Bron: Waarheid en Dwaling. 3 bladsye.

Bybelonderrig in die Christelike Skool

skoolkinders

Daar word aanvaar dat dit die ouer se taak is om, ingevolge God se verbondseise en hulle doopbelofte, hulle kinders in die vrees van die HERE te onderrig en te laat onderrig. Ons aanvaar verder dat die onderwyser optree in die verlengde van die ouerhuis, om die kinders verbondsmatig in die vrees van die Here op te voed. Dit is die rede waarom ouers vir die skoolonderrig van hulle kinders alles moontlik in werking stel om toe te sien dat onderwysers belydende gereformeerde lidmate onder opsig en tug van die kerkrade is. Dit kan egter alleen gebeur sodra ouers weer hierdie roeping op hulle neem soos wat die HERE dit op ons gelê het. Ons kan probeer om eerste die bestaande voorreg van staatsonderwys deur ons aktiewe deelname te bly reformeer. Dit slaag egter dikwels nie. Ons ondervind grootliks dat ons grondbeginsels moet prysgee ter wille van die finansiële gerief van ‘goedkoop’ staatsonderwys. Dan mag ons dit nie verder gebruik nie.

Dat ouers hulle kinders se skoolonderrig in die vrees van die HERE moet laat geskied (Artikel 21 Kerkorde), is immers ’n onverhandelbare reël. Ons moet ons kinders opvoed en laat opvoed om in hulle hele kultuuropdrag (Genesis 1 en 2) hoe langer hoe meer die beeld en gelykenis van God te wees en te word wanneer hulle geleer word om die skepping te onderwerp, daaroor te heers, dit te bewerk en te bewaak.

Teenargumente🔗

Dikwels word ons Godgegewe roeping ook met teenargumente gerelativeer. Teenargumente wat beslis geen skynargumente is nie, is onder meer dat daar baie ouers is wat finansieel geen ander opsies kán behartig nie, of ook dat ons bang is om ons kinders te erg van ander te isoleer. Tog weet ons dat die HERE ons doopbeloftes en ons opvoedingsroeping (vergelyk Deuteronomium 6:6, 7) nie deur finansies laat bepaal nie. Bowendien hét Hy sy kerkvolk ’n uitverkore priesterdom gemaak wat Hy in Christus geheilig het en vir Homself afgesonder het. Of ons dan nou van die gegewe staatstrukture of van enige ander strukture gebruik maak, bly daar buitendien nog altyd die direkte taak wat ons moet verrig wanneer ons in die huis sit, of op pad is, gaan lê en opstaan.

Dit is egter so dat die verbondsouer se vermoëns op sekere tegniese en spesialiteitsterreine vir die bekwaammaking tot die mondige lewe tekort skiet. En indien die gawes dalk nie tekort skiet nie, dikwels dan wel die tyd om naas normale daaglikse verpligtinge ook hierdie taak te behartig. Dan maak ouers van hulp-ouers (onderwysers) gebruik. Dit is besonders om te sien hoedat die Leermeester van die Spreukeboek dikwels oor allerhande lewenswyshede toerusting gee in die vrees van die HERE, maar dit deurgaans doen binne die ouer- kind verhouding. En ouers kan dankbare gemoedsrus hê as hulle weet dat die onderwyser/s hulle kinders in dieselfde vrees van die HERE sal hanteer en lei as wat die ouers dit in hulle huise behoort te doen. Ouers kan dankbaar wees as hulle weet dat die onderwysers die doopbeloftes vir die onderrig van die kinders onderskryf soos in die ondertekeningsformulier vir ampsdraers.

Hierdie laaste is ‘n kern-onderskeid tussen die opvoedkundige model van die staat, teenoor die instruksie wat die HERE onder andere in Deuteronomium gee. Laasgenoemde is immers die standaard wat christene vir die onderwys moet gebruik.

Toegegee, in die inleidende paragrawe van die ‘Revised National Curriculum Statement’ vir die verskillende leer-areas in grade R tot 9, kom ons onder die indruk van die breë verantwoordelikheid wat die staat moet onderneem vir die wye spektrum van leerders uit ’n grootliks onder-ontwikkelde massa mense van Suid-Afrika. En hierin word vermeld watter eerbare uitkomste vir die breë bevolking beoog word. Hierdie opset plaas ‘n sekere outonomiteit in die hand van die onderwysstruktuur met sy professionele onderwyskundiges waaraan die kinders noodwendig onderwerp word, selfs sonder medewerking of toestemming van die ouers. En dit is ook verstaanbaar, omdat die staat sy burgers moet beskerm en ophef deur die instrument van die onderwys. In hierdie model is dit die beperkte taak van die ouerkomitees en die beheerliggame tesame met die ouers om aan die skoolstruktuur met sy hiërargiese lynfunksies hoofsaaklik ondersteuning te gee.

Gereformeerd Dink🔗

Maar gereformeerde denke oor die onderwys is veel meer toegespits en moet meer verrig en veel aktiewer optree as die algemene doelwitte van die staat. Die gereformeerde onderwyser tree in ‘n spesialis-hoedanigheid op as hulp vir die verbondsouer, en met volle opname van die verbondsbeloftes van die verbondsouers. Hulle onderrig nie maar net die kinders as die burgers van die staat, of die volksgenote van ‘n bepaalde volk nie, maar besonderlik die dooplidmate van die kerk van die Here Jesus. Dit is wesentlik hulpverlening aan die ouers tot die opbou van die kerk van die Here Jesus. In hierdie besondere roeping moet die kinders geleer word hoedat verbondskinders tegelyk afgesonderdes vir die Here is. Ook die antitese tussen kerk en wêreld moet naas alle relevante raakvlakke daarmee onderrig word.

kind leer

Dit geld eweneens by die kennis en die toepassing van die Bybel. Ook hierin tree die onderwyser as ‘n aanvullende verlenging van die ouerhuis op — onder toesig van die kerkraad (Artikel 21 Kerkorde).

In Efesiërs 4 leer ons dat die Here herders en leraars gegee het om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk. Verbondsouers en onderwysers (van kinders van verbondsouers) is ook heiliges wat vir hulle dienswerk deur die herders en leraars, ouderlinge en diakens toegerus moet word.

Om hierdie rede is die bepaling van leerinhoude met betrekking tot godsdiensonderrig en die toerusting daarvoor vir verbondsouers en -kinders nie eerstens ’n staatsonderwyskundige aangeleentheid nie, maar kragtens die doopbelofte ‘n huislike en kragtens die Kerkorde artikel 21 ’n kerklike aangeleentheid.

Enige leerplanne asook lesinhoude is wesentlik aan die goedkeuring van ouers van die dooplidmate onderworpe. En die aanbieding daarvan, net soos huiskategese en alle ander kategese aan lidmate, staan via die ouers onder die toesig van die kerkrade.

Wat die bepaling van die leerinhoude betref, is dit die kerndoel van Bybelonderrig dat die kinders die leer van die Skrif vanuit die inhoud van die Skrif as die openbaring van God ontdek en dit toepas. Daarom is dit noodsaaklik dat die kinders die opbou en die konstruksie, die agtergronde en die materie van die Skrif mettertyd sal ontdek as die boek waarmee God Homself genoegsaam besonderlik openbaar het, sodat ons Hom en onsself kan ken, die volkome leer van die saligheid daarin terugvind en die hele wyse waarop ons Hom moet dien.

Die onderrig van verbondskinders in die Woord van die Here is daarom ‘n besondere taak van die ouers asook van die onderwysers as hulp-ouers — ‘n taak wat hulle nakom in die amp van die gelowige, en waarvoor hulle deur die besondere ampte toegerus word en waarvoor hulle ook onder die opsig, leiding en tug van die besondere ampte geplaas is.

voorlees

Konsekwensies🔗

Waar bepaalde kerklike gemeenskappe nog nie oor hierdie saak aktief hande vat nie, en waar ouers maar tevrede is dat daar darem nog ‘soos in die ou dae’ met Skriflesing en gebed geopen en met ’n geestelike lied afgesluit word, behoort ons uit die slaap wakker te word. Ouers wat dit nie aktief op hulle neem om kinders binne die skerp antitese tussen kerk en wêreld op te voed en te laat opvoed nie, wat maar gewoon luister na die gemaksugtige drange van die jeug en daaraan gevolg gee, maar weier om hulle ware en akute nood aan Godskennis en verbondstaal aan te leer, taal wat hulle nie outomaties het of vanself uit die omgaan met die wêreld sal aanleer nie, nie dit aan te leer soos mens hulle van kleins af leer, en hulle in die goeie stryd van die hemelse koninkryk bekwaam te maak nie, dra daartoe by dat die kerk mettertyd in haar onmondigheid en haar onkunde en haar onbekwaamheid wegkwyn.

‘My volk gaan ten gronde weens ’n gebrek aan kennis.’ So word die onwil van ouers om hulle kinders in die ware Godsvrees op te voed (ook wat die skoolonderrig betref) eindelik een van die belangrike redes waarom die kerke ’n gestadigde geestelike en finansiële dood sterwe. Jongmense verloor aan die hand van die ouer mense die sin van kerkwees. Die noodwendige gevolg is dat die kerke in ons land en wêreldwyd teen die huidige tempo baie honderde lidmate per jaar verloor.