Bron: Kompas, 2013. 3 bladsye.

Amos 1 en 2 - Onweer by 'n Helder Hemel

So sê die Here: Oor drie oortredinge van Israel, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie…

Amos 1 en 2

Soms sit ek op ’n pragtige somersdag in die kar en hoor ek die weerberig. Dan sê die weervoorspeller dat dit aan die einde van die dag gaan onweer. Ek kyk buitentoe en sien ’n helderblou hemel, geen wolkie in die lug nie. Dan kan ek dit net nie glo nie. As die hemel so mooi blou is, hoe kan dit dan ooit oor ’n paar uur begin onweer? Maar die weerprofete sê so en baie keer is hulle reg…

Amos lyk na so ’n weerprofeet. Hy voorspel slegte weer. Dit gaan onweer en die weerligte sal stede en paleise tref. God sal naamlik met sy oordele kom. Amos was ’n skaapboer wat uit Tekoa, ’n dorpie suid van Juda, gekom het. God het hom na die tienstammeryk Israel gestuur. Daar het hy in die hoofstad Samaria en in Bethel geprofeteer ten tyde van koning Jerobeam II. Dit was een van die voorspoedigste periodes in Israel. Die goue eeu van die tienstammeryk. Die belangrikste rede was dat hul aartsvyand, Aram, sy aandag moes rig op die Noorde, want Assirië het al hoe magtiger geword. Bowendien was daar uiteindelik vrede tussen Israel en Juda. Ook ekonomies het dit goed gegaan. Die handel was goed en mense het ryk geword; so ryk dat hulle winter- en somerhuise kon bekostig en selfs op beddens van ivoor geslaap het.

Amos kom met ’n onheilspellende boodskap. God se oordele is naby. Maar dis opvallend dat Amos begin met die volke rondom Israel: Damaskus (Aram), die Filistyne, Tirus, Edom, die Ammoniete, Moab en Juda. Dit was alreeds die eerste les vir die Israeliete, want hulle het God op dieselfde voet gestel as die gode van die ander volke. Elke volk het sy eie god en ’n god bemoei hom net met sy eie volk. So is die Here egter nie, Hy is immers die enigste God van die hele wêreld. Ons maak God dikwels baie klein deur te dink dat God Hom net met individue besig hou. Ons dink dan dat God Hom net met gelowiges besig hou of net met die kerk. Veral in evangeliese kringe, waar die persoonlike verhouding tussen jou en God so beklemtoon word, lyk dit asof God Hom nie met die res van die mensdom besig hou nie, laat staan nog met die politiek. Dit is ’n groot misverstand. God hou Hom besig met alles wat onder die son gebeur. Hy sien ook wat ander volke doen, wat heidene en goddelose mense doen. En veral as dit sy eie volk aangaan.

Want die rede hoekom God met sy oordeel kom, is meestal vanweë die misdade wat teen God se volk gepleeg is.

  • Die Arameërs het ’n bloedbad in Gilead aangerig
     
  • Die Filistyne het die Israeliete as ballinge aan Edom uitgelewer
     
  • Ook Tirus het God se volk as ballinge aan Edom uitgelewer
     
  • Edom het die broederliefde verloën en die Israeliete agtervolg met die swaard
     
  • Die Ammoniete het in Gilead swanger vroue koelbloedig vermoor

Maar dan Moab: Moab het die bene van Edom se koning tot kalk verbrand. Hierdie misdaad was nie teen Israel gerig nie en tog straf God ook hierdie misdaad. Hier sien ons dat dit ten diepste nie om die volk Israel gegaan het nie, maar om die eer van God. Sy wette is universeel en beskerm nie net Israel nie, maar elke mens, want elke mens is na God se beeld geskape.

Dan volg nog ’n oordeel oor Juda, die tweestammeryk. Van Juda word gesê dat hulle die wet van die Here verwerp het en hulle nie aan sy voorskrifte gehou het nie.

Tot nou toe het hulle in Samaria vir Amos in die hande geklap. Uiteindelik ’n profeet wat die oordeel van die Here aankondig oor al die volke wat Israel so laat ly het. Dit is wat hulle graag wil hoor. En ook die boetie uit die Suide, Juda, word hard aangevat. Uiteindelik word die misdade aangespreek en veroordeel. Tot nou toe het hulle met vreugde na Amos geluister.

Maar dan word dit skielik duidelik dat al hierdie volke slegs ’n aanloop is om uiteindelik by Israel uit te kom. Die donderwolke het maar net vanuit die omliggende volke steeds nader aan Samaria gekom. Want die boodskap van Amos is veral dat dit bo Samaria gaan onweer.

Dit moes vir die inwoners van Samaria nogal lagwekkend gewees het. Amos is soos ’n weerprofeet wat onweer voorspel terwyl die hemel helder blou is. Wat weet Amos van die weer? Hoe kan ’n skaapboer ’n profeet wees? Hy kom nie eers van ’n profeteskool nie. Laat Amos hom by sy eie beroep bepaal! Dan kom hy ook nog uit Juda; laat hom teruggaan na sy eie land! (Amos 7:10-17)

Hoe luister ons na profete van die Here? Klap ons nie ook dikwels in die hande wanneer dit ’n boodskap vir ander mense is, nie vir my broer of suster? Maar sodra dit te naby kom, wil ons nie meer hoor nie…? Luister ons in die kerk vir ander of vir onsself?

Die oordeel van die Here oor Israel sal die ergste wees. Want die sonde van Israel is verskriklik. Hulle verkoop onskuldige mense vir geld: onskuldiges word in die regbanke veroordeel omdat regters hulle vir geld laat omkoop (=korrupsie). Arm mense word uitgebuit en verder in hul armoede verdruk (=sosiale onreg). En pa en seun gebruik die diensmeisie as seksspeletjie (=sedeloosheid). Maar die ergste is die skynheiligheid! Want in hulle Godshuise sit hulle op klere wat hulle as pand gevat het en drink hulle wyn van boere wat hulle skulde net nog in natura kan betaal. Wat ’n skynheiligheid! Dit pla hulle selfs nie om in die huis van die Here van hul sondes te geniet nie.

Sonde is een ding, maar hoogmoed en valse sekerheid is baie erger. Amos profeteer dat God se oordele kom. Dit sal swaar onweer in Samaria. Want God sal hierdie sondes van die Israeliete swaar bestraf.

Hierdie skynheiligheid is die ergste. Want hulle is die verbondsvolk. God vertel wat Hy vir hierdie volk gedoen het: Hy het die Amoriete voor hulle uit verdelg, Hy het hulle uit Egipte laat optrek en hulle na die beloofde land gelei. “Is dit nie so, Israel?” Jy hoor die geraaktheid by die Here. Sy eiendom wat Hom so beledig deur hul skynheiligheid. God mag tog ’n ander antwoord van sy eie volk verwag?

God se oordeel gaan sy eie volk nie verby nie. Inteendeel, sy oordeel oor hulle sal erger wees. Hulle sonde word hulle dubbel toegereken. Dit is ’n baie dringende boodskap. Dit skud ons wakker uit ons slaap, uit ons valse gerustheid. Want ook onder God se volk, onder ons, in die huis van die Here, kom sondes voor. En Sondae sing ons die psalms van Dawid in ons Godshuise; dra ons ons maskers van vroomheid. En dit pla ons nie, want ons is mos lidmate van die kerk. Ons is mos gedoop. Ons behoort mos tot die uitverkore volk van die Here. Amos wil ons wakker skud uit hierdie valse gerustheid. Want hierdie sekerheid sal ons ondergang beteken. Dit kan nie so wees dat God sy Seun vir ons oorgegee het in die dood om vir ons sondes te betaal en dat ons gewoon volhard in ons sondes nie. Dan kruisig ons ons Verlosser opnuut. Dit kan nie so wees dat ons die liggaam en bloed van Jesus Christus tot ons neem in die nagmaal en ondertussen vashou aan ongehoorsaamheid en willens en wetens die wet van die Here oortree nie. Dan onderskei ons nie die liggaam van ons Heiland nie en eet en drink ons ’n oordeel oor onsself. Ons besef dan nog nie wat God alles vir ons gedoen het nie.

Amos skud ons wakker. Jy mag nie vertrou op verkeerde dinge nie. Jy mag nie vertrou op jou kerklidmaatskap nie. Jy mag nie vertrou op jou doop nie.

Jy mag nie vertrou op die gedagte dat jy uitverkore is nie. Die enigste wat al jou vertroue werd is, is Jesus Christus. Hy alleen. Amos breek ons verkeerde vertroue af, want dit maak ons lui en onverskillig in die diens aan die Here. Dit maak ons skynheilig. Maar as jy op Jesus Christus vertrou, dan kan dit nie so wees dat jy volhard in sondes nie. Want sy Woord en Gees sal jou steeds ongerus maak en wakker hou en krag gee om te stry teen alles wat God se eer aantas.