Bron: Die Kerkblad, 1986. 2 bladsye.

Belydenisgeskrifte Ons Kosbare Goud

Die Gesonde Leer🔗

Net soos 'n mens liggaam­lik siek of gesond kan wees, kan jy ook geestelik siek of gesond wees. Enig­iemand wat die kennis of die handhawing van die kerklike belydenis ver­waarloos, loop gevaar om geestelik ernstig siek te word. In die Bybel word die belydenis aangedui as "die gesonde leer" 1 Timoteus 1:10, 11; 2 Timoteus 4:3; Titus 12:19). En dan word dieselfde woord ge­bruik as die woord wat ge­bruik word vir iemand wat liggaamlik gesond of sterk is. Wie vashou aan die belydenis is nugter, gebalan­seerd, suiwer en gesond in geestelike sin. So was dit met die Gereformeerde kerkvolk in die geskiede­nis. Totius verklaar dat die belydenis die grond is waarin ons groei. Die "Doppers" was mense wat gedrenk en geanker was in die Gereformeerde leer. Dit het aan hulle "ge­reformeerde voelhorings" gegee om die dwalinge te bemerk en vas te hou aan die waarheid van die Woord. Dit bly een van die opmerklike feite van die kerkgeskiedenis dat met die stigting van die Gereformeerde Kerk in 1859, behalwe vir ds. Postma wat vanaf Nederland ge­kom het, geen enkele pre­dikant in verset gekom het teen die dwaalleer in die kerk nie. Dit was die gewone kerkvolk wat bereid was om alles op te offer vir 'n kerk wat in die leer, diens en tug sou terugkeer na dit wat veral op die Dordtse Sinode aanvaar en vasgestel is.

Belydenis in 'n Krisis🔗

Die belydenisskrifte ont­vang steeds besondere klem in die Gereformeer­de kerke in Suid-Afrika. Katkisante ontvang deeg­like onderwys uit die Kate­gismus en ander belyde­nisskrifte. Die gereelde Kategismusprediking gaan deur.

Dit is egter ook 'n tra­giese feit dat die belydenis al hoe meer in die krisis kom. Ken en waardeer ons nog die skat van ons bely­denis? Waarom bemerk ons dan dikwels by katki­sante 'n weerstand wan­neer 'n deeglike kennis van die belydenisskrifte verwag word? Waarom word die eredienste waar die kategismus in die pre­diking aan die orde gestel word steeds swakker by­gewoon? Hoeveel lidmate bestudeer nog uit hulle eie die belydenisskrifte?

Daar is in ons tyd ook al hoe meer mense wat meen die belydenis het verou­derd geraak. Dit is tyd vir 'n nuwe belydenis. Ander meen die belydenis is nie meer so belangrik nie. Die beklemtoning van die be­lydenis werk volgens hulle verstarring en geestelike doodsheid in die hand. Die Gees moet vry wees om te waai waar Hy wil. Ons moet die klem nie meer so sterk op die leer laat val nie maar op die lewe.

Aktualiteit🔗

Is dit so dat die belydenis verouderd is? Het dit tyd geword vir 'n nuwe bely­denis? 'n Opname van die vernaamste dwalinge van ons tyd bevestig juis die teendeel. Die belydenis is vandag meer as ooit ak­tueel. Hoeveel predikante kan getuig dat vrae en probleme waarmee lid­mate worstel juis vanuit die belydenisskrifte helder en duidelik beantwoord kan word. Daar word van­dag geworstel met sake soos die gesag van God se Woord, die stryd rondom die kinderdoop, die vrye wil van die mens (in die lig van die groei van die Cha­rismatiese beweging), die leer van die Drie-eenheid (o.a. teenoor die toene­mende bedreiging van die Islamgodsdiens) en die verhouding tussen kerk en staat (in die lig van ons huidige politieke situasie). Op al hierdie vraagstukke gee die belydenisskrifte steeds duidelik die leer van die Skrif. Ons moet al­leen maar daarin delf om die "kosbare goud" van die Gereformeerde leer opnuut te ontgin.

'n Nuwe Belydenis?🔗

Daarom hoef ons ons oor 'n nuwe belydenis nie so moeg te maak nie. Indien die kerk met dwalinge te doen kry waarop nog nooit 'n antwoord gegee is nie, sal die Heilige Gees die kerk lei in die formulering van die waarheid van die Woord. 'n Belydenis word gebore, nie gemaak nie. En in 'n tyd van geestelike vervlakking en leervry­heid kan menslik gesproke moeilik verwag word dat 'n nuwe belydenis die lig sal sien.

Leer en Lewe🔗

Is dit verder so dat die leer en die lewe teenoor me­kaar gestel kan word? Is dit so dat iemand wat nie erns maak met die belyde­nis nie, tog vroom en onberispelik kan lewe? In die Bybel word die leer en die lewe juis ten nouste aan mekaar verbind, en op geen manier van mekaar losgemaak nie. Paulus handel in 2 Timoteus 3 oor die laaste dae waarin daar swaar tye sal kom vanweë die toenemende afvallig­heid en wetteloosheid. Hy gee as rede juis die feit dat die mense die "gesonde leer" nie meer sal verdra nie (2 Timoteus 4:3, 4). En wanneer Titus die opdrag ontvang om te "verkondig wat in ooreenstemming is met die gesonde leer" (Titus 2:1) is dit nie al­leen met die oog op die be­stryding van die dwaling nie (Titus 1:10-16), maar juis ook met die oog op die pastorale bediening van die gemeente (Titus 2:2-10). Die valse dogmatiek bring ook 'n valse etiek. Die "gesonde leer" is onmisbaar vir 'n "ge­sonde lewe".

Belydenis en Bybel🔗

Ons Gereformeerdes word dikwels daarvan beskul­dig dat ons die belydenis beklemtoon ten koste vas die Bybel. Dit is inderdaad 'n vals beskuldiging. Wie die belydenis en die Bybel teenoor mekaar stel, is be­sig met 'n valse probleemstelling. Die woord belyde­nis beteken in die oorspronklike taal letterlik: om dieselfde te sê. Die ge­sonde leer is in ooreen­stemming met die evange­lie (1 Timoteus 1:11). Die bely­denisskrifte is niks ander nie as die suiwere vertol­king van die Skrif. Die­gene wat die belydenis nog altyd ten alle koste wou handhaaf, is dan juis ook diegene wat alleen maar uit die Skrif wou leef. In dieselfde gedeelte waar Paulus handel oor die on­feilbare Goddelike inspi­rasie van die Skrif (2 Timoteus 3:16) beklemtoon hy juis ook die handhawing van die "gesonde leer" (2 Timoteus 4:2, 3). Die belydenis is ons leidsman en ons toets­steen om te verseker dat ons bly by die waarheid van God se Woord.

Plek van die Belydenisskrif­te in Ons Lewe🔗

Dit is een van die grootste gevare wat ons bedreig dat die kennis en die handhawing van die belydenis by ons verflou. Ons kan die Here nie genoeg dank vir die skat van ons Gere­formeerde belydenis nie. Die handhawing van die suiwere leer is die diepste geheim vir 'n gesonde kerklike lewe. Calvyn noem die suiwerheid van die leer "die siel van die kerk". Vir hierdie belyde­nisskrifte was mense be­reid om te sterf. Met die opsteller van die Neder­landse Geloofsbelydenis, Guido de Bres, het dit in­derdaad gebeur. Die bely­denisskrifte is geskryf met die bloed van martelare. Dit dra die reuk van brandstapels. Dit het die toets van die eeue deurstaan.

In 'n Suid-Afrika, waar die afvalligheid en leervry­heid elke dag toeneem, is dit ons enigste antwoord en vaste anker: die waar­heid van God se ewige on­feilbare Woord en dit wat die skat van ons Gerefor­meerde belydenis ons leer.