Bron: Die Kerkblad, 2009. 3 bladsye.

Calvyn en die Kerksang Die Verskyning van die 1562-Psalmboek

Die verskyning van die Geneefse Psalmboek met al 150 berymde Psalms in Frans in 1562 - dus twee jaar voor Calvyn se dood - word as een van die grootste suksesse in die geskiedenis van die uitgeebedryf beskou: slegs 100 jaar nadat die drukkuns in Duitsland uitgevind is, is oor die 50 000 kopieë hiervan binne ’n jaar verkoop, terwyl die eerste roofuitgawe daardie selfde jaar begin verskyn het (sonder naam van uitgewer of boekwinkel). Tog het die hoofuitgewer, Antoine Vincent, vir ’n tydperk van tien jaar alleenregte vir homself verseker beide in Genève en in Frankryk. Sy dood in 1568 sou die Psalmboek in die publieke domein laat val.

Om ’n reuse verspreiding moontlik te maak, het Vincent en sy seuns wat self twee uitgewersmaatskappye gehad het een in Lyon (Frankryk) en die ander een in Genève (Switserland) - met nie minder as 19 drukkers-boekeverspreiders onderhandel. Die samewerking van 65 druk-ateljees dwarsdeur Genese en Frankryk is ook verseker om hierdie aantal eksemplare te kan druk. Die hoeveelheid papier wat vir dié doel gebruik is, was vir daardie tydperk astronomies gewees. Op 27 Januarie 1562 is 27 400 eksemplare in Genève beskikbaar gestel. Die wins wat gemaak is, was bedoel om vir die armes te gaan, onder toesig van die diakens van Genève se kerke. Soos egter verwag kon word, sou hulle met van die medewerkers lank moet stry om die beloofdes bydrae te kry …

’n Jaar tevore kon Theodore Beza (Calvyn se naaste samewerker en die outeur van meeste van die berymings) die koninklike voorreg vir hierdie Psalmboek verkry danksy sy deelname aan die samesprekings van Poissy - naby Parys - tussen Rooms-Katolieke en Protestante, waarvan hy die bekwame woordvoerder was. Die klimaat was een van gesprek en die hoop is gekoester dat selfs versoening bewerkstellig sou kon word na jare van vervolging en die stelselmatige groei van die Hugenoteparty nieteenstaande, veral onder adellikes. 1562 is egter ook die jaar toe die godsdienstige oorloë in Frankryk begin het, na die slagting van Wassy, toe Katolieke prinse chaos en bloed tydens ’n vreedsame erediens in ’n skuur veroorsaak het. Ironies genoeg, meer as ooit sou die Psalmboek wat die koninklike owerheid gekondoneer het, deur Hugenotemartelaars op pad brandstapel toe gebruik word …

Die Groei van die Projek🔗

Die 1562-Psalmboek was die voltooiing van ’n projek wat Calvyn self in 1539 - toe hy die predikant van die Franse gemeente in Straatsburg was - geïnisieer het. Nes sy Institusie van die Christelike Godsdiens het die projek stelselmatig gegroei deur die volgende 23 jaar: vanaf die oorspronklike 19 berymde Psalms van 1539 (13 deur die beroemde hofdigter Clément Marot, ses deur Calvyn self) het die Psalmboek ge­groei na 35 in 1542, dan 49 in 1543 (dié keer was hulle almal van Marot self, want Calvyn het sy eie berymings as nie so goed beskou nie en hulle onttrek). Marot is in 1544 oorlede en Beza het slegs teen 1548 in Genève aangekom. Hy het dus die werk voltooi en selfs sy eie tekste asook dié van Marot effens hersien in die 1560-uitgawe ter wille van ’n beter aanpassing met die melodieë. ’n Mens bewonder juis die digterlike kwaliteit van die tekste wat ook so mooi by die melodieë pas.

Die Rol van Kinders in die Sang🔗

Om die melodieë te help leer, het musikante wat Genève se Stadsraad aangestel het, onderrigmetodes ontwikkel (solfege) wat veral aan kinders geleer is. Reeds in 1537, tydens Calvyn se eerste verblyf in Genève, het hy die wens uitgespreek dat kinders ’n leidende rol in die aanleer van die Psalms deur die gemeente sou speel. In die artikels wat in Januarie daardie jaar aan die Stadsraad voorgelê is, word dit spesifiek genoem: kinders met ’n goeie stem moet die melodieë eers leer en tydens die dienste die Psalms sing, sodat stelselmatig volwassenes gelei word om ook saam te sing. Die aktiewe rol van kinders in die erediens, asook die eenheidsband in die geloof tussen kinders en volwassenes, is op so ’n manier liturgies bewerkstellig.

’n Mens besef net watter impak gemeentesang op elke gelowige gehad het as jy onthou dat in die Middeleeuse Kerk sang slegs deur gespesialiseerde manne- en seunskore uitgevoer is. Die aanleer van die berymde Psalms in die gemeentes was egter nie ’n maklike en vanselfsprekende saak nie: daar bestaan getuienisse van onbeskryflike chaos in kerke waar verskeie groepe dieselfde Psalm nooit op ’n gesinchroniseerde tyd kon begin nie … Daar waar dit egter goed gewerk het, was dit tot groot geloofsversterking.

Vertalings van die Psalmboek🔗

Dit is merkwaardig dat die Psalmboek nie net onder Franse Protestante ’n groot sukses behaal het nie, maar ook onder Rooms-Katolieke. Dit het eintlik ’n kragtige instrument van evangelisasie geword. Talentvolle komponiste het vierstemmige verwerkinge van die melodieë gekomponeer, ook verwerkinge vir musikale instrumente. Vanaf 1573 begin Psalmboeke op die model van Genève s’n in ander lande en in ander tale verskyn: Hollands (1566), Duits (1573), Italiaans (1583), Pools (1605), Spaans (1606) Hebreeus - ja! (1623), en dan nog Hongaars, Tsjeggies en selfs - glo dit of nie - Turks.

Calvyn se Siening oor Kerksang🔗

Kom ons stel hom direk aan die woord (uit die voorwoord van die 1543-Psalmboek, wat die volgende opskrif het: Aan alle Christene en liefhebbers van God se Woord): “Wat openbare gebede betref, is daar twee soorte: die eerste groep word bloot deur woorde gedoen, die ander gebede met sang (...) Ons weet uit ervaring dat sang groot krag het om die hart van mense te roer en te laat opvlam om God met ’n vuriger en hartstogteliker ywer aan te roep en te prys. ’n Mens moet egter oppas dat die sang nie so lig en oppervlakkig raak dat dit nie meer die majesteit en grootheid van God na vore laat kom nie. Daar moet ’n groot verskil wees tussen die musiek wat gemaak word om mense by partytjies te vermaak en die Psalms wat in die kerk gesing word in die teenwoordigheid van God en sy engele (...) Die gebruik van sang gaan egter baie verder. Selfs by die huis of in die natuur is dit vir ons ’n aansporing en ’n instrument om God te loof en ons harte na Hom toe op te hef. Daardeur kan ons sy deugde, goedheid, wysheid en regverdigheid oordink. Ons kan inderdaad getroos word - meer as wat ’n mens jouself kan indink. Dit is nie sonder rede dat die Heilige Gees ons deur die Heilige Skrif so sorgvuldig aanspoor om onsself in God te verbly nie. Al ons vreugde kan in sang saamgetrek word. God weet goed hoe ons ons in klein dingetjies kan verbly. Musiek en sang kan ’n mens herskep en vir hom ge­not gee. Dit is een van die grootste gawes van God vir hierdie doel.

Nou is wat Augustinus sê, waar: Niemand kan iets waardigs genoeg van God sing nie, behalwe as hy dit van Hom ontvang het. Om dié rede, nadat ons oral gaan soek het, sal ons geen beter en gepaste liedere vind as die Psalms van Dawid, wat die Heilige Gees vir hom gedikteer en gemaak het nie. Ons moet ook onthou wat Paulus sê: Geestelike liedere kan net goed gesing word as dit met die hart gedoen word. Nou vereis die hart ook verstand. Augustinus sê dit is waar die verskil lê tussen die sang van die mense en dié van voëls. ’n Groenvink, ’n nagtegaal of ’n papegaai kan mooi sing, maar dit is sonder verstand. ’n Eienskap van die mens is om te kan sing terwyl hy verstaan wat hy sê. Die hart en die gevoelsinhoud moet op die verstand volg.

Dit kan egter net gebeur as die lied in ons geheue ingeprent is. Dan sal ons nooit ophou om te sing nie.”