Bron: Kompas. 3 bladsye.

Bybelstudie in Gesin en Gemeente

In ʼn vorige artikel het ons oor persoonlike Bybelstudie geskryf. Persoonlike Bybelstudie is die begin, maar daarby mag dit nie eindig nie. Ons wil nou graag ook na ander vorms van Bybelstudie kyk wat noodsaaklik is vir ons geestelike groei.

Huisgodsdiens🔗

Ons kyk eers na enkele historiese opmerkings oor huisgodsdiens. Die Sinode van Dordrecht 1618/19 het tussen drie soorte kategese onderskei:

  • huiskategese;

  • skoolkategese;

  • kerkkategese.

Huiskategese het dan te doen gehad met huisgodsdiens. Hierdie Sinode sê o.a. die volgende:

Die amp van die ouers is om tuis hulle kinders en ook die hele huisgesin wat aan hulle toevertrou is so vlytig as moontlik in die beginsels van die Christelike geloof, volgens die begrip van elkeen, te onderwys; om hulle ernstig en met vlyt tot die vrees van God en die opregte saligheid te bring, om hoofstukke uit die Heilige Skrif aan hulle voor te lees en op ʼn eenvoudige en bevatlike manier te verklaar.

Hierdie huisgodsdiens het ook in ons land deurgewerk. Ons lees in ʼn reisbeskrywing van ʼn sekere dr Heinrich Lichtenstein in 1803 van sy ervarings in die Kaapse binneland o.a.:

Die dagwerk het elke môre, na sonop, begin met die sing van ʼn psalm en die lees van ʼn hoofstuk uit die Bybel. Wanneer alles in die aand versorg was, het die hele gesin weer bymekaargekom.

Van die Voortrekkerlaer lees ons in Langenhoven se boek: “Die pad van Suid-Afrika”:

Slapenstyd nader, die laer maak klaar vir sy rus; uit een vir een wakis word boeke gehaal en met eerbied geopen; ongesiene altare rys by die vuurtjies; die veld is in ʼn tempel herskape. ʼn Nasie bid.

Die huisgodsdiens, die “boekevat”, het in die geskiedenis tot groot seën vir God se kinders deurgewerk. Hoe belangrik is dit vir ons vandag, in ons tyd waarin ons so gejaag lewe!

Wat is Huisgodsdiens?🔗

Huisgodsdiens is waar man en vrou, en veral die hele gesin gesamentlik, lees en bid. Die omstandighede waarin dit gedoen word kan verskil. Die wyse waarop dit geskied hang daarvan af of daar kinders in die huis is en wat hulle leeftyd is. Dit gaan by huisgodsdiens veral daaroor dat ons die HERE leer ken.

Om God te ken is die belangrikste in ʼn mens se lewe. Dit is ook wat die meeste ware vreugde vir ʼn mens gee. Ek noem hier enkele plekke in die Bybel waar ons dit lees:

En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat u gestuur het. Johannes 17:3
So sê die HERE: Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie; maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die HERE is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in die dinge het Ek behae, spreek die HERE. Jeremia 9:23, 24
Want Ek het ʼn behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffer. Hosea 6:6

Huisgodsdiens is ʼn middel waardeur ons gevorm en geleer word om waarlik te leef vir die doel waarvoor God ons geskep het. Die groot doel van ons lewe is dit wat ons in antwoord 6 van die Heidelbergse Kategismus bely:

God het die mens goed en na sy ewebeeld geskep. Dit beteken: in ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy God, sy Skepper, reg kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam met Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys.

Dit is baie belangrik om elkeen by die huisgodsdiens te betrek. As elkeen wat kan lees ʼn Bybel kry en kan saamlees, beteken dit dat hy meer van dit wat gelees is, kan onthou en ook makliker daaroor kan saampraat.

Dit is ook belangrik dat die gebed nie net ʼn vaste gebed is nie. Die verpligtinge en gebeure van die dag moet daarin betrek word en ook voorbedes behoort daarin ʼn plek te hê. Dit is ook goed om vir die wat teenwoordig is te vra waarvoor gebid kan word.

Die Prediking🔗

Die prediking behoort by die gesamentlike groei in kennis van die HERE en van sy Woord ʼn belangrike plek in te neem. Hoe belangrik is dit dat ons die preek ná die erediens met mekaar bespreek en daaroor gesels! Ons moet net sorg dat dit op ʼn goeie manier gebeur. ʼn Mens kan so krities en afstandelik daaroor praat dat ons vir onsself die seën van die prediking wegneem. Ons eerste vraag na die kerkdiens mag en moet nie wees: “Was dit vir jou ʼn goeie preek?” nie. Ons moet leer om vir mekaar te sê wat in die preek ons opgeval en aangespreek het, wat ons vandag geleer het, en om dan saam daaroor te gesels, die Bybel saam oop te maak en so die volle waarde van die Woordverkondiging met mekaar te deel en saam te groei.

Dit gaan daaroor wat die HERE vir my, vir ons, vandag duidelik gemaak het. Dit hoef nie altyd iets te wees wat vir my nuut is nie. Dit kan iets wees wat ek al geweet het maar wat nou weer vir my duidelik voor oë staan.

Die prediking wys ook altyd weer op die doel van toenemende kennis van die Woord. Sien HK vr. en antw. 84. Dit moet ʼn oproep vanuit die teks wees om in Christus te glo en jou van jou sondes te bekeer.

Gemeenskaplike Studie Buite die Erediens🔗

Die grond vir gesamentlike Bybelstudie lê in die gemeenskap van die heiliges, in die verbond. Hier is die HK vr. en antw. 55 van groot belang. Die HERE het die gemeenskap van die heiliges gegee sodat ons mekaar kan opbou in die geloof. Om vanuit ons kennis van Christus mekaar te dien met die gawes wat ʼn mens gekry het. Ons het reeds genoem dat die groot doel van ons lewe is om God te ken. As dit die belangrikste is, is dit ook in ons onderlinge omgang die belangrikste om mekaar juis daarin te help. Dan sê ʼn mens nooit: “Ek gaan nie meer na die Bybelstudies nie, want ek leer nie meer iets daar nie”. Wie werklik baie weet en die HERE regtig ken, sal Bybelstudies bywoon om ander te help.

Nog ʼn rede waarom ons saam Bybelstudie moet doen, is dat niemand van ons alles weet nie. Ons het mekaar nodig om regtig te groei in kennis van die HERE en sy Woord. Efesiërs 3:16-19 is in hierdie verband belangrik:

dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens, sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in liefde gewortel en gegrond is, en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God.

Ons groei saam met al die heiliges!

Gemeenskaplike Bybelstudie is ’n opdrag in Christus se gemeente. Die vorm waarin dit gebeur kan nie voorgeskryf word nie. Dit kan op allerhande maniere gebeur. Dit kan geskied deur jeugverenigings, manne-en vroueverenigings en ook deur enige ander samekomste of kursusse vir dié doel. Die vorm is nie die belangrikste nie. Die vorm sal wissel met die omstandighede en tyd waarin ʼn mens lewe. Die verenigings soos ons dit vandag ken het nie voor 1880 ontstaan nie. Die kerk van die Reformasie het dit nie geken nie. Die kerk van die Reformasie het ʼn soort kerkdiens op weeksdae geken waar aan die insig en vermeerdering van kennis van die Bybel gewerk is. Die preke het dan ʼn ander karakter as op Sondae gehad. Dit was meer uitleg van opeenvolgende Bybelgedeeltes. Daar was ook sogenaamde profesie. Dit was waar gemeentelede saamgekom het om beurtelings uitlegging aan Bybelgedeeltes te gee en om dit dan saam te toets. Wie meer hieroor wil lees, kan dit vind in:Totius Versamelde Werke 6, 75-108.

Die vorm is nie die belangrikste nie, maar dat ons mekaar genoeg toerus vir die tyd waarin ons lewe en dat die gemeente hierby betrokke is.

Dit is belangrik dat ons mekaar so sal toerus dat 2 Timoteus 3:16,17 waarlik ons hele lewe sal kenmerk. Daar staan immers:

Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.