Bron: Kompas. 5 bladsye.

Betekenis van Begrawe

In die Heilige Skrif word die verbranding van die menslike liggaam altyd in verband bring met die bediening van God se wraak. Hierdie wraaksbediening hou God vir Homself uit as alleenreg. Daarteenoor verkondig die Woord ook die betekenis van ʼn begrafnis.

Die Here begrawe vir Moses🔗

"Toe het Moses, die kneg van die HERE, daar gesterwe in die land Moab, volgens die bevel van die HERE. En Hy het hom in die dal van die land Moab, teenoor Bet-Peor, begrawe; en niemand het tot vandag toe sy graf geken nie." (Deuteronomium 34:5-6)

Moses, saam met die profeet Elia, wat jare na hom geleef het en opgevaar het sonder om te sterf of begrawe te word, neem 'n besondere plek in binne die Ou Testament. Beide verskyn saam met Jesus Christus op die berg. Saam verteenwoordig hulle die Ou Testamentiese kerk, wat genoem word Moses en die profete.

Toe die Satan op Moses se liggaam beslag wou lê, het die Here deur die aartsengel Migael die Satan bestraf:

"Maar toe Migael, die aartsengel, met die duiwel in woordestryd was oor die liggaam van Moses, het hy geen oordeel van lastering durf uitspreek nie, maar het net gesê: Die Here bestraf jou!"

Judas 1:9

Dit is duidelik dat die bewaring van Moses se liggaam vir God belangrik is. Dit is omdat Hy sy kinders volledig wil red, na siel, liggaam en gees. Die feit dat God self vir Moses begrawe en die Satan keer om sy liggaam op te eis, beteken dat die dooie liggaam van 'n gelowige vir die Here belangrik is. Sy belofte is ook aan die liggaam van 'n gelowige verbind.

God beveel begrafnis🔗

God beveel selfs dat iemand wat die doodstraf gekry het, begrawe moet word, aangesien die land, waar die erfenis van God gegee is, nie verontreinig mag word nie:

En as in iemand 'n sonde is wat die doodstraf verdien en hy gedood word en jy hom aan 'n paal ophang, dan mag sy lyk nie aan die paal oornag nie, maar jy moet hom sekerlik die dag nog begrawe; want een wat opgehang is, is deur God vervloek. En jy mag jou land wat die Here jou God jou as erfenis sal gee, nie verontreinig nie.

Deuteronomium 21:22-23

Daarom gaan al die dapper manne van Jabes in Gilead en gaan haal die lyk van koning Saul wat die Filistyne aan die muur van Bet-San, 'n afgodstempel vasgeslaan net. Hulle het wel die stinkende lyk verbrand, maar daarna het hulle die bene tog begrawe:

… en hulle het die lyk van Saul en die lyke van sy seuns van die muur van Bet-San afgehaal en by Jabes gekom en hulle daar verbrand. En hulle het hulle gebeente geneem en onder die tamarisk in Jabes begrawe en sewe dae lank geween.

1 Samuel 31:12-13

Bêre die bene🔗

Die feit dat die Ou Testamentiese kerk reeds van vroeg af hulle dooies begrawe het, is nie maar 'n bloot kulturele handeling nie. Hulle het besef dat God se beloftes aan die beloofde land, en daarom God se beloftes oor die beloofde Messias, Jesus Christus, ook baie nou gekoppel is aan die liggame van die gelowiges.

Die Here self profeteer oor Abraham dat hy begrawe sal word: "Maar jy sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe word." (Genesis 15:15). Abraham is dan ook begrawe in die grot van Magpéla: "En sy seuns Isak en Ismael het hom begrawe in die spelonk van Magpéla, in die stuk grond van Efron, die seun van Sofar, die Hetiet, wat oos van Mamre lê." (Genesis 25:9).

Selfs Josef, wat in Egipte gesterf het, is gebalsem en in 'n kis begrawe. Hy laat sy seuns egter 'n merkwaardige belofte aflê oor sy beendere:

"En Josef het die seuns van Israel laat sweer en het gesê: As God sekerlik op julle ag gee – bring dan my gebeente hiervandaan op. En Josef het gesterwe honderd en tien jaar oud. En hulle het hom gebalsem, en hy is in 'n kis gesit in Egipte."

Genesis 50:25-26

Vierhonderd jaar later neem hulle dan ook sy bene, wat al die jare in die graf gebêre was, saam, aangesien die beloftes van God, wat in Jesus Christus vervul word, ook aan ons liggame gebind word.

Begrafnis wag vir beloftes🔗

Wat jy met jou liggaam doen, is belangrik vir God. Hy kyk of jy glo dat sy beloftes van 'n hoopvolle toekoms ook vir jou belangrik is. Josef het geglo in God se belofte, daarom het hy hom laat begrawe en gevra dat sy bene saamgeneem word:

"En Moses het die gebeente van Josef met hom saamgeneem; want hy het die kinders van Israel plegtig laat sweer en gesê: God sal sekerlik op julle ag gee; bring dan my gebeente saam met julle hiervandaan op." (Eksodus 13:19). Deur 'n begrafnis getuig 'n gelowige dat daar opstanding wag wat in Christus vir hom of haar liggaamlik belowe is.

Wag vir die opstanding🔗

Dit is dan ook wat die dood, begrafnis en opstanding van Jesus Christus verkondig. Deur die begrafnis word aangetoon dat Hy werklik dood was, maar deur die opstanding word getoon dat die dood Hom nie kon vashou nie. Begrafnis is dus die gelowige se manier om aan te toon dat hy op 'n opstanding wag, wat vir hom deur die opstanding van Jesus Christus 'n werklike moontlikheid geword het.

Nie net die lewende liggaam is die tempel nie, maar die dooie liggaam moet ook begrawe word om te wag op die opstanding, want dit is dieselfde liggaam wat sal opstaan in heerlikheid. Daarin het Christus die gelowiges voorgegaan. Die dooie liggaam, wat begrawe is, is ook bedoel om steeds deel te wees van die liggaam van Christus:

En God het die Here opgewek en sal ons opwek deur sy krag. Weet julle nie dat julle liggame lede van Christus is nie?

1 Korintiërs 6:14-15

Wie die dooie liggaam verbrand, slinger vuur na Christus self. Dit terwyl Christus die vuur van die hel verduur het, sodat die liggaam nie die helse vuurpyn en verderf hoef deur te gaan nie.

Menslike liggaam is nie 'n oorskot nie🔗

Die Here openbaar dat die liggaam van die mens vir Hom anders in waarde is as byvoorbeeld die liggame van diere. Die mens is nie 'n denkende dier nie: "Alle vlees is nie dieselfde vlees nie, maar die vlees van mense is anders as die vlees van vee, en die van visse anders as die van voëls." (1 Korintiërs 15:39). Hier word nie soseer net biologiese verskille bedoel nie, maar ook dat die menslike liggaam deur sy bloed die draer van die siel is. Wat by die diere ook voorkom, maar wat by die mens iets bykomends is, is naamlik dat die mens die asem van die lewe in sy neusgate het. Daardeur is die mens na die beeld en die gelykenis van God geskape.

Tempelbrand🔗

God openbaar ook dat die mens se liggaam en gees God se tempel is. Die gelowiges wat met die Heilige Gees deur Jesus Christus gedoop is, is die tempel van God. God woon letterlik in hulle liggame. God se bedoeling is nie dat dit 'n tydelike bewoning moet wees nie. Al skeur die dood die liggaam en gees van die mens uitmekaar, is die liggaam ook deel van die tempelwees van God. Daarom geld die waarskuwing ook dooie liggame as God sê Hy sal skend wie sy tempel skend. Die Here stel dat die liggaam vir Hóm daar is: "En die liggaam is nie vir hoerery nie, maar vir die Here, en die Here vir die liggaam." (1 Korintiërs 6:13). God bind Homself ook aan die liggame van gelowiges, waarop Hy as Skepper ook volle reg het, en waarin Hy as Vader ook deur sy Heilige Gees wil woon.

Geestelike liggaam soos 'n koringkorrel gesaai🔗

Die apostel Paulus verkondig ook dat daar 'n verheerlikte liggaam wag vir die gelowiges na die opstanding. Hierdie verheerlikte liggaam is dieselfde as wat ons nou het, maar sonder die effek van die sonde of sonder die moontlikheid dat die dood weer die liggaam kan beskadig. Die apostel gebruik dan ook die beeld van 'n koringkorrel wat gesaai word (1 Korintiërs 15:35-38). Soos wat die korrel eers doodgaan in die grond, so ontkiem daar 'n saadjie uit dieselfde korrel, en word die dooie korrel 'n lewende koringplant met koringare. So is daar 'n verband tussen die liggaam wat ons nou het, voor die graf en die dood, en die liggaam wat ons sal ontvang by die opstanding. Dit is dieselfde liggaam, maar heeltemal anders. Daarom mag die liggaam nie verbrand word nie. Die verbranding van die liggaam is die bediening van die oordeel van God oor die liggaam. Dit kom geen mens toe om daardie oordeel aan 'n ander mens se liggaam te bedien nie. Dit is slegs Jesus Christus wat dit by die oordeelsdag aan sy vyande mag doen. Dit kom alleen God toe.

As jy die belofte glo dat jou eie liggaam dieselfde een sal wees wat sal deel in die heerlikheid van Christus, maak dit nie sin nie, inteendeel, beledig dit God, as jy die wraaksimboliek aan die liggaam toeberei. Eerder moet die liggaam begrawe word in afwagting van die opstanding. Die verganklike liggaam word onderskei van die geestelike liggaam:

"So is die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid; daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag. 'n Natuurlike liggaam word gesaai, 'n geestelike liggaam word opgewek. Daar is 'n natuurlike liggaam, en daar is 'n geestelike liggaam."

1 Korintiërs 15:42-46

Liggaamlik in die hel🔗

Ook die ongelowiges sal hulle liggame terugontvang om dan ook liggaamlik in die poel van vuur te ly: "Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swael brand" (Openbaring 19:20); "En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid vir ewig afgryslik." (Daniël 12:2).

Die begrafnis is dus 'n daad van geloof en vaste vertroue op God se beloftes in Christus en nie troostelose vernietiging van 'n uitgediende oorskot nie.

Reformasie van begrafnis

God wil hê ons moet ons geliefdes begrawe, eerder as veras. Daar is verskillende gebruike wat in stand gehou word by die graf en begraafplaas, dikwels sonder dat dié wat dit doen, weet hoekom hulle dit doen.

"Stof is jy…"🔗

Daar word grond op die kis gegooi met die woorde: "stof is jy en tot stof sal jy terugkeer." Hierdie woorde is egter 'n vloek wat die Here in Genesis 3:19 uitgespreek het en behoort glad nie by 'n gelowige se begrafnis herhaal te word nie, aangesien die gelowige in Christus verlos is van daardie vloek.

Blomme🔗

Daar word gedroogde blomblare of vars blomme of byvoorbeeld een roos in die graf gegooi. Dikwels gebeur dit as blyk van laaste eer of as finale afskeid. 'n Mens moet egter versigtig wees dat dit nie verstaan word as dat die dood mooier gemaak word as wat dit is nie. Die dood is 'n skeur in die lewe in – slegs in Christus se opstanding is daar troos te vind.

Koringkorrels🔗

Dit sal 'n meer Skrifgetroue gebruik wees om koringkorrels, of enige ander saad, op die kis te gooi, aangesien Paulus deur daardie beeld die verband tussen die dood en die opstanding verduidelik.

"Ek glo in God…"🔗

Dit is baie belangrik dat by die graf die geloofsbelydenis gedoen word, en dat ook daar die Woord gelees en gebid word. Die aandag moet deurentyd op Jesus Christus val, en daarom is lyksredes, waar die deugde van die afgestorwene voorgehou word, steurend ten opsigte van die troos van Christus.

Die Woord alleen🔗

Of 'n mens eers die Woord aanhoor en dan graf toe gaan, of andersom, is sekerlik nie so van belang nie. Die Here wil deur sy Woord en Gees regdeur die begrafnis die troos van Christus se opstanding laat verkondig vir dié wat in Hom glo.

Begrafnisbrief🔗

Dit is gebruiklik dat daar 'n begrafnisbrief voorgelees word. Tog is dit dikwels die geval dat die bewoording onpersoonlik en selfs onvanpas uit 'n voorbeeld wat die begrafnisondernemer voorsien, bloot oorgeskryf word. Menige kere kom daar bewoordings voor wat nie rym met die troos van die opstanding in Christus nie of woorde wat God se almag verdag maak of God se liefde vervlak tot 'n blote sentimentaliteit.

'n Bekende voorbeeld is dat gesê word: "God het besluit om die mooiste blom vir sy tuin te pluk." Sulke sogenaamde trooswoorde is hol en niksseggend, veral as 'n mens daaraan dink dat God self sê die mens is soos gras wat gou verwelk. Trooswoorde is woorde uit God se Woord. Die betrokkenes wat die begrafnisbrief moet opstel, moet hulself, en ander, deur die Woord van God laat troos en nie deur allerhande mooiklinkende menslike frases nie. Die begrafnisbrief moet getuig van geloofsvertroue in die Woord van God.

Kis in die kerk?🔗

Dikwels kom dit voor dat die kis in die kerkgebou ingebring word. Die vraag kan gevra word of daardie gebruik nie die aandag aftrek van die Woord nie. Net soos met blomme by die graf, behoort Christene te waak om nie die dood te probeer blink maak deur die glans van 'n duur kis nie. Die Here Jesus self het gesê: "Laat die dooies hulle eie dooies begrawe." (Matthéüs 8:20). Dit het Hy gesê met die oog op dissipelskap en die opoffering daarvan. Die bedoeling is nie dat 'n mens nie die dooie liggaam moet versorg en met liefde begrawe nie, maar, gemeet teen die volg van die lewende Jesus Christus in die geloof, bedoel God dat die klem by die lewendes moet val en nie by die dooies nie.

Te duur kiste🔗

Dit is ook hartseer dat begrafnisse dikwels onnodig duisende rande kos, aangesien mense òf onkundig is òf skuldig voel oor wat hulle nagelaat het om te doen. Arm mense en ryk mense sterf op een en dieselfde manier – dit help niks om met geld daardie feit te probeer wegsteek nie. Dit is belangrik dat 'n mens met Jesus Christus gelewe en gestrewe het, dit leer die Here Jesus ons met die gelykenis van die ryk man en Lasarus (Lukas 16:19-31).

Draers🔗

Die draers is gewoonlik mense wat naby aan die persoon was wat gesterf het. Tog is dit belangrik om te onthou dat die familie die persoon begrawe en daar moet gewaak word daarteen dat die begrafnisondernemer 'n seremonie van die begrafnis maak. God se Woord staan sentraal, en alles moet daarvolgens bepaal word. Formele seremonies kan afbreuk doen aan hierdie uitgangspunt.

Kleredrag🔗

Deesdae is dit nie meer so gebruiklik om met sekere klere en kleure aan te dui dat die dood in die huis is nie. Die vinnige samelewing, wat dikwels maar min omgee en min tyd vir sy medemens het, wil nie gedurig herinner word daaraan dat iemand in rou is nie. Tog is die Skrif vol daarvan dat die dood rou veroorsaak. Rou wat in Christus genees kan word. Dit hoef nie noodwendig met klere uitgespel te word nie, maar 'n mens moet onthou dat 'n begrafnis langer is as die paar uur wat dit neem om iemand in die graf te sit. Daarom moet die kerk liefdevol en geduldig bly optree teenoor diegene wat rou. Om dié rede is die Here ook baie skerp in sy eise dat byvoorbeeld goed na die weduwees en wese gekyk moet word.

Hoe om te huil🔗

Om 'n begrafnis by te woon, beteken ook dat jy iemand se rou sal help dra in die maande en jare wat daarna kom. So beveel God ons om te huil saam met dié wat huil. Dit het dus ten eerste te doen met mense wat getroos moet word en nie of jy die afgestorwene goed geken het nie. God sê dat ons ons met Christus moet beklee. Ons moet dus ook sy barmhartigheid aantrek en vir ander mense omgee wat vol rou by 'n oop graf staan.

Die Here wil sy kinders se trane afdroog. Laat ons aan die begrafnispraktyke vashou, omdat ons die beloftes van God in Jesus Christus ken. Die eerste dinge gaan verby:

En God sal die trane … afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.

Openbaring 21:4