Bron: Die Kerkblad, 2007. 3 bladsye.

Augustinus se Paaspreke

Augustinus

Die beroemde kerkvader van Noord-Afrika, Aurelius Augustinus (354-430), was ’n groot prediker. Hy het byvoorbeeld elke Saterdag en elke Sondag gepreek, tydens alle feesdae, soms elke dag tydens die liturgiese jaar, sommige dae verskillende kere, en in ’n enkele erediens soms verskillende kere. Navorsers bereken dat hy in sy lewe 6 000 keer gepreek het, ander stel die getal selfs op 8 000.

In sy tyd was die twee weke rondom Paasfees vakansiedae, wat dit vir hom makliker gemaak het (let wel) om twee keer per dag te preek. Hy het by geleentheid, in die jaar 407, besluit om ’n reeks Paaspreke oor die eerste brief van Johannes te lewer, en hoewel hy sy bes gedoen het om die brief “deur te preek”, kon hy nie daarin slaag nie, en bly sy bundel preke oor 1 Johannes ’n onvoltooide werk.

Wanneer ’n mens vandag hierdie preke deurlees, is daar twee sake wat opval: die sentrale plek wat aan die liefde toegeken word, en – onlosmaaklik daaraan verbonde – die belangrikheid van die eenheid van die kerk. Natuurlik gaan dit tydens Paasfees oor die Persoon en werk van Jesus Christus, oor die betekenis van sy kruis en opstanding, maar in verband daarmee word gehandel oor die betekenis van die liefde asook die eenheid van die kerk. Is Christus dan nie die uitdrukking van die liefde van God nie, en het Hy dan nie hartstogtelik gebid vir die eenheid van die kerk nie?

Die liefde as sentrale tema🔗

Augustinus sê self dat “daar niks aangenamer is om oor te preek as die liefde nie”. Sy preke oor 1 Johannes is tereg as ’n “loflied op die liefde” beskryf. Geen wonder nie dat latere navorsers dié kerkvader as “teoloog van die liefde” (doctor caritatis) getipeer het. Luister net na enkele aanhalings uit hierdie Paaspreekbundel oor die liefde:

  • “Soos wat ’n mens liefhet, so ís jy ook.”
  • “Die liefde is die voltooiing van al ons werke; dit is die eindpunt; daarom het ons op weg gegaan, daarna is ons op weg, as ons die liefde bereik het, sal ons rus vind.”
  • “... het lief en jy sal niks anders as goed doen nie.”
  • “Die beoefening van die liefde, haar krag, haar bloei, haar vrugte, haar skoonheid, haar sjarme, haar voedsel, haar drank, haar spys en haar omhelsing ken geen versadiging nie.”

Die liefde is vir dié kerkvader só sentraal dat hy ten opsigte van 1 Johannes 4:18 opmerk dat indien daar in die res van die brief en in die res van die Skrif niks meer oor die lof van die liefde te vind was nie, en ons alleen hierdie een uitspraak (“God is liefde”) gehad het, dan hoef ons nie verder te soek nie.

hart in boom

In een van sy ander boeke skryf hy dat indien daar gevra moet word of ’n mens goed is, moet nie eers gevra word wat hy glo en waarop hy hoop nie, maar wat hy liefhet; want die mens wat op die regte wyse liefhet, sal op die regte wyse glo en hoop, terwyl die mens wat nie reg liefhet nie, tevergeefs glo (al is sy geloofsinhoud waar), en tevergeefs hoop (al is die voorwerp van sy hoop werklik).

Die eenheid van die kerk🔗

Die tweede deurlopende tema in hierdie Paaspreke is Augustinus se klem op die eenheid van die kerk van Christus, en daarmee saam sy stryd teen die Donatiste Kerk in Noord-Afrika.

Wie is die Donatiste en waarom was daar in die vierde eeu ’n groot kerkskeuring in Noord-Afrika? Die verhaal lyk kortliks soos volg:

In die jare 303-305 vind daar onder die Romeinse keiser Diocletianus ’n groot vervolging onder Christene plaas. Die keiser eis onder andere dat alle Christene hulle Bybels inhandig. Sommige Christene gee gehoor aan hierdie opdrag (hulle staan later bekend as katolieke Christene/Kerk), terwyl ander dit weier (later bekend as Donatiste, vernoem na een van hulle groot leiers, Donatus).

Hierop volg ’n groot skeur regdeur die kerk van Noord-Afrika, met ‘n Katolieke Kerk enersyds en ‘n Donatiste Kerk andersyds. Die Donatiste beskuldig die Katolieke van verraad teen Christus en die evangelie; hulle beklemtoon die heiligheid van die kerk; hulle begin ook dadelik met herdoop, omdat hulle die doop wat deur Katolieke biskoppe bedien is, nie erken nie. Die Katolieke beklemtoon weer die wêreldwye eenheid van die kerk van Christus; ’n kerk wat net tot een vasteland (Afrika) beperk is, weerspreek tog sy eie belydenis dat die kerk “een” en “katoliek” (d.w.s. “algemeen”) is. (Hierdie stryd laat ons gedagtes 100 jaar teruggaan toe daar ná die Tweede Anglo-Boereoorlog in Suid-Afrika sogenaamde Sap- en Nat-gemeentes ontstaan het.)

Die tragiek van die kerkstryd in Noord-Afrika is dat daar nie werklik diepgaande teologiese en belydenisverskille aanwesig was nie. Almal het dieselfde Bybel gebruik, dieselfde geloofsbelydenis gehad, dieselfde liturgie, dieselfde sakramentsviering (behalwe die verskil oor die doop), dieselfde kerkgeboue, ensovoorts. Iemand het opgemerk: “Slegs ‘haat’ het die Christendom in Noord-Afrika verdeel.”

Hoe benader Augustinus die probleem? Hy neem die liefde as vertrekpunt vir die debat. Die liefde hou immers aan die eenheid van die kerk vas, maar waak ook oor die heiligheid daarvan, welbewus dat daar ook onheiliges in die kerk aanwesig mag wees, en dat die kerk dus ’n “gemengde liggaam”(corpus permixtum) is. “Deur die liefde word iemand lid van Christus en deur die liefde word hy opgeneem in die organisme van sy liggaam,” sê die kerkvader. Wie dus die eenheid van die kerk verbreek, soos die Donatiste gedoen het, al was dit ook met goeie bedoelings, handel liefdeloos. “Van die Donatiste, byvoorbeeld, kan ’n mens onmoontlik sê dat hulle die liefde besit, aangesien hulle die eenheid verskeur het.” Nog skerper: “Hoe kan iemand wat die kerk verlaat, nog in Christus wees, aangesien hy nie meer tot die ledemate van Christus behoort nie?” Die Donatiste het hulle as “beter” Christene as die Katolieke beskou - en vir Augustinus is hoogmoed die wortel en hoogste uitdrukking van alle sonde.

Dit is juis in hierdie verband dat Augustinus een van sy beroemdste uitsprake gemaak het, naamlik “het lief en doen wat jy wil”. Hierdie uitspraak word maklik verkeerd verstaan, maar die bedoeling daarvan is: die (ware) liefde is die beste rigsnoer in die lewe; Christene moet alle mense, ook oppo­nente, selfs vyande, liefhê. Dit geld ook van Katolieke Christene teenoor Donatiste Christene.

Die kerkstryd in Noord-Afrika was ’n hartseer stryd. Na baie debatte en geskrifte en ’n groot kerkekonferensie het Augustinus uiteindelik ingestem dat staatsdwang teen die Donatiste gebruik word om hulle na die Katolieke Kerk terug te dwing - iets wat hom tereg verkwalik word, en waaroor hy later, by wyse van terugskouing, self jammer was. Uiteindelik was daar in Noord-Afrika geen wenner nie. Vandag is Noord-Afrika Moslemwêreld. Sou die uitkoms in Noord-Afrika dalk anders verloop het indien die kerkstryd vermy – of anders hanteer – gewees het? Watter lesse hou hierdie stryd in Noord-Afrika vir die kerk in Suid-Afrika in?

nagmaal

Slot🔗

Paasfees is ’n fees wat uitdrukking verleen aan die eenheid van die kerk, die eenheid met Christus en die eenheid met mekaar. “Omdat ons almal aan die een brood deel het, is ons almal een liggaam.” Juis “daarom moet ons almal wat deur die geloof in Christus ingelyf is, hierdie eenheid in liefde met woord en daad teenoor mekaar bewys”.

Paasfees vertel ons van die eindelose liefde van God vir ’n gebroke wêreld, van Jesus Christus wat sy lewe vir ons aflê, en so ons sonde wegneem; van Jesus wat op die derde dag opstaan, en so die dood vir ons oorwin.

Die Paasgebeure staan in die sentrum van die wêreldgeskiedenis, dis die wentelpunt van die eeue, dis God se nuwe begin op pad na ’n nuwe wêreld. Dis die een fees waarin alle Christene, in die Ooste en in die Weste, nog iets van ’n eenheid ervaar, daardie eenheid waarvan die gekruisigde en opgestane Jesus Christus die sentrum en fokuspunt is.