4 bladsye.

Calvyn en die Christelike Feesdae

In ’n vorige artikel (Waarheid en Dwaling, April 2006) is die vraag oor die geldigheid vir die onderhouding van die christelike feesdae behandel. Mense beroep hulle soms vir hulle standpunt op uitsprake van gerespekteerde figure uit die geskiedenis. Die geskiedenis as sulks kan nooit ons norm wees nie en die uitsprake van gerespekteerde figure ook nie. Al hierdie dinge moet aan die Skrif getoets word.

Aangesien ons deel is van die kerk van alle eeue, is dit juis nodig dat ons die lesse van die geskiedenis nie vergeet nie. Wanneer ons uit die bronne argumenteer, is daar ’n belangrike vereiste. Ons moet poog om eerlik met daardie bronne om te gaan, die gebeure en uitsprake in hulle konteks te bestudeer, en op ’n geldige manier in ons argumentasie te gebruik. So byvoorbeeld is daar al dikwels in argumente betoog dat Calvyn téén die viering van christelike feesdae was. In hierdie artikel word gepoog om meer akkuraat en uitgebreid in te gaan op die opmerkings uit ’n vorige artikel dat Calvyn nie soseer téén die feesdae was nie, maar wel vereistes gestel het oor die korrekte gebruik daarvan.

Onder invloed van veral Farel het die stad Genève gaandeweg tot reformasie gekom. Gedurende 1535 is die kerkgeboue vir evangelieprediking oopgestel. Die stadsraad het op 21 Mei 1536 formeel ten gunste van die reformasie besluit. Onder invloed van die radikale Farel het die stadsraad besluit om alle christelike feesdae (behalwe uiteraard die Sondag) af te skaf.

’n Opmerklike kenmerk van die Europese reformasie was dat dit grotendeels ’n stedelike fenomeen was. In Duitsland byvoorbeeld het meer as 50 van die 65 vrye ryksgebiede positief op die reformasie gereageer. Slegs vyf van die stede het die reformasie geheel en al genegeer. In Switserland het die reformasie in een stad begin (Zürich). Deur ’n proses van publieke diskussies het dit na ander stede soos Bern en Basel versprei. Vanuit Bern het dit na die nabygeleë Genève gekom.

Die tipies Middeleeuse idee van die corpus christianum is deur die hervormer Zwingli op die stadstate van sy tyd toegepas. So het hy gestel: ‘ ’n Christenmens is niks anders as ’n betroubare en goeie burger nie, en ’n christelike stad is niks anders as die christelike kerk nie’. Die godsdienstige lewe van ’n stad kan volgens Zwingli slegs in reformatoriese sin vernuwe word as die hele samelewing onder die heerskappy van Christus kom. Kerk en owerheid was vir hom soos siel en liggaam aan mekaar verbind. Hierdie teokratiese idee is deur feitlik alle Switserse reformatore aangehang – aanvanklik ook deur Calvyn.

Toe Calvyn einde Julie 1536 op ’n deurreis in Genève beland en onder druk van Farel daar bly (teen sy sin en bedoeling in) was die situasie só dat die stadsraad groot seggenskap oor en invloed op kerklike sake gehad het; iets wat deur Calvyn as korrek aanvaar is. Ook was die viering van alle christelike feesdae toe reeds afgeskaf.

Calvyn en Farel het aan die stadsraad voorgestel dat alle burgers van Genève die geloofsbelydenis wat hulle twee opgestel het, moes onderteken. Hierdie voorstel is deur die raad aanvaar. Die bedoeling van Calvyn en Farel was om op dié manier – deur alle burgers belydende christene te laat word – effektief tug oor die stadsgemeenskap uit te oefen. Die stadsraad het egter gesloer met die uitvoering van die besluit. Vroeg in 1538, na verkiesings, het die samestelling van die stadsraad verander. Die meerderheid van die nuwe raad was teen die deurgaande reformasie-pogings van Calvyn en Farel gekant en het geweier om dit verder uit te voer.

In dié situasie het Calvyn en Farel geweier om die nagmaal te bedien. Veral hierdie saak het gelei tot hulle verbanning uit die stad. Volgens die stadsraad was dit ongehoorsaamheid aan die owerheid wat beveel het dat die nagmaal wel bedien moes word.

Hierdie opmerking moet dien as ’n korreksie en nadere verklaring van die paragraaf in ’n vorige artikel wat aangevoer het dat die eintlike rede waarom hulle uit die stad verban is dat hulle nie die inmenging van die owerheid in kerklike sake wou aanvaar nie. Inderwaarheid was dit op ’n verskerpte manier anders: Hulle het eintlik die stadsraad verkwalik dat hulle nie die afgespreekte maatreëls tot reformasie en ondertekening van die geloofsbelydenis deur al die burgers wou uitvoer nie. Die beswaar was dat, indien die burgers nie behoorlik op grond van die geloofsbelydenis aanspreeklik gehou kon word nie, dit die nagmaal van die Here sou ontheilig. Hulle het die stadsraad verkwalik dat hulle nie hulle owerheidsplig na behore nagekom het nie.

Daar was ook verskil van opvatting oor die herinstelling van die christelike feesdae en sekere rituele by die viering van die nagmaal. Die stadsraad van Bern het, om ingewikkelde politieke redes, die stadsraad van Genève onder druk gesit om hierdie gebruike wat steeds deur Bern gehandhaaf is, weer in te voer. Calvyn en Farel het sterk gevoel dat die saak saam met die ander Switserse kerke op die sinodevergadering, wat kort na hierdie voorval in Zürich gehou sou word, bespreek moes word om eenheid in hierdie sake te kry. Hierdie sake was dus wel ter sprake, maar was nie deurslaggewend vir Calvyn en Farel se verbanning uit Genève nie. Uit die notule van die stadsraad van Genève is dit duidelik dat Calvyn en Farel se verbanning hoofsaaklik gegrond was op hulle weiering om die nagmaal te bedien. Calvyn het nadruklik verklaar dat die punt van liturgiese gebruike geen prinsipiële kwessie was nie.

Na hulle verbanning het Calvyn en Farel na Zürich vertrek en daar die sinode bygewoon.

Hulle het verslag uitgebring oor die gebeurtenisse in Genève. Gegrond daarop is hulle deur die sinode aangespreek oor hulle onverantwoordelike gedrag. Hulle is vermaan. Volgens die sinode het hulle te ver gegaan. Hulle het dit aanvaar en voor die sinode skuld bely en erken dat hulle onverstandig opgetree het. Hulle was bereid om vergewing vir hulle gedrag aan die stadsraad van Genève te vra.

Calvyn en Farel het ’n stuk van veertien artikels aan die sinode voorgelê, waarin hulle stel tot watter toegewings hulle bereid is. T Brienen het dit in Nederlands vertaal. Kortliks opgesom is dit soos volg:

Hulle is bereid om die plasing van die doopvonte (by die ingange van die kerkgebou) te aanvaar, maar die doop self moet slegs in die erediens bedien word waar ook ’n uiteensetting van die betekenis van die doop gegee word.

Hulle stem nie saam oor die ongesuurde brood by die nagmaal nie, maar is bereid om die gewoonte van die gebruik van ongesuurde brode onveranderd so te laat.

Betreffende die feeste het hulle baie moeite. Die vier feeste kan toegelaat word, mits daar hierdeur nie te veel laste vir die burgers opgelê word nie.

Burgers moet vry wees om na die preek weer na hulle werk toe te gaan. Dit sou anders tot groot verwarring onder die burgers aanleiding gee.

Hulle bepleit eenstemmigheid oor die seremonies met die gemeente van Bern, maar dat daar tog vryheid oor die saak in die plaaslike kerk sal wees.

Hulle begeer dat hulle goeie eer en naam in Genève weer herstel sal word.

Hulle sal hulle beywer vir die handhawing van die tug, maar dat dit met verdrag ingebring sal word:

Die stad moet in streke verdeel word om die bestuur hiervan te vergemaklik.

Soveel dienare as wat nodig is moet hiervoor aangestel word.

Deugdelike en verstandige manne moet deur die senaat (die stadsraad) gekies word om die dienare in die handhawing van die tug by te staan.

By die aanstelling van die predikante sal die oplegging van hande, volgens goeie orde, nie deur die magistrate verbied word nie.

By die bereiking van instemming oor die betrokke seremonies moet ook die gemeente van Bern hulle hierby skik. Hieroor die volgende:

Dat die gebruik van nagmaal meer dikwels sal wees – ten minste een maal per maand.

By die openbare prediking hoort ook die sing van Psalms tuis.

Betreffende die losbandige en ontugtige liedere en danse: dit moet afgeskaf word en Bern moet die voorbeeld navolg.

Dit is so deur die sinode aanvaar. Die sinode versoek daarop die stadsraad van Genève om die predikante te laat terugkeer. Die stadsraad wou egter niks daarvan weet nie.

Calvyn het daarna predikant van die Straatsburgse Franssprekende gemeente geword. In 1541 versoek die stadsraad van Genève hom egter om terug te keer. Baie teësinnig het hy tog die roeping aanvaar. By sy terugkeer het hy gevind dat alle christelike feesdae en ander rituele intussen weer ingevoer is. Hy was in ’n baie sterk posisie om dit verander te kry, maar het die situasie aanvaar soos wat dit was. Hy het self ook op hierdie dae gepreek. Intussen het hy wel in die prediking telkens daarop gewys dat sommige van die gebruike nie in die gereformeerde kerk tuishoort nie. Calvyn se verbasing was groot toe die stadsraad, sonder om sy mening te vra, in 1550 besluit het om die feesdae weer geheel af te skaf. In sy briewe aan Haller (2 Januarie 1551) en Bullinger (23 April 1551) skryf hy dat indien die stadsraad na sy gevoelens hieroor sou gevra het, hy dit nouliks sou gewaag het om so iets voor te stel. Hy het beslis nie die viering van alle christelike feesdae veroordeel nie, maar het wel ernstige besware teen sommige daarvan gehad. In sy brief aan Bullinger (23 April 1551) stel Calvyn: ‘By my terugkeer (in 1541) sou ek in een oomblik en met byval van die meerderheid, die besluite wat in my afwesigheid geneem is, kon teruggetrek gekry het, maar ek het my stil gehou. Ek kon egter nie daaroor swyg dat dit verkeerd was om die dag van die besnydenis van Christus te vier met verontagsaming van sy sterfdag nie. Dit is deur onkundige mense sonder regte verstaan besluit. Terwyl die volk ook die dag van die ontvangenis van Christus onder die naam van ’n Mariafees gevier het, het ek elke jaar teen hierdie bygeloof te kere gegaan (waarskynlik in die prediking op die dag). Want die Franse noem in hulle taal hierdie dag die fees van ons liewe Vrou, Maria … en hierdie dag word as besonder heilig beskou’.

Die gevolgtrekking kan gemaak word dat Calvyn in hierdie saak ’n baie milde posisie ingeneem het. Hy stel dit ook in sy briewe aan Haller en Bullinger dat dit moet gaan oor die opbou van die gemeente. By sy instemming tot die onderhouding van die vier feesdae wat nie op die Sondag geval het nie, het Calvyn alleen sober voorwaardes gestel: dat die dae nie met bygelowigheid onderhou word nie, en dat die lidmate geleentheid moet kry om na afloop van die prediking met hulle daaglikse werk voort te gaan.

Gehoorsaamheid aan die Woord alleen loop soos ’n slagaar deur die reformasie van die 16e eeu. In die ordening van die godsdiens is dit daarom van kardinale belang om vas te stel hoe die reformatore daardie ordeninge vanuit die Skrif beredeneer het. Daar het sedert die 16e eeu ongelooflike veranderinge op sosiale, politieke en tegnologiese terreine plaasgevind. Ons roeping is om met dieselfde reformatoriese argumentasie opnuut die altyd geldende Woord van die Here in ons situasies te bly toepas. Dikwels kan baie van die histories bepaalde vorme nie meer vandag net so toegepas word nie. Tog bly dit steeds waar dat die hart van ware reformasie die ware reformasie van die hart is. Daarom is egte gehoorsaamheid aan die Woord van die Here nie dooie formalisme nie, maar die oorgegewe gewilligheid waarmee die wedergebore hart lewendig werksaam is om God vandag volgens sy Woord te dien in die huis, in die gemeente, die werkplek, die ekonomie, die politiek, sodat Christus se koningskap oral erken mag word.