Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Appèl uit die Apokriewe

Dit was die “pragtige beeld” - soos ’n Luther-kenner dit noem - van ’n appelboom wat deur die Duitse Hervormer gebruik is om sy manier van Bybellees te illustreer. “Aan al die takke van die boom het ek reeds by geleentheid geskud,” sê Luther, “en appels daarvan gekry”. Daarmee het hy ongetwyfeld ook “appels” van die sogenaamde apokriewe boeke bedoel! Hy haal immers in sy geskrifte soms daaruit aan - soos Calvyn ook enkele kere in sy Institusie doen.

Kan só ’n “appel” uit die takke van die sogenaamde apokriewe boeke ook vandag nog ’n appèl, ’n ernstige oproep, tot ons, gereformeerdes van die 21ste eeu, laat uitgaan? ln die lig van daardie boeke se onbekendheid by ons sou mens dit kwalik kon verwag! Tog bely ons in ons Nederlandse Geloofsbelydenis (Art. 6) dat “die kerk hierdie boeke wel (mag) lees en daaruit lering trek”. Natuurlik mag dit net gebeur “vir sover hulle met die kanonieke boeke ooreenkom” en sonder om “in die minste aan die gesag van die ander, heilige afbreuk” te doen maar darem tóg: lees en selfs lering trek! Dis mos nie niks nie! Kom ons kyk ’n bietjie na ’n paar aspekte van hierdie lees en lering trek.

In die erediens?🔗

Volgens Polman, ’n kenner van die Nederlandse Geloofsbelydenis, het Guido de Bres, die opsteller van daardie Belydenis, “met alle kundige kerkvaders” saamgestem dat die apokriewe boeke van die Ou Testament wel in openbare eredienste gelees mag word. Die Sinode van Dordrecht (1618/19) het daarvan verskil. Daardie Sinode het darem wel toegelaat dat die apokriewe boeke agter in die Statevertaling afgedruk word (saam met enkele waarskuwings).

Kan, om ’n voorbeeld te noem, ’n gebed soos wat in die boek Barug (2:11-20) opgeteken is, nie met vrug tydens die “diens van verootmoediging en versoening” in ons eredienste gebruik word nie - uiteraard met groot omsigtigheid? Calvyn haal vers 18 van hierdie hoofstuk in sy Institusie (3.20.8) as “baie waar” en “baie heilig” aan.

In die vloeiende, nuwe Nederlandse vertaling van die Bybel (wat ’n paar jaar gelede verskyn het en wat ook die Ou-Testamentiese apokriewe as deutero-kanonieke boeke opgeneem het) word hierdie vers aangrypend vertaal: “Nee, swakke en diepbedroefde mensen, kwijnend en met een doffe blik, die onder het leven gebukt gaan, die zullen u eren, Heer, en u rechtvaardigheid bezingen.”

Of dit nou in die erediens of persoonlik moet wees, deur werklik weer gedeeltes uit die apokriewe boeke, in soverre hulle met die kanonieke boeke ooreenstem, te lees, kan net verrykend vir ons geestelike lewe wees. Daardeur kan ons in elk geval dalk meer intens God se weg met sy Skrif verstaan. Dit het werklik nie soos ’n meteoriet uit die hemel geval nie, maar dit deel in die aardse lot van alle menslike geskrifte (H. Bavinck).

Olifant en skaap🔗

“Die Heilige Skrif is ’n stroom waarin 'n olifant verdrink, maar waar ’n skaap deurwaad.” Hierdie diepsinnige woorde van die kerkvader Gregorius kan ook toegepas word op die proses waarvolgens kanonieke boeke onderskei is van apokriewe (verborge) geskrifte. Indien die kerk van die Ou Testament en die vroeë Christendom die vrae rondom die kanon soos ’n olifant bestorm het, met allerhande menslike wilsbesluite oor wat eg en wat oneg is, sou die kerk verdrink het in die stroom van God se Woord wat in mensewoorde vloei. Dan het die kerk mos geheers oor dit waaraan hy na sy eie-aard onderwerp moet wees.

Ootmoedig ontvang🔗

Gelei deur die Heilige Gees het die kerk egter soos ’n weerlose skapie biddend gesoek en intens geluister na watter geskrifte die egte stem van die Goeie Herder laat hoor. Immers, het ons Here Jesus Christus nie self gesê nie (Joh 10): “My skape luister na my stem … (en) hulle sal nooit ’n vreemde volg nie?” Daarom is die term wat ons Belydenis in verband met die kanonieke boeke gebruik ook so veelseggend: letterlik vertaal is dit “ontvang” (van Latyn, recipere; Engels, receive). “Ons ontvang hierdie boeke en hulle alleen as heilig en kanoniek ...” (art. 5).

Uit die aard van die menslikheid van die geskrifte is daar in die geskiedenis baie gehuiwer, gewik, geweeg en gestudeer oor die vraag of sekere boeke (soos Openbaring en Hebreërs) wel kanoniek of miskien apokrief is. Toe die proses uiteindelik sy loop geneem het, kon die kerk maar net soos ’n arme bedelaar bely dat hierdie kanonieke boeke uit die hand van die Heilige Gees, wat dit self “ge-asem” het (2 Tim 3:15), ontvang word. Die kerk is immers nie die skepper van sy eie maatstaf nie, maar deur die Gees slegs die skepping van sy maatstaf of kánon. Die apokriewe en ander buite-kanonieke boeke is nie, op dieselfde manier, só ontvang nie. Tog leef die oortuiging dat gelowiges al lesende God se stem ook daaruit kan verneem - as ’n soort weerklank van die kánon!

Lees asof🔗

Hoe kan ons nou vandag, mét die maatstaf van die kanonieke geskrifte, God se stem in die apokriewe geskrifte herken? ls dit nie slegs moontlik as ons ook eers soos skapies deur die stroom van die kánon kom nie? Ons kan nie verwag dat ons deur die blote lees van die geskrifte, soos ’n olifant, amper “meganies” en vanselfsprekend die stem van die Goeie Herder in ons harte kan “in-forseer” nie. Die Skrif herberg ’n diep geheimenis! Alléén deur die getuienis van die Heilige Gees kan ons die kánon as dié onfeilbare “kleed waarin Christus tot ons kom” (Calvyn) omhels - en, daarmee saam, Christus self as die Inhoud van dié kleed!

Die verste wat ons deur God se genade as lesers kan gaan, is om, soos Calvyn treffend aandui, die kánon op ’n asof-manier te benader. Ons kom tot die Skrif en gló dat dit uit die hemel kom “net asof lewende stemme van God self daaruit gehoor word” (Inst. 1.7.1). Dán eers geskied die wonder dat die Heilige Gees die Woord in ons diepste-innerlike verseël. Dán eers kan ons waarlik die stem van die valse, apokriewe “huurling” (Joh 10) onderskei van die egte, lewende stem van die Here, wat gekom het om lewe te bring - en dit in oorvloed!

Die byna-egte🔗

Deur die eeue heen het dit wat amper-eg is, altyd weer sekere mense bekoor. Waar die egte produk lewensbelangrik is, het hierdie soort romantiese beheptheid met die net-net-nie-outentieke soms buitensporige vorme aangeneem. Dit was ook die geval met baie apokriewe geskrifte. Hulle is dikwels voorgehou as afkomstig van geheime Godsopenbaringe wat vir ’n klein, elite-groepie mense toeganklik was (verborge boeke). Vandag is daar weer heelwat sensasie oor sulke byna-egte “evangelies” of ander geskrifte uit die eerste eeue wat onlangs “ontdek” of “herontdek” sou wees. Verwêreldlikte mense soek in ons tyd dikwels weer na ’n spiritualiteit - maar vind dan die mark vol met esoteriese spiritualiteite van “huurlinge”! Dink maar aan die populariteit van ’n boek én film soos The Da Vinci Code met sy beroep op geheime komplotte wat sou aansluit by ’n sogenaamde Evangelie van Filippus.

’n Vyfde Evangelie?🔗

Aan die herontdekte Evangelie van Thomas het hele bewegings soos die Nuwe Hervorming en die Jesus-seminaar hulle vasgeklem. Hulle maak daarvan ’n “kanonieke” Vyfde Evangelie. Hierdie geskrif dien hom soos volg aan: “Dit is die geheime woorde wat Jesus, die Lewende, uitgespreek het en wat Didymus Judas Thomas opgeskryf het.” Onder die groot aantal woorde wat byna soos die woorde van Jesus in die kanonieke Evangelies klink, bevind die volgende een hom: “Wat julle in julle oor sal hoor, verkondig dit in die oor van ’n ander op julle dakke” (Logion 33).

Die gekursiveerde woorde gee die verskil met Matthéüs 19:27b aan. Daar staan: “... wat julle in die oor hoor, verkondig dit op die dakke.” Hier is ’n duidelike poging om wat Christus openbaar wil maak, in ’n geheime kring op te sluit.

Lering uit apokriewe boeke🔗

’n Treffende voorbeeld van aktuele lering uit die apokriewe geskrifte bied die Amerikaanse teoloog Leonard Sweet in sy boek Soul salsa. Hy verwys na die boek van Tobias. Die agtste hoofstuk handel oor Tobias en Sara se huweliksnag. Nadat hulle al saam in die bed was, onthou Tobias dat hulle iets vergeet het. Hulle spring albei uit die bed en doen saam ’n wonderlike toewydingsgebed (alle pasgetroudes kan dit vandag met vrug oorneem!). Uit hierdie verhaal kan ons volgens Sweet onder andere vandag baie prakties leer dat “life is more than orgasms and embryos”.

In één Bybel?🔗

Verdien dit nie aanbeveling om die apokriewe boeke die Ou-Testamentiese dan - saam met al die kanonieke boeke in één Bybel saam te vat nie? Die Septuagint (Griekse vertaling van die Ou Testament) en ons ou, Nederlandse Statevertaling het ons tog hierin voorgegaan. Die woord “Bybel” beteken maar net “boeke”. Ons vereer nie ’n “boekpous” (Barth) nie; ons onderwerp ons deur die Heilige Gees in die lees van hierdie boeke aan die lewende, gesaghebbende stem van God as kánon (Calvyn praat van die Skrif as die Persoon van die sprekende God).