Bron: Vox Viva. 2 bladsye.

Bybel en Belydenis

"Elkeen dan wat my sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemel is." Uit hierdie woorde van ons Here Jesus is dit onmiddellik duidelik dat dit elke gelowige se roeping is om sy geloof te bely. Tog stuit die belydenisgeskrifte by talle gelowiges op soveel weerstand. Asof daar ’n kloof bestaan tussen die belydenis van ons geloof met die mond en wat die kerk van Christus saam in skriftelike vorm bely. In die praktyk word die belydenisgeskrifte dikwels as ’n verhindering gesien om die volle gesag van die Bybel te handhaaf. Veral gesien die feit dat ons belydenisgeskrifte reeds soveel eeue oud is.

Die Skrif Alleen?🔗

"Die Skrif alleen!" Met hierdie uitroep wou gereformeerde gelowiges nog altyd die alleenheerskappy van Jesus Christus in sy kerk handhaaf. Maar as ons dan die Bybel het, waarom is dit nog nodig om belydenisgeskrifte te hê? Verdring die belydenisgeskrifte nie die plek van die Bybel nie? Verseker nie! Dit word alreeds duidelik as ons gaan let op die doel waarvoor God sy Woord vir ons gegee het. God se Woord is die belofte van sy evangelie. Daarmee bedoel ons dan dat God in sy verbond met ons praat in die vorm van ’n belofte.

As God se Woord dan so ’n lewende woord is, dan vra dit gedurig weer dat ons gelowig en gehoorsaam moet antwoord. Die Skrif is nie gegee sodat ons dit as antieke boek, wat gesag het, moet erken nie. God kom deur Christus in die Skrif na ons toe om beslag op ons lewe te kom lê. As God praat dan wil Hy hê dat ons gehoorsaam antwoord. Vandag en elke dag weer, want geloof is nie ’n saak van die verlede nie. Geloof is om "te wandel voor God se aangesig". As God praat wil Hy ons tot geloof en bekering bring. Dan kom daar ’n nederige antwoord op God wat in sy groot genade weer met ons kom praat het.

Daardie nederige antwoord van ons is onder andere ons geloofsbelydenis. U sien dat ’n geloofsbelydenis nooit iets kan wees wat in die plek van die Skrif mag kom nie. Dit is ’n gehoorsame belydenis van die Naam van God Drie-enig wanneer gevaar en selfs die dood dreig. In Mattheüs 10:28 e.v. word dit duidelik dat daar deur die belydenis van ons geloof dikwels skeiding kom tussen ’n man en sy vader; tussen ’n dogter en haar moeder. Die gevolg is dat ’n mens se eie huisgenote jou vyande sal wees.

Getuigskrif van Bekering?🔗

In die woorde van Groen van Prinsteren kan ons sê: "’n Geloofsbelydenis sonder bekering baat nie, maar ’n geloofsbelydenis is geen getuigskrif van ons eie bekering nie." Indien dit wel so was dat dit die verhaal van ons bekering was, dan het dit die gesag van die Skrif verdring. Maar ’n geloofsbelydenis is ’n gelowige napraat van dit wat God eerste gesê het. Geloof is nooit met homself besig nie, maar met wat God gesê en gedoen het. Ja, dit is in ons eie woorde en dit is in ons eie tyd. Dit sien ons weer in elke geloofsbelydenis. ’n Geloofsbelydenis is egter slegs dié naam werd, as dit ’n getroue en gehoorsame napraat is van dit wat God belowe. Ons luister dus altyd eers voordat ons praat. Maar dan móét ons ook praat. Ons móét antwoord. Die gesag van God se Woord eis juis ’n antwoord.

Waar sien ons dit duideliker as juis in die hele struktuur van een van die oudste geloofsbelydenisse wat ons ken en vandag nog steeds (in uitgebreide vorm!) as die Apostoliese Geloofsbelydenis gebruik om ons geloof te verwoord. Kort voor sy hemelvaart gee die opgestane Jesus aan sy apostels die bevel om die evangelie te verkondig om dissipels van al die nasies te maak. Hulle moet gedoop word in die Naam van die Vader die Seun en die Heilige Gees, want die doop wil ons sigbaar onderrig in alles wat ons moet onderhou!

Dan sien ons hoe dit wat ons vandag as die Apostoliese Geloofsbelydenis ken, ontstaan het. Nie as ’n bekeringsverhaal van die vroeë kerk nie, maar wel as ’n antwoord op wat die Vader, die Seun en die Heilige Gees vir sy kerk beloof het. Wanneer ons let op die hele struktuur van die Apostoliese Geloofsbelydenis, sien ons hoe dit die "struktuur" van die doopbevel weergee. En ja, dan is die groot deel van die Geloofsbelydenis ’n belydenis van die werk van Christus as die Seun van God. Die Vader en die Heilige Gees word deur die versoeningswerk van die Seun geken. Dit is slegs deur die Seun dat ek God die Vader, die almagtige Skepper van hemel en aarde as mý Vader kan leer ken. Hier sien ons hoe ons geloofsbelydenis nie die gesag van die Woord verdring nie, maar juis laat sien hoe die Woord gesagvol in ons lewens kom werk!

Kerklike Gesag🔗

Ons moet dus nie huiwer om ons te verbind aan belydenisgeskrifte nie. Nooit as ’n plaasvervanger vir die Skrif nie, maar wel as ’n verbintenis aan die leer van die Skrif. In ons belydenisgeskrifte vind ons die leer van die Skrif soos wat die kerk van Christus dit glo en deur haar geleer word. Daarom het die belydenis geen goddelike gesag nie, maar kerklike gesag. Dit beteken dat ons mekaar in die kerk wel deeglik daarop kan aanspreek, omdat ons dit as gemeenskaplike geloof het. Om ’n Christelike belydenis te hê, moet daar ’n Christelike gemeente wees wat daarin haar geloof bely - ’n gemeente wat funksioneer as pilaar en grondslag van die waarheid. Die belydenis is immers die geloofsantwoord van die bruid van Christus, wat lewe vanuit wat God ons in Christus gee.

Die oomblik wat ons ’n belydenisgeskrif losmaak van ’n lewende kerk, wat vanuit God se verbondsbeloftes wil leef, verloor dit al sy gesag. Niemand verbind hulle meer daaraan nie. Dit is daarom ’n kreet in die lug om in ’n kerk of kerkverband wat nie meer volgens God se Woord wil leef nie, tog die gesag van die belydenisgeskrifte te probeer handhaaf. Reformasie van die kerk sal altyd beteken dat ons die ware aard van die belydenis van die kerk moet herstel. Die kerk moet nie alleen haar eie belydenis glo nie, maar gedurig haar geloof bly bely. Belydenisgeskrifte wat in alles ooreenkom met die Skrif, waarborg geen trou aan die Skrif nie. Trou is alleen daar waar die lewende geloof in Hom is, wat in die Skrif sy verbondsbeloftes kom maak en van ons alles kom vra, omdat Hy alles vir ons gegee het wat nodig is om trou aan Hom te wees.