4 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Bybelse Beoordeling van Nie-Christelike Godsdienste

Budisme

Die besinning oor die beoordeling van die nie-Christelike godsdienste gaan oor ʼn grondvraag van die Christelike kerk. Die antwoord op die vraag het naamlik beslissende gevolge vir die hele teologie en, in besonder, die missiologie van die kerk.

Positiewe waardering van nie-Christelike godsdienste lei nie alleen tot relativering van die Godsopenbaring in Jesus Christus nie, maar ook tot vervlakking van die kerk se roeping om onder alle volke te getuig van die één Naam onder die hemel wat tot saligheid gegee is. Dit is duidelik in voorbeelde uit die verlede en die hede.

Bewondering van Vreemde Godsdienste🔗

Toe sendelinge in die sewentiende en agtiende eeu met die volksgodsdiens van China in aanraking gekom het, was baie diep daardeur beïndruk. Hulle het gedink dat hierdie ‘natuurlike godsdiens’, waarvan die volle klem op moraliteit gelê het, nie vir die Christelike geloof hoef terug te staan nie. Niemand minder as die wysgeer Liebniz het selfs gesê dat dit goed sou wees as sendelinge uit China na ons toe sou kom om ons te onderrig in die waarde en die beoefening van die natuurlike teologie.

En toe ons aan die einde van die agtiende eeu in Indië met die heilige geskrifte daar in aanraking kom, word dit geag minstens so waardevol as die Bybel te wees. Die wysgeer Schopenhauer het selfs gesê dat die lektuur van die Indiese heilige boeke ‘die mees lonende en mees verhewe lektuur is wat in die wêreld moontlik is. Dit is die troos van my lewe en sal dit eendag van my sterwe wees’.

Die hedendaagse Indiese sendingsteoloog Stanley J. Samartha skryf: ‘In die hart van elke godsdiens, insluitend die Christendom,  is iets eie, wat net aan daardie godsdiens behoort. Dit is wat elke godsdiens uniek maak en verhoed dat een, met uitsluiting van die ander, op uniekheid aanspraak maak. Die Hindu, die Moslem, die Christen en die ander, moet hulle eie spesiale bydrae lewer tot die gesamentlike soeke na die waarheid’.

Die Beskouing van J.H.Bavinck🔗

Binne die ekumeniese teologie en missiologie van die Wêreldraad van Kerke het hierdie gedagtegang met verloop van dekades steeds meer veld gewen. Op die Internasionale Sendingskonferensie in Tambaram in 1938 is die absolute uniekheid van die evangelie egter bely en die onoorbrugbare kloof tussen die Christendom en die ander wêreldgodsdienste besef.  Met name die Nederlandse teoloog Hendrik Kraemer het op die onvervreembare uniekheid van die Christelike geloof teenoor alle ander godsdienste gewys.

ʼn Ander Nederlandse sendingsteoloog, J. H. Bavinck, uit gereformeerde kring, het hom op dié punt nou met Kraemer vereenselwig. Hyself het die problematiek diepgaande deurdink en die resultaat is te vinde in sy boek Religieus besef en christelijk geloof.  In die voorwoord noem J. Verkuyl dit ʼn klassieke werk, wat sy betekenis nie lig sal verloor nie. Bavinck se Bybelse benadering van die hele problematiek het inderdaad hoogs waardevol gebly en is trouens vandag weer uiters aktueel. Ons sal die hooftrekke van sy gedagtegang hier weergee. 

kloof🔗

Die Werklikheid van die Algemene Openbaring🔗

Allereers stel Bavinck dat daar, naas die besondere openbaring van God in die Skrif, waarby die Christelike gemeente leef, ook die algemene openbaring van God in die wêreld is. Geen enkele menselewe is uitsluitlik tweedimensioneel nie. Naas die samelewing met medemense is daar, ook al is almal nie altyd daarvan bewus nie, ʼn derde dimensie, dié van God. Daar is ʼn voortdurende gesprek tussen God en mens, waarby God die inisiatief neem. Waarom? Omdat God sy mensekinders nie loslaat nie. Hy laat die Ek-jy verhouding nie vaar nie. Bavinck wys, onder meer, op Psalm 24: “Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon”.

Die volgende is die belangrikste tekste wat Bavinck noem om die algemene openbaring Bybels te fundeer:

Handelinge 14:15-17, waar Paulus getuig dat God in die tye wat verby is, toegelaat het dat al die nasies in hulle eie weë sou wandel,  al het Hy Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul.

Na aanleiding van hierdie gedeelte sê Bavinck: ‘Die weldade van God staan dus midde-in die wêreldgebeure as ʼn magtige woord van God, as ʼn nimmereindigende prediking van sy ontferming’.

Handelinge 17:22-27, waar Paulus op die Areopagus sê dat God uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak het om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf hulle tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie.

Ook hier is sprake van persoonlike bemoeienis van God met elke volk en mens.

Romeine 1:18-20, waar Paulus, in verband met die volke, sê dat wat van God geken kan word en in mense openbaar is, deur God aan hulle geopenbaar is; want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.

As die werklikheid van die algemene openbaring êrens geleer word, skryf Bavinck, dan is dit hier. Hoewel die gebruiklike woord vir ‘openbaar’ (apokaliptō) nie hier gebruik word nie, maar ʼn werkwoord (phaneros) wat ‘manifesteer’ beteken, bly die feit onweerlegbaar: God bemoei Hom met die mens. God laat die dwalende, opstandige, gevalle mens nie los nie. Daar is ʼn gestadigde klop van God se bemoeienis deur elke lewe en deur die geskiedenis heen.

Die Manier van die Algemene Openbaring🔗

As daar van die mens nooit los van die spreke van God gedink kan word nie, is die volgende vraag: op welke manier praat God dan?

Ten eerste deur die kosmos. Bavinck wys byvoorbeeld op Psalm 19 waar oor allerlei magtige natuurverskynsels gesê word: “...daar is geen spraak en daar is geen woorde nie – onhoorbaar is hulle stem. Hulle meetsnoer gaan uit oor die hele aarde, en hulle woorde tot by die einde van die wêreld” (verse 4, 5). Dus ʼn woordlose spreke en ʼn spraaklose getuienis wat soos ʼn onsigbare mag na die mens kom, ʼn mag waarteen die mens hom nie kan verweer nie, omdat dit hom in stille majesteit van alle kante omring.

Kosmos

In die tweede plek openbaar God Hom in die gewete. Die selfbesef van die mens, die oog waarmee die mens sien wat hy dink en doen en wat ook ʼn kritiese oog is, het, aldus Bavinck,  direk betrekking op God. Die bemoeienis van God is in die groot misterie van die verdubbeling van ons bewussyn opgesluit. Hy verwys na Amos 4:13 waar staan dat God sy gedagte aan die mens bekend maak.

Ten slotte is daar ook die teenwoordigheid van God in die lewensgebeure in sowel die persoonlike geskiedenis van elke mens as in die geskiedenis van die volkere. Die teenwoordigheid is dikwels tasbaar en sigbaar.

Volgens Bavinck is daar in die verlede veels te abstrak en onpersoonlik oor die algemene openbaring gepraat, terwyl die Bybel dit altyd heel persoonlik en konkreet bedoel. Dit het altyd die aard van ʼn baie persoonlike ingryping, waarmee dit God se bedoeling is om van die mens ʼn antwoord te ontlok, om hom religieus aktief te maak.

Die Mens se Reaksie🔗

Wat is nou die reaksie van die mens op die openbaring van God? Bavinck sien dit duidelik beskryf in Romeine 1:18 e.v. Allereers blyk daar dat die mens van God se openbaring kennis dra. Daar staan naamlik dat dit wat van God geken kan word, in die mens openbaar is (vers 19) en dat sy ewige krag en goddelikheid in sy werke verstaan en duidelik gesien word (vers 20). In vers 21 word dan gepraat van ʼn ‘ken’ van God. Die plek van die mens is dus regtens dié van iemand wat ken.

Feitelik kom dit egter nie tot kennis nie. In vers 21 voeg Paulus naamlik in dieselfde asem by: “...maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister”. Ook elders in die Skrif word die vinger op die nie-ken gelê: “Julle aanbid wat julle nie weet nie” (Joh. 4:22) en “Hom ... vereer sonder om Hom te ken...” (Hand. 17:23).

Die posisie van die mens is dus ʼn skynbare teenstrydigheid. Dit het alles te make met die antwoord op die vraag: Wie is die mens? Bavinck se antwoord is onomwonde. Met verwysing na die sondeval sê hy dat die mens buite die veilige sfeer van die kennis dat God liefde is, getree het, en dat hy in ʼn teenoorgestelde posisie beland het. God het vir hom ʼn vyand geword, teen wie hy hom op allerlei maniere probeer verweer. Die skriftuurlike antropologie teken die mens in sy diepste integrale kern as sondaar, rebel en opstandeling. In die opsig is hy altyd besig om iets met God te doen: hy wil hoogmoedig op gelyke voet met Hom wees, angstig op goeie voet met Hom kom, hom weerbarstig voor Hom uit die voete maak. Dit is die drama wat telkens, in die ontmoeting met God, in elke menselewe afspeel en manifesteer.

Onbewuste Verset🔗

Aan die hand van Romeine 1 werk Bavinck die een en ander verder uit. In vers 18 word gesê dat die mens die waarheid in ongeregtigheid onderdruk, en in vers 25 dat hy dit verruil vir die leuen. ʼn Proses dus van verdring en vervang.

Hieroor sê Bavinck: Sodra die waarheid van God tot die rebelse mens kom, druk hy dit, vanweë sy innerlike weerstand teen God, onmiddellik weg. Dit is veeleer ʼn onbewuste as ʼn bewuste daad. Die mens is dus daarin terselfdertyd die skuldige en die slagoffer. In die sielkunde is dit nie ʼn vreemde saak nie. Die waarheid word wel verdring, maar nie vernietig nie. Die mens is bewus van ʼn hoër mag en wil iets daaromtrent doen. Hy gee dan daaraan sy eie inhoud, oftewel vervang die waarheid van God met die leuen. Ook hierdie vervanging gebeur veelal onbewustelik.

So groei ʼn hele sisteem in samehang met sy vyandige houding teenoor God. Of hy probeer sy angs vir God oorwin deur middel van moraliteit, óf hy vergoddelik homself in mistieke belewing, óf hy probeer die hoër mag deur magie, toorkuns, manipuleer. Daarin vind ons dan die religieuse besef wat op allerlei wyses in die bestaande godsdienste neerslag gekry het.

toorkuns

Slotsom🔗

ʼn Oorsig van die voorgaande lei tot die volgende gevolgtrekkings:

  1. Die oorsprong van alle godsdiens lê by God, wat Homself nie onbetuig laat nie, maar Homself so onontkombaar aan alle mense openbaar dat ʼn mens daarop moet antwoord en dus ʼn ‘homo religiosus word. Daarmee word terselfdertyd die wese van elke godsdiens aangegee. Godsdiens is nie ʼn lang monoloog waarin die mens hom uitspreek oor hoe hy oor die wêreld, homself en God dink nie. Dit is die menslike antwoord in die dialoog wat God met ons voer. Anders gestel: godsdiens is ten diepste nie ʼn antropologiese, maar ʼn teologiese verskynsel.
     
  2. Let mens op die verdringings- en vervangingsproses wat in werking tree sodra God spreek, waardeur die waarheid in die leuen verander word, val elke buite-Bybelse godsdiens onder die noemer van afvalligheid van God. Al is die oorsprong daarvan by God, is dit ʼn voortdurende breuk met God en in stryd met die waarheid van die evangelie. Dit dra selfs demoniese eienskappe. Bavinck verwys in die verband na Efesiërs 2:2 waar gepraat word oor die vroeëre wandel, volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, volgens die gees wat in die kinders van die ongehoorsaamheid werk.
     
  3. Die slotsom is dat Bavinck in die lig van die Bybelse gegewens tot ʼn uiters negatiewe waardering van alle nie-Christelike godsdiens kom. Die konsekwensies van hierdie Bybelgefundeerde stellinginname vir die ontmoeting tussen die Christelike geloof en die nie-Christelike godsdienste, sal in ʼn volgende artikel blyk.