootmoed sigbaar wees. Waar sondaars mekaar ontmoet, daar pas 'n gemeenskaplike ootmoedi­ge houding. Die ootmoed van die een lok die ootmoed van die an­der uit. Die een uiting van berou wek die ander uiting van berou op. En so wek die een woord van vergewing die ander woord van vergewing op. So wil God onder ons versoening bewerk en handhaaf.

Om ander te vergewe is nie natuurlik of maklik nie. Soms wil ons gewoon nie vergewe nie. Dikwels vertrou ons te min op God se genade en Gees wanneer ons protesteer: "ek kan nie vergewe nie." Laat ons, wanneer ons die moeite om te vergewe ontdek, sensitief wees vir die pyn en vrees wat dikwels daaragter skuil. Herstel van ernstige misdrywe vat tyd. Laat ons mekaar ondersteun en vertroos. Vertrou op God se genade en krag. So kon Paulus sê: Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.