Bron: Die Kerkblad, 1984. 3 bladsye.

Aurelius Augustinus - 'n Kwajong word Kerkvader

Die korrels uit die uurglas van die geskiedenis word in ʼn hopie herinneringe uitgestrooi op 13 November iewers aan die noordpunt van Afrika. Kom ons kyk vanuit die suidpunt van die kontinent deur die newels van die geskiedenis na 13 November 354 in Tagaste (Noord-Afrika). Ons kan in die gees ná 1630 jaar op die geboorte van ʼn groot, groot figuur uit die bladsye van die kerkgeskiedenis terugskou. Want op Sondag 13 November 354 is die derde kind van Patrisius en Monika gebore in 'n dorpie in die dal aan die Bagradasrivier. Met die geboorte van Augustinus uit die heidense Patrisius en die gelowige Monika, net God ʼn belegging gemaak in menslike gawes wat dividende sou lewer deur die Heilige Gees, tot in die hart en lewe van menige Kerkhervormer bykans 1200 jaar later.

Wilde Man van die Sahara🔗

Augustinus se geboorteplek Tagaste is geleë ongeveer 250 km van Kartago, aan die Noord-Afrikaanse kus, op 'n plato tussen die berge iewers waar vandag die grens van Algerië en Tunisië is. In hierdie plattelandse dorpie in die verre Oos-Sahara groei Augustinus op onder die Christelike opvoeding van sy moeder Monika. Aan die ander kant leer sy pa hom die dinge van ʼn man uit die siel en lewe van ʼn heiden. Tot op 11 jaar groei hy op en gaan skool toe uit sy ouerhuis. Die jonge Augustinus was alles behalwe ʼn liefhebber van skoolgaan. In 365 word hy gestuur na Madaurus, 25 km ten suide van Tagaste, vir verdere skoolonderrig in veral Latyn en Grieks.

Aan die einde van 369 (en 15 jaar oud) keer Augustinus terug na sy ouerhuis. Sy pa het nie geld om hom vir verdere studie weg te stuur nie, sodat Augustinus vir 'n volle jaar tuis niks doen. Saam met sy maats het hulle die strate van Tagaste, veral in die aand, op horings geneem. Lui, traag, opstandig, vol kwajongstreke het hy sy dae (en nagte) verwyl. Sedelik was hy en sy maats ongebonde. Hulle optrede het naderhand gedaal tot die peil van gemene, slegte dade van steel, roof, verniel, aanrand. ʼn Ryk vriend van die gesin, Romanianus, stel egter geld beskikbaar vir Augustinus om in Kartago te gaan studeer.

Dwalend en tot Bekering🔗

In die herfs van die jaar 370 begin sy studies aan die leerskool in Kartago. Saam met sy studie het Augustinus ook sy losbandige lewe met maats voortgesit. Hy het buite-egtelik saam met 'n vrou gelewe by wie hy uiteindelik 'n seun, Adeodatus, gehad het.

Tot verdere droefheid van sy ma sluit hy by die sekte van die Manicheërs aan en hy word een van hulle leiers. Herfs 373 voltooi hy sy studie maar vind geen bevrediging en rus nie. In 374 keer hy terug na Kartago as dosent in Retorika. In sy soeke na waarheid vertrek hy aan die einde van 383 na Rome waar hy privaat lesse aan studente gee.

Met gunstiger omstandighede in die vooruitsig gaan vestig hy hom in 384 te Milaan. Hier maak Augustinus kennis met Ambrosius na wie se preke hy gereeld gaan luister. Hy begin ook nou die Bybel te bestudeer. Veral sy sondige en losbandige verlede rus swaar op sy gewete. Die sielestryd in Augustinus het in heftigheid toegeneem. Die Here lei hom tot bekering en op 25 April 387 word hy in Milaan gedoop.

Hy keer na Tagaste terug, totdat hy in Hippo Regius in 391 presbiter en in 396 biskop van hierdie dorpie aan die Middellandse See word. Hy bly biskop daar totdat hy op 28 Augustus 430 in die ouderdom van 75 jaar en 9 maande oorlede is.

Sy Invloed Strek Baie Ver🔗

Augustinus het van sy toetrede tot die gemeentelike lewe die stryd gevoer teen die dwaalleer van die Manigeïsme, Donatisme en Pelagianisme. Sy stryd en verweer teen hierdie mense kan veral gevind word in die baie, baie geskrifte en boeke wat die lig gesien het. Dit is dan ook hierdeur wat sy invloed in die lewe en denke van die hervormers deurgewerk het.

Dit kon gebeur omdat die geskrifte van Augustinus sedert 1493 in druk verskyn het. Op hierdie wyse kon Martin Luther, Ulrich Zwingli, Oecolampadius, Melanchton, Bucer, Flacius en andere met die gedagtegang van Augustinus kennis maak en daarin deel.

Augustinus en Calvyn🔗

Calvyn was beslis vertroud met die geskrifte van Augustinus en het ook ʼn besondere kennis daarvan gehad.

Dit blyk baie duidelik uit Calvyn se werke. So stel Calvyn ʼn sekere saak in verband met die Tiende gebod en voeg by: "Tot hierdie insig het Augustinus my eerste gebring" (Institusie 2.8.50). Tydens die godsdiensgesprek wat in Oktober 1536 onder leiding van Farel en Viret te Lausanne gehou is, het Calvyn met die grootste gemak groot gedeeltes uit die werke van Augustinus uit die hoof aangehaal.

In sy twisgesprek met die Lutheraan Westphal oor die nagmaal het Calvyn sy standpunt met groot gedeeltes uit Augustinus se werke gestut en versterk. Twee bewyse van Augustinus se invloed op Calvyn se denke kan as voorbeeld uitgelig word:

Die Sakramente🔗

Oor die nagmaal het Calvyn sekere uitsprake van Augustinus oorgeneem. Segswyses soos "die sakrament as die sigbare Woord" en die omskrywing van die nagmaal as "die band van die liefde" kry Calvyn by Augustinus. In hierdie opsig het die Hervorming nie iets nuuts gebring by die formulering van Augustinus nie.

Sonde en Genade🔗

Calvyn het oor die leer van die sonde en genade ook baie by Augustinus geleer. So behandel Calvyn: die verdorwenheid van die menslike natuur, die onmag van die mens wat in sonde geval het om die goeie te doen, die verkiesende genade van God, die feit dat die genade van God nie deur die mens weerstaan kan word nie. En telkens verwys hy na Augustinus en vind steun vir sy eie argumente by hom. Baie duidelik blyk dit dat Calvyn nie lukraak, so terloops, hier-en-daar uit die werke van Augustinus aanhaal nie. Hy doen dit met sorgvuldigheid. Soms baie uitvoerig.

Calvyn het Augustinus se werke gelees en gebruik met die besef dat die kerkvader ook in sy gedagtegang ʼn ontwikkeling deurgemaak het. Deur die jare heen was daar by Augustinus ook groei en groter helderheid oor sake. Calvyn het groot waardering vir die optrede van Augustinus teen die ketter Pelagius. Hy prys Augustinus dat hy die kerk gesuiwer het van die wêreldse gedagtegang van die vrye wil van die mens wat toentertyd aan die orde van die dag was. Toe Calvyn hom moes verweer teen die teoloë van die Sorbonne en Pigius het hy hom voorgeneem om in dieselfde spoor as Augustinus met hierdie saak te gaan. Calvyn beskou hierdie manne ook as 'nuwe Pelagiane' en voel hom, in sy stryd teen hulle, één met Augustinus. Meer as een keer meld hy dat Augustinus volledig "aan ons kant staan".

Calvyn het ook nie gehuiwer om van Augustinus te verskil en kritiek daaroor uit te spreek nie. Calvyn meen dat Augustinus hom soms skuldig gemaak het aan ongeoorloofde spekulasies, soos dit blyk uit die saak van die Goddelike Drie-eenheid. Hy verskil ook radikaal van Augustinus se opvatting oor die aard van die sonde, die noodsaaklikheid van die kinderdoop, die posisie van die biskop as opvolger van die apostels en 'n paar ander sake.

Hieruit is duidelik dat die hervormers in hulle beroep op Augustinus nie klakkeloos en kritiekloos te werk gegaan het nie. Aan Augustinus is nie die laaste en beslissende woord gegee nie. Vir hulle moes dit te alle tye en onder alle omstandighede die Woord van God wees. Aan die Bybel moes die opvattinge van Augustinus elke keer getoets word.

Augustinus se Ryke Betekenis🔗

Wie 'n oog vir Augustinus se invloed op die kerkhervorming het, kom tot die konklusie van watter invloedryke betekenis hierdie kerkvader het selfs 1200 jaar nadat hy geleef het. In Augustinus het ons dus nie te doen met menslike vermoë nie, maar met Gods genade. Gesien teen die agtergrond van Augustinus se aanvanklike lewenswyse blyk dit baie duidelik dat die sukses en invloed in sy lewe alleen deur die krag van die Heilige Gees moontlik was. Daarom dat hy kon se: Die hart vind slegs rus as dit rus vind in God.