Bron: Kompas, 2005. 6 bladsye.

Bewonder en Bewaar hierdie Skat

Gereformeerde Onderwys en die Verbond🔗

Die verbond en die doop as kenmerke van Gereformeerde onderwys; is dit nie ʼn bietjie outyds nie? Daaroor het dit gegaan in 1948. Nou leef ons in 2005. Het dit nie tyd geword om die grense te verskuif nie?

Dit val my nogal op dat wanneer jy die kern van gereformeerde onderwys omskryf i.t.v. “verbondsonderwys”, jy gereeld mense met gefronste wenkbroue kry. Sommige kyk jou meerwaardig aan en sê dan: “Dit klink na pragtige woorde wat waar is, maar tye het verander. So het ons daaroor gepraat in die tyd van die Vrymaking. Vandag het dit meer sin om ander temas te gebruik; temas wat beter pas vir vandag.”

Middel Mei 2004 was daar ʼn       boeiende internasionale kongres gereël deur en vir gereformeerde onderwys. Op die konferensie was daar afgevaardigdes van gereformeerde skole uit Korea, Australië, Suid-Afrika, Kanada en Nederland. Dit was hoog tyd om na vyftig jaar weer ʼn goeie balans te kry: Wie is ons nou eintlik en waarheen is ons op pad. Op sigself is dit by voorbaat goed vir elke organisasie om bg. vrae af te vra. Dit help jou om nie in ʼn groef te val nie, maar om met vars idees verder te gaan. Tydens die kongres is daar nie duidelike antwoorde gegee op hoe die pad verder moet loop nie. Daaroor kan ʼn mens via die internet verder diskusseer. Die doel van hierdie artikel is om ʼn bydrae te lewer vir stof tot nadenke t.o.v. gereformeerde onderwys.          

Is Verbondsonderwys “Passè” (Verlede Tyd)?🔗

Wie ook al gereformeerde onderwys op die hart dra, sal hierdie vraag beslis nie met ʼn ‘ja’ beantwoord nie. Wel word ervaar dat dit nie meer ʼn sentrale tema vir die onderwys is nie. Sommige voel dat dit nie meer so sterk oor die doop moet gaan nie. As argument gebruik mense die volgende: Dit het net voor die vrymaking afgespeel, toe dit juis om die verbond en die doop gegaan het. Op heelwat gereformeerde skole word nie-gedoopte kinders nou ook toegelaat van o.a. evangeliese ouers. En bo dit alles, sê hulle, is die vraag of die doop vanuit die Bybel wel soveel klem moet kry. Moet ons die verskil so erg beklemtoon? Maak dit soveel verskil of jou kind nou opgedra of gedoop is? Dit kom tog op dieselfde neer?

Verbond en Doop🔗

Dit lyk of gevoelsargumente die botoon voer om betekenis van die kinderdoop te verkleineer. Asof dit die ouers se eie keuse is om hulle kind te laat doop al dan nie. Aan die ander kant mag die doop ook nie plaasvind uit gewoonte of bygelowigheid nie. Die doop is nie ʼn keuse van die ouers nie. Dit vind sy grond in die beloftes van God.

Die doop is ʼn seël van die egtheid van God se beloftes aan sy kinders. God sê in sy eie Woord dat kinders van gelowige ouers daarmee saam kinders van die belofte is, sy persoonlike eiendom. (Genesis 17:7, Handelinge 2:39 en 1 Korintiërs 7:14). En daarom behoort hulle gedoop te word. Dat hulle deur Hom uitverkies is om sy ryke beloftes te mag ontvang, is geen verdienste nie, maar God se onnavolgbare genade. Die doop is nie In bevestiging van ʼn aanwesige geloof nie, maar ʼn bewys, ʼn seël van die egtheid van God se beloftes aan kinders. Hy het die opdrag gegee om die teken ook aan kinders te gee (Matteus 28:19; Handelinge 2:39). Die kinders behoort net soos hulle ouers by God se verbond en sy gemeente. Deur die doop word hulle onderskei van die kinders van ongelowige ouers. Raak ons nog verwonderd daaroor? Gee dit nog ʼn warm gevoel? Dan word dit mos nooit ʼn saak van: ons weet dit al, hou maar op daaroor. Die verbond is die basis van jou bestaan. Die doop is nie slegs ʼn bevel van God nie, maar ook ʼn geweldige bewys van sy liefde. Waarom sou jy dan moeite daarmee hê of onverskillig daarmee omgaan?

ʼn Belofte is ʼn Belofte🔗

Jy het beloof dat jy instem met die leer van die kerk en dat jy jou kinders daarin ook sou onderrig en laat onderrig. Hierdie belofte het jy afgelê by jou eie openbare geloofsbelydenis, en later ook by die doop van jou kinders. In feite het jy met           jou jawoord ook ingestem met die woorde van die belydenis. Jy het belowe dat kinders gedoop behoort te word (HK v/a 74). Daarmee saam het jy gesê dat jy eenstemmig is met die Dordtse Leerreëls, dus ook met hoofstuk 1 artikel 17. Daar is kerklike weë, waarteen jy later besware het, op grond van gegroeide kennis wat jy uit die Bybel opgedoen het. Langs hierdie weg moet dit dan aan die orde kom. Ook dit het jy belowe. Jy kan nie maar net optree asof jy nie meer agter hierdie beloftes staan nie, sonder om die gevolge daaraan te verbind nie.  

Verder staan o.a. in HK v/a 38 dat daar gesorg moet word vir die instandhouding van die skole. Gesien in die kader waarin dit staan (vierde gebod), mag jy veronderstel dat dit ook gaan om skole wat onderwys gee in die leer van die kerk. Ook daar het jy met jou belofte, in feite jou handtekening daaronder gesit. Ten slotte het jy via die huweliksformulier en later by die doop belowe dat die kinders wat in ons sorg toevertrou is, onderwys sal word in Gods beloftes.

Jy het Belowe dat Jou Kinders Onderwys sal word in God se Beloftes🔗

In kort het jy die belofte verskeie male afgelê, wat jy nie net kan ignoreer nie. Hierdie beloftes is voor God se aangesig afgelê, met die hele gemeente as getuie van jou jawoord. Dan moet jy ook daarvoor instaan en dit tot uitvoer bring.

Verbond en Onderwys🔗

Wat maak die verbond so belangrik vir die onderwys? Die mooie van die verbond is tog juis dat dit nie my keuse is nie, en ook nie my soeke na God nie. Nee, in sy groot liefde het Hy jou uitverkies, jou opgesoek, aan jou sy ryke beloftes van vergewing van sondes en ʼn ewige lewe gegee. Het jy enige aanleiding daartoe gegee? Jou vroom hart, jou keuse? Absoluut nie! Uit die hele Bybel kan jy lees dat God altyd eerste is. Waarom? In Esegiël 36:22-27 staan daar ʼn wonderlike antwoord:

  1. Daarom, sê vir die huis van Israel: So spreek die Here HERE: Ek doen dit nie om julle ontwil nie, o huis van Israel, maar ter wille van my heilige Naam wat julle ontheilig het onder die nasies waar julle gekom het.

  2. En Ek sal my grote Naam heilig wat onder die nasies ontheilig is, wat julle onder hulle ontheilig het; en die nasies sal weet dat Ek die HERE is, spreek die Here HERE, as Ek My in julle voor hul oë as die Heilige laat ken.

  3. En Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring.

  4. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig.

  5. En Ek sal julle ʼn nuwe hart gee en ʼn nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ʼn hart van vlees gee.

  6. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.

Sonder dat daar by die volk Israel tydens ballingskap ʼn teken van omkeer te bespeur was, spreek die HERE hierdie woorde. Vers 22 is dan ook baie opvallend. Dit is tipies God. So is Hy, onnavolgbaar, omdat Hy God is. Die Allerheiligste, totaal anders.

Verwondering oor die Feit dat God se Keuse vir jou Sy Inisiatief is🔗

Dit mag die eerste kenmerk wees vir gereformeerde onderwys: Verwondering oor die feit dat God se keuse vir jou sy inisiatief en sy werk is. ook jou gelowige antwoord, kom van Hom (Filippense 2:13)

Die God van die Verbond🔗

ʼn Ander aspek wat in die Bybel na vore kom, is hoe die Here God Homself aan sy volk voorstel. Daarvoor moet ons teruggaan na die brandende braambos (Eksodus 3:13-15). Daar stel Hy Homself via Moses aan sy volk voor as die “EK IS”: dit wil sê die God van die verbond. In die Statevertaling en in die 1951 vertaling staan HERE in hoofletters wanneer dit oor die God van die verbond gaan. Verskeie ander vertalings laat hierdie onderskeid heeltemal weg en verarm die vertaling op hierdie punt. Elke keer as jy “HERE” met hoofletters sien staan, gaan dit dus oor die God van die verbond. Die God wat verder met jou wil gaan, vir ewig. Let byvoorbeeld op die opskrif bo die wet. Die woord wat vir die wet gebruik word, is “tora”. Dit kan jy ook vertaal met lewensweg. In die wet staan jou weg na die lewe beskryf. En wat staan daar bo as opskrif? Ek is die HERE jou God, wat jou uit die slawehuis uit Egipte gelei het (Eksodus 20:2). Jou hele lewe word dus bepaal deur die opskrif: Die God van die verbond, die Almagtige wat jou verlos het.                         

Dit moet dus die sentrale tema van die onderwys aan kinders wees en bly. Dit kan jy nie omseil nie. Daarvan sal die leerkragte vol moet wees. Daarmee kan hulle hulle laat vul in die kerk en in persoonlike Bybelstudie. Skoolbesture het as taak om hul leerkragte in die geloof voor te gaan en te stimuleer, bv. deur Bybelstudie in die bestuursvergadering, identiteitsonderwerping en funksionering en ook bevindelike gesprekke. Die verlossing en die God van die verlossing vorm die hart van die gereformeerde onderwys. Dit is nie ʼn verouderde tema nie. Jy hoef nie te gaan soek na nuwe temas nie. Dit is die tema van die Bybel, van jou en my lewe. Gereformeerde onderwys staan of val met verbondsonderwys. Dit is die identiteitspapiere.                             

Die verlossing en die God van die verlossing vorm die hart van die gereformeerde onderwys. As dit weggegee word, is die onderwys sy bestaansreg kwyt.

Gereformeerde Skole word Gekenmerk deur:🔗

Verwondering🔗

In die verbondsonderwys klink elke keer verwondering deur. Daarvoor is dit in die eerste plek nodig dat die opvoeders deurtrek moet wees van God se liefde vir hom/haar. Alleenlik as jy self verwonderd staan oor God se liefde kan jy dit oordra aan ander. ʼn Belangrike taak waaraan voortdurend gewerk kan word, bv. tydens personeelvergaderings, individuele en onderlinge gesprekke.

Dankbaarheid🔗

Dankbaarheid vanweë die groot wonder van God se liefde vir opvoeders, ouers en kinders. Die wonder lê daarin dat die een sondaar die ander sondaar mag onderrig en opvoed. Dankbaarheid teenoor die almagtige God wat sy eie Seun oorgegee het aan die dood, sodat ons gered mag word en saam met Hom mag lewe. Hy wil ons oortredinge so ver van ons wegneem, so ver soos die ooste verwyderd is van die weste. Dat Hy dit wil doen, is vir ons onbegryplik. Dit vra dan van ons voortdurende dankbaarheid teenoor Hom. Dit is ook noodsaaklik vir ons lewensweg. Daarom heers daar in gereformeerde skole nie negatiewe dissipline nie, maar is alles deurtrek van dankbaarheid.

Liefde🔗

As daar een woord vir God se wese gegee sou moes word, dan sou dit “Liefde” wees. God is liefde (1 Johannes 4:8). Die opvoeder en die kinders is albei beelddraers van Hom, na sy beeld geskape. Dit beteken dat liefde ook die handelsmerk van sy kinders is. Daarin klop die hart van die onderwys en van die opvoeding. Liefde is die dryfveer. Die skool gaan daarvan uit dat alles deurtrek is van sy liefde. Dit sien jy aan die manier waarop daar beloon en gestraf word. Dit kom jy agter in die totale omgang onderling: daar is respek. Daar is opregte aandag vir mekaar. Liefde is die handelsmerk van sy kinders.

Kinders wat ekstra aandag nodig het, word liefdevol en geduldig gehelp. In die skool is die vrugte van die Gees duidelik sigbaar, nl. blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, trou, teerheid en selfbeheersing. Binne die skool is vergewing kenmerkend vir die onderlinge omgang. Vergewing deur die Here God kan nooit losstaan van die vergewing van mekaar as kinders nie.

Veiligheid en Geborgenheid🔗

Hierdie gevoelens is noodsaaklik vir elke mens om te kan funksioneer. Veiligheid en geborgenheid word aangebied o.a. deur liefde, openheid en egtheid. Veiligheid word ook geskep deur duidelikheid: duidelike, redelike reëls, wat ook gehandhaaf behoort te word.

Uniekheid🔗

Daar moet rekening gehou word met die uniekheid van die kind. Soos die kind is, so word hy deur God aan jou sorg toevertrou. Met die talente sowel as die beperkings binne die grense van die moontlikhede wat daarmee saamgaan. Jy mag elke kind afsonderlik sien as ʼn pêrel in God se hand. Dit vra sorgsame behandeling van elke kind. En ʼn kind voel dit aan of jy hierdie opdrag ernstig opneem of nie. Die atmosfeer word onder meer gekenmerk deur aanvaarding. Ek aanvaar jou soos wat jy op my pad geplaas is; soos wat die Skepper dit wil. Dit beteken nie dat ek alles wat elkeen doen, as goed en aanvaarbaar mag sien nie. In teendeel, gedrag wat nie gepas is nie, word aangespreek.

Taakgerigtheid🔗

ʼn Ander kenmerk vir ʼn gereformeerde skool is die aandag wat bestee word aan taakgerigte werk. Hoe pak jy ʼn taak aan? Waar begin jy? Hoe versorg jy jou werk? Kinders word geleer om selfstandig hul take te verrig. ʼn Taakgerigte houding word daarmee bevorder.

Openheid🔗

ʼn Gereformeerde skool word gekenmerk deur openheid. Openheid na:

  1. die kinders. Jy ontvang hulle openlik. Jy, as opvoeder, is ʼn tasbare stukkie van die onsigbare God. Deels deur jou optrede, kry die Godsbeeld vir ʼn kind inhoud. Hoe word God dan sigbaar?

  2. mekaar. Leerkragte moet oopstaan vir mekaar. Hulle moet opregte aandag vir mekaar hê. Hulle is daar vir mekaar, om elkeen tot ʼn hand en ʼn voet te wees. In ʼn gereformeerde skool is ʼn leerkrag geen onafhanklike enkeling nie. Hy of sy sit sy/haar talente in tot diens van die geheel. Die skoolhoof se taak is om dit te stimuleer. Hy staan oop vir die opvoeders en is as leier die dienaar van almal net soos sy groot Voorbeeld.

  3. ouers. Die ouers is altyd welkom in die skool. Die skool moet sorg vir ʼn oop klimaat waarin die ouers welkom voel. Dit is immers God se kinders, sy pêrels, waarvoor die ouers heel duidelik hul belofte gemaak het. Dan is dit juis belangrik om ʼn goeie en oop verhouding met hulle te hê. Hulle is nie die teëstanders van die skool nie. Ouers en opvoeders staan skouer aan skouer om die kinders op die regte pad te hou.
    ʼn Gereformeerde skool beskou dit nie as vanselfsprekend dat gereformeerde ouers hul kinders na ʼn gereformeerde skool toe stuur nie. Vanuit die skool gaan daar werwingskrag uit d.m.v. kennismakingsgesprekke tussen die bestuur en ouers om sodoende potensiële ouers wat hul kinders vir die eerste keer na die skool wil stuur, te ontmoet. Dit verwag ons van mekaar.

  4. bestuur. Saam staan jy, ondanks verskillende take, voor dieselfde doel: goeie gereformeerde onderwys vir die kinders. Dan is ʼn oop verhouding teenoor mekaar baie belangrik. ‘n Bestuur moet weet wat in die skool aan die gang is net so ook mag die personeel weet waarmee die bestuur homself besig hou.

  5. kerk. In die kerk het die ouers hul belofte afgelê. Deur die aanwesigheid van die ander kerklede, is hulle getuie van die wyse waarop ouers aan die belofte invulling gee. Kerklede is daarom ook welkom op ʼn opedag en op skoolaande. Daar kan hulle op hoogte gehou word oor die skool. Ook deur maandbriewe of artikels in die kerkblaadjies. Sodoende laat die gereformeerde skool blyk dat ook die gemeentelede belangrik is. Dit beteken investering deur bv. reëlmatige inligting te verstrek, ope dae te hou, verskeie vorme van inspanning waarin weer teruggeploeg sal word. Hierdie belangegroepe (veral b, c, d en e) het nog ʼn ander belangrike rol: om te vra of hulle ʼn muur van gebed rond-om die skool kan wees. As jy wil hê dat hulle met en vir jou moet bid, moet jy hulle ook op hoogte hou van dit wat gebeur.

  6. na belangstellendes uit ander kerkgenootskappe. Ons skole kry vrae van mense uit ander kerkgenootskappe of hul kinders ook toegelaat mag word. Die vraag het die laaste jare baie toegeneem. Hoe oop kan jy daarmee omgaan? Dit is belangrik om oop kaarte te speel as skool: Dit gaan oor die prinsipes waarvoor ons staan. Hoe word daar gepraat oor die doop, verbond? Dit het gevolge vir die atmosfeer in die skool. Kan voornemende ouers hulle daarin vind? Kom jou kind pedagogies (opvoedkundig) nie daardeur in verwarring nie, deurdat die verskille tussen tuis en skool te groot is? Juis hier is dit van belang om die gereformeerde identiteit van die skool te bewaak. Net soos ons in die wet lees (“nog die vreemdeling wat in u stede woon”) sal die gaste hulle moet aanpas by die reëls “van die huis”. Die ouers sal nie net kan verlief neem met die gereformeerde atmosfeer nie, maar moet dit met gretige arms verwag. Die een en ander kan d.m.v. ʼn ondertekende verklaring vasgelê word.

  7. die woonbuurt. Die skool staan in ʼn bepaalde omgewing. Meestal kom die kinders in ʼn gereformeerde skool nie noodwendig uit die direkte omgewing nie. Dit beteken dat daar deur die buurt ook krities gekyk word. Wys vir ons wie julle nou werklik is! Informeer die buurt oor die aktiwiteite wat hulle ook miskien sal opval. Nooi hulle so af en toe uit om enige vernuwings by die skool te kom besigtig. Laat jou geloof ook na buite uitstraal. Laat sien dat jy ʼn gewone mens is wat goeie onderwys wil hê. Nog ʼn paar voorstelle: Jy kan die buurt vra om te help om die skoolterrein netjies te hou. Bied die speelterrein aan vir die buurt as speelgeleentheid.

Kwaliteit🔗

Die gereformeerde skool word gekenmerk deur kwalitatiewe onderwys. Opvoeders moet sorg vir deskundigheid, d.m.v. na-uurse studie en die byhou van vakliteratuur. Die skool is steeds opnuut besig om homself af te vra hoe daar op die beste manier onderwys gegee kan word. Daar word aan kwaliteit gewerk en die kwaliteit word goed bewaak. Die gereformeerde skool word gekenmerk deur goeie kwaliteit onderwys.

Bybelonderwys🔗

Uiteraard is die Bybelles een van die kernpunte van die gereformeerde onderwys. Dié vak kan nie weggedink word nie. Dieselfde geld in die hoër groepe vir die vak kerkgeskiedenis. Om kinders daagliks te vertel van God se groot dade is ʼn Goddelike opdrag. (Deuteronomium 6 en Psalm 78:3, 4)

Gedragskode🔗

ʼn Gedragskode beskryf wat daar van die gereformeerde opvoeders verwag mag word. Daarmee saam is daar ʼn kode vir die onderlinge omgang, waarin die respek en liefdevolle omgang tussen alle partye in die skool beskryf word.

Is die saak hiermee afgehandel en die lêer gesluit? Het ons met bg. alles gesê wat nodig is? Nee, dit sal nooit moontlik wees nie. Hiermee het jy wel die moontlikhede om saam ʼn gereformeerde skoolgemeenskap te vorm en in stand te hou. Via die gedragskodes het jy hulpmiddels om met partye ʼn gesprek te voer, indien die oorspronklike gesprekke nie na wense verloop nie.

Die identiteit van die skool vra om ʼn voortdurende waaksaamheid. Die aanstel van ʼn identiteitskoördineerder wat dit bewaak en stimuleer, kan ʼn welkome aanvulling wees om die onderwerp bespreekbaar te hou op die skool.

Die Gereformeerde Skool het veral Gebed nodig as ʼn Muur om die Skool Heen🔗

ʼn Gebed om trou God se beloftes te onderwys en voor te leef in die skool. Trou en bewaring by sy Woord vir opvoeders en leerlinge. So ʼn gebed sal steeds weer moet opstyg. Want God self, die HERE, die God van die verbond, sal die stad bewaar. Gelukkig is die wat op sy paaie wandel, hulle mag voorspoed en seën daarop verwag:

Al die paaie van die HERE is goedertierenheid en trou vir die wat sy verbond en sy getuienisse bewaar.Psalm 25:10