Bron: Vox Viva. 1 bladsye.

Barmhartigheid en Gemeente

1. Gemeente en Christus🔗

“Ek ag dit ’n groot wins dat ons weer leer sien het dat die gemeente van Christus ’n diakonale gemeente is. Die hulp aan die naaste is nie, soos vroeër somtyds beweer is, ’n individuele inisiatief nie. Hierdie hulp vloei eenvoudig voort uit die karakter van wie die gemeente is. Sy is immers die volk van Hom wat gekom het om te dien (vgl. Matteus 20:28). Aan hierdie diens van haar Heer het die gemeente haar bestaan te danke. En by hierdie dienende Christus hoort nou ook ’n dienende volk... Dit is nie maar net toevallig dat die Heiland juis kort voor sy sterwe sy dissipels op die hart gebind het:  “ ’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle mekaar ook liefhê” (Johannes 13:34).

Deur Sy liefdesdiens tot in die dood word sy dissipels se diens aan mekaar moontlik. Deur Sy Selfoorgawe kan sy gemeente ’n huis van liefde wees.

Tereg is daarop gewys dat die woord “soos” in Christus se opdrag ’n dubbele funksie het. Aan die een kant gee dit die bron aan, waaruit die liefdebetoon van die leerlinge opkom. Andersyds stel dit die norm, die maatstaf, waaraan hulle liefdesbetoon moet beantwoord. Hulle moet mekaar dienend liefhê volgens die manier van hul Heer”.

  1. Is die gemeente van Christus vandag as gemeente ’n dienende volk in die samelewing? Hoe is dit in u gemeente?

  2. Maak dit saak of dit ’n organisasie (los van ’n kerk) of ’n gemeente is wat barmhartigheid bewys?

  3. Hoekom is dit belangrik dat Christus aan ons die bron en die norm wys vir ons liefdesdiens?

2. Gemeente as Oefenskool🔗

“In 1 Tessalonisense 5:15b skryf Paulus: “... maar jaag altyd ná wat goed is, teenoor mekaar sowel as teenoor almal”.

JP Versteeg teken hierby aan: Al gaan die liefde tot mekaar (in die gemeente) in orde aan die liefde tot almal vooraf, beteken dit nie dat die liefde tot almal van tweederangse betekenis sou wees in vergelyking tot die liefde tot mekaar nie. Inteendeel, die liefde in die gemeente is juis gerig op die liefde tot almal... In haar liefde sal die gemeente altyd ’n lyn moet trek na die wêreld.

Die lewe van die gelowige is ’n eenheid. Dit kan buite die gemeente nie anders wees as wat dit binne die gemeente is nie. Wat binne die gemeente beoefen en beleef mag word, moet na buite uitgedra word aan almal.

’n Mens sou kon sê dat die liefde tot mekaar in die gemeente ’n oefenskool is vir die liefde teenoor almal buite die gemeente. Petrus sê immers in sy tweede brief so: “met aanwending van alle ywer ... deur die godsvrug die broederliefde, en deur die broederliefde die naasteliefde” (2 Petrus 1:7).

Volgens Petrus lei die een tot die ander. Deur die godsvrug kom die broederliefde voort, en deur die broederliefde die liefde tot almal!”

  1. Sou ons dus kon sê: As daar geen liefde tot die mense buite die gemeente is nie, dan is daar ook nie werklik liefde tot mekaar in die gemeente nie?

  2. Is dit vir u moeilik om u lewe binne en buite die gemeente ’n eenheid te hou? Waarom en waarin?