Bron: Vox Viva. 3 bladsye.

Brood en Geloof

brood🔗

Wie se Brood Jy Eet…🔗

Brood uitdeel is nie sommer iets niksseggends nie. Hy wat brood uitdeel, het die hart van die volk. Deur die eeue het politici dit tot hul voordeel gebruik. Hy wat (kan) brood uitdeel doen dit as ʼn eg koninklike gebaar. Toe ons Here Jesus met sy broodwonder ʼn skare van duisende met oorvloed voorsien, was hulle onmiddellike reaksie: “Jesus moet ons nuwe koning wees!” Selfs wanneer Jesus die mense probeer afskud, volg hulle Hom in bootjies na die oorkant van die meer. Met alle mag en mening moet die Een wat brood uitdeel ons koning wees!

Met die nageslag van Jakob in Egipte en in die woestyn was dit nie anders nie. Die een wat brood uitdeel, swaai die septer. In Egipte is brood uitgedeel. Maak geen fout nie. Selfs vleis en allerlei lekkernye. Die omstandighede was wel haglik: Geen tot weinig vryheid, geen tye vir feeste nie, hulle status was die van slawe, die werk was sonder ophou deel van hul lewe en veral geen eredienste en tyd vir ontmoeting met die Here nie. Maar die versorging was tog daar. Moet net nie vra hoe nie!

Daarin wou die Here verandering bring. Hy wou die een wees wat vir hulle brood uitdeel. Hy wou hulle aan Hom bind en van Hom afhanklik maak. Die volk moes uit Sý hand eet. Maar met ʼn groot verskil … Hy wil hulle nie slawe maak nie. Hy wil hulle nie misbruik nie. Hy wil juis vir hulle sy seën gee. Dit vra ʼn totaal nuwe lewensstyl van hulle. ʼn Nuwe lewenskultuur en instelling. Hulle moes leer om vanuit geloof na hulle daaglikse brood te kyk.

Beproewing🔗

Die reis deur die woestyn wil die Here gebruik as geleentheid vir ʼn oefening in die geloof van sy kinders. Let wel, dit is nie om dowe neute dat dit juis die woestyn is nie! ʼn Mens sou met name die woestyn kon beskou as ʼn godverlate plek. In elk geval nie as ʼn eetplek nie. Tafels word nie in die woestyn gedek nie. Tog is dit juis hier waar die oefening in die geloof moes gebeur. Israel moes leer om die Here juis in die woestyn in al sy heerlikheid te verwag. 

Tot vier keer toe verseker Moses en Aäron die volk dat die Here hulle klagte oor die broodgebrek gehoor het (vgl. Eks. 16:7-9, 12). Daaroor mag daar geen twyfel bestaan nie. Die Here se ore is nie doof in die woestyn nie en nog minder het Hy weggetrek uit die woestyn. Israel moes leer dat hulle in die woestyn voor die aangesig van die Here mag kom. Selfs die woestyn kan dien as ontmoetingsplek met die Here. En wanneer die hele vergadering bymekaar is, en Aäron die vergadering toespreek, gebeur daar ʼn wonder. Die volk draai na die woestyn. Byna simbolies staan hulle met die rug na Egipte en dan kom die Here in al sy heerlikheid na hulle. 

Die Here kom nie om met hulle te argumenteer oor hulle klag dat hulle nie genoeg het om te eet nie. Die Here doen nie wat Farao gedoen het, en dit was om hulle na hulle werk te stuur nie. Teendeel. Hulle mag getuies word van wat die Here vir hulle gaan doen. Die Here gaan werksaam wees vir hulle!  Hy gaan vir hulle tafel dek! Sommer die hele dag!  Die oggend sal hulle versadig wees met brood.  Geen hongersnood nie!  En die aand word die broodmaaltyd opgevolg met vleis genoeg vir almal!  Die hele doel daarvan is dat Israel sal weet dat die Here hulle God is (Eks. 16:12b).  Hy is die Een wat hulle klagtes hoor. Hy is nie uitgesluit van hulle nood nie.  Hy is nie onwillig om hulle te gee wat hulle nodig het nie. 

Die vraag is altyd maar weer of hulle die geloof het om dit van Hom te verwag.  Israel moes leer om die Here se teenwoordigheid in die gewone daaglikse behoeftes en nood te verwag. Afhanklikheid van die Here moes niks vreemd vir hulle wees nie. Maar afhanklikheid mag nooit weer slawerny wees nie. Die kinders van Israel was bereid om die slawerny op die kop toe te neem, as hulle maar langs vleispotte kan sit en volop brood kon eet (16:3)! Dit mag nie. ʼn Mens sal nie van brood alleen leef nie. Veel belangriker is die afhanklikheid van die Here sonder slawerny.

Brood Uit die Hemel!🔗

Israel moes dus weet dat hulle uit die hemel mag eet.  Die Here se belofte was: “Kyk, ek sal vir julle brood uit die hemel laat reën”.  Verwag dus dat die hemelpoorte vir jou oop sal wees. Wil julle vleis hê, dan sal Ek ook daarvoor sorg. Dit gaan vir die Here daaroor dat sy kinders nie met verlange sal leef na ʼn lewe waar daar plek vir slawerny is nie. Vir elke nuwe dag sal daar altyd weer genoeg wees. Elkeen kon manna optel volgens die behoefte van die huishouding. Almal kon genoeg hê en niemand hoef tekort te hê nie. Die een het baie ingesamel en die ander min, maar niemand was die oorsaak van ʼn ander se gebrek nie. Die Here se voorsiening kon vertrou word en in die gemeenskap was daar verdeling volgens die behoefte van die huishoudings.

mannah

Wanneer daar pogings was om onnodige surplusse op te bou, sodat daar vir die volgende dag oorgestaan het, was die voedsel nie meer bruikbaar nie. Daar het wurms ingekom! Geen selfstandigheid kan opgebou word nie. Die daaglikse afhanklikheid moes steeds bly. Die gebed moes op hulle lippe bly: “gee ons elke dag ons daaglikse brood”. Die lewensstyl van Egipte waar daar opgestoor is, moes afgeleer word. Surplus brood was in die woestyn nutteloos!

Die Rusdag …Oefendag! 🔗

Saam met die belofte van die brood, gaan daar die spesiale reëlings en afsprake vir ʼn rusdag. Dit was ʼn dag wat op ʼn baie spesiale manier die geloof van die volk beproef het. ʼn Dag vir geloofsgimnastiek. Die sabbatdag. Die Farao was angstig dat die Israeliete nie met hulle werk moes stop nie. Toe Moses en Aäron by hom gekom het om te vra dat hulle die Here in die woestyn kan gaan dien, gebruik hy ʼn woord wat ʼn baie spesiale betekenis in die woestyn sou kry. Hy gun hulle geen “stop” in hul werk nie. Die woord daarvoor gebruik is “shabat”.  In die woestyn kom die Here nou en gee vir Israel ʼn baie spesiale “shabat”.   

Hulle mag nie net stop met hulle werk nie. Hulle moes selfs.  Die sabbat is vir die mens. Uit die Here se goedheid wil Hy laat sien dat afhanklikheid van Hom nie slawerny beteken nie. Israel moes gewoond raak daaraan om met die Here te leef. Daarvoor is ʼn spesiale oefendag nodig. ʼn Dag waarop geen werk gedoen is nie. Hebsug en slawe-mentaliteit moes afgeleer word. Die volk moes geoefen word om gevoed te word. Om te ontvang. Op pad na die ontmoeting met die Here by die berg en op pad na die land wat oorloop van melk en heuning, moet daar tyd wees vir rus. ʼn Volle dag waarin geniet kon word van die Here se versorging. Op hierdie stadium is daar nog geen opdrag om fees te vier op hierdie dag nie. Dit kom later wanneer die Here al sy gebooie gee. Maar nou solank: gewoond raak aan rus! Ontgroeiing van ’n slawe-mentaliteit!

Vir hierdie dag was ʼn spesiale dissipline nodig. Op die dag wat dit voorafgaan, moes daar hierdie keer genoeg voedsel opgetel word, ook vir die sabbatdag. Gaan die manna weer sleg word soos met al die ander dae? Dit wat vir die sabbatdag geld, staan haaks op die ander dae. Brood kon hierdie keer opgegaar word. Opgaar vir die sabbatdag het niks te doen met die opbou van ʼn onafhanklikheid van die Here nie. Die afhanklikheid kon nou juis geoefen word!  Het jy op die sabbatdag tog uitgegaan om te gaan optel, het jy niks gekry nie! 

mannah

Selfs God se broodstoor is toe op die sabbatdag. Hy verkoop nie op hierdie spesiale dag brood nie. Hy wil dat sy kinders rus. Ook die Here “rus”…soos op die sewende dag na die skepping! Omdat die Here die sabbatdag as rusdag gegee het, daarom gee Hy op die sesde dag genoeg vir twee dae (16:29).  Hulle hoef nie eers uit hulle huise uit te gaan op hierdie dag nie. Laat elkeen bly waar hy is; laat niemand van sy woonplek weggaan nie. 

Die naam van die spesiale brood vertel hierin ʼn eie verhaal. Dit word “man – ah” genoem: “Wat is dit?” Stom verbaas oor die brood wat sommerso opgetel kan word, elke dag weer! Brood wat jou tot rus laat kom…. Rus van jou werk, maar geen rus van die genieting van wat die Here uit liefde en genade gee nie. 

Was dit vir net ʼn kort tyd? Nee, vir veertig jaar is dit volgehou, totdat die volk die beloofde land ingetrek het en hulle die grond weer kon bewerk. ʼn Kruik vol manna is later voor die ark neergesit.D it het die volk altyd weer herinner aan die Here se sorg. Altyd weer bevryding van slawe-mentaliteit. Altyd weer gereed om te rus!