2 bladsye.

Beloonde Prestasie

Sommige woorde val vreemd op die gereformeerde oor. Soos ‘verdiende loon’ en ‘menslike prestasie’. ’n Mens se gereformeerde voelhorinkies tel ’n vibrasie op wat sê: versigtig nou. Die gevalle mens verdien immers slegs een loon: tydelike en ewige dood. Die sondaarmens is - so bely ons op grond van die Skrif - uit homself tot niks goeds in staat nie. As dit so is (en dit ís so), is dit dan nog reg om te praat van ’n prestasiebonus by die werk, of ’n prestasie op die sportveld of ’n prestasiebeurs van die universiteit? Moet ons nie ’n radikale ommekeer in ons denke en woordeskat en optrede maak nie?

Soos met alles in die lewe, moet ook hierdie saak aan die vaste norm van die Skrif gemeet word. Die eindresultaat van die toets mag bes moontlik verrassend wees - ook ten opsigte van ons gereformeerde voelhorinkies wat nooit sensitief genoeg kan wees om alle moontlike golwe en golfies op te tel nie.

Prestasie🔗

Prestasie is ’n woord met ’n Latynse oorsprong. Praestere beteken letterlik: om voor (prae) te staan (stere). Iemand wat presteer is iemand wat op ’n bepaalde punt voor ander mense staan. Hy onderskei hom van die gemiddelde mens op grond van iets wat hy doen wat ander nie (kan) doen nie. So het Paulus gepresteer toe hy vier sendingreise onderneem het - iets wat geen ander apostel hom nagedoen het nie.

Het Paulus uit eie krag vier sendingreise onderneem? Geensins. Alles is uit God en deur God en tot God. Dit bely hy self (Romeine 11:36). Tog presteer hy. God laat hom presteer. En nie net vir hom nie, maar ook vir Josef in Egipte, Dawid in Israel en Daniël in Babel. Almal mense met uitsonderlike gawes wat gebruik word om hoë hoogtes in die samelewing te bereik.

Beloning🔗

Dit is opvallend dat God sy kinders nie net laat presteer nie. Hy beloon ook die prestasie wat gelewer word. Daarvan is die opgang wat Josef, Dawid en Daniël onderskeidelik gemaak het, klinkklare bewyse. God beloon met nuwe werkgeleenthede, groter inkomste, meer invloed, dieper insig. Beloning is materieel sowel as geestelik (Prediker 4:9; Lukas 10:7; 1 Korinthiërs 3:8).

Die vraag is egter: wat doen die mens verder met die beloning wat hy of sy ontvang? Die gelykenis van die talente (Matthéüs 25) lei ons in ’n sekere opsig na ’n antwoord op dié vraag. Wie presteer, word beloon - sodat hy met sy beloning verder kan presteer. En opnuut beloon word. En nog verder kan presteer. Vir die verloste Christen kan beloning nooit ’n eindpunt van selftevredenheid wees nie. Beloning is Godgegewe genade.

Dit inspireer ’n mens tot groter diensbaarheid en harder werk. Die Here skep nuwe ruimtes in die lewe, sodat daar nog meer ontwikkeling van vermoëns kan plaasvind. Wie só - in die lig van die Skrif - na beloning van prestasie kyk, besef dat daar beslis Godgegewe ruimte daarvoor is om gelowige kinders van die Here, wat hulleself in ’n bepaalde opsig onderskei, die nodige erkenning te gee.

In die Wêreld🔗

’n Mens besef egter ook dat die voetangels baie is. Ons goddelose leefwêreld floreer op die gedagte dat prestasie beloon moet word. Dit ontbreek nie aan die oorweldigende hoeveelheid gelukwensings, handeklappe, prysuitdelings, sertifikate, bekers, medaljes, linte, balkies, merietetoekennings (dikwels na aanleiding van selfgeskrewe merieteverslae!), beurse, bevordering en goue handdrukke nie. Daarmee saam is daar geen gebrek aan verskyning op ’n rostrum of ’n verhoog, die aanwys van ’n victor en victrix ludorum, die uitdeel van handtekeninge, die blootstelling by wyse van koerant en TV en die oprig van standbeelde nie.

Die verskil tussen Skriftuurlike beloning van prestasie en die onskriftuurlike beloning van prestasie is hemelsbreed en nie moeilik om raak te sien nie. Godgesentreerde diensbaarheid staan lynreg teenoor mensgesentreerde selfbevrediging. Eer aan God is duidelik onderskeibaar van mensverheerliking. Aansporing tot verdere diensbaarheid, voortgang in heiligmaking, doen van goeie werke uit dankbaarheid vir die volkome verlossing in Christus is radikaal anders as die opbou van ’n eie koninkrykie, voortgang in selfverheffing, najaag van eie ideale om die hoogste sport te bereik. Selfs op ’n bloot menslike vlak is die verskil ooglopend. Die gelowige span die beloning van prestasie tot nut en heil van sy naaste in. Prestasie kan en mag nie tot hoogmoed (en onlosmaaklik daaraan verbind verkleinering van die naaste, al is dit net in gedagte) lei nie. Dit moet veel eerder tot intenser diensbaarheid bydra. Die ongelowige daarenteen het slegs een doel voor oë: wenners, wenners, wenners wil ons wees - al is dit ten koste van ander.

Tweede Bede🔗

Christus leer ons bid: Laat u koninkryk kom. Dié gebed het alles te doen met talente en gawes, met inspanning van kragte en ontwikkeling van die skepping. Die koninkryk van God kom wanneer die Christen-gelowige presteer, en vir daardie prestasie beloon word sodat hy verder kan presteer.

Beloonde prestasie ongereformeerd? Beslis nie! Wat die gereformeerde voelhorinkies wel moet optel, is die vibrasie van mensgesentreerde prestasie. Verder moet die voelhorinkies baie sensitief daarvoor wees dat God se kinders in hulle dienswerk na reg waardeer en erken word. Dit behoort ’n louter voorreg te wees om mekaar as kinders van God in ontplooiing van gawes aan te spoor. Nie om heuning om die mond te smeer nie. Wel om aan God die eer te gee vir die werk wat Hy in en deur sy kinders doen.