Bron: Die Kerkblad, 1986. 2 bladsye.

Brandend van Ywer vir Jesus

Geneve

Woeste storms van politiek en gods­diens het oor Genève losgebars nog lank voor Calvyn in hierdie pragtige stad sou opdaag. Vir die burgers was dit ’n jarelange stryd om as vrye onafhanklikes te oorleef. Die eintlike onderdrukker was die her­tog van Savoye  (vroeër ’n sterk koninkryk in die ooste van Frankryk en die suidooste van Switserland) . Hierdie hertog het sy mag deur drie base uitgeoefen : die Roomse biskop De la Baume, ’n politieke staatsamptenaar met die titel van ‘graaf’ en dan die Stadsraad waarin slegs vier lede deur die burgers gekies is.

Hierdie eienaardige heerskappy en selfs onderdrukking, waarin die Roomse Kerk met sy biskop die grootste handlanger was, het teen 1530 openlike verset uitgelok. Hier­deur is ’n teelaarde vir die kerklike Reformasie bewerk.

Die Geskrifte van Luther🔗

Reeds in 1522 is die eerste geskrifte van die Duitse hervormer Maarten Luther op straat in Genève verkoop. Saam daarmee verskyn ’n op­spraakwekkende pamflet van Vlaamse oorsprong – wat fanaties te velde getrek het teen die kerklike ampsdraers en terselfdertyd die vrye genade verkondig het. Bloedi­ge vervolging het gevolg; in 1524 is selfs die regter Ami Levrier doodgemartel omdat hy Luther se ge­skrifte gelees en verdedig het.

Guillaume Farel🔗

Farel sou die man wees om aan die voorpunt van die Reformasie in Genève te staan. Hierdie Fransman was afkomstig van die Franse Alpe en het eers in Parys onder die bekende Lefèvre gestudeer. Hy het met Bybelstudie tot nuwe insigte gekom. Met sy vurige geaardheid het hy spoedig ’n dinamiese predi­ker van die Evangelie en vir die saak van die Reformasie geword. Van plek tot plek trek hy rond en word spoedig ’n vlugtende prediker. Uit die stad Meaux is hy uitgejaag oor sy preek teen die Mariaverering en hy vlug na Basel. Daar kom hy egter in botsing met die humanis Erasmus vir wie Farel ’n groot afkeur gehad het; hy land dan weer in Straatsburg, waar hy van 1525 tot die volgende jaar preek. Hy gee ook ’n Geloofsbelydenis in die Franse taal uit en wend hom dan na Swit­serland. Die stad Bern wat reeds in 1528 tot die Reformasie deur Zwingli se prediking oorgegaan het, het toe groot mag gehad ook oor die ander gebiede, soos die streke van Genève. In Bern se diens begin Farel dan naby Genève in die stadjie Aigle werk. In hierdie tyd, terwyl hy ook nog op verskillende plekke preek, kyk hy met arendsoë na die stad Genève. In 1531 skryf hy reeds aan Zwingli dat die Evangelie syns insiens spoedig in daardie stad sal posvat.

Die Eerste Aanslag in die Herfs van 1532🔗

Pas voor die winter van 1532 neem Farel twee manne, Saunier en Olivetan, as helpers saam met hom en hulle trek Genève binne. Dit was pas na ’n opstootjie in die katedraal (die St. Pierre) toe ’n geskrif teen die aflaatstelsel van die pous teen een van die pilare vasgespyker is.

Farel en sy metgeselle is onmid­dellik as die belhamels uitgewys; hulle word nie alleen as ‘Lutherane’ verketter nie maar so erg bedreig dat hulle uit die stad moes vlug.

Guillaume Farel

Antoine Froment🔗

Oor Genève kan Farel maar net nie tot rus kom nie. En toe hyself nie dadelik kon teruggaan nie, stuur hy in Desember 1533 sy ander metgesel Froments wat saam met hom in Frankryk gepreek het, weer terug. In huise het hy begin om onderwys in die Bybel te gee, maar toe hy op straat begin preek, word hy gegryp en op 1 Januarie 1533 uit die stad verban.

Maar die saad van die Reformasie het nou sterker as ooit gegroei. Geheime samekomste deur teen­standers van die Roomse Kerk het plaasgevind, en die hulp van Bern is ingeroep. Met ’n dreigende Bern groei die Reformasie al sterker en op 14 Julie 1533 word die biskop De la Baume selfs verplig om die stad te verlaat.

Farel kom in die Geheim Weer Terug🔗

Die drama het nou in alle erns ontvou. Ewe skielik daag Farel met Froment en ’n ander bekende kol­lega, Viret, weer in Genève op. Hulle tree nog nie in die openbaar op nie, maar oral in privaathuise word gepreek. Die gees van die Refor­masie word so onkeerbaar soos ’n veldbrand. Selfs kinders word by die samekomste op Skriftuurlike wyse gedoop. En binne enkele maande stap Farel selfs die groot St. Pierre­katedraal binne en beklim die preekstoel. Dit was op 8 Augustus 1535. Hy preek elke dag en die mense stroom toe. Binne enkele dae vaardig die Raad van Genève ’n proklamasie uit dat die Roomse mis nie meer mag bedien word nie!

“Jesus, wat wil Ek Anders as dat dit in My moet Brand?”🔗

Farel was ’n vurige yweraar vir die Evangelie. Hy kon selfs fel optree. Sy lyfspreuk was in Latyn: “Jesu, quid volo nisi ut ardeat”. Dit was ’n verterende, brandende ywer. En God het dit in sy diens vir Genève gebruik. Op 18 Februarie 1536 is die stryd beslis: Genève was Gerefor­meerd. Vyf maande later, in Julie 1536, daag Calvyn op. Farel besweer hom om daar te bly ter wille van die Reformasie. Van toe af sou Calvyn (20 jaar jonger as Farel) die groot Kerkhervormer van Genève word. Maar die fondamentstene is deur Farel gelê ... die man met die ‘brandende ywer’.