3 bladsye.

Bekering is om te Kies

Sleutels

‘Nee’, sê Pieter, ‘ek is nog nie reg om belydenis af te lê nie.’ Verbaas kyk sy leeftydgenote na hom. Die dominee het kort tevore die onderwerp aan die orde gestel. Almal was in die oudste katkisasiegroep. Dit was amper ʼn feit dat Veronica nie belydenis van geloof sou aflê nie, maar oor die ander was daar feitlik geen twyfel nie.

‘Wat gaan aan met jou?’ vra Inge geskok, ‘Mag ons weet hoekom?’

‘Natuurlik’, antwoord Pieter met vrymoedigheid, ‘ek is nie bang om met julle daaroor te praat nie. Ek is nog nie gereed daarvoor nie. Wanneer jy belydenis van jou geloof aflê, kies jy vir ʼn lewe saam met God. Dan moet jy ook volgens God se wil begin lewe. En ek voel dat ek nog te veel dinge doen wat God nie gelukkig maak nie.’

Sy vriende luister verbaas na hom. Is Pieter besig met dinge wat God nie goedkeur nie? Maar hy is dan presies dieselfde as ons. Is daar iets skelms wat hy wegsteek?

‘As jy nie hieroor wil praat nie, moet jy so sê’, meng Herman in by die gesprek, 'maar waarmee is jy dan besig wat God nie goedkeur nie?’

‘O, dit is nie ʼn geheim nie en ook niks skelms nie’, sê Pieter, ‘maar ek kan my nie voorstel dat dit vir God reg is as ek saam met julle na sekere video’s sit en kyk nie. Volgens my hoort dit ook nie by ʼn gelowige lewe om Saterdagaande, tot diep in die nag, in nagklubs rond te hang nie. God sal beslis ook nie gelukkig wees wanneer ek ná vyf biere huis toe bestuur en dan ook nog die volgende oggend met ʼn vakerige kop in die kerk sit nie.’

Herman onderbreek vir Pieter en sê: ‘Ja, maar ons maak mos almal so, dit is tog niks snaaks nie? Hoekom maak jy nou so ʼn probleem daarvan?’

‘Dit is juis waaroor dit gaan,’ sê Pieter, ‘dit is vir my moeilik dat ons dit as normaal aanvaar. Verstaan my mooi, ek self dink ook dat dit ‘normaal’ is, maar wanneer ek daaroor nadink, is dit nie reg nie. Dit hoort nie by ʼn lewe waar God in beheer is nie. Daarom glo ek dat ek my lewe moet verander voordat ek geloofsbelydenis kan aflê.’

Herkenning?🔗

Geloofsbelewing is vir elke Christen ʼn ingewikkelde saak, dus ook vir ʼn jong Christen. Vanselfsprekend is daar onverskilliges vir wie niks ʼn probleem is nie. Hulle leef hul lewe en geniet van enige iets wat op hul pad kom. Maar gelukkig is daar nie soveel van sulke jong mense in die kerk nie. Die meeste jongmense wil nie die band met God en sy gemeente verloor nie. Tog lok die onstuimige, bruisende lewe met alle moontlike middele tot sy beskikking. En wanneer dit oor die gedrag van sommige jongmense gaan, moet ’n mens die dinge ook soms by die naam noem: Slegte films, oormatige drankmisbruik, diskobesoeke, taalgebruik ens.

Wanneer hierdie onderwerpe ter sprake kom, loop dit op hewige diskussies uit. Dit is immers moeilik om ʼn grens te trek wanneer TV en video’s gekyk word: na wat mag jy wel en na wat nie kyk nie? Oor die onderwerp van drank hoor ’n mens byvoorbeeld gereeld: Één persoon kan meer hanteer as ʼn ander.

disko

Maar tydens die bogenoemde gesprek by die katkisasieles, is hierdie dinge skielik in ʼn ander lig geplaas.

Herman is ʼn gewone Christen-jongman, soos baie ander. Hy is meelewend, betrokke en voel ten volle deel van die gemeente. Tog ervaar hy glad nie enige spanning tussen sy Christen-wees en sy gedrag nie.

Vir Pieter is dit anders. Hy het bewus gaan sit en nadink: Wat beteken dit wanneer jy kies vir ʼn lewe saam met God?

Beide jongmans is baie bewus van wat sonde is: wanneer jy rêrig te ver gaan. Hiervan het hulle ook ondervinding en hulle weet hoe om daarmee om te gaan: Skuld vra berou, en daarna is dit ook nodig om vergifnis te vra.

Maar dat bekering nog ʼn ander kant het, beleef hulle verskillend.

Bekering🔗

Tydens katkisasie leer jy al baie vroeg dat bekering beteken om jou rug na die sonde te draai en met jou gesig na God te kyk. En uit bostaande gesprek sien ons dat Christene oor die algemeen baie ervaring het met sonde en vergifnis. Sonde moet bely en bestry word.

Maar die gevolge van ʼn lewe toegewy aan God, is prakties baie moeiliker om te beskryf.

Herman sal tipies sê: ‘Wat is nou daarmee fout om na ʼn spannende film te kyk?’ En ja, soms soek ons iets wat ʼn bietjie grof is. Ons kan mos nie altyd na ‘Sound of Music’ kyk nie. ʼn Bietjie kaal en ʼn bietjie bloed is tog nie so erg nie?

Die motto van hierdie lewenshouding is: ‘Dit moet moontlik wees.’ Jy wil rêrig lewe vir God, maar God moet ook so nou en dan Sy oë kan toeknyp.

Maar Pieter voel aan dat dit nie reg is nie. Natuurlik kan jy argumenteer oor wat wel en wat nie verantwoordbaar is nie, maar wanneer jy voor God staan, verander jou lewe. Dan vra jy nie meer waarmee jy nog kan wegkom nie, maar jy oordink: ‘Wat vra God self van my, wat maak Hom gelukkig?’

Ja, en dan besef jy dat as jy daarna streef, jy nog steeds baie tekortkominge het. Maar dit is nie erg nie. Hierdie besef is normaal by ʼn lewe waar egte bekering ʼn rol speel. Ondanks alles rig jy jou lewe so in, dat jy altyd rekening hou met wat God van jou vra.

Om te Kies🔗

Die hele lewe bestaan eintlik uit keuses maak.

Wanneer jy ʼn ekstra biertjie drink terwyl jy nog moet bestuur, kies jy teen die wet. Wanneer jy op ’n sekere manier praat, kies jy jou woorde. Wanneer jy ʼn toegangskaartjie vir die bioskoop koop, kies jy daarvoor om daardie fliek te gaan kyk.

Nie elke keuse wat jy maak is ewe sleg nie, maar dit is wel ʼn keuse.

Herman sê: ‘Sulke keuses maak ek vanuit myself en ek kies waarvan ek hou. Wanneer dit ʼn verkeerde keuse is, dan is dit nog vroeg genoeg om vergifnis te vra.”

Pieter sê: ‘Aan alle keuses gaan ʼn ander keuse vooraf. As jy jou lewe vir God gee, beteken dit dat Hy seggenskap in jou lewe het. Dus maak jy jou keuses saam met Hom.’

Pieter besef dat jy nie keuses kan maak sonder God, as jy ernstig gekies het vir ʼn lewe saam met God, nie. Dan sal jy elke keer weer moet vra: ‘Vader in die hemel, wat wil U hê moet ek doen?’

Eers wanneer jy so kies, kan jy as Christen verantwoordelike keuses maak op elke lewensterrein.

verskillende deure

Bekering🔗

As gereformeerdes haat ons dit om oor bekering as ʼn eenmalige moment in jou lewe te praat. Ons vra nie vir mekaar: ‘Wanneer het jy tot bekering gekom?’ nie.

Tog is Pieter reg: Wanneer jy kies vir God, moet jou lewe ʼn ander fokus hê.

Dit het min waarde om ʼn bekeringsmoment aan te wys. Tog sal jy, wanneer jy vir ʼn lewe met God kies, die magtige teken van die doop jou eie moet maak. Jou ou lewe begrawe en jou nuwe lewe begin. Wie sy doop so leer verstaan en aanvaar, gaan soos ʼn wedergebore mens voel: soos ʼn nuwe mens.

Hierdie nuwe mens oorwin die oue. Dit beteken dat jy jou nie meer laat beïnvloed en meesleur deur die aanloklikhede van die wêreld en jou eie begeertes nie. Nee, dit verander. Jy roei stroom op deur die krag van die Heilige Gees.

En die Heilige Gees leer jou om die regte vrae te vra: ‘Here God, wat wil U hê moet ek doen?’

Om te lewe beteken om keuses te maak. Bekering leer jou hoe om dit te doen, naamlik dat jy vir God moet kies.

Jy weet ook hoekom: want God het vir jou gekies.

Ek hoop dat Pieter nie net homself nie, maar ook sy vriende aan die dink gesit het. En, deur middel van hierdie artikel, miskien ook sy ouers en hul leeftydsgenote!