5 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Bybel en Seksualiteit

Die Bybelse Grondslag🔗

Die verskil tussen man en vrou kom alreeds op die eerste bladsye van die Bybel ter sprake. “En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape” (Gen. 1:27). Die onderskeid tussen die geslagte het sy oorsprong in die skeppingsdaad van God. Só wou God die mens hê: man en vrou, in seksuele verskeidenheid. Dit is opvallend dat eers in die enkelvoud oor die mens gepraat word. Daarná kom die meervoud aan die orde. Ons moet hierdie meervoud altyd sien teen die agtergrond van die éénheid. Ons lees ook op die volgende bladsye oor hierdie eenheid.

In Genesis 2:24 lees ons: “Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.” Die eenheid van die mens word in geslagtelike vereniging verwerklik. ʼn Mens sou kon sê dat die verskil in die geslagte gerig is op die eenwording van man en vrou. Onder seksualiteit verstaan ons dan: die gegewe van die geslagtelike verskil tussen man en vrou en die onderskeie belewingsvorme daarvan, beginnend met die liggaamlike toenadering, wat beide hul hoogtepunt in liggaamlike eenwording vind.

Die Seksuele Revolusie🔗

Ons het nou die basis gevind vir dít wat in hierdie artikel ons aandag sal kry: Bybel en seksualiteit. Die onderwerp is oor die verloop van die eeue nogal uiteenlopend behandel. Dit is nie my taak om ʼn oorsig te gee van hoe daar in die geskiedenis met die Bybel en seksualiteit gehandel is nie.

Dit kan egter nie ontken word nie dat daar tye was waarin ʼn mens hierdie verhouding nouliks positief kon bespreek. Daar was ʼn houding van terughoudendheid ten opsigte van seksualiteit, méér as van waardering daarvan. Die seksuele is direk in verband gebring met sonde. Augustinus het hom oor die geslagsdaad binne die huwelik nogal negatief uitgelaat. Hy het sy merk in die geskiedenis van die kerk gelaat. Tog kan ons sê dat sy aarseling nie deur alle skrywers in die verloop van die eeue gedeel is nie.

Na die Tweede Wêreldoorlog het ons in die samelewing ʼn geweldige ommekeer gemaak. Daar het ʼn boekie verskyn waarvan die titel tekenend is van dit wat in die denke en doen van mense plaasgevind het: De Seksuele revolutie, deur Dr. J. Rinzema. Dit is in hierdie tyd van groot belang om na die Bybelse boodskap oor seksualiteit te luister.

Twee Lyne🔗

Dit sal duidelik word dat die onderwerp seksualiteit in die Bybel nie as ʼn filosofiese tema ter sprake kom nie. Die Bybelse spreke oor seksualiteit moet ons soek dáár waar man en vrou na hulle liggaamlike aspekte ter sprake kom. Wie in die Bybel nagaan hoe daar oor seksualiteit gepraat word, ontdek twee lyne.

Ons het reeds gewys op die verhaal van die skepping van die mens as man en vrou. Die geslagtelike onderskeid is deur God gewil.

Want alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie; want dit word geheilig deur die woord van God en die gebed.1 Tim. 4:4,5

Ons man-wees en vrou-wees is opsigself nie sonde nie. Die verlange tussen man en vrou na mekaar is geen sonde nie! Die seksuele verlange na die ander is ʼn skeppingsgegewe. Wie seksuele verlange na die ander met sonde wil gelykstel, kan hom vir sy beskouing nie op die Bybel beroep nie. Dit moet wel gesê word dat die pad na seksuele eenwording in die Bybel die pad is van die huweliksverbond waarin man en vrou hulle lewenslank aan mekaar gee. Seksualiteit is nie los verkrygbaar nie. Dit is ʼn deel van lewe en trou en toewyding aan mekaar. Karl Barth het gesê ‘koïtus sonder ko-eksistensie is demonies’.

Dit is die een lyn in die Bybel. Die vreugde van die lewe as man en vrou. Hooglied, by name, besing die huweliksliefde. Die liggaamlike aspekte daarvan word sonder skroom genoem. Ook die Spreuke-digter praat vryuit oor die vreugde, selfs die verrukking, van seksuele verkeer. Ek haal aan:

Mag jou fontein geseënd wees, en verheug jou oor die vrou van jou jeug — die lieflike wildsbokkie en aanvallige steenbokkie; laat haar boesem jou altyd vermaak, mag jy in haar liefde gedurigdeur bedwelmd wees.Spreuke 5:18,19

Ek laat dit by hierdie enkele aanhaling. Daar kan meer, nog sterker sprekende gedeeltes aangehaal word. Die Bybel praat baie positief oor seksualiteit, netso ook oor die huwelik.

Seksualiteit en Sonde🔗

In Spreuke 5 kom ons egter ook ʼn ander lyn van Bybelse spreke oor seksualiteit teë. In daardie hoofstuk gaan dit oor die ‘vreemde vrou’ wat ʼn verleiding is. Die ‘vreemde vrou’ is die verpersoonliking van alle kwaad op seksuele gebied. In haar word al die seksuele sondes gekonsentreer en geïntensiveer. Oor haar lees ons in Spreuke 7:25-27 die waarskuwing:

Laat jou hart nie afwyk na haar weë nie, dwaal nie rond op haar paaie nie.  Want baie is die gesneuweldes wat sy laat val het, en talryk almal wat deur haar vermoor is.  Haar huis is weë na die doderyk, wat afdaal na die kamers van die dood.

In hierdie skets kan mens die verderflike invloed en die dodelike afloop van sondes op seksuele gebied herken.

In die Nuwe Testament stel Paulus dit op sy eie manier. Hy skryf in 1 Korintiërs 6 oor die vryheid van die Christen, wat iets totaal anders is as losbandigheid. Dit is opmerklik dat Paulus die vryheid van die Christen soos volg verduidelik: “Die voedsel is vir die maag en die maag is vir die voedsel ... En die liggaam is nie vir hoerery nie, maar vir die Here; en die Here vir die liggaam” (1 Kor. 6:13).

ʼn Mens kan dít nou ʼn verbasende wending vind. Is die liggaam dan nie ook vir gemeenskap met die huweliksmaat nie? Paulus sal nie daarteen stry nie. Dat hy die Here hier as die bestemming van die liggaam meld, wil sê dat ons nie met ons liggame maar kan doen wat ons wil nie. Hierdie teks is besonder aktueel in verband met die seksuele revolusie. Die laasgenoemde gaan daarvan uit dat die liggaam daar is vir ons eie genot, vir die uitleef van ons luste en die bevrediging van ons liggaamlike, seksuele begeertes!

Daarteenoor sê Paulus: ons liggaam is daar vir die Here. Ons liggame is nie van onsself nie. Daarom kan ons ook nie daarmee maak wat ons wil nie. Die gevolgtrekking van Paulus is: “Of weet julle nie dat julle liggaam ʼn tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam ... “ (1 Kor. 6:19,20).

Wil Paulus sê dat die verheerliking van God met ons liggaam moet lei tot die ongehude staat, of tot onthouding van geslagsverkeer, of tot afkeer van ons liggaam en sy begeertes? In die direk hieropvolgende hoofstuk sê Paulus selfs dat die man sy egtelike verpligting teenoor sy vrou moet nakom, en so ook die vrou teenoor haar man. Dit is die teendeel van ʼn lewe in onthouding. Paulus sien wel ruimte vir onthouding, maar dan met “wedersydse ooreenstemming vir ʼn tyd lank om julle aan vas en gebed te kan wy; en kom weer bymekaar, sodat die Satan julle nie in versoeking bring deur julle gebrek aan selfbeheersing nie” (1 Kor. 7:3-6).

‘Na ʼn Vrou kyk om haar te Begeer’🔗

Seksualiteit is ʼn veld vol versoeking. Die duiwel wil homself meester van die mens maak deur hom na ongebonde, normlose seksuele gedrag te lei. In die Nuwe Testament word elke seksuele verhouding buite die huwelik met die begrip ‘hoerery’ verstaan. Liggaamlike verkeer met ʼn hoer is die mees sprekende voorbeeld, maar elke los, buite-egtelike seksuele verhouding val onder die begrip. Ons Here Jesus het in Matteus 5:28 baie skerp daaroor gepraat: “Ek sê vir julle dat elkeen wat na ʼn vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.”

Dit is ʼn skerp woord waaroor baie struikel. Wat bedoel die Here Jesus? Mag mens nie met waardering oor die skoonheid van ʼn vrou praat nie? Jesus verbied dit stellig nie. Ons moet die kyk om te begeer lees in die lig van Genesis 3:6. Daar word van Eva gesê dat sy gesien het “dat die boom goed was om van te eet en dat hy ʼn lus was vir die oë”, maar verder sien sy “ʼn boom wat ʼn mens kan begeer om verstand te verkry.” Eva laat die begeerte in haar opwek na wat verbode is. Daarmee oortree sy in haar hart die gebod van God. Die begeerte na die verbode vrug bring haar tot die daadwerklike sonde: “en sy neem van sy vrugte en eet”. Na ʼn vrou kyk om te begeer beteken om in jou hart ʼn sondige verlange te hê na omgang met iemand anders as jou eie vrou!

Die Bybel ken in verband met seksualiteit twee lyne: die een van die geoorloofde genieting en die ander van die sondige, onrein begeerte na ʼn verbode verhouding. Oor die geoorloofde genieting praat die Bybel openlik en selfs uitvoerig. In die beskrywing van die sondes is die Bybel wel duidelik, maar terselfdertyd sober; reëel, maar ook terughoudend. Daar is niks gewaagd of sinne-prikkelend by nie. Die feite word eenvoudig vermeld.

Die Huwelik is die Ruimte vir Belewing van die Liggaamlike🔗

Die Bybel gee ruim plek vir die belewing van die liggaamlike. Dié plek is die ruimte van die huweliksverbond wat twee mense deur die belofte van lewenslange trou aan mekaar verbind. Die liggaamlike kontak mag binne die ruimte van die liefde vir mekaar geniet word. Dáár is die een vir die ander veilig. Daar word die skaamte deur liefde wat getrou is, opgehef.

Ons haal die Bybelse grondslag van die huwelik aan: “die man sal sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef” en direk daarna  “hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie” (Gen. 2:24,25).

In die huwelik, daardie verbond van lewenslange liefde en trou, is daar nie vir skaamte teenoor mekaar plek nie.

Oor die Skaamte🔗

Skaamte kom voor waar die sonde die ware gemeenskap verwoes. Dan is die een nie by die ander veilig nie. Dan word die een ʼn objek vir die lus van die ander. Deur die sonde het daar ʼn vervreemding tussen Adam en Eva gekom. Adam behandel sy vrou soos ʼn vreemde deur in die derde persoon van haar te praat: “Die vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het my van die boom gegee, en ek het geëet” (Gen. 3:12).

Skaamte is die intensiewe, werklike afweerreaksie teen ʼn ander wat ons liggaamlik of psigies te ná kom. Die sonde bring mee dat die een hom aan die ander vergryp; dat die man die vrou die objek van sy luste maak. Hy behandel die vrou, ook in haar eie intimiteit, nie met die waardigheid van ʼn mens wat respek verdien nie. Hy verlaag haar tot ʼn voorwerp wat hy in sy hande en in sy mag probeer kry. Sy is net daar vir die bevrediging van sy hartstogte en luste.

Die skaamte skep afstand. Dit hou die sonde op ʼn afstand deur die mens hom te laat verweer teen die begeerte van die ander. Die skaamte bied beskerming. In ons tyd word van die skaamte ʼn bespotting gemaak. Dit sou dan nie nodig wees om die intimiteite van die menslike liggaam vir die begerige blikke van ander te verberg nie.

Wat sê dit eintlik wanneer mens skaamte oorbodig ag? Dan ontken mens die feitelikheid van die sondige begeertes. ʼn Mens wil nie teenoor homself en ander toegee dat daar in die mens ʼn verlange is om die ander tot voorwerp van sy begeerte te maak nie. Mens gryp feitelik terug na die paradyssituasie – maar dit bestaan nie meer nie. Of – en dit is die ander moontlikheid – ʼn mens vind dit heel gewoon dat ʼn mens met enige ander mens na willekeur seksueel verkeer. Dan misken mens die feit dat God die seksuele eenwording aan die huwelik verbind het.

Die huwelik is die band tussen ʼn spesifieke man en ʼn spesifieke vrou. Dit is monogaam. ʼn Derde of ʼn vierde kan nie daarin ʼn plek inneem nie. Paulus het dié eksklusiewe eenheid onderstreep met verwysing na die verhouding van Christus en die gemeente. Hy sê dan dat die geheimenis daarvan groot is (Ef. 5:32). Die hedendaagse losse seksuele moraal mis die geheimenis. Die skaamte wat beskerm teen die opdringerige, begerige blik van ʼn ander, kan net binne die belewing van hierdie geheimenis verdwyn.

Teen Pornografie🔗

Hieruit verstaan ons ook hoe mensonterend pornografie is. Dit lewer die intimiteit van ʼn vrou, of ʼn man, uit aan die begerige blik van ʼn willekeurige medemens: koper en kyker. Dit is die middel om wat Jesus egbreuk noem, te stimuleer: kyk na ʼn vrou om te begeer.

Ons owerhede weier om teen volwasse pornografie op te tree. Die argument daarvoor is dat volwasse mense self moet weet wat hulle wil. Hulle is mondig genoeg om self te besluit. Dit is niks minder as skynargumente nie. Die eintlike argument, so lyk dit my, is dat die owerheid nie bereid is om te sê dat pornografie in stryd is met die mens se aangebore skaamtebesef nie. Die owerheid wil nie sê dat in pornografie een mens op onmenslike wyse aan die begeerte van ʼn ander uitgelewer word nie. Dit is beskamend om dan te moet hoor dat feministiese groepe dit wel waag om sodanige uitlewering in die openbaar te veroordeel. Hulle wil pornografie veroordeel sien. Hulle argument is een van diskriminasie. Dit lyk nie vir my ʼn sterk argument nie, want ook mans lewer hulle in pornografie aan die blikke van ander uit. Bowendien, wie ook al hulle vrywillig as pornografiese modelle verkoop, kan moeilik die argument van diskriminasie opper.

Die toelating van pornografie het alles met die uitwis van die skaamtegevoel te make. Dit is ʼn ontkenning van wat die Bybel sonde op seksuele gebied noem.

Wie die vloedgolf meemaak, moet dit nie vreemd vind as ons, by die beoordeling van ons tyd, die Bybel se nadruk op seksuele sonde laat hoor, ook in die prediking en in gesprekke, om die morele verval aan te dui nie.

Stryd as Gestalte van Heiliging🔗

Ons doen dit nie omdat ons vanuit die Bybel net maar negatief oor seksualiteit kan praat nie. Ons doen dit vanuit ʼn Bybelse realiteitsbesef. Seksualiteit is by baie mense die invalspoort vir die sonde. Daar moet ook op hierdie terrein ʼn stryd gestry word. Ons sou tekortskiet as ons by hierdie onderwerp nie oor vergewing praat nie. Jesus Christus het ook vir sondes op seksuele gebied die offer van sy lewe gebring. Vergewing kry ons net deur skuldbelydenis. Dan ontvang ons die Heilige Gees wat ons sal toerus. Die stryd teen dit wat verbied word, in blik en begeerte, in fantasie en vatterigheid, is ʼn gestalte van heiliging.

Ons wys nog eens op die woorde van Paulus dat van wat God geskape het niks verwerplik is, mits dit met danksegging aanvaar word. Want dit word geheilig deur God se Woord en deur gebed. God se Woord wys vir ons die pad aan na die geoorloofde genieting van seksualiteit. Dan sal daar ook voor gedank kan word. Waar op paaie gegaan word wat God verbied, vind ontheiliging plaas. Daar kan geen danksegging wees nie.

Die juiste houding teenoor seksualiteit vind ons in die vergewing om Christus ontwil en in die vernuwing deur die Heilige Gees. Ons vrees die verleiding. Ons verbly ons in die gawe. Hoe moet ʼn ongetroude mens met sy seksualiteit omgaan? Hoe moet iemand wat sy of haar lewensmaat verloor, met sy of haar, nou onbevredigde, verlangens klaarkom? Wie die vrae moet beantwoord sal bereid moet wees vir ʼn pastorale gesprek. Sommige mense voer ʼn dubbele swaar stryd. Ander vind die oplossing daarin dat menswees nie van die belewing van seksualiteit afhang nie. Die hedendaagse leuse is: Leef jou uit en sorg dat aan jou begeertes voldoen word.

Dit kan nie die weg van God se gebod wees nie! Inteendeel, dié weg is verbode. Hoe moeilik dit ook lyk, ʼn mens kan sonder seksuele belewing mens wees! Wie tot onthouding geroep word, is nie minder mens as iemand wat getroud is nie. Hy of sy sal soek om diensbaar te wees en vreugde te belewe op ander gebiede, waarvan eweneens geld: wat God geskape het, is nie verwerplik nie, as dit met danksegging aanvaar word. Die lewe – ook die ongetroude lewe – word geheilig deur die Woord van God en deur gebed.