Bron: Die Kerkblad, 2008. 2 bladsye.

Bloedrivier Gelofte, Belofte of Eedswering?

Die Gelofte🔗

Kyk ’n mens na die Gelofte se bewoording, val dit op dat dit nêrens praat van ’n eed wat afgelê word nie. Dit verwys wel na ’n “belofte wat belowe” word. Die presiese bewoording is die volgende:

Mijne Broeders en Medelandsgenoten, hier staan wij tans op een ogenblik voor een heilige God van hemel en aarde om aan Hem een belofte te beloven, als Hij met ons zal wezen met zijn bescherming, en onze vijand in onze handen zal geven dat wij hem overwinnen, dat wij die dag en datum elk jaar zal doorbrengen als een verjaardag en een dankdag zoo als een Sabbat, in Zijn eer; en dat wij een tempel stichten zal tot Zijn eer waar het Hem zou behagen; en dat wij het zal zeggen ook aan onze kinderen, dat zij met ons erin moeten delen, tot gedachtenis ook voor onze opkomende geslachten.

Want de ere van Zijn Naam daardoor sal verheerlikt worden, dat de roem en eer van overwinning aan Hem zal worden gegeven.

Die uitdrukking “om ’n belofte te beloof” was waarskynlik ’n vereenvoudigde vorm van die Nederlandse (“Hoog-Hollandse”) bewoording wat op verskeie plekke in die Statebybel voorkom, soos Numeri 21:2: “Toen beloofde Israel den Heere eene gelofte”, of Rigters 11:30: “Jephta beloofde den Heere eene gelofte.” Dit is duidelik dat Sarel Cilliers, wat die Gelofte opgestel het, met die “belofte wat beloof” word, verwys het na die gewigtigste van alle beloftes, naamlik ’n belofte aan die Here.

In Nederlands, soos in goeie hedendaagse Afrikaans, word ’n belofte aan die Here ’n “gelofte” genoem. Daarom staan die belofte van 16 Desember 1838 vandag bekend as die “Gelofte van Bloedrivier”.

Die Gees waarin die Gelofte gemaak is🔗

As 'n mens die woorde van die Gelofte oppervlakkig lees, mag dit dalk lyk of die Voortrekkers ’n soort “ruiltransaksie” met die Here wou aangaan, waarin hulle onderneem het om sekere dinge te doen in ruil daarvoor dat Hy die oorwinning aan hulle gee. So ’n verstaan van die Gelofte sou egter lynreg indruis teen die gereformeerde ingesteldheid van die Voortrekkers. Vir hulle was dit ondenkbaar dat iemand die Here met die aanbod van ’n “teenprestasie” kan oorreed om hom/haar genadig te wees. Hulle het immers vanuit dieselfde gereformeerde belydenis as ons geleef. Daarom was dit ver van hulle om te dink dat ons God ooit kan vergoed vir guns wat Hy aan ons bewys.

Die Gelofte dra eerder die karakter van ’n getuienis van diepe afhanklikheid van die Here. Dit adem die gees van Moses se woorde aan die Here in Eksodus 33:15: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie.” Dit wat die Voortrekkers van die Here in die Gelofte afgesmeek het, was daarom nie buite perke nie. Die Here beloof immers sy bystand en sorg en beskerming aan sy gunsgenote. Dit wat hulle aan die Here beloof het om te doen, was ook nie buite perke nie. Trouens, wat hulle beloof het, was niks anders nie as ’n dankbaarheid so groot dat dit tot in die derde en vierde geslag, ja, tot in die verre nageslag sal bly geld.

Die Gelofte bevat dus ’n verre eggo van Josua se onderneming ten aanhore van die hele Israel (Josua 24:15): “Maar ek en my huis, ons sal die Here dien.”

’n Dankbaarheidskuld nog Groter as ’n Eed🔗

Die onderneming wat die Gelofte dus namens die nasate van die Voortrekkers maak, het dus heeltemal ’n ander karakter as dié van ’n eedswering. Dit getuig van die dankbaarheid wat gelowiges met hulle hele lewe aan God verskuldig is. Die begin van die dankbaarheid is geleë in die verlossing van ons hele bestaan wat God so onverdiend in Jesus Christus aan ons gegee het. Die verlossing in Christus lei tot die ewige lewe, maar dit is ook die grond vir ons vertroue dat die Here ook in hierdie lewe aan sy gunsgenote uitkoms sal gee.

Hierdie wonderlike heilsfeit is daar by Bloedrivier op ’n wonderbaarlike en konkrete manier in ons volksgeskiedenis herbevestig. Daarom is ons aan Hom dank verskuldig, selfs al sou ons voorouers geen gelofte gemaak het nie.

ls ons aan die Gelofte gebonde? Eintlik moet ’n mens vra: Waarom sou ons enigsins die dankbaarheidsplig wat ons voorouers in die Gelofte op hulle nasate gelê het, wou vermy? Aan dankbaarheid jeens die Here kan ons nooit genoeg betaal nie. ln die woorde van die berymde Psalm 1 16:7:

Wat kan ‘k die HEER vir al sy guns vergeld?
Wat kan ‘k Hom bring uit dank vir sy genade?

Die gelowige is as ‘t ware op soek na maniere waarop ons dankbaarheid aan die Here kan bewys. Nie om Hom op enige manier te probeer terugbetaal nie, want enige poging om die Here vir sy guns te probeer vergoed, sou tog niks anders as brutale hoogmoed wees nie. Maar om uit dankbaarheid aan God alleen die eer te gee.

Moet ons die Gelofte Vandag Nakom?🔗

Daar word soms gesê dat die Gelofte van Bloedrivier geen bindingskrag het nie, omdat dit nie aan die vereistes van ’n eed voldoen nie, en dat ons daarom nie verplig is om die Gelofte vandag steeds na te kom nie. Sulke bewerings getuig egter van ’n ondankbare gees wat nie by gelowiges pas nie.

Ja, die Gelofte dra die kenmerke van ’n belofte aan die Here, eerder as dié van ’n eed. Maar dit neem niks weg van die dankbaarheidsplig wat op elke gelowige rus nie. Inderwaarheid kan geen gelowige Afrikaner ooit daarteen opsien om op 16 Desember in dankbare herinnering terug te dink aan die guns wat die Here by Bloedrivier aan ons voorouers betoon het nie.

Vir die gelowige wat opreg in sy hart aangegryp is deur God genade en sy weldade, is 16 Desember ’n wonderlike geleentheid waarby ons saam as medegelowige volksgenote die dankbaarheid wat ons aan die Here verskuldig is, kan bewys, wil bewys en sal bewys.

Nie omdat die Gelofte op ’n eed berus nie, maar omdat ons met ons hele lewe dank aan God verskuldig is. Weer eens Psalm 116:8, 10:

Al my geloftes, uitgespreek in nood,
sal ek betaal as ek voor U mag nader
en met u gunsvolk in u huis vergader.