Bron: Kompas, 2003. 3 bladsye.

Calvyn en die Christelike Feesdae

Calvyn word gesien as ’n man wat teen die Christelike feesdae was. Hy sou hom voortdurend vir die afskaffing van alle feesdae beywer het. Dit bring dr. T. Brienen daartoe om te suggereer dat ons hierin minder Calvyn volg as wat ons gewoonlik wil weet. Doen ons daarmee reg aan Calvyn se posisie betreffende die Christelike feesdae? Om aan Calvyn reg te doen moet ons let op die toenmalige omstandighede.

Agtergrond🔗

In die Middeleeue het die aantal feesdae sterk toegeneem. Dit het selfs gegroei tot meer as sestig feesdae. Hierdie feesdae was nie net vir die viering van die heilsfeite nie, maar ook vir die verering van allerlei ‘heiliges’. Hierdie dae is met die Sondag gelykgestel as dae wat tot eer van God ingestel is. Om op die feesdae te werk is beskou as een van die doodsondes wat die priesters hul gemeentelede moes leer vermy.

Namate die aantal feesdae toegeneem het en meer gewig aan die feesdae gegee is, het die Sondag in aansien gedaal. Dis opvallend dat die skending van die feesdae deur op dié dae te werk in die algemeen swaarder gestraf is as die ontheiliging van die Sondag. Die groot aantal feesdae het ook dikwels tot losbandigheid gelei. In 1520 hoor ons Luther sê: “Ons vertoorn God meer op die ‘heiligedae’ as op die ‘werkdae’ vanweë drankmisbruik, wêreldse vermaak, ledigheid en allerlei sondes. En dit is juis omgekeerd: heiligedae is nie heilig nie, maar die werkdae is heilig.”

Calvyn in Genève 1536-1538🔗

Voor Calvyn se koms in Genève was die kerklike feesdae, wat buite die Sondag geval het, reeds afgeskaf. Oor hierdie kwessie was daar egter wrywing tussen Genève en Bern. In Bern het hulle nog vier feesdae buite die Sondag aangehou, naamlik Kersdag, Besnydenis (1 Januarie), Maria boodskap (25 Maart) en Hemelvaartsdag. Onder politieke druk vanuit Bern wou die Raad van Genève in 1538 daardie vier feesdae weer invoer.

Calvyn en Farel het die Raad gevra om eers die beslissing van die sinode van Zürich, wat met Pinkster gehou sou word, af te wag. Ter wille van die eenheid was hulle bereid om hulle na die seremonies te skik, mits die leiers van Bern sou erken dat die gebruike te Genève nie onskriftuurlik was nie en mits die feesdae nie deur ’n al te heerssugtig verbod van arbeid en handel met die Sondag gelyk gestel sou word nie en dat dit dus vir elkeen sou vrystaan om na die kerkdiens aan die daaglikse werk te gaan.

Vir Calvyn en Farel was dit belangrik dat die eenheid op kerklike wyse tot stand gebring sou word en nie op bevel van die owerheid nie. Die owerheid van Genève het egter van hulle verlang dat hulle onmiddellik die feesdae weer sou invoer en nie sou wag op die sinode van Zürich nie. Toe Calvyn en Farel geweier het om dit te doen, was dit een van die deurslaggewende redes vir die verbanning van die predikante. Daarna het die Raad van Genève besluit om die vier feesdae weer in te stel en is arbeid op daardie dae verbied.

Calvyn se Gematigheid🔗

Toe Calvyn in 1541 na Genève teruggekeer het, het hy die feesdae rustig laat voortbestaan. Hy skryf daaroor: “By my terugkeer kon ek in een oomblik onder byval van die meerderheid omverwerp wat in my afwesigheid besluit was, maar ek het my stil gehou. Alleen daaroor kon ek nie swyg nie, dat dit verkeerd was om die dag van die besnydenis van Christus te vier met verbygaan van sy sterfdag.” Die feesdae was vir Calvyn geen beginselkwessie nie. Hy wou ook nie hê dat ander mense daarvan ’n beginselkwessie sou maak nie. Wat vir hom wel ’n beginselsaak was, was dat die owerheid geen seggenskap in kerklike sake het nie.

Uit sy korrespondensie met die predikante van Montbeliard van Oktober 1543 is dit duidelik dat Calvyn ’n genuanseerde posisie ten opsigte van die feesdae inneem. Die predikante het vir sy advies gevra na aanleiding van ’n besluit van die hertog van Württemberg om Lutherse gebruike in die kerke in te voer. Calvyn skryf dat hy wens dat die predikante standvastiger sal wees in hul afwysing van die feesdae. Hulle moet egter nie teen alle feesdae sonder onderskeid stry nie, maar spesiaal teen die feesdae wat nie tot die stigting van die gemeente bydra nie en ’n bygelowige karakter vertoon. Dan het hulle ’n aanneemlike grond vir verset.

Sewe maande later, in ’n tweede brief aan daardie predikante, noem Calvyn die feesdae ’n klein dwaasheid wat hulle eerder moet verdra as om daarvoor hul pos te verlaat. Solank hulle net nie die dae goedkeur nie en hulle die vryheid behou om die bygelowighede wat daaruit voortkom te berispe, wat hulle dan ook met ywer moet doen. Dit betref veral drie belangrike sake: dat so die een dag van die ander onderskei word; dat daar ’n diens van God in die onderhouding van die feesdae gestel word; en dat sekere dae nie net tot eer van God waargeneem word nie, maar ook tot eer van mense.

Ongeveer in dieselfde tyd het Calvyn aan die Raad van Genève voorgestel om op die vier feesdae slegs in die oggend ’n kerkdiens te hou, sodat elkeen daarna vry sou wees om te rus of te gaan werk. Calvyn wou die skyn wegneem asof daardie dae instellinge van God sou wees. Die Raad het sy voorstel aangeneem. Die verskil in waarneming van die feesdae het egter tot burgertwiste en selfs tot vegpartye gelei. In November 1550 het Calvyn die Raad gevra om iets daarteen te bedink. Tot Calvyn se verbasing besluit die Raad op 16 November om alle feesdae af te skaf. Die enigste dag wat gevier sou word deur te rus van die arbeid was die Sondag. Die feesdag wat aan die geboorte van Christus gewy was is na die eersvolgende Sondag verskuif.

Calvyn skryf aan Haller te Bern dat hierdie besluit tot afskaffing van die feesdae nie op sy inisiatief en buite sy medewete geneem is. Indien dit aan hom voorgelê sou gewees het, sou hy nie daarmee ingestem het nie, hoewel hy op sigself geen beswaar teen die besluit het nie. Calvyn het steeds gepleit vir ’n middeweg, naamlik om die Kersfees op 25 Desember te vier en op die ander drie feesdae buitengewone bidstonde te hou, terwyl die werkplekke soggens gesluit sou wees. Na die middagete sou elkeen weer na sy werk en na sy sake gaan.

Calvyn se Gestrengheid🔗

Op Donderdag 25 Desember 1550, enkele weke na die afskaffing van die feesdae, is die gewone daaglikse byeenkoms gehou. Calvyn gaan verder met sy reeks preke oor Miga. Dis egter opvallend dat op daardie dag meer mense as gewoonlik aanwesig is. Dit gee vir Calvyn aanleiding om die kersgebruike aan te spreek. Aan die een kant wys hy daarop dat dit “’n goeie ding (is), dat ons een dag in die jaar het, waarop ons die nut getoon word, wat ons toekom van die feit dat Jesus Christus in die wêreld gebore is en dat die geskiedenis van sy geboorte vertel word soos dit aanstaande Sondag sal gebeur.” Aan die ander kant gaan hy fel te kere teen die bygeloof en afgodery: “As u dink dat Jesus Christus vandag gebore is, dan is u beeste, ja, wilde beeste. So ook wanneer u met hierdie dag God ’n besondere diens wil bewys. Dan rig u daarmee ’n afgodsbeeld op.”

Sterk woorde. Waarom? Vanweë die bygeloof waarmee die dag gevier is. Mense het gedink dat hulle juis deur die dag te vier ’n besonder goeie werk vir God sou verrig. Dit binne die konteks van die verdienstelikheid van goeie werke. Die pousdom het die mense mos ingeprent dat die streng onderhouding van daardie feesdae vir hul saligheid noodsaaklik was. Hulle is deur die Roomse Kerk selfs met die hel gedreig indien hulle die seremonies nie sou naleef nie. Teen hierdie agtergrond kan ’n mens verstaan waarom Calvyn en die ander Reformatore skerp moes optree. Die lidmate moes heeltemal bevry word van die tirannie van menslike voorskrifte en leer om uit genade alleen te lewe. Hulle moes tewens die Sondag weer leer waardeer as die Christelike feesdag by uitstek.

Gevolgtrekkings🔗

Hoewel dit lyk asof Calvyn oor die algemeen die afskaffing van die feesdae verkies het, kan ’n mens nie stel dat hy in ʼn streng sin ’n teenstander was van feesdae waarin die heilsfeite herdenk word nie. Sy voorkeur staan teen die agtergrond van die situasie van daardie tyd. Calvyn was ook bereid om hom te skik na die orde wat in Genève bestaan het, solank hy vry was om teen die bygeloof en afgodery waarmee die dae dikwels gevier is, op te tree. Calvyn sou die Kersfees nie afgeskaf het nie. Dat die besnydenis van Christus wel gevier is en nie die sterfdag van Christus nie, het hy ʼn saak van onkunde beskou. Met Pase en Pinkster het hy steeds sy vervolgstof onderbreek en oor die heilsfeite wat op die dae herdenk word, gepreek.

Calvyn het ons opnuut geleer om die kwessie van feesdae nie tot ’n beginselkwessie te maak nie. Daardeur sou ons op grond van ’n ondergeskikte punt die eenheid van die liggaam van Christus verskeur. Calvyn skryf dat hy nie graag die kerke wil veroordeel wat ander plegtige dae vir hulle samekomste het nie, so lank as wat hulle hulle van bygeloof onthou. Dit stem ooreen met die bepaling van art 47 van die Kerkorde: “Die buitelandse kerke sal nie op grond van ondergeskikte punte van kerkorde en kerklike praktyk veroordeel word nie.” Daarom het ons ook geen enkele probleem om sekere Presbiteriaanse kerke, wat ten opsigte van die feesdae ’n ander praktyk as ons het, as ware kerke van Christus te erken nie. Vergelyk wat Paulus in Kolossense 2:16 skryf: “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ’n fees of nuwemaan of sabbat nie”.

Ons ken geen heilige dae nie, behalwe die Sondag, die weeklikse rusdag wat deur God ingestel is. Dis die feesdag van die kerk. Laat ons dit goed bewaak en dit as ons feesdag by uitstek bly vier. Met die Reformatore kan ons sê dat geen mens, geen burgerlike en geen kerklike owerheid die reg het om die werk te verbied op dae waarop God dit veroorloof het nie. Indien ons buite die Sondag sekere Christelike feesdae wil onderhou, laat ons dan met mening waak teen ’n verheffing van die feesdag bo die Sondag en teen die verheerliking van die mens. Dit moet dan altyd tot eer van God wees en tot opbou van sy kerk.

Calvyn se opvattings oor die feesdae spreek ook van ’n groot sosiale sorg. Hy het gesien dat te veel vrye dae tot losbandigheid, ledigheid, drankmisbruik en allerlei onsedelikheid voer. Die sosiale sorg het ook ’n duidelike rol gespeel in die besluite van die Gereformeerde kerke in Nederland om tydens die feesdae wat die staat uitgeroep het, kerkdienste te belê.

In die beoordeling van die feesdae moet ’n mens, soos Calvyn dit gedoen het, rekening hou met die konkrete situasie. Daarom is ek oortuig dat die sobere formulering van die kerkorde van die Vrye Gereformeerde Kerke oor die kerklike feesdae (art 68) in lyn met Calvyn se houding is. Daar lees ons: “Die kerkraad sal op Kersdag, Goeie Vrydag, Pase, Hemelvaartdag en Pinksterdag die gemeente saamroep tot openbare eredienste, waar die heilsfeite wat die gemeente op hierdie dae in die besonder herdenk, verkondig word.” Let daarop dat die artikel nie praat van die onderhouding van die feesdae nie (soos dit oorspronklik geformuleer was). Dit gaan daaroor dat op die dae wat publiek bekend staan as Christelike feesdae en waarop die gode van ons tyd (self, geld, genot, die buik) alom aanbid word, die enige Naam, waardeur ons gered moet word, verkondig word.