7 bladsye.

Augustinus se De Civitate Dei

Die Stad van God (I)🔗

’n Bybelse Insig in die Verhouding Kerk en Staat🔗

Die Val van Rome in 410 nC🔗

Na eeue van onoorwinlike mag was die stad Rome in die vyfde eeu nie meer veilig nie. So was 24 Augustus 410 ’n verskriklike dag toe die plunderende hordes van die Gote onder aanvoering van hulle koning Alarik die stad ingeneem het. In die destydse wêreld was dit die grootste ramp wat die magtige Romeinse Ryk getref het! Nie alleen die internasionale politiek is tot in sy fondamente geskud nie, maar ook die christendom het een van sy grootste skokke in die geskiedenis beleef.

Na twaalf eeue, om presies te wees 1164 jaar na sy stigting in 754 vC, het Rome ondergegaan. Daarmee het die mite van twaalf eeue van die onoorwinlike Rome tot ’n einde gekom. Ook ’n eeue-oue heidense staatsfilosofie het meteens ineengestort en die gangbare beskouing oor die kerk het dramaties getuimel.

Die Roma Aeterna (die ewige Rome) van die Romeinse Gode🔗

Hierdie mite van die ewige Rome, só het die heidense massas eeue lank geglo, is deur die staat se gode bewerk. Die burgers van Rome was die ‘uitverkorenes’ wat kon deel in die Pax Romana (die Romeinse orde). Hulle groot geskiedskrywer, Titus Livius (59 vC - 17 nC), wat die geskiedenis van Rome van 742 tot 9 vC in 142 boeke opgeteken het, het geleer dat alles onder die gode se ‘voorsienigheid’ gebeur het.

Hulle digter Virgilius het kort voor die geboorte van Jesus Christus die gode se beskikking oor Rome in ’n epos besing. Dit was ’n Afrikaanse akademikus van Potchefstroom, die klassikus Ferdinand Postma, wat in sy doktorsproefskrif in Latyn, naamlik De numine divino quid senserit Vergilius ’n diepte-insig in hierdie digter se godsbegrip oor die Romeinse gode vir ons kon gee. Die roem van die Romeinse staat was vir sy heidense burgers die roem van hulle gode.

Die Roma aeterna (die ewige Rome) het egter in die vierde eeu ’n ingrypende transformasie beleef toe die heidense godsdiens in 380 amptelik vervang is met die christelike staatsgodsdiens. In die plek van die ou gode het nou die God in Jesus Christus gekom. In terme van Openbaring 13:3 het die antichristelike dier uit die see ’n dodelike wond aan een van sy sewe koppe ontvang. Keiser Theodosius verklaar in 380 die christelike godsdiens as staatsgodsdiens van die Romeinse Ryk! In die plek van die heidense tempels waarin die keisers tot dusver vergoddelik was, kom nou christelike kerke (gemeentes) waarin Jesus Christus as die enigste hoof van die kerk gepreek word. Rome is nou nie meer die ewige stad nie, maar daar wag ’n Nuwe Jerusalem (Openbaring 21).

Na 30 Jaar van Christendom kom Rome se ‘11 September’🔗

Die val van Rome was ’n wêreldskok - iets soos die ramp wat New York op 11 September 2001 getref het. Hier was dit natuurlik nie straalvliegtuie wat in reuse geboue vasgevlieg het nie, maar stormramme wat die poorte oopgebreek en die hordes wat met hul swaarde op die bevolking toegesak het. Die hooggeroemde Romeinse leërmag was magteloos teen die seëvierende Gote.

Maar wat ’n ironie! In 410 was die Gote reeds ’n gekerstende volk - hoewel Ariaanse christene (volgelinge van die vrysinnige teoloog Arius). Dat christene die christelike stad Rome ingeneem het, het onder die kerkgeledere groot verwarring gesaai. Waar hierdie katastrofe die heidene met ’n nuwe argwaan en siniese verwyt teen die christendom vervul het, daar het die kerkmense in ’n diep pessimisme en geloofstwyfel verval. Die kerk het haarself opnuut bedreig gevoel en die onheilspellende gevaar van bloedige vervolginge, martelaarsarenas en die moontlike vlug in die katakombes, het lidmate in die gesig gestaar. Nadat keiser Konstantyn ’n christen geword het, het die kerk haarself dan nou juis onder die nuwe, gewaande staatspolitiek so veilig gevoel. Wat gaan nou van ons word, was die vraag in hierdie ondergangstemming.

Die Kerkvader Hieronimus se Skok in sy Studeerkamer🔗

Die val van Rome in 410 het die christelike kerk tot in sy verste uithoeke geskok. Die beroemde kerkvader Hieronimus wat in sy klooster in Betlehem met sy Bybelvertaling met die boek Eségiël besig was, roep in wanhoop uit:

‘Die lig is gedoof. In hierdie een stad wat in die hande van die barbare geval het, is die hele mensheid in sy ondergang meegesleur!’ Let wel, die gekerstende Gote word steeds ‘barbare’ genoem.

Selfs twee jaar daarna was Hieronimus nog so ontsteld dat dit vir hom gevoel het asof hy sy geheue verloor het. Met sy kommentaar oor die boek Eségiël kon hy eenvoudig net nie meer voortgaan nie. Hy het die boeke toegemaak en in eensaamheid oor die stad Rome getreur.

Die Prediker uit Afrika🔗

O ja, die skok oor die val van Rome is tot in Afrika gevoel. Die noordelike dele van Afrika was toe ook nog deel van die Romeinse Ryk. Ook daar het die kerk na bitter vervolgings onder die regime van die christelike Rome veilig gevoel. Ook hier was die vraag, wat nou?

Op ’n Sondag ná 24 Augustus 410, na die skokkende berig oor die val van Rome, het die 56-jarige biskop van die stad Hippo Regius, Aurelius Augustinus, sy preekstoel bestyg en ’n preek uit Psalm 87, oor die stad van God, gelewer. Daarin het hy vir sy gemeente die ondergang van die stad Rome behandel. Hierin vlek hy die mentaliteit van die heidene oop:

‘Toe ons nog ons offers aan ons gode gebring het’, so verwyt die heidene die christene, ‘het Rome nog in sy volle krag gestaan en gebloei, maar nou dat die offers aan julle God die oorhand het, kyk wat is nou die ellende van Rome!’

Om hierdie heidense verwyt aan die kerk te beantwoord, het Augustinus ’n boek van 22 hoofstukke geskryf waaraan hy 13 jaar lank gewerk het - van 413 tot 425. Dit is sy magistrale De Civitate Dei (Die stad van God). Hier vind ons vir die eerste keer vanuit die kerk van destyds ’n antwoord op die aktuele vraag oor die verhouding tussen kerk en staat in die wêreld. Dit is ’n Bybelse visie wat ook aan ons vandag groot hulp vir die regte geloofsinsig in hierdie saak kan gee. In ’n ander geskrif van Augustinus, naamlik sy Retractationes, gee hy die redes vir die grootse De Civitate Dei:

‘Intussen is Rome oorweldig deur die inval van die Gote onder aanvoering van hulle koning Alarik, gepaardgaande met groot rampe. Die aanbidders van baie afgode, mense wat ons gewoonlik heidene noem, het toe probeer om hierdie inval aan die Christelike godsdiens toe te skryf, en toe het hulle nog meer as gewoonlik die ware God begin laster. Brandende van ywer vir God se huis, het ek besluit om hierdie lastering en dwaling in hierdie boeke van die stad van God te beskryf …’

Die Dodelike Wond is Weer Genees (Openbaring 13:3)🔗

Hierdie opmerkings van Augustinus bring op daardie tydstip in die kerkgeskiedenis twee dinge skerp na vore. Eerstens het die heidene na die val van Rome ‘nog meer as gewoonlik die ware God begin laster’. Tweedens het daar vanuit die kerk in Afrika ‘ ’n brandende ywer vir God se huis’ ontstaan.

Die antitese (teenstelling) het skerper geword: aan die een kant groter lastering van die ware God (die wond van Openbaring 13:3 wat genees) en aan die ander kant ’n groter ywer vir die prediking van die Woord.

Die Stad van God (II)🔗

Wie was die Skuldiges in die Val van Rome in 410 nC?🔗

Die ses groot vrae in die wêreldgeskiedenis ná die val van Rome in 410 nC
In die internasionale politiek van destyds, die vyfde eeu (onder die Romeinse superstaat), behandel Augustinus uit Afrika die situasie in ses vrae.

Eerste Vraag🔗

Was die rede vir die val van Rome in 410 nC dat die tradisionele, heidense godsdiens na dertig jaar van christendom verwaarloos is? Was dit omdat die christelike gemeente in die plek van die heidense tempel gekom het?

Augustinus keer hierdie vraag presies om. Die oorsaak van Rome se ellende is juis omdat die afgode nog altyd aanbid en vereer word. Moenie in julle nood en paniek die skuld op die christendom pak nie. Nee, nog lank voor die koms van Jesus Christus het die heidendom van die staat Rome aan die proses van verval meegewerk. Hulle het nie volgens ewige, vaste norme en beginsels geleef nie.

Die Seerower wat deur Alexander die Grote Gevang is🔗

Tweede Vraag🔗

Was die toestand van die Romeinse staat vóór die koms van die christendom nie soveel beter as in 410 nC nie?

In sy De Civitate Dei ontmasker Augustinus die Romeinse geskiedenis van 12 eeue as ’n puur heidense geskiedenis. Nog erger, dit was die geskiedenis van die grootste politieke rowersbende. Augustinus se oordeel oor die Romeinse geskiedenis is só skerp dat hy dit ’n reeks dade van ’n klomp skurke noem. Hy skryf openlik: ‘Wanneer state die geregtigheid opsy skuif, is hulle niks anders as rowersbendes nie’. Dat heidense state hulle mag gewoonlik met geweld handhaaf, illustreer hy met ’n kostelike voorval uit die lewe van die groot imperator-generaal Alexander die Grote.

Toe Alexander (356–323 vC) ’n seerower vang en aan hom vra wat hom besiel om sulke dinge soos seerowery te pleeg, was hierdie man se antwoord brutaal: ‘Generaal, ek doen presies wat jy besig is om te doen. Al verskil is dat ek dit met ’n klein skippie doen, maar jy doen dit met ’n groot vloot!’

Rome ’n Puinhoop – wat van die Toekoms?🔗

Derde Vraag🔗

In die eerste vyf hoofstukke van sy boek, De Civitate Dei, het Augustinus die mislukking van die heidendom en die Romeinse godedom as die groot rede vir die val van Rome in 410 nC beskryf. Nou kom die vraag: Wat nou? Die hoofstad van die magtige Romeinse Imperium het ’n puinhoop geword nadat die Gote dit geplunder het. Wat is nou die toekoms? Vir die christelike kerk is dit op hierdie tydstip ’n uiters belangrike vraag.

Waar die toekoms vir kerk en staat uitsigloos geword het (vergelyk Hieronimus), sonder toekomsperspektief, antwoord Augustinus: Hier het nou ’n vakuum ontstaan, ’n leegte. Hy gebruik die Latynse woord vanitas. Hierdie vanitas, hierdie leegte in die geskiedenis, só sê hy, moet nou gevul word met die Koninkryk van God, met die veritas van die Heilige Skrif - dit is die waarheid van die Evangelie. Só staan die veritas dan teenoor die vanitas, die waarheid teenoor die leegheid, die werklikheid teenoor die skyn. Nou kom die stad van God, die Civitas Dei, die ewige stad waarvan die eindbestemming nie op hierdie aarde bestaan nie, in die plek van die civitas terrena, die aardse stad (staat).

Met hierdie ewige stad van God, die Civitas Dei, hou Augustinus ons aandag in die volgende twaalf hoofstukke van sy boek besig.

Die Stad van God volgens Psalm 87🔗

Vierde Vraag🔗

Waarom praat Augustinus van twee state onder die mensdom? Antwoord: Hy gebruik die Bybel as uitgangspunt - met name Psalm 87:3: ‘Heerlike dinge word van jou gesê, o stad van God!’ Hierdie stad, die Civitas Dei, noem hy ook die hemelse stad. Volgens die twee stede wat teenoor mekaar staan, die stad van God en die stad van die aarde, verdeel hy die mensdom in twee groepe, naamlik hulle wat leef volgens die wil van God (volgens die Woord) en hulle wat leef volgens die wil van die mens (die mens se woord). Die eerste groep, wat leef volgens die Woord, is voortbestem (verkies) om saam met God in sy stad te heers; die tweede groep, wat leef volgens die wil van die mens, sal saam met Satan en met hulle stad die ewige straf ontvang. Die hemelse Jerusalem staan teenoor die aardse Babilon. Dit word alles alreeds op aarde gemanifesteer.

Twee ryke, twee state, twee soorte burgerskap, twee soorte geloof, twee soorte hoop, twee soorte liefdes … In die wêreldgeskiedenis is hulle nog met mekaar vermeng, maar met die oordeelsdag word hulle finaal van mekaar geskei. Dan is dit skape, die ware kerk en bokke, die valse kerk (vergelyk Matthéüs 25:31 e.v.).

’n Nuwe Standpunt in die Kerkgeskiedenis🔗

Augustinus se boek De Civitate Dei was ’n uiters belangrike deurbraak vir die kerk se insig in die verhouding kerk en staat in die vyfde eeu. Vir die eerste keer in die kerkgeskiedenis is daar ’n teoloog wat hierdie brandende onderwerp met mening vanuit die Bybel aangedurf het. Vir die eerste keer in die kerk se dogmatiek, is daar ’n predikant uit Afrika wat die moed het om die Romeinse heidendom op die wêreldforum te ontmasker. Vir die eerste keer is daar ’n kerkleier wat vir die kerk en staat van die vyfde eeu die suiwer koers aangedui het. Ag, as die staat Rome tog maar geluister het; as die kerk van Rome tog maar geluister het! As die Vatikaan van Rome maar hierdie belangrike boek in hulle biblioteek goed gelees het! Ag, as die kerk van vandag maar weer na die stem uit Hippo Regius (Augustinus se stad) wil luister!

Vyfde Vraag🔗

Wie is die enigste regeerder van die kerk en die staat? Vir Augustinus is daar geen twyfel nie, dit is Jesus Christus! Hy is die Middelaar tussen God en die mense, die Skepper en Herskepper, die Formeerder en die Reformator (let op hierdie term, reeds in die vyfde eeu!), die Maker en die Hersteller. Juis op hierdie voortdurende heerskappy van Christus, val alle nadruk. Wat ’n oortuigde uitspraak van Augustinus: Jesus Christus is ten volle en te alle tye en onder alle omstandighede op alle terreine die ewige Koning. Sy koningskap is wel dikwels in die geskiedenis verborge, maar is daarom nooit minder reëel nie.

Dwaling van die Kerkleier Eusebius van Cesarea🔗

Waarom was die christelike kerk en die christendom met die val van Rome in 410 nC só kragteloos, só ontsettend power in sy evangeliese getuienis in die wêreld van destyds? Waarom het selfs die beroemde Hieronimus met die nuus oor Rome se val in sak en as gaan sit en in ’n totale moedeloosheid verval?

Die antwoord lê by die kerkleier Eusebius van Cesarea (265-339 nC). Eusebius was die eerste kerkgeskiedskrywer wat dit in 10 boeke, van Pinkster tot 324 nC, behandel. In hierdie werke het hy die kerk op ’n gevaarlike dwaalweg oor hulle toekomsverwagting gelei. Die grootste van hierdie dwalings was dat Eusebius ’n eensydige chiliasme van ’n 1000-jarige Vrederyk verkondig het waarin die gekerstende Romeinse Ryk gestalte moes vind.

Ons kan dit in eenvoudige verstaanbare taal soos volg stel: Eusebius het die kerkgeskiedenis laat versand in die gebeurtenis toe die christelike godsdiens in 380 nC staatsgodsdiens geword het. Van toe af, so het Eusebius verkondig, het die wonderlike 1000-jarige Vrederyk binne die grense van die Romeinse Ryk aangebreek.

Die Stad van God (III)🔗

God se Raadsplan met Kerk en Staat🔗

Gaan dit oor Uitverkiesing?🔗

In die vorige artikel oor die val van Rome in 410 nC en Augustinus se boek, Die stad van God, het hy vyf belangrike vrae aan die orde gestel. Hierdie keer hoor ons die sesde en laaste vraag: Is daar ’n groter plan agter al die gebeure met Rome? Wat is die doel van alles?

Augustinus antwoord: Die diepste motief van die geskiedenis lê in God se raadsplan. Hier is die antwoord op alles wat met die kerk en die staat in die wêreld gebeur. In sy betoog hoor ons Augustinus, die anti-Pelagiaan, wat konsekwent vashou aan die ander groot val in die geskiedenis van die mensdom - nie die val van ’n stad nie, maar die sondeval! Nog meer: Hy hou vas aan God se besluit om die mens te verlos. Hierdie verlossing is die HERE se diepste motief vir die herskepping. Gedurig is Hy, die almagtige God, in die geskiedenis besig met sy herskepping nadat die skepping deur die sondeval van die mens geskend is. In kort: dit het God behaag!

Die konsekwensie van God se raadsplan is die predestinasie. Augustinus sê dit baie duidelik: Die verskil tussen die twee state - Jerusalem daarbo en Babel hier onder - lê nie in die wilsbeskikking van die mens nie, maar in die ontfermende genade van God! Alleen in sy hande lê die bestemming van mense en volke en state.

Die Belangrikheid van die Jaar 410 nC – Rome se ‘11 September’🔗

Daar is ’n groot verskil tussen die man wat die De Civitate Dei in die vyfde eeu êrens in Italië gelees het en ons wat dit vandag aan die begin van die 21ste eeu in Suid-Afrika lees. Onthou altyd die datum 24 Augustus 410 nC.  Kyk veral goed na twee dinge in daardie tyd, onmiddellik na die val van Rome: die staat se puinhoop en die kerk se klaagtoon. Kyk goed na die kerk se patetiese getuienis; die kerkleiers se ondergangstemming en ongeloof in die toekoms, te midde van ’n wêreldkrisis waarin die Gote baas is oor die Roma aeterna, die sogenaamde ‘ewige Rome’.

In die kerkgeskiedenis was daar nog nooit so ’n boek soos Augustinus se De Civitate Dei nie. Nog nooit het ’n gelowige skrywer by so ’n staatskatastrofe so intens gelyk na bo en onder gekyk nie; nog nooit tegelyk so deurdringend na die verlede, die hede en die toekoms nie. Nog nooit het die ewigheid en die eeue só naby aan mekaar gekom nie. Nog nooit is die profeet en die geskiedskrywer só met mekaar geïdentifiseer as by hierdie biskop uit Afrika nie. In hierdie magistrale boek slaan die weerlig van die evangelie oor die hele wêreld van die politieke geskiedenis.

Die Unieke Betekenis van Hierdie Boek🔗

Die vraag kan gevra word: Wat is die eintlike betekenis van die De Civitate Dei? Om dit deeglik te laat inslaan, gaan ons die antwoord drie keer herhaal: Augustinus se uitgangspunt … sy uitgangspunt … sy uitgangspunt! Dit is die plek waar hy gaan staan het om die kerk en die staat te bekyk; dit is die toring vanwaar hy die kerkgeskiedenis in die wêreldgeskiedenis betrag het; vanuit die huis op die rots het hy die gebeurtenisse van die dag bestudeer. En wat is dit? Die BYBEL, die Woord van God!

Daar is teoloë wat Augustinus vanuit die dogmatiek met kritiek bestorm (soms korrek) … Daar is manne van die staatsfilosofie wat sekere van sy stellinge bevraagteken (ook miskien korrek, byvoorbeeld klein tekens van die Neo-Platonisme) … Maar die uikyktoring waaruit hy kerk en wêreld beskou, naamlik die Woord van God, kan hulle nie omverwerp nie.

Vanuit die Bybel as sy wagpos oorsien Augustinus die hele veld van die wêreldgeskiedenis - destyds, in die vyfde eeu, was dit die geskiedenis van die staat Rome, die twaalf eeue van die civitas terrena, die stad van die wêreld. Hy sien dit ook profeties die toekoms in - die twaalf eeue tot by die Reformasie van die 16de eeu.

En die kerk? Augustinus deurbreek die vals toekomsverwagting van die chilias-profeet, Eusebius, met sy verwagte vrederyk binne die Romeinse staatsbestel. Hy kyk vooruit tot in die newels van die eindtyd en hy preek van die koms van die Civitas Dei, die stad van God in sy volmaaktheid. Die biskop van Hippo Regius sien duidelik, deur die wolke van die mensdom se stryd, die marsroete van God se verbondsvolk - die kerk met haar koning, Jesus Christus.

’n Lig uit Afrika in die Donker Middeleeue van Europa🔗

Alhoewel daar geredeneer kan word dat die Middeleeue tog nie so donker was soos wat beweer word nie, was dit vir die kerk tog donker - die ontwikkeling van die antichristelike pousdom in Rome. In die historiese denke van Israel se profete, die verlossingsgeskiedenis wat soos ’n goue draad deur die Heilige Skrif loop en die toekomsprofesieë van die Nuwe Testament, was Augustinus se boek Die stad van God die lig wat in die skemerte van die naderende donkerheid van die kerk in die Middeleeue geskyn het.

By so ’n geskiedenisbeskouing waarin die Bybel die uitgangspunt en die heilsgeskiedenis as die enigste verklaringsgrond vir kerk- en wêreldgeskiedenis is, kon die Reformasie van die 16de eeu aansluit. Dit is dan ook verstommend in hoe ’n mate die hervormers, met name Calvyn, na Augustinus teruggryp.

Nie die Humanisme met sy bravade dat hy die eintlike mens se betekenis herontdek het nie …

Nie die Renaissance met sy roem dat hy die ou Hellas (Griekse kultuur) en Latium (Romeinse kultuur) weer herontdek het en daarmee na die heidense Roma aeterna, die ewige Rome hier op aarde, teruggegryp het nie …

Maar die Reformasie wat weer die ewige Woord herontdek het … vind deur die newels van die Middeleeuse kerklike verval weer by Augustinus ’n baken om die koers aan te dui.

Die Corpus Permixtum – Vermengde Mensdom🔗

Per slot van rekening bly die geskiedenis van kerk en staat deurgaans ’n geskiedenis deur die geloof, waarvan die burgers van die Godstad, soos Augustinus sê, op aarde steeds met die burgers van die bose stad vermeng is. In ons samelewing op hierdie aarde, so sê hy, leef ons nog in ’n corpus permixtum, ’n vermengde liggaam. Die koring en die kaf is nog nie finaal geskei nie. Die skape en die bokke loop nog deurmekaar.

Die rigting, die koers wat die kerk moet inslaan, is duidelik in die Woord van God aangedui. Die brief aan die Hebreërs beskryf hierdie optog van die gemeente deur die geskiedenis as mense wat na ’n beter vaderland verlang omdat God daar vir hulle ‘n stad berei het (Hebreërs 11:16) - dit is die stad met fondamente waarvan God die boumeester is.

Die ou Romeine het ’n spreekwoord gehad: Ex Africa semper aliquid novi - uit Afrika kom altyd iets nuuts. Hier by ons, in Suid-Afrika, is daar allerduidelike tekens van ’n grootskaalse deformasie; deformasie van die kerk en deformasie van die staat (terug na die heidendom). Is daar ’n Gereformeerde teoloog wat weer vir ons ’n duidelike koers kan aandui - die koers van ’n onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan God se Woord? Een wat nie gereserveerd nie, maar heeltemal buig onder die gesag van die Woord?

Is daar nog ’n kerklike blad wat nie kompromieë met die tydsgees soek nie, maar in leer, diens en tug onvoorwaardelik aan Skrif en Gereformeerde Belydenis vashou - ook met die kerk se verhouding tot die staat?

Die Staat ’n Rowersbende?🔗

Toe Augustinus die geskiedenis van twaalf eeue van die Romeinse staat blootgelê het, het hy dit die geskiedenis van ’n rowersbende genoem. Dit is vanweë hulle voortdurende heerssug en geweld oor kleiner volke en lande - die bou van ’n aardse imperium van mag. Sy letterlike woorde is: ‘Wanneer ’n staat die geregtigheid opsy skuif, is hy niks anders as ’n rowersbende nie’.

In ons eie, huidige situasie sal die christen-burger die toets moet aanlê.

Wat doen die regeerders met die ekonomie? Bevoordeel hulle hulself? Word selfs omkoop en korrupsie ingespan om meer geld te kry as wat hulle toekom - die mentaliteit van ’n rowersbende?

Word die onderwys vir eie gewin, eie ideologie ingespan met leerplanne waar die christelike godsdiens uitgeban word en heidense godsdienste oorneem? Word die tradisionele, feitlike geskiedenis vervang met die marxistiese bevrydingsgeskiedenis? Word taalregte van minderheidsgroepe met opset verwyder? Is dit dan nie die werk van ’n rowersbende nie?

As die mediese dienste en privaat-gesondheidsinstellings deur wetgewing al hoe meer onder die monopolie van die staat kom en van die land se beste dokters buiteland toe gedwing word, word die gewone people nie beroof nie?

As boereplase - soos in Zimbabwe, waar die landbou die ruggraat van die ekonomie gevorm het - eenvoudig sonder kompensasie deur die staat gevat word om nie-boere te vestig en die georganiseerde landbou tot ’n stilstand kom, is dit nie blatante rowery nie?

Sestien eeue gelede het Augustinus reeds gesê: ’n Staat wat nie meer geregtigheid beoefen nie, is ’n rowersbende.

Die Kerk ’n Prostituut?🔗

Sover ons weet, het Augustinus die kerk van die vyfde eeu, wat in sy eskatologie op die voetspoor van die kerkgeskiedskrywer Eusebius hopeloos gedwaal het, nooit ’n prostituut genoem nie. So beskryf Openbaring 17 die vrou op die dier.

Baie opvallend:

In die Franse uitgawe van die Nederlandse Geloofsbelydenis word die valse kerk in artikel 28 beskryf as ’n kerk wat owerspel pleeg en die verbond verbreek; dit op grond van Openbaring 17:3.

Dieselfde belydenis van die valse kerk as ’n onsedelike vrou vind ons in die Skotse Belydenis van 1560 in artikel 18 met Openbaring 17:3 as Skrifgrond.

Ook in die Gereformeerde Hongaarse Belydenis van 1662, hoofstuk 5 artikel 7, word die valse kerk met die prostituut van Openbaring 17:2 vergelyk.

Nou terug by Augustinus se Stad van God. Dit was beslis nog ’n getuienis vir die ware kerk van Jesus Christus. Wat het verder gebeur? Ná Augustinus het die kerk ’n organisasie geword waarin die regeeramp, die biskop, al hoe meer mag gekry het - ’n establishment wat eeue lank deur die pous van Rome geregeer is waarin die plaaslike gemeente geen mag gehad het nie. Ook in die Gereformeerde kerke vind ons in die afgelope eeue dieselfde deformasie (vergelyk byvoorbeeld die Afskeiding 1834, Rustenburg 1859, Doleansie 1886 en Vrymaking 1944). Sinodes word met hulle besluite ‘pouslike regeerders’ oor die plaaslike kerke. Die christelike kerk van die vyfde eeu was nog nie ’n sogenaamde ‘valse kerk’ nie, maar die deformasie van Eusebius met sy tien kerkgeskiedenisboeke het onverpoosd deurgewerk tot in die ‘staatsgesag’ wat die Vatikaan van Rome vandag besit.

Dank die HERE! In die 16de eeu het Hy weer reformasie vir sy kerk bewerk - terug na die Woord! As ons tog ook vandag sal terugkeer na die Woord!